Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy dink geluk en optimisme is net illusies, moet jy die blinddoek van jou oë verwyder sodat jy die vreugde rondom jou kan raaksien. Hoe? Vertrou op die HERE, en kyk deur God se oë na die sin en skoonheid wat Hy geskep het – dit verskaf groot vreugde!
GELOFTEDAG- REEKS (4)
DIE BEDENKING VAN SAREL CILLIERS
Dr PE van der Dussen
Lees reeks by Geloftedagreeks dr PE vd Dussen
Toe die gedagte van die Gelofte die eerste keer op Sondag 2 Desember 1838 te Danskraal aan Sarel Cilliers voorgehou is, het hy dié bedenking geopper: Pasop dat ons nie met dié Gelofte vir ons en ons kinders 'n struikelblok daarstel nie, 'n stok waarmee ons geslaan kan word! Nogtans het die keurbende, verteenwoordigend van die Afrikanervolk, die Gelofte plegtig afgelê en hulle geloof in die almag en krag van God gestel. In die oorwinning het God die Gelofte bevestig deur hulle die aanslag van die barbare te laat afslaan. So het die Gelofte 'n tweedelige verbond geword: Geloofsvertroue deur die mens, beskerming deur God. Die Trekkers het belowe dat, as God met hulle sou wees, hulle Hom sou dien en loof en prys en hulle nageslag sou leer om dit ook te doen. Omdat God met hulle was, is elke Afrikaner tot vandag toe verplig om die Gelofte gestand te doen.
Elke gelowige Afrikaner. Gelowig, omdat die Gelofte net gevier en nagekom kan word deur mense wat glo in die Almag van God, wat glo dat God aan dié wat hom in waarheid aanroep, redding uit nood skenk.
Mense wat weet dat die eer en roem van die redding nie aan enige skepsel toekom nie, maar aan God en God alleen. Afrikaner, omdat die afleggers van die Gelofte verteenwoordigend van die Afrikanervolk was. Vir iemand wat nie gelowig is nie en vir iemand wat hom nie met die Afrikanererfenis vereenselwig nie, kan Geloftedag nie die regte betekenis hê nie.Nogtans spring die ongelowige Afrikaner nie die Gelofte vry nie: Dat hy die Gelofte nie nakom nie, spreek van ongeloof en dien tot verswaring van sy sonde van ongeloof. Eweneens moet gelowiges van ander volke die Gelofte, al is hulle nie daardeur gebind nie, en Bloedrivier sien as 'n kragtige openbaring van God aan die heidendom van Afrika waardeur Hy Sy koninkryk bou. Hierdie omvattendheid en drakrag van die Gelofte is in Sarel Cilliers se bedenking vervat, veral waar die Gelofte nie net op een geslag nie, maar op alle geslagte van die Afrikanervolk bindend is.
Geskiedenis van Geloftenakoming
In hoeverre en hoe het die Trekkers self, die geslag wat by die Slag van Bloedrivier betrokke was, die Gelofte herdenk? Hoedanig het hulle eerste nageslag, hulle kinders en kindskinders, bouers van ons georganiseerde volksbestaan, dit gedoen? Drie dinge is beloof:
l Dat ons die dag en datum iedere jaar as 'n verjaarsdag en 'n dankdag, soos 'n Sabbat, tot Sy eer sal deurbring;
l dat ons 'n tempel tot Sy eer sal oprig; en
l dat ons dit ook aan ons kinders sal sê dat hulle daarin met ons moet deel, tot gedagtenis ook vir ons opkomende geslagte.
Viering van Geloftedag
Aanvanklik was daar net sporadiese vierings, meestal deur families soos diè van Sarel Cilliers. Nogtans was die gedagte tot gemeenskaplike en ordelike viering van die dag, agtereenvolgens bekend as Wendag, Gedenkdag, Voortrekkerdag, Dingaansdag en Geloftedag, van die begin af daar, teneinde daaraan as volksherdenking uiting te gee. Daarvan getuig besluite deur kerkvergaderings, openbare vierings, en in die ZAR die wetlike verklaring in 1865 van die dag as 'n dankdag aan die Here gewy.
Geloftedag het op 16 Desember 1880 volksfeedag geword met die volksvergadering by Heidelberg toe die Vierkleur gehys en die ZAR vry van Brittanje verklaar is, volgende op die hernuwing van die Gelofte op 9 Desember 1880 by Paardekraal. God het 'n verdrukking op die Afrikaner geplaas om die volk daartoe te bring om sy Gelofte na te kom. Daarna is Geloftedag gereeld in die Noordelike gebiede gevier, in die ZAR 'n staatsfees elke vier jaar by Paardekraal. Deur die daaropvolgende veelbewoë geskiedenis van die Afrikaner het Geloftedag ‚n al sterker volksbetekenis gekry en is die viering daarvan sterk uitgebrei.
