Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde word gemeet aan lojaliteit, geduld, verdraagsaamheid – liefde gaan nie oor jouself nie!
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (9)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die ontroue landbouers
Mt.21:33-46; Jes.5:1-7
Die gelykenis van die ontroue landbouers is in al drie die sinoptiese Evangelies opgeteken en is deur Jesus kort na sy intog in Jerusalem (dus ʼn paar dae voor sy kruisiging) vertel. Gevolglik kan die gelykenis slegs teen die agtergrond van sy naderende dood verstaan word.
In Mt.21 lees ons van Jesus se koninklike ontvangs in die stad en die inwoners se toejuiging en eerbetoon wat Jesus te beurt geval het. Die rede hiervoor was dat baie van die Jode geglo het dat Jesus die politieke verlosser van Israel was waarna hulle so lank uitgesien het. Op daardie stadium was Israel al vir meer as ʼn eeu onder die Romeinse juk en as ʼn buitelandse Romeinse provinsie deur ʼn Romeinse owerheid bestuur. Gevolglik het hulle na politieke bevryding gesmag en God daarvoor gesmeek. Dis vir ʼn gelowige volk hard om jou vryheid te verloor en onder heidene te moet buig soos ook hier ter plaatse gebeur het!
Gevolglik het die Jode na ʼn politieke verlosser gesmag; een wat hulle van die Romeinse juk sou bevry. Toe Jesus kort na sy aankoms op hardhandige wyse die tempel gereinig het, was alle tekens daar dat Hy dalk tot hul verwagting kon bydra. Toe Hy die handeldrywers uitjaag en hul tafels omgooi, het dit vir die Jode punte getel. Ongelukkig het Jesus Hom ook daarmee die gramskap van hul kerklui, wat heelwaarskynlik baie geld uit hierdie transaksies gemaak het, op die hals gehaal sodat hulle Hom nog meer gehaat het.
Nie lank na hierdie voorval in die tempel nie, het Jesus die gelykenis van die ontroue landbouers vertel om die Joodse kerklui se skynheiligheid te ontbloot asook die straf van God wat op hulle gewag het.
In hierdie gelykenis gaan dit nie net om valse kerklui se doen en late aan die lig te bring nie, maar ook oor iets baie ernstiger – Israel se volgehoue verwerping van Jesus as die langverwagte Messias. En daarmee is ʼn bekende woord uit Ps.118 bewaarheid: “Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ʼn hoeksteen geword” (:22).
So anders as baie van Jesus se ander gelykenisse wat die kerklui aanvanklik nie verstaan het nie, het hulle hierdie een baie goed verstaan. Hulle het dadelik geweet dat die gelykenis direk op hulle betrekking gehad het en Jesus nog meer gehaat.
Hierdie gelykenis moet egter teen ʼn sekere landbouagtergrond verstaan word nl. dié van die eertydse pagstelsel. Destyds het baie van die Joodse boere en ander grondbesitters erg onder Romeinse grondonteiening deurgeloop. Jode het seggenskap oor hul grond verloor waarna hulle dit d.m.v. ʼn pagstelsel weer van die Romeinse owerheid kon terughuur.
Indien so ʼn huurder sou sterf, kon die pagter dit weer terugneem om na wense daarmee te handel. Gevolglik het die Joodse huur-boere nie geskroom om die afwesige eienaars op alle maniere te na te kom nie. Sulke optredes is selfs as dade van trou aan die Joodse vryheidstrewe beskou.
Eienaars het van slawe-invorderaars gebruik gemaak om die huur by die boere te gaan haal. En dit was ʼn lewensgevaarlike opdrag! In hierdie opsig val die verloop van die gelykenis die leser ietwat vreemd op. Geen eienaar sou aanhou om invorderaars na die boere stuur as hulle eerstens geweier het om volgens die voorgeskrewe kontrak die nodige huur te betaal en daarna tot geweld oorgaan nie. Hy sou vir seker nie sy eie seun aan sulke gevaar blootstel nie!
Jesus het egter ʼn baie duidelike doel met hierdie skynbaar ongewone optrede van die grondeienaar gehad - om die Jode op God se eeue-lange bemoeienis met hulle te wys. God was lankmoedig met Israel. Lankmoedig beteken om straf tot die allerlaaste toe uit te stel. En dis presies wat God met Israel gedoen het. Hulle ganse geskiedenis dui op teenstand teen God en sy geduld met hulle.
