Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die graf is 'n deurgang; dit gaan toe op die skemer en maak oop op die dagbreek. Jy gaan nie na die donkerte toe nie want God is lig. Jy sal nie alleen wees nie want God is by jou. Dit is nie 'n onbekende land nie want Jesus is daar.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (7)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Twee ongehoorsame seuns
Mt.21:28-32
Op die oog af skyn die verklaring van hierdie kort gelykenis baie duidelik te wees want dit handel oor ʼn wingerdboer wat sy twee seuns versoek om in sy wingerd te gaan werk. Toe die een seun summier weier om te gaan, het die pa na die ander seun gegaan wat onmiddellik ingewillig het. Daarna het die eerste seun berou oor sy optrede gekry en tog maar in die wingerd gaan werk. Die tweede seun het t.s.v. sy belofte aan sy pa nie ʼn vinger verroer en ʼn toon in die wingerd gesit nie.
Die vraag is: Watter seun het die wil van sy vader gedoen? Die eerste een natuurlik. Tog is die verklaring nie so voor die hand liggend soos wat dit lyk nie. Wat was Jesus se doel met die gelykenis? Wou Hy bloot vir ʼn man met twee seuns wat wyd uiteenlopende persoonlikhede gehad het voorligting gee? Die een was opstandig en weerbarstig en die ander een vriendelik, inskiklik en beleef teenoor sy pa. Die eerste een is openlik ongehoorsaam terwyl die ander een openlik gehoorsaam is, maar tog sy belofte verbreek. Hoe moet die vader die situasie hanteer? Wie doen sy wil? Die antwoord is die een wat die opdrag uitvoer; nie mooipraatjies en leë beloftes nie, maar die daad!
Sekere verklaarders meen dat hierdie gelykenis aan ouers voorligting oor hul verhouding met en hantering van hul kinders gee. In hierdie lig gesien, is daar sekerlik ʼn les te leer. Maar uit die teksverband gaan dit om iets geheel anders. Ander verklaarders laat die klem op die wingerd val. In die OT was ʼn wingerd die beeld van Israel, die volk van God. Gevolglik sien hulle in hierdie gelykenis ʼn opdrag om die volk van God te versorg. Die vader is God en die twee seuns twee groepe mense uit eie volgsgeledere.
Die probleem met so ʼn verklaring is nie uit die teksverband duidelik nie. Die ontknoping lê in vers 32:” Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie”.
In die voorafgaande Skrifgedeelte vra die kerklui vir Jesus met wie se gesag Hy optree. Was dit van God? In antwoord hierop het Jesus hulle gevra met wie se gesag Johannes die Doper opgetree het? Johannes het sterk aanklank by sy hoorders gevind en daarmee eerbied ingeboesem. Gevolglik moes hulle Jesus se teen-vraag versigtig hanteer. Dit was òf uit God, òf uit die Satan. Die kerklui was deeglik daarvan bewus dat die Satan ook oor bonatuurlike mag beskik. Hulle het dit al gesien en by geleentheid selfs teen Jesus gelaster deur sy wonders aan Satan se mag toe te skryf!
Jesus se vraag het die kerklui genoop om Hom nie te antwoord nie. Dit sou hul huigelagtigheid ontbloot. Hulle was immers die godsdienstig elite van die Jode! Alhoewel hulle na Johannes gaan luister het, het hulle hul nie bekeer nie. Die ander groep was nie elite nie sodat daar dikwels op hulle neergesien is. By geleentheid bid een van die elite in die tempel en dank God dat hy nie soos een van die ander groep is nie.
ʼn Mens sou verwag dat hierdie elite groep Jode wat die Bybel en die profesieë oor die Messias geken het na Johannes sou luister, maar dit gebeur nie. Lede van die ander groep doen dit wel en kom tot bekering. Onder die eerste bekeerlinge was daar talle kerklos mense, ander was weer kerkloos, so ook tollenaars, straatvroue, misdadigers, heidene ens. Die hemelpoorte staan vir elke sondaar wat hom tot Jesus bekeer oop.