Die volgende datums staan uit:
l In 1904 is die liggaam van die gestorwe banneling-Staatspresident S J P Kruger op 16 Desember te Pretoria te ruste gelê.
l In 1913 is die Vrouemonument te Bloemfontein onthul.
l In 1938, met die honderdste herdenking van die aflegging van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier, het die simboliese ossewatrek uit Kaapstad die volk aangegryp en met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1938 het 100 000 Afrikaners die herdenking afgerond. Die Afrikanervolk het ontwaak en die magtige gevolge daarvan is bekend.
l In 1947 is die Bloedriviermonument in Natal onthul.
l Nadat elke provinsie 'n belangrike Geloftefees gevier en tot die beteke-nis van Geloftedag bygedra het, het hulle eenheid in die groot fees by die Voortrekkermonument in 1949 tot uiting gekom toe 250 000 Afrikaners – 'n sesde van die destydse Afrikanervolk – daar saamgetrek het.
In 1951 is die huidige naam aan Geloftedag gegee en die Sabbatswette daarop van toepassing gemaak en is daar in hierdie eeu staatserkenning in besondere sin aan Geloftedag gegee. So het 16 Desember 'n erkende instelling geword en aan betekenis gewen, en in elke nuwe geslag deur een of ander gebeurtenis bevestiging ontvang.
Stigting van 'n tempel
Die tweede belofte was dat 'n tempel tot eer van God opgerig sal word. Die Geloftekerkie wat te Pietermaritzburg opgerig is, spreek daarvan. Die kerkie was slegs tydelik bedoel, maar met die Britse besetting van Natal in 1843 en die armoede onder die Trekkers is 'n beter Geloftekerk nooit opgerig nie.
Wat wel gebeur het, is dat kerktorings dwarsoor die land verrys het. Wie ken nie die ervaring om op vreemde paaie te ry met die wete dat daar vorentoe 'n dorp of gehuggie is nie, en lank voordat die plek self sigbaar is, reeds die kerktoring of kerktorings te sien nie? So is daar eintlik 'n menigte tempels tot eer van God opgerig en is die sigbare kerkgeboue getuienis dat die tweede belofte uitgevoer is. Ja, jy sou selfs kon sê dat die hele land soos 'n tempel van God geword het.
Geestelik het die Trekkers en hulle nakomelinge nogtans 'n tempel tot eer van God opgerig. Met die Bybel in die wakis het hulle die lig van die Evangelie met hulle meegeneem waar hulle gegaan het, oor die lengte en breedte van ons land, tot in Angola en Kenia. Ja, selfs tot in die verre Bermuda, St Helena, Indië en Ceylon het die Boerekrygsgevangenes die Woord van God met hulle saamgeneem. Dit bring die geloof en dankbare wete dat deur diè verbreiding van die Evangelie uitverkorenes geroep is om tot eer van God te jubel, omdat die Woord van God nie leeg tot Hom terugkeer nie. So is in die liggaam van Christus, naamlik Sy kerk, die tempel van die Gelofte gebou. Dit is die belangrikste betekenis van die tweede belofte.
Oordra aan die nageslag
Voortvloeiend beteken dit dat die derde belofte dat die afleggers dit aan hulle nageslagte sou oordra, nagekom is. Elke Geloftedagbyeenkoms getuig daarvan. Die ware betekenis, die sin, ja die Gelofte en die dag self sou verlore gewees het as dit nie deur die geslagte heen tot aan die huidige geslagte oorgedra is nie. Hierdie binding van die nageslag was die kernoorsaak van Celiiers se twyfel en kommer: Kan een geslag die volgende geslagte bind?[1]
En vandag?
Die Gelofte is nagekom, nieteenstaande traagheid en 'n mate van onwil in die begin. Nuwe waarde is mettertyd tot die sin en betekenis daarvan toegevoeg, toevoegings wat sonder uitsondering met die verdrukking en benoudheid van die Afrikanervolk te doen gehad het, soos die jaartalle toon: 1880, 1904, 1913, 1938, 1947, 1949, die laaste 'n dankseggings-dag, maar ook 'n versterkingsdag vir die stryd wat op elke Afrikaner gewag het. Oor die jare het 16 Desember nuwe betekenis, nuwe inhoud gekry, steeds in die gees van die Gelofte. Die voorgeslagte het die Gelofte herdenk en dit telkens verstewig en in die gees herhaal volgens hulle omstandighede.
