Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kan jou buurman, jou vriende, jou vrou en kinders, raaksien dat jy nuutgemaak is deur die bloed van die Lam?
SINKRETISME
In Esegiël 18:4 b sê die Here: “Dit is die mens wat sondig wat sal sterf.” Jesus het self gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6) In Jesaja 44: 6 sê die Here: “So sê die Here, die Koning van Israel, sy Verlosser, die Here die Almagtige: Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie.”
Ons moet godsdiensvermenging en godsdiensvryheid nie met mekaar verwar nie. Godsdiensvryheid beteken dat ons die vryheid in ‘n land het waar ons kan kies, sonder vrees vir vervolging, watter godsdiens ons wil beoefen. Godsdiensvermenging of sinkretisme is die filosofiese beskouing wat glo dat alle godsdienste een gemeenskaplike grondslag of beginsel het wat van ‘n gemeenskaplike oorsprong is. Dit lê op dieselfde vlak as afgodediens. Die straf van God aan die Israeliete vir afgodediens, was 70 jaar in ballingskap. ‘n Mens kan maar net raai waarom die Here toegelaat het dat die Afrikanervolk al reeds vir meer as 16 jaar in ballingskap leef in ‘n land waar hulle eens die regeerders was.
Onder die dekmantel van naasteliefde word sinkretisme al hoe meer deur Afrikaners beoefen wat hulself Christene noem. Jy mag mense wat “ander gode” aanbid, nie aanstoot gee nie, want Jode, Boeddhiste en Moslems aanbid glo ook ‘n “almagtige god”. In Hosea 4:6 sê die Here sy volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis.(OV) Die Nuwe Vertaling stel dit so mooi: “My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie.” Die Afrikanervolk, wat tradisioneel ‘n gelowige volk met ‘n Christelike regering was, se toewyding aan die Here bestaan nie meer nie. Ek praat nie eers van hul gebrek aan kennis omtrent die Bybel en die karaktereienskappe van die heilige, soewereine God wat ons dien nie.
Sinkretisme is so oud as die mensheid self en is een van die slinkse planne wat die Satan beraam het om die mensdom ontrou aan God te maak. Hy ken die Bybel baie beter as wat ons dit ooit kan ken en hy ken God ook baie beter as wat ons ooit op aarde daarin sal slaag om Hom te ken. Hy weet dat God sonde nie ongestraf sal laat bly nie en dat God onverdeelde trou aan Hom vereis. (Exod. 20:5) Omdat hy ons haat, wil hy ons baie graag tot ontrouheid verlei. In Gen 10:8-12 en Gen. 11 lees ons van Nimrod wat ‘n wêreldryk, Babel, tot stand wou bring om teen God in opstand te kom.
Gedurende die regeringstyd van Alexander die Grote, ongeveer 325 v.C., is die deure van sy ryk wyd oopgegooi vir Oosterse filosofieë en mistisisme wat weswaarts inbeweeg het, en ook die Griekse denkrigtings wat weer vanaf die oostekant inbeweeg het. Hierdie proses gaan vandag nog voort teen ‘n geweldig snelle tempo omdat mense oor die hele wêreld met mekaar kan kontak maak deur middel van die Internet.
Die “New Age”- beweging het amptelik tot stand gekom in 1875 deur die teosofiese leerstellings van Helena Blavatsky en later ook deur Alice Ann Bailey in 1920. Daarin word baie duidelik melding gemaak van die eenwêreldregering en eenwêreldgodsdiens wat hulle nastreef. ‘n Wêreldheerser wat gaan kom om wêreldvrede en -oplossings te bring, word in hul geskrifte aan die mense voorgestel. Dit was niks nuut nie. Die Bybel sê vir ons dat deur die werking van die Satan die verskyning van die wettelose gepaard sal gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad het en tot hulle redding aanvaar het nie. (2 Tess. 2:9-10)
Die sinkretisme stel nie dat ‘n almagtige Drie-enige God die hemel en die aarde geskep het nie, maar dat alles deur ‘n groot knal, verandering en ontwikkeling, tot stand gekom het. Hoeveel Christene huldig nie ook vandag hierdie siening nie, ten spyte van die skeppingsverhaal in die Bybel waarin daar duidelik gesê word dat God die Skepper was. Deel van die sinkretisme is ook die siening dat die mens nog net moet leer om sy breinkrag ten volle te benut, want dan sal niks meer vir hom onmoontlik wees nie en sal hy soos God wees en self ook god wees. Die sinkretistiese mens kan die grootheid en almag van God nooit raaksien nie, omdat hy in sy eie oë self god is.
‘n Panteïstiese godsbeskouing is ook deel van sinkretisme en kom daarop neer dat god in alles en alles in god is. Die natuur word dus vergoddelik en God vermenslik. Dit is eintlik ‘n Oosterse godsdienssiening en word verder gekenmerk deur die reïnkarnasieleer en die verskynsel van meditasie. Reïnkarniste beweer dat die mens nie werklik sterf nie, maar dat dit wat vir ons na die dood lyk, net ‘n oorgang na ‘n nuwe, beter lewe beteken. Wanneer ‘n persoon dus sterf, dan kom hy of sy terug na hierdie lewe as iets of iemand anders. Die Bybel daarenteen, leer in Hebreërs 9:27 “Die mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.”
Die geloof van die fundamentele Christene wat glo dat die Bybel die absolute waarheid is en die Woord van die almagtige, Drie-enige God, staan in die pad van wêreldoorheersing en moet dus met wortel en tak uitgeroei word. Ten einde in hul doel te slaag, moet die sogenaamde verligte teoloë, nuwe hervormers en vals kerk van sinkretisme gebruik maak om dit reg te kry. Of die woord ‘vrede’ nou die teenoorgestelde betekenis kry as wat Jesus bedoel het, maak nie saak nie. Wat so teenstrydig is, is dat dié verdraagsame sinkretiste tog nie so verdraagsaam is as wat hulle voorgee om te wees nie. Teenoor diegene wat bely dat daar net een ware God is, God Drie-enig, en dat Jesus Christus die enigste Weg na God is, is hierdie sogenaamde verdraagsames, baie onverdraagsaam.
Baie duidelik en van toepassing is die woorde van 2 Tess. 2:11-12: “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.”