Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Heilige Gees beheer jou lewe, maar jy dink dalk dat dit deur drome en gevoelens moet plaasvind. Nee, dit is so eenvoudig soos om die Bybel te lees asof dit net vir jou geskryf is – ja, die Heilige Gees beheer jou lewe deur God se Woord; daarom, ken dit van harte.
DIE NUWE HERVORMING
Die sogenaamde Nuwe Hervorming is nie ‘n enkelvoudige beweging nie, maar bestaan uit ‘n aantal teoloë wat sekere oortuiginge huldig. Volgens hulle webtuiste is veral proff Pieter Botha, Pieter Craffert, Izak Spannenberg en Hansie Wolmarans die prominente figure in Suid Afrika.
Voortspruitend uit die werk van die Jesus Seminaar (waaroor ek later meer inligting sal gee), het Robert Funk 21 stellinge op die internet gepubliseer om ‘n kamtige radikale nuwe hervorming mee in te lui. Slegs enkele van hierdie stellinge word hier aangehaal:- Dit is nie langer geloofwaardig om aan Jesus as goddellik te dink nie.
- Die verhaal van ‘n Verlosser wat deur die vroeë Christene uitgedink is, is so argaïes soos die mitologie waaraan dit ontleen is.
- Die maagdelike geboorte is ‘n belediging vir die moderne mens se intelligensie.
- Die leerstelling dat God sy seun laat doodmaak het om sy dors na geregtigheid te bevredig, is subrasioneel en nie eties nie.
- Die opstanding van Jesus het nie die herlewing van ‘n lyk ingesluit nie.
Soos ek aan die begin gesê, lê die wortels van hierdie beweging baie ver terug in die verlede. Gedurende die Renaissance en daarna het kultuurbewuste Europeërs hulself tot die natuur en die menslike verstand gewend, veral tot wetenskaplike denke. Die wetenskap het geweldig vooruit gegaan gedurende die 17e eeu en intellektueles het
soveel vertroue in die rede ontwikkel dat enigiets wat nie verklaar kon word nie, eenvoudig verwerp is. ‘n Geestestroming het gevolg wat die Verligting, of in Duits (Aufklärung) genoem is. In hierdie tyd, rondom 1720-1770, het baie filosowe en teoloë hul rug op die tradisionele godsdiens gedraai en gesê dit is irrasioneel. Hulle het saamgestem dat God bestaan, maar was met afgryse vervul deur die godsdienstige oorloë en wou godsdiens aan ‘n wetenskaplike analise onderwerp. Die gevolg hiervan was die ontstaan van eeuelange debatte en ‘n soeke na ‘n historiese Jesus.
Reimarus was ‘n teoloog wat glo die Evangelies met “verligte oë” gelees het en gesien het dat die apostels legendes vertel het om van Jesus ‘n bonatuurlike figuur te maak. Jesus was, volgens hom, ‘n rewolusionis wat die omverwerping van die Romeinse Ryk nagestreef het. Sy lyk is gesteel om die illusie van opstanding te skep en die kerk was, volgens hom, van die begin af bedrog.
So was daar deur die jare telkens teoloë wat hierdie benadering voortgesit het. Onder invloed van die Aufklärung het letterlik honderde boeke en artikels oor die historiese Jesus die lig gesien. Almal was nie altyd so krities in teenstand teen die kerk nie, maar was tog volhardend rasioneel in hul benadering. Verbeeldingryke verklarings vir Jesus se wonderwerke is uitgedink. Geleidelik het soortgelyke publikasies al minder geword tot in 1953 toe daar meteens weer ‘n nuwe belangstelling in die onderwerp ontstaan het. Die penne het weer met nuwe energie in beweging gekom vir ongeveer 10 jaar voordat die kamtige soeke vir die tweede keer vervaag het
In 1985 het Robert Funk die Jesus Seminaar gestig en verklaar dat die soeke na ‘n historiese Jesus weer aan die gang is. Hy het ‘n groep van honderd Bybelse navorsers uit verskillende agtergronde, gelowe en denominasies versamel om aan die Jesus Seminaar deel te neem. Sodoende kon die breër publiek in Bybelse navorsing “opgevoed” word. Die pers is ook genooi. Volgens ‘n stemproses is elke uitspraak en gelykenis van Jesus bespreek en dan is daaroor gestem. Die gevolgtrekking waartoe hulle gekom het, was dat slegs 18% van die woorde wat aan Jesus in die Evangelies toegeskryf is, werklik deur Hom gesê is. Die res is deur die vroeë kerk versin. Mens is nie verbaas dat ook Joh 14:6 nl. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie,” nie as Jesus se outentieke woorde erken is nie.
