Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jósafat waarsku in II Kronieke die regters van die volk teen partydigheid en "aanneming van geskenke" – omkopery. Dit sien ons deesdae elke dag in ons eie land. Calvyn verklaar indien regters iets verkeerd doen, is hulle nie alleen onregverdig teenoor die mense wat hulle wederregtelik krenk nie, hulle verag ook God. Wat word van 'n land waar die 'leiers' en regters God verag? Verwonder ons ons dan dat dit met Suid-Afrika so sleg gaan?
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (18)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
In die kantore van die Basuin is die roetine al byna herstel en dis grotendeels aan die nuwe sekretaresse Carmen, te danke. Sy het sommer van die staanspoor af die bul by die horings gepak en Edie se skoene baie goed volgestaan.
Dis nog maar Woensdag en tog is Vrydag se uitgawe al ver gevorder. Toe Marshall by haar lessenaar verbystap, lig sy hom in oor die artikel wat oor die brandweer geskrywe is. Sy verduidelik dat sy dit in drie dele ingedeel het, sodat dit in drie uitgawes kan verskyn.
“Dis gaaf,” sê Marshall ingenome. “Ek is bly jy kan Tom se handskrif lees.”
Ja, Carmen doen haar werk goed. Sy het reeds al die proefleeswerk gedoen; die rekeninge is nagegaan en gebalanseer en die negatiewe vir ’n artikel oor die Sportklub is ook reeds gereed. Marshall kan maar net sy kop skud.
“Sjoe, ek is bly jy’s nou by ons,” sê hy en sy glimlag.
Hy stap na die koffiemaker en kry twee koppies koffie. Dan besef hy meteens dat iemand die koord van die masjien gevind het — waarskynlik Carmen. Tevrede stap hy na sy kantoor toe. Dinge lyk goed. Carmen het net een versoek gehad toe sy begin het en dis dat haar lessenaar naby sy kantoor geplaas moes word. Dan kon sy maklik bekombaar wees en hy was heeltemal bereid om aan haar versoek gehoor te gee. Nou staan haar lessenaar digby sy kantoor en as hy hard roep, is sy onmiddellik daar.
Marshall stap die kantoor binne. Bernice sit eenkant met haar notaboekie by haar en in die ander hoek sit Kevin Weed. Hy lyk redelik oorbluf. Marshall oorhandig aan hom ’n koppie koffie en die jongman neem dit gretiglik en drink ’n sluk van die warm vloeistof.
“Waar was ons nou weer?” begin Marshall. “Jy sê jy was bevriend met Susan, Patricia Kreuger se kamermaat?”
“Ja, dis korrek,” se Kevin.
“En wat het Susan by die karnaval gaan doen?”
“Ek het nie die vaagste benul nie. Sy het net langs my verskyn, gegroet, ’n paar woorde gesê en toe is sy weg.”
“Maar sy het jou telefoonnommer gevra en jou gisteraand geskakel?”
Weer knik hy en vryf sy hande ineen: “En sy was baie omgekrap.”
***
“Bernice, jy sê hierdie vrou is die vrou wat jy saam met die ander klomp afgeneem het?” Marshall kyk sy verslaggewer ondersoekend aan.
“Beslis,” sê Bernice.
“En die man by haar was Kaseph,” voeg Kevin by.
“Ek sien,” sê Marshall en dis duidelik dat hy diep nadink. “Kom ons praat dan eers oor Kaseph, dan oor Susan en eindelik oor Patricia.”
“Het jy Kaseph se volle name?” vra Bernice, skryfblok en pen gereed.
“E . . . ek dink dis Alex . . . Alexander of so iets.”
“Wie is hy?” vra Marshall.
“Susan se nuwe kêrel.” Weed klink onvergenoegd. “Sy het my gelos toe hy op die toneel verskyn het. Hy is baie ryk en hy wil hê almal moet dit weet. Toe ek die eerste keer van hom gehoor het, was hy besig om eiendom hier in Ashton te koop . . . o ja . . . Susan sê hy wil glo die dorp oorneem.”
“Watter dorp? Hierdie een?”
“Ja, ek dink so.”
“En waar kom hy vandaan?” vra Bernice.
“New York, dink ek. Hy is iemand wat in die groot stad tuishoort.”
Marshall wend hom tot Bernice en sê bevelend: “Herinner my om Lemley by die Times te bel. Hy sal dalk vir ons iets in verband met Kaseph kan uitvind.” Hy kyk weer na Weed. “Wat kan jy ons nog van hom vertel?”
“Net dat hy baie snaakse idees het. . . e . . . wel. . . hy is amper soos ’n toordokter, of so iets.” Hy bloos verleë. “Hy het Susan ook by al daardie vreemde dinge betrokke gekry.”