Waar die Heiligheid van God in hierdie saak ter sake is, kan daar nie op tradisie en afkoms staatgemaak word nie. Elke geslag ontvang die oorlewering van die Gelofte en die verantwoordelikheid rus op elke geslag om die oorlewering voort te sit. Dit gebeur slegs deur die Gelofte getrou te herdenk. Net èèn geslag se verwaarlosing daarvan sal dit maar net nog 'n gebeurtenis laat word wat geen betekenis inhou nie.
Kom óns die Gelofte getrou na en bevestig óns dit?
Hierdie vraag kom regstreeks tot elke Afrikaner en word aan elkeen gestel. Ja, óns is hier bymekaar. Maar wat van bure, vriende, familie? Soveel Afrikaners wat vandag visvang, piekniek hou, lê en slaap? Selfs hier op die platteland, waar sake nog meer behoudend is as in die stad? Leef ons nog in ons daaglikse lewe in die gees van die Gelofte? Die gees van geloof en vertroue, soos dit hier voorgehou is? Die getroue viering van Geloftedag sal niks beteken as ons nie uit die besieling daarvan put en versterk word nie.
Kyk ons na die geestelike toestand van ons volk, kan ons wel vra of ons ons nie só teen die vyand van buite blindstaar dat ons die kanker wat ons van binne uitmergel nie raaksien nie! Kyk op Sondag hoe dit by die plesieroorde lyk, en kyk dan na die kerke! Kyk na die kerklike bydrae van selfs getroue lidmate, en vergelyk dit met wat aan sinnelose wêreldse dinge bestee word. Dink aan die onrusbarend baie moorde en selfmoorde, gruwelike sondes voor God, maar tekenend van ons tydsgees van afvalligheid en traakmynieagtigheid. In Suid-Afrika word per kop van die bevolking meer alkohol as in meeste ander lande verbruik; egskeidings per bevolkingsgrootte is die tweedehoogste in die wêreld; misdaad neem by die dag toe. Allerlei uitheemse en wêreldse gewoontes begin by ons posvat, soos skemerkelkpartytjies, volgens 'n regter 'n ongesonde, sedebederwende gewoonte. Is dit tekens van 'n Christelike volkslewe? Dalk gaan ons getrou kerk toe, maar op pad koop ons ons Sondagkoerant – leesstof wat in geen Christenmens se huis tuishoort nie. Dan word die dag se voorraad kos ook maar gou gekoop. Gruwelike Sabbatsontheiliging! Dit is goed om openbare swembaddens op Sondag te sluit, maar laat ons die subtiele vorms van Sabbatsontheiliging ook staak! Min of geen van ons hier sal daaraan dínk om op Sondag 'n openbare plesierplek te besoek nie, en tog gaan ons voort met al die ander vorme van Sabbatsontheiliging. Dan is ons verbaas as die Sondagse plesiersoekers die kerk skynheilig noem.
Nie net op Sondag tas ons die eer van God aan nie. Daar was 'n tyd gelede die Jakarandafees in Pretoria. Later, toe die organiseerders daarvan teenstand kry vanweë die heidense inslag daarvan, het hoevele Afrikaners, ja selfs kerklike ampsdraers nie net onverskillig gestaan nie, maar openlik vir die fees na vore getree. Dit terwyl die kerk per brief en per woord beledig, uitgeskel en bespot is op 'n wyse wat jou laat sidder! Alle eer aan gesaghebbendes wat standvastig bly staan het en selfs met verlies van menslike gewildheid geen duimbreedte wou wyk nie. Vanjaar moes ons in skole ervaar dat smerigheid met toekennings beloon word.
Hoe is dit met ons kerke gesteld? Ons dink ons staan nog vas en stewig, maar hoeveel is daar wat nie reeds twyfel nie? Selfs onder die “kerkleiers”, die ampsdraers, vind ons wankeling en afwyking. Die uitwissing van grenslyne word deur “kerkleiers” bepleit. Die kerk moet nader na die mense kom, moet dus wêreldgelykvormig word. Ander heul met godsdienste en strominge wat in wese on- en selfs anti-Christelik is. Nog ander vereenselwig hulle met rigtings wat vir die Afrikaner met sy Gereformeerd-Calvinistiese herkoms vreemd is. Sommige gaan sover as woordverbreking en laagverraad van hulle eie aan die Jingopers wat, deur Jode beheer, nie óns God kán dien nie. As dit onder “kerkleiers” so lyk, vra ons met beklemming hoe dit dan met die lidmate gesteld is.