Hoofstroom denominasies is onkant gevang deur hierdie sogenaamde navorsing en was versigtig om die kritiese situasie in die openbaar te ontbloot. Predikante het gesidder vir die gevolg wanneer hul lidmate moes hoor dat die Evangelies wat hulle so hoog ag, net ‘n klomp stories was. Hulle het self begin twyfel en hul eie prediking het kragteloos geword. Intelligente en Heilige Gees-geïnspireerde lidmate kon nie gebluf word nie en ‘n uittog uit gereformeerde kerke was die gevolg. Professore kon nie hul geloofwaardigheid in akademiese kringe in gevaar stel nie, en het vir studente begin leer dat Jesus nie regtig uit ‘n maagd gebore is nie; dat Hy nie werklik opgestaan het nie; dat die Bybel vol foute is; dat God nie vandag meer met mense praat nie; dat die Evangelies ‘n klomp stories is; dat die ballingskap nie God se straf aan Israel was nie, maar bloot plaasgevind het omdat die Assiriërs en die Babiloniërs sulke sterk wêreldmoondhede was; dat die Psalms wat aan Dawid toegedig word, toe nooit deur hom geskryf is nie; ens. Behoudende dosente aan universiteite se lewens is so ongemaklik gemaak dat hulle een vir een die aftog geblaas het.
Jong mans wat geroepe gevoel het om Teologie te gaan studeer en wat met entoesiasme en blink oë, gebore uit hul liefde vir Jesus Christus, aan ‘n universiteit gaan studeer het, het ontnugterd en verward die bediening betree. Daar was geen sin meer in om sendingwerk te doen nie. Wanneer ‘n lidmaat met opgewondenheid ‘n getuienis met sy of haar predikant wou deel, het hy die persoon (soos ek dit al self beleef het) stilswyend aangekyk asof hy dink: “Siestog, jy is so naïef. Ek weet gelukkig van beter.”
Watter slim plan het Satan nie uitgedink nie en hoeveel skade het hy nie die kerk van Christus berokken nie? Paulus waarsku die vroeë kerk alreeds teen dwaalleraars in 1 Tim. 4:1-2. In die tyd van die kerkvaders was hulle daar en hulle sal met ons wees tot op die dag wanneer Jesus terugkom om ons te kom haal. Tog het Jesus geweet wat sou gebeur toe Hy vir Petrus in Matt. 16:18 gesê het: “….en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
In die volgende aflewering gaan ons kyk hoedat die Bybel nie net in interne toetsing slaag nie, maar ook in eksterne toetsing. Dan word die gevolg van die Nuwe Hervorming op die kerk van ons tyd in die derde aflewering oor hierdie onderwerp bespreek.
Een van die behoudende dosente wat in die 1970’s en 1980’s klas gegee het aan die Universiteit van Pretoria, prof. André du Toit, het na aanleiding van die Jesus Seminaar se kamtige “bevindinge”, gesê: “Ons hoef nie ver na die historiese Jesus te gaan soek nie. Hy kom na ons in die gestalte van die Evangelies. As ons fyn en reg leer kyk, sal ons sy gelaat herken, en ons sal weet: dit is Hy.” Dit is dan ook wat ons nou gaan doen, “fyn en reg kyk na die Evangelies”.
In Luk. 24:13-35 loop Jesus saam met Kleopas en ‘n vriend na Emmaus. In hulle gesprek verwys hulle spesifiek na Jesus van Nasaret as die Een wat magtig was in woord en daad, wat gearresteer, veroordeel en gekruisig is, en van wie vertel word dat sy graf leeg is.