“Dink jy dit het iets met Oosterse gelowe en mistisisme te doen?” vra Bernice.
“Ja, al daardie dinge. Ook meditasie en sulke onsin. Hy en daardie professor . . . wat is haar naam nou weer . . .?”
“Langstrat. . .” help Marshall hom en voel die naarheid wat op hom toesak.
“Ja, dis reg,” se Weed en knik instemmend. “Dis sy. Langstrat!”
“Dus is Kaseph en Langstrat vriende?”
“O ja. Sy het sulke eienaardige klasse gehou . . . saans. Kaseph het dit bygewoon en ander mense ook. Hy het Susan ook saamgesleep. Ek het altyd gedink dis nogal grillerig.”
“Jy sê Susan het ook die klasse bygewoon?”
“Ja.” Sy stem styg. “En sy het gek geword . . . heeltemal gek. As sy dwelms gebruik het, kon sy nie erger gewees het nie. Ek kon nie meer met haar praat nie. Dit ... dit het gelyk asof sy in ’n ander wêreld lewe. En as ek nog iets gevra het, het sy altyd gesê ek sal nie verstaan nie, want ek is nie ingelig nie. En daardie Kaseph vent het haar net oorgeneem, geheel en al. So goed asof hy haar besit.” Hy skud weer sy kop en sug.
“En Langstrat was ook betrokke?”
“Ja, maar Kaseph is die leier. Langstrat is maar net sy handlanger. En nou is Susan baie bang. Ek kon dit hoor oor die telefoon. Sy is absoluut angsbevange.” Hy swyg ’n oomblik. “Ja, en sy het gesê sy het inligting oor Patricia . . . jou suster.”
Dadelik is Bernice die ene aandag. Sy leun nuuskierig vorentoe.
“Watter tipe inligting?”
“Sy’t nie gesê nie. Maar sy wil met jou in verbinding tree.”
“Waarom bel sy my dan nie?”
“Sy’t gesê daar is moontlik ’n luisterapparaat aan julle foon,” sê Weed fronsend. Marshall en Bernice kyk hom verslae aan. Aan so iets het hulle nog nooit gedink nie. “Toe’t sy my gebel om julle te kontak.”
“Dan is jy seker die enigste persoon wat sy nog kan vertrou,” sê Marshall.
“Wat weet jy van Patricia?” vra Bernice skielik. “Het Susan jou ooit iets van haar vertel toe julle nog saam uitgegaan het?”
“E . . . nie veel nie. Hulle was baie goeie vriende voordat Susan met Kaseph deurmekaar geraak het. Maar toe het alles verander. Susan het altyd gesê Pat is nie ingelig nie en sy is in die pad.”
“Hmm, jy sou dus sê dat Kaseph en sy trawante Pat as ’n vyand beskou het?” vra Marshall vinnig voordat Bernice iets kan sê.
“Jong, dis ’n storie,” reageer Weed skielik meer entoesiasties. “Pat en Susan het eenmaal ’n groot uitval gehad. Pat het gesê Susan is geïndoktrineer en hulle het verskriklik gestry.” Namate hy praat is dit of meer herinneringe bykom en hy vervolg dringend: “Ja, Pat het gesê Kaseph beheer Susan en dit het Susan baie omgekrap. Dit het so aangegaan totdat Susan met Kaseph weggeloop het. Sy het haar klasse net so gelos, opgeskop en die kollege verlaat.”
“Sou jy sê Pat het regte vyande gehad . . . mense wat haar gehaat het?”
Weed sukkel om die herinneringe onder al die alkohol uit te grawe. Maar geleidelik dring die verlede weer tot hom deur.
“Nadat Susan weg is, het sy gesê sy gaan die ding opvolg en ek weet sy het Langstrat ’n paar keer besoek. Sy was baie omgekrap oor die hele besigheid. En toe, eendag, het ek haar op die kampus raakgeloop. Mens, maar sy het sleg gelyk. Sy was heeltemal ontwrig en gedisoriënteer. Ek het gevra wat gaande is en hoe dit met haar ondersoek gaan. Toe sê sy sy het die hele besigheid gelos. Dis sommer wolhaarstories.” Hy frons. “Vir my was dit baie eienaardig, want ek weet hoe ernstig sy oor die hele aangeleentheid gevoel het. Toe vra ek haar of hulle nou agter haar bloed aan is, maar sy wou niks sê nie. Sy het net volgehou dat ek tog nie sou verstaan nie. Toe het sy gesê dat sy iemand gevind het wat haar help — ’n instrukteur of so iets — en ek hoef nie oor haar bekommerd te wees nie. Ek kon sien sy wou nie verder daaroor praat nie en toe het ek die saak daar gelaat.”
