Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Beproewing is onvermydelik, maar om daaroor te bly sanik en in ellende te verval, is opsioneel. Daarom moet ons gedurig damwalle van moed om ons bou sodat ons die vloede van vrees buite kan hou.
VERGIFNIS DEUR GELOOF
Hannes Ollewagen
Handelinge 15:1-34
“En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.” (:8&9).
Duisende jare nadat ‘n belangrike vergadering in Jerusalem gehou is om ’n belangrike teologiese vraagstuk te bespreek, is hierdie vraagstuk egter steeds ’n werklikheid. Dit is nie omdat daar nie tot ’n duidelike slotsom in hierdie verband gekom kon word nie. Inteendeel, die saak is behoorlik bygelê en in geen onduidelike taal is ’n uitspraak in hierdie saak gemaak. Die vraagstuk wat bespreek is, het gehandel oor die belangrikheid van die besnydenis in die redding van bekeerlinge. Daar was diegene wat van mening was dat iemand nie gered kon word indien hulle nie besny is nie. En daarenteen het die apostels geleer dat die grondslag van ’n mens se redding ’n opregte geloof in Christus is.
Die verdwaling van die meeste kerke in ons land oor die afgelope paar dekades het groot skade in die geestelike lewe van ons volk gebring. Die verkondiging van ’n valse evangelie van “vryheid” het ons volk tot ’n groot mate van sy Godvresende lewensbeskouïng losgeruk. En die rede hiervoor is dat hierdie “vryheid” wat verkondig is ’n vryheid van die vlees is, m.a.w. eintlik ’n lewe van losbandigheid. Só ’n vryheid is gewoon on-Skriftuurlik. “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.” (Judas 1:4). Die vermaning in Gal. 5:13 is heeltemal geïgnoreer. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.” Hierdie sogenaamde vryheid in die vlees se uiteinde is ’n volslae slawerny aan sonde. Ironies genoeg is hierdie vryheid in die vlees effektief aangewend om mense van hul vryheid in Christus te beroof. Dit is derhalwe so duidelik die werk van Satan wat ons onder die slawerny van sonde wil bring terwyl God ons daaruit wil lei. “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (Rom. 6:12&13).
Die uiteinde van hierdie dwaalleer in baie kerke se gevolg raak vandag duidelik sigbaar. Diegene wat hierdie dwaalleer aangenaam gevind het en wie se gehoor deur hierdie dwaalleer gestreel is, is uiteindelik uit die kerk weg omdat hulle belangstelling verloor het. Hulle geloof was nooit eg nie en derhalwe is hulle maklik oorgehaal om vermaak, rykdom en allerhande ander dinge van hierdie wêreld agterna te loop en die geloof die rug te keer. “En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.” (Matt. 13:22). En diegene wie se geloof eg was, het die dwaling raakgesien en hulself hiervan onttrek om nie met die smet van hierdie dwaalleer besoedel te word nie. “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (2 Kor. 6:17&18).
Ek dink tog dat ’n groot hoeveelheid volksgenote deur die genade van God oor die laaste dekade of twee tot die besef gekom het van die verkeerdheid van hierdie “vryheid in die vlees”. En dit het natuurlik ook by mense opnuut ’n soeke na die waarheid laat ontstaan. Ek is egter besorg daaroor dat mense in hierdie soeke wel soms op ’n dwaalweg van ‘n “nuwe waarheid” beland in plaas daarvan om gewoon na die Weg van waarheid terug te keer. Die dwaalweg aan die linkerkant van die enkele Weg van waarheid lei na dieselfde verdoemende eindbestemming as die dwaalweg wat aan die regterkant van hierdie Weg van waarheid verbyloop. Die vertrekpunt in hierdie terugkeer na God uit die doolhof van verwarring en dwaalleer is die sekerheid dat daar net Een Weg van waarheid bestaan. “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6).
