Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wil tog so graag God en sy dade verstaan. Wees dankbaar jy kan nie, want as Hy klein genoeg was vir óns om te verstaan, sou Hy nie groot genoeg wees om te aanbid nie.
AS 'N ENGEL VERVEER (12)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
BATSEBA
"Ek het 'n harde dag agter die rug en gaan 'n bietjie op die dak asem skep" sê Dawid vir Malag.
"Ek sal sorg dat my heer nie gesteur word nie" sê die paleissekretaris simpatiek.
Nadat Kotemas tydens die bewind van Isboset van verraad aangekla en sonder verhoor terreggestel is, het sy seun Malag na Hebron gevlug en hom by die huis van Dawid aangesluit. Dawid kon vir geen beter administratiewe amptenaar gevra het nie. Malag het geen gelyke gehad nie.
Wanneer Dawid op die paleisdak staan, gaan die son net onder. Hy tuur oor die Kedronvallei voor hom. Die olyfpers is stil en die heuwel in skaduwee gehul. Die vreedsaamheid van die toneel is salf vir sy onrustige gemoed. Hy is geestelik redelik uitgeput.
Dan trek iets sy aandag. Nie ver vandaar is 'n jong vrou besig om in haar agterplaas te bad, onbewus daarvan dat iemand haar kan sien.
Haar nakende lyf vervul Dawid met wellus.
“Ek wonder wie is sy?” dink hy by homself. “Ek moet net weet!"
"Ek het gedink my heer gaan langer op die dak vertoef" sê Malag toe Dawid na 'n paar minute terug is.
"Wie woon langs Bogas, die bakker?" vra Dawid sonder om Malag se vraag te beantwoord.
"Uria, die Hetiet, my heer" antwoord Malag.
"Bly hy alleen daar?" vra Dawid.
"Nee, hy en sy jong vrou woon daar" antwoord Malag.
"Vertel my meer van hulle" versoek Dawid hom.
"Uria is 'n baie dapper soldaat. Hy dien tans onder Joab. Nadat sy vrou twee jaar gelede aan woestynkoors oorlede is, het hy die dogter van Bogas se broer vir hom as vrou geneem. Sy is van Betlehem. Daar gebore en grootgeword" antwoord Malag.
"Ek wil haar graag ontmoet. Laat haar vir my roep" beveel Dawid.
"Vanaand nog, my heer?" vra Malag verbaas.
"Ja, sommer dadelik!" sê Dawid.
Hy kan sy opgewondenheid moeilik bedwing.
o0o
Bateseba is uit die veld geslaan toe sy hoor dat die koning haar dadelik wil spreek. Alhoewel dit redelik ongeleë is, weier ‘n onderdaan nooit 'n koning se versoek nie.
o0o
"Bateseba is hier. Sy wag in die ontvangskamer" sê Malag en verskoon homself.
Wanneer Dawid die vertrek binnekom, buig Batseba eerbiedig voor hom. Sy is sigbaar ongemaklik. Dawid gaap haar behoorlik aan. Sy is mooier as wat hy haar voorgestel het.
"Ek is bly dat jy gekom het. Moenie bang wees nie, jy het niks verkeerds gedoen nie" sê Dawid met 'n sagte stem en nooi haar om by hom op die groot rusbank te kom sit.
"Ek het jou van die paleisdak af dopgehou toe jy vroeër vanaand gebad het" sê Dawid en glimlag ondeund.
"Ek vra om verskoning, my heer. Dit was onbesonne van my om nie tot donker te wag nie. Gewoonlik bad ek heelwat later" maak Batseba verskoning en bloos.
"Jy het niks om oor jammer te wees nie. Wat ek aanskou het, was 'n fees vir my oog!" sê Dawid.
Vir Batseba voel dit asof die aarde onder haar kan oopskeur en haar kan insluk! Wat dink haar koning van haar? Dat sy hom doelbewus probeer uitlok het? Wat sal haar man sê as hy hiervan moet uitvind? Die Hetiete is ongenaakbare mense!
"Hoe kan ek vir my onbesonnenheid vergoed, my heer? vra Batseba skaam.
"Laat my toe om met jou omgang te hê" sê Dawid en trek haar nader.
Die reuk van haar welriekende lyfolie maak hom baie opgewonde en hy soen haar met oorgawe. Batseba sit haar nie teen nie. Sy is maar net 'n mens. Dawid streel haar kaal borste. Dis warm en sag soos Batseba.
"Mag ek met jou omgang hê?" fluister-vra Dawid liefderyk in haar oor.
" 'n Onderdaan durf die koning niks weier nie, my heer" antwoord Batseba ernstig.