Kyk weer na die gelykenis. Dit gaan hier om die gewilligheid om die wil van die Vader te doen. Die eerste seun weier en oortree die vyfde gebod wat eerbied vir ouers eis. Dit was destyds ook ʼn oortreding van ʼn grondreël van die Joodse sedewet: “Soos ʼn slaaf sy heerser dien, so moet ʼn seun sy vader dien”. Wie hom hierteen verset het, is as ʼn verstoteling in die gemeenskap geminag.
Die interessante is dat hierdie seun wat aanvanklik geweier het, berou kry en wel gaan werk. Daarteenoor is die tweede seun die toonbeeld van beleefdheid, gehoorsaamheid en bereidwilligheid. En dan die teleurstelling – hy verbreek sy belofte en doen niks nie. “Wie van die twee het die wil van die vader gedoen” vra Jesus. Die een wat op die ou einde gaan werk het.
Die seun wat aanvanklik geweier het, was as sulks nog nie ongehoorsaam nie. Die seun wat dadelik ingewillig het, maar geen steek werk gedoen het nie, wel. Die daad gee die deurslag!
Jesus het hierdie waarheid telkens beklemtoon – dis nie wat jy sê nie, maar wat jy doen wat in die koninkryk van God tel. Nie beloftes nie, maar dade. Aan die einde van die Bergrede vertel Jesus die gelykenis van twee mans (bouers). Die een man bou sy huis op sand en die ander een op rots. Dan sê Jesus dat elkeen wat doen wat Hy vra soos die man met sy huis op die rots is. In dieselfde verband sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mt.7:21). By ʼn ander geleentheid sê Jesus: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder” (Mt.12:50). Dit gaan oor gehoorsame, gewillige diens.
Die kerklui het Jesus se vraag goed verstaan. Al antwoord wat hulle kon gee, al was dit teen hulself gerig, was dat die eerste seun die regte ding gedoen het. Daarom was daar net een antwoord - die eerste een, al was hy volgens die gebooie en menslike insettinge ʼn uitgeworpene. Tog het daar iets in sy lewe gebeur wat van hom ʼn gehoorsame seun gemaak het.
Wat was daardie iets? Berou, en dit het hom sy vader se wil laat doen. En dis wat Johannes die Doper verkondig het – ʼn nuwe pad na die hemel wat oor die berou van sondaars loop en hulle wat God aanvanklik vyandig gesind was, die wil van die hemelse Vader laat doen.
In die Evangelies hoor ons hoe Johannes Israel tot bekering oproep en by hulle pleit om die paaie van die Here reguit te maak. Sonde maak dit krom. Bekering maak dit reguit. Johannes se ondervinding was dat die Fariseërs en Sadduseërs mense was soos die tweede seun wat gesê het hy is bereidwillig om te gaan werk, maar op die ou einde niks gedoen het nie. Hulle het as groep niks vir die koninkryk van God gedoen of beteken nie.
Johannes was baie uitgesproke en het geen doekies omgedraai nie. Reg aan die begin van sy bediening lees ons: “Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan die kom is?” (Mt.3:7).
Teenoor hulle het baie van die uitgeworpenes soos tollenaars en straatvrouens wat die Wet van God en sedes van die Jode vertrap het, wel in Johannes se prediking geglo, tot bekering gekom en burgers van die koninkryk van God geword. Dink maar aan Levi, Saggeus, Maria Magdalena en talle ander. Hulle het met die daad antwoord gegee.
Hierdie gelykenis is van die hardste uitsprake van Jesus teen sy teenstanders; die skynbare fatsoenlike, onberispelike, godsdienstige leidsmanne. Daarmee wou Jesus hul vrome gewade van hul afskeur en hul maskers laat sak sodat hulle hulself kon sien soos wat Jesus hulle gesien het - hulle was daardie tweede seun, wat praat maar nie doen nie!
Die spieël wat Jesus hier aan sy teenstanders voorhou, is ook die een waarin ons onsself moet sien. Die twee seuns van die gelykenis sit kerkbanke vol; die doener en die niksdoener. As jy in die spieël van Jesus na jouself moet kyk, na watter een lyk jy?