Ons hoor vandag gereeld van mense wat die beskuldiging bring dat die kerke vir mense gelieg het. En dit is in baie (seker die meeste) gevalle ongelukkig waar. Dit is meer ontstellend dat daar ook nie verbetering in hierdie saak was oor die afgelope paar jaar nie. Ons het alreeds hierbo met hierdie saak gehandel. Die onstellende is egter om menigmaal uit dieselfde mense se monde ’n vreemde “nuwe evangelie” te hoor. Hierdie mense het ‘n “nuwe waarheid” ontdek eerder as die bestaande Weg van waarheid waartoe die Woord van God ons terug roep. “So spreek die Here : Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jer. 6:16). Die weg van waarheid is reeds gebaan. Ek is besorg dat hierdie dwaling dieselfde resultaat as die vorige sal hê, nl. om mense op ’n ander dwaalweg eerder as terug na die Weg van waarheid te lei en hul op die wyse van hul vryheid in Christus te beroof. Die een het dit reggekry deur die verkondiging van ‘n “vryheid in die vlees” wat in teenstelling met die Evangelie van Christus is omdat die Evangelie van Christus die vreugdevolle tyding is van die versoening van die mens met God deur Christus – die ware Evangelie van vryheid omdat ons deur Christus uit die slawerny van sonde gered en uitgelei word. Die ander kry dieselfde reg deur mense in slawerny van die wet en gebruike te bring asof die mens deur sy regverdige lewenswandel en getroue onderhouding van die gebooie van God en die regte afkoms homself kan red. So ’n dwaling is óók on-Skriftuurlik. “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Efés. 2:8-10). “STAAN dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal. 5:1-4). Hy wat só verwaand is om te reken dat hy deur sy eie optrede homself voor God kan regverdig sal dalk met selfversekerdheid op sy dwaalweg stap, maar ongelukkig vir God ewe min kan oortuig dat hy sonder Christus die ewige saligheid waardig is as diegene wat in navolging van die vlees hulself met die begeerlikhede van die vlees besmet het en dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou en hulself in die bloed van Christus skoon te was nie. Hul sal albei voor God met dieselfde probleem staan – sonder Christus. Die een a.g.v. traak-my-nie-agtigheid en ’n verknogtheid aan die wêreld en die ander a.g.v. verwaandheid en ’n valse hoop op iets anders as Christus.
Hierdie saak word vir ons in Paulus se brief aan die Romeine so mooi uiteengesit. Hoofstuk 5 handel só duidelik daarmee dat ons deur die geloof in Christus geregverdig en met God versoen word en nie deur ons eie regverdige of verdienstelike optrede of herkoms nie. “OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;” (:1). “ 'Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.” (:6,8-11). En dan handel die volgende hoofstuk uitdruklik daarmee dat hierdie vryheid in Christus ’n geestelike vryheid en nie ‘n “vleeslike vryheid” of tewel ’n vrybrief of verskoning vir ’n lewe van ongebondenheid is nie. “'WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie — òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.” Dit is tog duidelik hieruit dat ons nie uit onsself geregverdig kan word nie, hetsy herkoms, regverdige optrede uit onsself of wat ook al. En dit is ewe duidelik dat ons vryheid in Christus ’n geestelike vryheid is waarin ons bevry is van die slawerny van sonde – ’n vryheid waar ons nie God se gebooie wil oortree nie, maar waar ons dit eerder wil onderhou as wat ons dit móét onderhou uit vrees, dwang of gewoonte. Dit is die vryheid waar ons aan God bo alles gehoorsaam wil wees omdat ons Hom opreg en in waarheid liefhet. Is dit nie immers wat die eerste en groot gebod ons leer nie? “'En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:37&38). En is daar nie ’n verdere getuienis in 1 Joh. 4:18 dat hierdie weg die weg van waarheid is nie? “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.” Hierdie ware vryheid kan ons op géén ander wyse as deur die geloof in Christus kry nie. Dit is deur hierdie opregte geloof wat ons die gawe van die Heilige Gees ontvang. “'En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons.” (Hand. 15:7&8). Hierdie Gees wat ons in die waarheid lei om God opreg en in liefde as kinders eerder as diensknegte te gehoorsaam en te dien. “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.” (Gal. 4:4-7).