Soos Hy dikwels gedoen het, leer Jesus hulle. Wanneer hulle aan tafel is en Hy die brood breek, herken hulle hom. Op grond waarvan? Op grond van die feit dat Hy vir hulle die Skrifte uitgelê het soos voorheen en die brood gebreek het soos voor sy dood en opstanding. Jesus word herken op grond van die Jesus van vroeër. Dieselfde gevolgtrekking kan gemaak word ten opsigte van Luk 24:36-49 wanneer Jesus aan die dissipels verskyn. In Joh 20:11-18 lees ons van Maria wat Jesus herken wanneer Hy haar op haar naam noem. Maria herken Jesus op grond van die verhouding wat tussen hulle bestaan het. Tomas herken Jesus aan die merke aan sy hande en in sy sy (Joh.20:26-31). Hy herken Jesus as die een wat gekruisig is.Die apostel Petrus het, terwyl hy geweet het dat hy gaan sterf, begeer om ‘n finale getuienis aan sy lesers na te laat oor die historisiteit van Jesus. Reeds in sy tyd was daar baie ongeloof in ‘n bonatuurlike Jesus en daarom sê hy in 2 Petrus 1:13-16: “Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien.”
Johannes en Petrus getuig albei van Jesus se heerlikheid wat hulle gesien het, die heerlikheid wat hy het as die enigste Seun van die Vader (2 Pet.1:17 en Joh. 1:14). In vers 18 sê Petrus ook dat hulle God se stem self gehoor het toe hulle saam met Jesus op die berg was.
Lukas begin sy Evangelie met dié woorde aan Teofilus in Luk1:3: “Daarom het ek dit goed gedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.”
Baie van die boeke van die Nuwe Testament is geskryf terwyl mense wat ooggetuies was, nog steeds geleef het. Paulus het homself op ooggetuies beroep wat nog geleef het om sy stelling oor die fisiese opstanding van Jesus te bevestig (1 Kor 15:6).
Kan dit dalk moontlik wees dat die dissipels die hele storie versin het soos sommige teoloë beweer? Een ding is seker. Jesus sou ‘n baie swak kandidaat gewees het om te kies om te vergoddelik. Sy lering was in stryd met die Messiaanse verwagting van sy tyd. Die Jode het ‘n Messias verwag wat met die swaard sou kom veg teen die Romeine en die land aan die Jode sou teruggee. Dit was ook ondenkbaar dat sy volgelinge sou verklaar dat ‘n gewone mens God was. Dit was lynreg in stryd met die lering van die eerste eeuse Joodse ideologie. Twee wette was die fondament van die Joodse geloof, nl die eenheid van God en dat niemand naas Hom ander gode mag hê nie. Om ‘n mens te vergoddellik, was heiligskennis en steniging was die straf vir so ‘n misdaad. Daar is net een rasionele verklaring waarom Jesus as God verklaar is: Hy het hierdie aanspraak self gemaak en die geloofwaardigheid van bewyse het sy dissipels oortuig dat Hy die waarheid praat. Hulle eie skeptisisme het gewyk voor sy wysheid en sy wonderwerke.
Buitebybelse bronne bestaan ook wat na Jesus verwys. Die Joodse historikus, Josefus, verwys in sy Antiquities of the Jews, twee maal na Jesus. Hy noem Hom selfs daarin die Messias. Alhoewel die inligting daarin uiters beperk is, voorveronderstel dit dat Hy gelewe het en dat Hy ‘n bediening gehad het wat geweldig baie aandag getrek het, selfs onder die Romeine wat Hom veroordeel het.
In een van die briewe wat Plinius die Jongere, ‘n Romeinse skrywer wat tussen 62 tot 113 n.C. geleef het, aan keiser Trajanus geskryf het, vind ons ook ‘n verwysing na Jesus. Hy verwys na Christus wat as ‘n God aanbid is. Daar bestaan ook bewyse van Joodse godsdienstige bronne waarin na Jesus verwys word.