“Was sy daardie dag anders as gewoonlik?” vra Bernice aangedaan. “Ek . . . ek bedoel dink jy sy het ook met daardie spul deurmekaar geraak?”
“Sy was beslis nie haarself nie en as ek nie geweet het hoe sterk sy teen Kaseph en sy trawante gekant was nie, sou ek regtig gedink het sy is onder hulle invloed. Sy het gelyk soos iemand wat in ’n dwaal verkeer.”
“Wanneer was dit?”
“ 'n Paar dae voor haar dood,” antwoord Weed traag. “Ek het haar net eenmaal daarna gesien. Toe ek haar wou uitvra, het sy heeltemal aggressief geraak en op my gegil. ‘Gaan weg . . . gaan weg . . .’ het sy gesê. En ek het gesien sy kyk onrustig rond asof iemand haar moontlik dophou of agtervolg.”
“Het sy dalk ’n naam genoem . . . gesê wie haar moontlik agtervolg?”
“Ek dink die man se naam was Thomas . . .” sê hy stadig, ’n frons op sy gelaat.
“Is dit sy naam of van?” vra Bernice dringend.
“Ek weet nie. Ek het hom nooit gesien nie, maar hy het ’n groot invloed op haar uitgeoefen. Ek dink sy was bang vir hom.”
“Kan jy enigiets anders van hom onthou?” vra Bernice bleek en ontsteld. “Enigiets?”
“Wel, wat vir my snaaks was, was dat sy die een oomblik gepraat het asof hy baie vir haar beteken, maar die volgende oomblik het dit gelyk asof sy vir hom vlug.”
“Miskien is daar ’n register van die kollege hier iewers. Dalk kan ek uitvind of hier iemand met die naam Thomas werksaam is.” Bernice staan op en stap die kamer uit.
“Jy het baie gehelp, Weed,” sê Marshall nadat Bernice weg is. “Maar het jy ooit iets met die mense te doen gehad?”
“Nee, nooit nie. Ek was te bang vir hulle.”
“Jy het hier aan die kollege studeer, né?”
“Ja, Rekeningkunde. Maar na Pat se dood het ek my uit die voete gemaak. Ek wou nie die volgende een wees nie.” Hy laat sy kop sak en kyk op die vloer voor hom. “Vandat ek daar weg is, was my lewe ’n hel.”
“Wat werk jy nou?”
“In die houtbedryf. Ek werk vir Gorst daar naby Baker. Ek het nooit gedink ek sou Susan weer sien nie.”
Marshall beskou die man voor hom ’n paar oomblikke nadenkend. Dan haal hy ’n pen en papier te voorskyn.
“Gee my jou telefoonnommer en adres, asseblief. By jou werk en tuis. Dan kan ons jou kontak indien ons jou nodig kry.” Weed verstrek die gevraagde inligting en voeg by: “As julle my nie daar kan opspoor nie, sal ek waarskynlik by die lmmergroen wees. Ek bring baie tyd daar deur.”
“Reg. En as jy enige inligting bekom, kontak ons dadelik. Hier is my kaart met al die gegewens.”
Bernice kom die kantoor binne en deel Marshall mee dat iemand met hom oor die foon wil praat.
“Dis glo dringend,” sê sy en draai dan na Weed toe. “Kom ons twee stap na buite. Ek het ’n kollegerooster in die hande gekry. Dalk kan ons die man opspoor.”
Toe die ander twee uit is, lig Hogan die gehoorbuis: “Hogan hier.”
“Hogan . . . dis Ted Harmel,” klink ’n gespanne stem tot hom deur. Hy gryp ’n potlood. “Het jy toe met Strachan gesels?”
“Ja, en ek het hom gevra om jou aan te moedig om my te kontak. Baie dankie.”
“Moet my nie bedank nie. Jy soek moeilikheid. Ek gaan net een onderhoud toestaan . . . net een.”
Toe Marshall ’n rukkie later uit sy kantoor stap, het Weed net vertrek. Bernice wag hom in.
“Geen Thomas op die naamlys nie. Niemand van daardie naam of voornaam nie,” sug sy teleurgesteld. “En wat van jou?”
“Dit was Ted Harmel. Hy sal een onderhoud aan my toestaan. Hier is die instruksies hoe om sy huis te bereik.” Marshall druk sy lippe nadenkend opmekaar. “Die man is wraggies snaaks. . . ek bedoel . . . hy leef soos ’n kluisenaar daar iewers in die boendoes. Ek verbaas my dat hy nie gevra het dat ek my vermom voordat ek soontoe kom nie.”
“Wou hy niks oor die foon sê nie?”
