Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom gaan jy kerktoe? Omdat jy dit as jou plig ag? Omdat dit ’n goeie gewoonte is? Ons lees dat Jesus die gewoonte gehad het om op die Sabbat na die sinagoge te gaan. Gaan jy dalk om vriende by die kerk te sien en self gesien te word soos die Fariseërs? Of gaan jy kerktoe omdat jy lief is vir jou kerkgenootskap? Hoeveel gaan Sondae kerktoe omdat hulle Jesus liefhet en ’n behoefte het om Hom te aanbid? Dis die enigste geldige rede vir kerkgang want daardeur sê jy: “Ek wil soos Jesus wees”.
KINDERS IN DIE BYBEL (22)
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
'N KONING BY DIE KINDERS
DIT was die Maandag voor die kruisiging. Die vorige dag, die Sondag het Jesus op ’n esel Jerusalem binnegery en toe het die skare geroep: "Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.”
Hulle was baie opgewonde want in hulle harte het daar nog altyd die verwagting geleef dat daar ’n Koning sou kom wat die Romeine uit die land sou verdryf en van hulle ’n vrye volk sou maak. En nou het hulle gemeen dat Hy as Koning gekom het om hulle van die gehate Romeine te verlos. Maar hulle het vergeet dat ’n Koning nie op ’n esel ry nie, maar op ’n perd.
Die eintlike betekenis van die woord "Hosanna” is "help tog.” Die woorde wat die skare hier gebruik is gedeeltelik ontleen aan Ps. 118 :25 en 26. In Psalm 118 is hierdie woorde ’n vreugdegeroep. Wanneer hulle dus hierdie woorde teenoor Jesus gebruik, beteken dit eintlik: "Hoera! vir Jesus.”
Onder hierdie skare wat so geskree het en so bly was, was daar ook heelparty kinders. Hulle het gesien en gehoor hoe die grootmense aangaan en hoe hulle skree.
Die volgende dag, Maandag, was daar van hierdie kinders in die tempel. Hulle was daar in die voorhof van die tempel. Nou was Jesus hulle held. Want hulle het net soos hulle ouers gemeen dat Hy die land van die Romeine gaan verlos.
Wat hulle daar in die voorhof van die tempel gedoen het, weet ons nie. Die Bybel vertel dit ook nie aan ons nie. Maar daar in die tempel was ’n hele drukte aan die gang want later in die week sou die Paasfees gevier word. Daar is gekoop en verkoop omdat die Jode hulle tempelbelasting slegs met Joodse geld moes betaal. Verder kon die mense uit die noorde baie moeilik ’n lam vir die Paasfees saambring. Daarom is daar lammers vir hulle gerief in die tempel verkoop.
Dalk was hierdie kinders saam met hulle ouers daar want daar was baie mense uit die noorde van die land en hulle het seker maar die kinders saamgeneem oral waar hulle in Jerusalem gegaan het. Of was hulle dalk daar uit nuuskierigheid soos kinders maar maak?
Nee, hulle was nie daar uit nuuskierigheid nie. God het hierdie kinders met ’n doel daar saamgebring sodat vervul sou word wat Dawid eeue vantevore geprofeteer het. In Psalm 8 het Dawid geprofeteer dat die Here uit die mond van kinders en suigelinge vir Hom sterkte gegrondves het. Daarom herhaal hierdie kinders ook op die Maandag voor die kruisiging die woorde wat hulle ouers die vorige dag met die intog uitgeroep het. "Hosanna.” "Hoera! vir Jesus.”
Christus as Koning meng nie net met die hoogstes en vernaamstes nie. Hy jaag nie kinders van Hom weg nie. Hy wil graag ook luister na die stemme van kinders. Hy is juis arm gebore sodat die geringstes en die nederigstes ook kan weet dat Hy hulle Koning is. Ja, sodat kleuters en kinders ook kan weet dat hulle na Hom kan gaan en dat Hy hulle nie sal wegjaag nie.
So staan Hy dan as Koning tussen die kleinstes, die kleuters.
Wanneer die kinders sing, sê Hy nie aan hulle dat hulle moet stilbly nie. Hy jaag hulle nie weg en sê dat hulle in die pad is nie. Hy het geen beswaar teen hulle gesing nie. Want hulle hosannageroep, die feit dat hulle roep: "Hoera vir Jesus” beteken vir Hom hulde.
Dit beteken hulde wat die leiers van die volk nie aan Hom wil bring nie. Dit is hulde en eer aan Hom, die Koning van alle Konings. Dit is ’n offerande wat hierdie kleintjies aan Hom bring. Dit is die offerande van hulle lippe want hulle het niks anders wat hulle aan Hom kan gee nie.
Elke kinderstem wat tot die Here sing, is soos ’n geskenk uit sy groot skepping. Dit is vir die Here aangenaam om ook te luister as kinders sing. Hy wil graag hê dat kinders ook moet sing. Want Hy is nie net die Koning van grootmense nie maar Hy is ook die Koning van kinders.