"Moet dit asseblief nie as 'n opdrag of plig beskou nie. As jy nie wil nie, sal ek jou nie verder pla nie. As jy my egter wel toelaat, sal jy my baie gelukkig maak" sê Dawid.
"Dit sal vir my 'n eer wees om u gelukkig te maak, my heer" sê Bateseba gedienstig.
"Ontklee jou" versoek Dawid haar.
Dawid hou elke beweging van haar dop. Haar liggaam is soepel en begeerlik.
"Is u tevrede met wat u sien, my heer?” vra Batseba toe sy naak voor Dawid staan.
"Ek begeer jou!" hyg Dawid in ekstase.
Wanneer Batseba vlak voor hom kom staan, kook Dawid oor van wellus. Hy druk haar teen hom vas.
"Ek wil jou meer as enigiets anders op aarde hê!" sê Dawid koorsagtig.
"My liggaam is u s'n” sê Batseba en glimlag skaam.
Dawid tel Batseba in sy arms op en laat haar op die rusbank lê. Hy voel so sterk soos 'n reus. Batseba verstyf wanneer die welbedeelde held van Israel by haar ingaan.
o0o
"Ek het nog nooit ‘n vrou so wonderlik beleef nie!” hyg Dawid na sy asem.
“Belowe my dat dit nie die laaste keer sal wees nie" pleit Dawid toe hy van Batseba afskeid neem.
"Ek belowe, my heer" sê Batseba en verdwyn in die nag.
o0o
Die daaropvolgende paar weke is Dawid baie besig. Alhoewel hy Batseba nie te siene kry nie, bly sy in sy gedagtes. Hy beleef daardie intieme oomblik oor en oor met haar. Dawid besef dat hy baie versigtig moet wees. Mense moenie agterdogtig raak nie.
“Agterdog” het ‘n ou wysgeër eendag gesê “is die voorportaal van wantroue en wantroue die begin van verwerping”.
'n Koning kan dit nie bekostig nie!
o0o
Ses weke later lewer 'n boodskapdraer 'n brief by die paleis af. Dis vertrouelik en dringend aan Dawid gerig. Wanneer die paleisbode die brief aan Dawid oorhandig, is hy besig om met Fenisiese skeepsbouers te onderhandel. Hy het nuwe skepe in Elat nodig. Ofir kan slegs seelangs bereik word en hy het goud nodig.
Wanneer die Fenisiërs vertrek, lees Dawid die brief.
"Ek is jammer om jou te steur, maar ek is swanger!" skryf Batseba.
Dawid word bleek soos een wat 'n doodstyding ontvang het.
"Het u slegte tyding ontvang, my heer?" vra Pildas bekommerd.
"Ja, ek het" sê Dawid aan die paleiswag en vee die koue sweet van sy voorkop af.
"Kan ek vir u iets kry?" vra Pildas bekommerd.
"Nee, laat my asseblief alleen; ek is reg" sê Dawid ontnugterd.
Hoe kan Batseba swanger wees? Hy het dan maar slegs eenmaal met haar omgang gehad. Is daar nie dalk ‘n ander man betrokke nie? Dan onthou Dawid dat Batseba hom daardie aand vertel het dat haar maandstonde toe pas verby was. Dit moet dus sy kind wees! Hy moet haar dringend sien!
o0o
"Is jy doodseker dat jy swanger is?" vra Dawid toe hulle alleen is.
"Ek twyfel nie die minste daaroor nie. U was die laaste man by my. Help my asseblief! As my man dit moet uitvind, maak hy my sekerlik dood. U ken nie die Hetiete nie!" pleit Batseba met trane in haar oë.
"Moenie vir iemand sê dat jy swanger is nie. Ek sal 'n plan maak" beloof Dawid.
o0o
"My heer vra dat Uria, die Hetiet, na hom gestuur moet word" sê Beganan, 'n paleisbode, toe hy by Joab op die gevegsfront aankom.
"Waarom Uria, van alle mense?" vra Joab verbaas.
"Ek het geen idee nie en vra ook nie vrae nie" sê Beganan en oorhandig die amptelike versoek met die onmiskenbare merkteken van Dawid aan die leëroffisier.
"Ek laat hom dadelik roep" sê Joab.
"Waarom word ek na die paleis ontbied? Wat wil die koning van my hê?" vra Uria terwyl hulle terugry.
"Ek weet nie. Hy het nie gesê nie" antwoord Beganan saaklik.
Hy hou nie van die Hetiete nie en wil nie met hulle praatjies maak nie.
"Ek hoop nie daar is fout by my huis nie" sê Uria bekommerd.
"Niks waarvan ek weet nie" sê Beganan koel.
Vervolg...