Dit is ‘n mistasting om te beweer, soos al deur teoloë gedoen is, dat die dorpies en bergstreke van Galilea waar Jesus die meeste van sy lering gegee het, ‘n ongeletterde en geïsoleerde gemeenskap was. Opgrawings is gevind wat bewys dat skryfwerk in Grieks, Aramees en Hebreeus wydverspreid op alle vlakke van die samelewing te vinde was.
‘n Ander aspek wat buite rekening gelaat is, is die mondelingse tradisie van die Jode. Kennis is mondelings oorgedra in Joodse kringe en ‘n baie hoë standaard van akkuraatheid is verwag. Omdat die vroeë Christene Jesus se lering as heilig beskou het, sou hulle dit nie gewaag het om daaraan te verander nie.
‘n Nederlandse teoloog, dr T.J. Baarda, het in 1967 gesê: “Dat de evangeliën over de eeuwen heen ons vandag nog in beweging kunnen zetten, is het bewijs dat de evangeliën werkelijk betrouwbaar zijn.” Met sulke wysheid kan ons nie stry nie.
Hierdie eeuelange aanslag op die gesag van die Woord van God, maar veral vanaf die stigting van die sogenaamde Jesus Seminaar, het ‘n geweldige invloed op die kerk van ons tyd gehad.
In hierdie laaste deel oor die Nuwe Hervorming wil ek kortliks die invloed daarvan op die hoofstroomdenominasies bespreek. Soos ek tevore gesê het, was dit vir predikante ‘n nagmerrie toe die Jesus Seminaar met hul sogenaamde navorsing vorendag gekom het. Daar het niks oorgebly om oor te preek nie. Baie van hulle se eie geloof het begin wankel en hul prediking het kragteloos geword, want hulle moes ‘n rookskerm voorhou. Wedergebore lidmate kon nie gebluf word nie en ‘n uittog uit die kerk was die gevolg. Charismatiese gemeentes het teen ‘n geweldige tempo gegroei, maar baie mense, veral jongmense, het net eenvoudig uit kerke verdwyn. Ouer lidmate het al hoe meer bekommerd geraak oor die jeug want die samelewing gaan teen ‘n spoed agteruit en morele waardes bestaan feitlik nie meer nie, en die jongmense kom nie meer kerk toe nie. Dit is vandag niks vreemd om in ‘n kerkdiens net ‘n klomp gryskoppe te sien nie.Tog het George Barna met verstommende resultate na vore gekom na ‘n intensiewe studie oor die jongmense in Amerika. Hy is leier van ‘n groep wat navorsing doen oor geestelike- en leierskapontwikkeling vir jong mense. Hy het ‘n boek geskryf met die naam “Revolution,” waarin hy sy navorsingsresultate bekend gemaak het. Hy het bevind, deur letterlik duisende vraelyste te laat voltooi, dat daar ‘n geestelike rewolusie in Amerika aan die gang is. Die Christenkerke het nie ‘n idee wat besig is om te gebeur nie. Daar is ‘n nuwe generasie volgelinge van Jesus Christus wat nie bereid is om godsdienstige speletjies te speel nie. Hulle wil meer van God in hulle lewens hê en is aggressief besig om God se Koninkryk uit te brei. Hulle is toegewyd en ernstig in hul geloof, aanbid die Here gereeld en hulle lewens draai om God as die middelpunt daarvan. Hulle verwerp die kragtelose, lamlêende sisteme van die kerk en leef in ooreenstemming met Bybelse beginsels. Hulle keer terug na ‘n eerste eeuse lewenstyl gebaseer op geloof, liefde, gasvryheid, hulpvaardigheid en eenvoud. Hulle sien geen sin meer in kerke wat godsdienstige speletjies speel nie. Hul weier om leiers te volg wat populariteit soek eerder as die waarheid. Hulle weier om geld te gee vir mensgemaakte monumente. (Daar was mos ‘n beheptheid met kerklike strukture en geboue terwyl ons goed geweet het dat die “Kerk”, nie die geboue is waarin ons bymekaarkom nie.) Hulle is nie meer beïndruk met grade en akademiese opleiding wat predikante oplewer wat nie in staat is om die Bybel te verdedig nie. Hulle jaag ‘n intieme verhouding met God na en staan vir Jesus, ongeag van wat universiteitsgeleerdes te sê het. Per slot van sake is dit God wat eendag as Regter gaan oordeel, en nie die sogenaamde geleerdes nie. Hulle is in huiskerke of Bybelgroepe betrokke, en kry uitstekende lering oor die internet of die televisie.
