Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat die HERE jou gemaak het ken Hy jou deur en deur, of jy dit nou wil weet of nie. Daarom het Hy medelye met jou swakhede en verdelg jou nie oor jou sonde nie maar vergewe jou in liefde en verwyder jou oortredinge dan so ver as die ooste van die weste verwyderd is. En dán word die jeug binne jou so nuut soos 'n arend, sê Dawid in Ps 103.
IS GELOFTEDAG ‘N SABBATDAG?
Dr JP Botha
Het ons voorvaders die reg gehad om hulle nageslag aan ‘n bepaalde gelofte te bind en eis God werklik van ons om Geloftedag soos ‘n sabbat deur te bring?
‘n Gelofte is ‘n plegtige toesegging waardeur ‘n mens jou aan God verbind tot ‘n buitengewone handeling. ‘n Mens verbind jou vrywillig teenoor God om iets te doen of iets te laat.
In die Bybel word op verskillende plekke van geloftes gemeld. Dit was geen sonde om nie ‘n gelofte te maak nie, maar dit is wel sonde om ‘n gelofte te doen en dit nie na te kom nie. (Deut.23:21).
Een van die hoogtepunte in ons volksgeskiedens het hom afgespeel by Bloedrivier op 16 Desember 1838 toe 407 mans hulle moes verweer teen ‘n getalle-oormag van omtrent 12 000 Zoeloes.
Dingaan het met sy plunder- en moordtogte die Blankes in Natal bedreig. Vroeg in Desember 1838 lê Sarel Celliers saam met genl. Adries Pretorius die gelofte voor God af dat hulle “die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag, soos ‘n sabbat , sal deurbring ... en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte” as God hulle die oorwinning sal gee oor die impi’s van Dingaan.Jaarliks kom ons op 16 Desember weer te staan voor die eis van die gelofte wat ons voorouers afgelê het. Ons voorouers het hulself én vir ons daartoe verbind om die dag “soos ‘n sabbat”deur te bring. Dus geld dieselfde beginsel vir Sondag, ook vir Geloftedag.
Waarom is die gelofte van 1838 dan nog vir ons bindend? Omdat ons ‘n Christelike volk is wat nog die gesag van die drie-enige God erken en aanvaar dat daar niks in die heelal gebeur wat nie in sy alwyse voorsienigheid in sy ewige raad bepaal is nie.
Maar daar is ook verskillende bande wat ons aan die verlede bind, waarvan die morele band een is. As ‘n Christelike volk behoort ons dit as ‘n dure plig en voorreg te beskou om die erewoord van ons voorouers na te kom. Hulle het die gelofte afgelê toe hulle in die grootste nood verkeer het en het die volste vertroue gehad dat hul nageslag hulle nie sou verloën nie.
Daar is ook die staatkundige band. Die oorwinning by Bloedrivier was beslis die beginpunt van die vryheid wat ons later deur God se genade geniet het.
Ons kan ook die historiese band nie verontagsaam nie. Die wyse waarop God sedert die volksplanting op 6 April 1652 voorsien het, voer ons by Bloedrivier verby, want hier het die geskiedenis van die Blanke en die Christelike beskawing in Suid-Afrika ‘n besliste keerpunt bereik.
Daar is ook die fisieke band. Die bloed van Voortrekkermanne en –vroue vloei in die are van die huidige afstammelinge. Hulle het hulself onder eed geplaas voor God met die oog op hul nageslagte Dit geld nie net vir die nasate van die Voortrekkers nie, maar ook vir almal wat hulle met die Suid-Afrikaanse nasie vereenselwig, veral diegene met Calvinistiese geloofsoortuigings. Almal wat burgerskap in Suid-Afrika verkry het, is verplig om hulle aan hierdie eed te onderwerp.
Die belangrikste is die godsdienstige band. Ons glo in dieselfde drie-enige God as ons vrome voorvaders, as die groepie Voortrekkers wat rondom die kanonwa saamgetrek was toe Sarel Celliers namens hulle almal die gelofte afgelê het. Die gelofte van ons voorvaders is ten diepste ‘n verbond vanaf die mens met God. Dit bind ons as gelowige Christelike volk aan die gelofte van 16 Desember 1838 wat deur God beantwoord is by Bloedrivier. Durf een van ons beweer dat die gelofte nie elke jaar op 16 Desember tot ons persoonlik spreek nie? Wie hom van die binding van hierdie gelofte wil losmaak, moet weet dat dit “sonde in jou sal word” (Deut. 23:21). Moenie met hierdie sonde buite die verbond van God tree nie.