Toe Jesus hierdie gelykenis begin vertel het, moes sommige van die Jode aan Jes.5 gedink het; ook ʼn gelykenis van ʼn wingerd in die hartjie van die OT, ook met God as eienaar. Hierdie gelykenis vertel van God se vestiging van Israel in Kanaän en sy versorging van hulle om ten einde ʼn bestaan daar te kon maak. Al wat Hy van Israel wou hê, was gehoorsaamheid aan Hom. Maar Israel was nie daarvoor te vind nie.
In die gelykenis van Mt.21 sê Jesus dat die eienaar op die regte tyd sy slawe gestuur het om die huur in te vorder. Na wie verwys Jesus hier? Na die gesante van God; die profete. Israel het van meet af aan min eerbied vir sy profete getoon. Baie van hulle is mishandel en selfs dood gemaak. Desondanks het God nie daarmee opgehou nie en nog boodskappers gestuur.
Ná die terugkeer uit die ballingskappe het kerklui die volk van God begin lei. Maar met verloop van tyd het hierdie kerklui ook ontrou aan God geword. Daar is talle aangetekende gevalle waar Joodse kerklui van die profete verwerp, vervolg en laat doodmaak het. “... want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Mt.5:12). Was dit nie juis kerklui wat Jesus na sy dood gestuur het nie? Pasop vir die kerklui van die laaste dae! Ná Maleagi het God vir bykans 400 jaar geen verdere profeet gestuur nie sodat daar ʼn ongemaklike stilte in Israel geheers het. Dit het gevoel asof die geskiedenis gaan stil staan het. God het niks meer vir sy volk te sê gehad nie!
Terug by die gelykenis. Nadat die huurders van die invorderaars doodgemaak het, was hulle aan misdaad skuldig. Die grondeienaar kon wettiglik teen hulle optree en hulle laat omkom. Nogtans gee hy hulle nog ʼn kans. God het die profetiese stilte met ʼn geweldige besluit verbreek: “Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien” (Mt.21:37).
Hierdie gedeelte van die gelykenis laat vrae ontstaan? Waarom sou die eienaar sy enigste seun se lewe op die spel plaas as hy weet wat kan gebeur? God is hierdie grondeienaar en Hy het wel geweet. Waarom doen Hy dit nogtans? “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16).
Ons lees in die gelykenis dat die huurders God se Seun nie ontsien het nie, maar Hom gedood het. “Daarom het Jesus, ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely” (Hebr.13:13). Golgota is baie naby aan een van Jerusalem se groot poorte.
Jesus was die laaste boodskapper wat God gestuur het. Daarna het sy oordeel gevolg. En wat ʼn verskriklike oordeel was dit nie! Duisende mense het met die Romeinse beleg en bestorming van Jerusalem die lewe gelaat. Die Joodse geskiedskrywer Flavius Josephus skryf in fyn besonderhede oor hierdie bloedbad!
Aan die einde van die gelykenis volg ʼn oordeelsaankondiging. Soos wat ʼn offisier wat hom onwaardig gedra het, tydens ʼn militêre parade van sy rang gestroop word, stroop God Israel van haar eeue-lange voorreg as uitverkore volk. Jesus sê in hierdie gelykenis dat Israel se einde as besondere volk van God in sig is!
God gaan hierdie voorreg aan ʼn ander volk toevertrou; en dis nie aan heidene nie. Dis, om die waarheid te sê, geen nasionale eenheid nie. Jesus praat hier van die roeping van ʼn nuwe volk van God. Wie is dit? Paulus antwoord: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29). Dis nie ʼn nasionale eenheid nie, maar ʼn versameling van alle wedergeborenes uit alle volke, nasies en tale. En hulle het ʼn versamelnaam - die kerk van Jesus Christus.
Daar word van hierdie volk iets gesê wat by Israel ontbreek het – hulle sal sorg dat ʼn ander volk die vrug van die wingerd op sy tyd sal lewer. Hulle sal egter ook ʼn volk wees wat die regte vrugte dra. Die kerk van Jesus Christus sal hulself gedurig met ʼn gespanne waaksaamheid ondersoek om sonder verslapping die vrugte voort te bring wat die hemelse Wingerdboer bly sal maak. Hoe lyk die vrug wat jy voortbring? Maak dit die Wingerdboer bly of nie? Is jy deel van die kerk van Jesus Christus? Het jy al die wedergeboorte gesmaak? Onthou: Jy het net een lewe om dinge wat verkeerd is in reg te stel!