Hoe lyk dit met die opvoeding van ons kinders? Hulle word van alle middele voorsien om hulle so goed as moontlik te bekwaam. Ons roem vandag met reg op ons onderwys. Leemtes bestaan, maar oor die algemeen word ons kinders goed opgelei. Maar word hulle ook reg opgevoed? Daar is ten spyte van die prestasie op onderwysgebied 'n ernstige leemte wat ons nie langer durf ontwyk nie. Dit is die byna vrysinnige onderwysstelsel, die gevolg daarvan dat ons ons opvoedingstaak aan die Staat oordra. Dit is reg dat die Staat toesien dat die volk reg opgevoed word, het Staatspresident Kruger sewentig jaar gelede gesê. Maar, het hy bygevoeg, dit is vir ons volk belangrik dat die onderwys belydend moet wees, nie algemeen-Christelik en soms selfs algemeen-godsdienstig soos ons dit vandag aantref nie. Op ouers rus die plig om ooreenkomstig die doopbelofte toe te sien dat hulle kinders se hele opvoeding in ooreenstemming met Gods Woord en die Belydenis geskied. Besinning hieroor is dringend noodsaaklik in die lig van die derde belofte, want die viering van die Gelofte is tevergeefs as die gees daarvan nie in ons alledaagse lewe sigbaar is nie. En hoe kan dít so wees as ons kinders, ons opkomende geslag, nie in dìé gees opgevoed word nie!
Daar is nie ruimte vir selftevredenheid en gerustheid nie. Die geestelike toestand van ons volk in hierdie veelbewoë tyd stem hoegenaamd nie tot gerustheid nie. Ons moet ons melaatsheid raaksien en behandel. Dit is maklik om te sê dat ons in die geloof die hele wêreld kan uitdaag, maar om daardie geloof te besit en te bewaar sal al moeiliker word. Aan die ander kant kan en moet ons dankbaar wees vir dié wat nie die knie voor Baäl buig nie, dié wat soos 'n suurdeeg werk om te voorkom dat die kerktorings 'n aanklag teen ons word. Ons staar 'n toekoms in die gesig wat vir die menseoog nie bemoedigend lyk nie. Die magte van die duisternis word gemonster om oor die ganse aarde die Kerk van Christus aan te val. Nader tuis sien ons die woelinge in en oor Afrika, woelinge wat ons plek as Blankes in die gedrang bring. Maar Goddank ook ons plek as gelowiges, as 'n volk wat deur die Gelofte aan God gebind is! Want Hy, die God wat Bloedrivier laat plaasvind het, Hy is getrou aan Sy beloftes en Sy ewige Verbond in Jesus Christus onse Here!
Ons antwoord op die bedreiginge moet nie wees ons wapentuig, ons ekonomiese krag, ons strategiese waarde nie. Al hierdie dinge is nodig en goed en iets om die HERE voor te dank. Maar wie dáárop vertrou word maklik tot onheilige verbonde verlei wat verwording onder die invloed van bondgenote meebring wat nie ons lewensbeskouing huldig nie. Op al die bedreiginge wat vir ons in die toekoms voorlê, is daar net een uitweg: Om soos die keurbende 125 jaar gelede nie op eie krag nie, maar op die verlossingskrag van God staat te maak. Laat ons dit doen met alle mag en krag waaroor ons beskik. As ons dit doen, kan ons ook met vrymoedigheid in die gebed tot God opsien en Hom aanroep:
Op U Almag vas vertrouend' het ons vaad're gebou.
Skenk ook ons die krag, o HERE, om te handhaaf en te hou,
Dat die erwe van on vaad're vir ons kinders erwe bly -
Knegte van die allerhoogste – teen die hele wêreld vry!
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o HEER:
Met ons land en met ons nasie sál dit wel wees: God regeer!
[1] Dr H F Verwoerd het in 1951 die stelling gemaak dat geen geslag ‘n volgende geslag kan bind nie, maar dal elke geslag so moet optree dat die volgende geslag nie sal kan omdraai en ‚n verwytende vinger na die vorige geslag kan uitsteek nie. Vandag weet ons dat sy geslag die Afrikaner en Blanke met woord en daad probeer beveilig het in die land van ons inwoning. ‚n Kwarteeu na F W de Klerk se verraadstoespraak op Rooi Vrydag 2 Februarie 1990 wys honderde duisende Blanke en al hoe meer Swart en Kleurlingvingers na De Klerk.