Barna het homself afgevra waarom so baie kerkgaande Christene so geestelik onvolwasse is. Hy het gevind dat 91% van lidmate van hoofstroomdenominasies so ‘n laslapwerk van teologiese sieninge het dat hulle nie daarop kan staatmaak om daaglikse besluite te neem nie. Minder as 10% glo dat morele waarhede in die Bybel te vinde is. Hulle gee gemiddeld 3% van hul inkomste vir Koninkrykswerk en voel nogal heel trots op hul offervaardigheid. Die egskeidingsyfer is net so hoog onder kerkgangers as onder nie-kerkgangers. Die oorsaak hiervan kan voor die deur van die Nuwe Hervorming gelê word.
Die jonger geslagte spandeer baie tyd daaraan om bande te smee. Hulle is mensmense. Hulle fokus op persoonlike egtheid eerder as op prestasies. In bedienings word meer klem gelê op persoonlike stories en ervarings as op reëls en opdragte. Hulle lê meer klem op praktiese dinge en het baie entoesiasme vir persoonlike gesprekke om die Evangelie te deel. Hulle wil deel wees van uitreikprojekte eerder as om net hul geld vir die kerk te gee. Dit gaan vir hulle oor verhoudings, toewyding en prosesse om Godliefhebbers te wees. Dit gaan nie vir hulle oor die kerk nie, maar oor mense wat aktief deelneem aan die uitbreiding van God se Koninkryk. Hulle gedagtegang is eenvoudig – doen wat ookal nodig is om nader aan God te kom.
Nelus Niemand is ‘n teoloog in Suid-Afrika wat ook baie navorsing gedoen het oor hierdie selfde onderwerp. Hy het ook ‘n boek geskryf, “Nuwe drome vir nuwe werklikhede,” waarin hy beweer dat die postmoderne aardbewing, getygolwe veroorsaak het wat oor die hele wêreld en kerk spoel, sodat niks weer dieselfde sal wees nie. Hy sê dit is soos ‘n kulturele tsoenami wat die kerklike toneel blywend verander het.
Barna sê die kerk het ‘n tweeduisendjaar-oue nalatenskap en het wel sy werk gedoen, maar gaan ernstig geraak word deur hierdie geloofsrewolusie. Kerkbywoning gaan afneem en bydraes gaan verminder. ‘n Kwynende aantal predikante gaan ‘n leefbare salaris van hul gemeentes ontvang. Daar sal egter altyd plek wees vir ‘n geestelik gesonde kerk wat ‘n ware rol binne God se Koninkryk kan speel. Per slot van sake beskryf die Bybel nie die kerk soos ons hom vandag ken nie. Kerkleiers het die huidige kerkvorm geskep baie lank nadat die Bybel geskryf is. Dit was ‘n poging om gelowiges te help om meer vervulde Christelike lewens te lei, en het seker in ‘n sekere sin geslaag gedurende die eerste aantal eeue n.C. Dwaalleringe het ingesluip en ware hervorming moes plaasvind. Die Reformasie onder Luther en Calvyn het die Bybel weer aan die gewone mens teruggegee, maar die huidige sogenaamde Nuwe Hervorming onder invloed van die Verligting, het ‘n einde gemaak aan die kerk soos ons hom vir baie eeue geken het.
Volgens Calvyn was daar naas die sigbare kerk, ook die onsigbare Kerk wat alleen vir die oë van God sigbaar is. Dit is die uitverkorenes van God, die volmaakte en ewige Kerk. Van een ding kan ons seker wees, hierdie volmaakte Kerk van Jesus Christus sal oorleef totdat Hy ons kom haal. Of dit nou gebeur in klein groepe, familie-samekomste, huiskerke, op die markplein, oor die internet of in ontluikende nuwe kerke, dit maak nie saak nie. Dit gaan nie meer oor kerkwees nie, maar oor God se Koninkryk!