“Nee, hy dink skynbaar ook ons telefoon is van ’n luisterapparaat voorsien. Ek dink jy moet vir ons op die saak ingaan.” “Goed.”
“En dan is daar nog verdere instruksies. Gaan die New York telefoongids na of jy ’n Kaseph kan opspoor,” vervolg Marshall.
“Ek het reeds. Daar is geen A. Kaseph in die boek nie.”
“Dankie. Dan wil ek hê jy moet die eiendomsagente in Ashton besoek. As Weed reg is dat Kaseph grond hier opkoop, sal ons dit daar kan vasstel. En vind sommer uit aan wie Joe se Supermark nou behoort. Dit het voorheen aan Joe en Angelina Carlucci behoort, maar hulle is sommer skielik weg en niemand weet waar hulle is nie.”
“Reg, en gaan jy vir Lemley van die New York Times kontak?”
“Ja. En dan moet ek kyk na die volgende uitgawe van die Basuin.”
Terwyl hierdie gesprekke gevoer word, sit Carmen agter haar lessenaar, hard besig om te werk. Skynbaar het sy nie ’n woord gehoor nie . . .
* * *
Toe dinge ’n bietjie rustiger gaan, sit Marshall ’n oproep deur na Lemley, sy ou vriend by die New York Times. Hy gee hom alle beskikbare inligting oor Kaseph en vra hom om nog verder op die man se agtergrond in te gaan. Lemley onderneem om dadelik aan die werk te spring. Toe kies Marshall koers na Ted Harmel, vir die beloofde onderhoud.
Op haar beurt vertrek Bernice om haar opdragte uit te voer. Haar eerste stilhouplek is by Joe se Supermark wat nou intussen ’n nuwe naam gekry het, naamlik die Ashton Handelaars. Na ’n halfuur ry sy daar weg in haar rooi Toyota. Dit was ’n vermorsing van tyd. Sy kon absoluut niks uitvind nie. Niemand weet iets nie en sy is beleefd versoek om nie die personeel langer met haar vrae lastig te val nie.
Van daar af kies sy koers na die eiendomsagente toe. Haar eerste keuse is Johnson Smythe Eiendomme. Die besigheid word in ’n ou woonhuis bedryf, en daar is ’n netjiese tuintjie voor die gebou, met ’n groot boom en ’n posbussie in die vorm van ’n huisie. Binnekant is dit warm en huislik. In die woonkamer staan twee lessenaars, maar albei is leeg. Teen die mure hang foto’s van eiendomme en huise, met allerhande besonderhede en natuurlik ook die prys van elke eenheid. Bernice kan maar net haar asem optrek by die aanskoue van die pryse!
Sy stap deur na die vertrek wat vroeër die eetkamer was. By daardie lessenaar sit ’n jong dame. Sy glimlag verwelkomend toe sy Bernice bemerk.
“Kan ek help?”
“Ek hoop so,” glimlag Bernice en stel haarself voor. “Ek wil graag weet of u gedurende die laaste jaar eiendomme aan ’n meneer A. Kaseph verkoop het?”
“Hoe spel ’n mens die van?”
Nadat Bernice die van gespel het, vervolg sy: “Ek wil graag met hom in aanraking kom. Dis redelik vertroulik. ’n Telefoonnommer of adres sal baie help.”
“Goed. Ek sal vir Rosemary gaan vra. Sy werk al baie lank hier. Ek is redelik nuut.”
“Mag ek solank na julle mikrofilm kyk?” vra Bernice.
“Ja, gerus. Weet u hoe om die skyfies in die masjien in te plaas?”
“Ja, ek weet. Dankie.”
“Daar is ’n kaart teen die muur. Kyk maar daarna sodat u die dorp se beplanning kan verstaan.”
Die dame stap die vertrek uit om Rosemary te gaan soek en Bernice spring dadelik aan die werk. Sy bekyk die kaart om te sien waar Joe se Supermark geleë is. Toe probeer sy dit plaas op die skyfies, wat in ’n houer volgens die verskillende seksies gerangskik is. Toe sy die korrekte skyfie in die hand het, stap sy na die masjien om dit te bekyk. Op daardie oomblik kom Rosemary die vertrek binne.
“Verskoon my,” sê sy formeel. “Mejuffrou Kreuger, u mag nie die mikrofilm gebruik nie. Dis net vir die staf bedoel. Wat soek u eintlik?”
“Ek is jammer. Ek wou net probeer vasstel aan wie Joe se Supermark nou behoort,” sê sy beleefd.
“Jammer, ons besit nie daardie inligting nie.”
“Ek het gehoop dis dalk op die skyfies aangedui.”
“Nee, ek glo nie. Dis baie lank sedert ons skyfies op datum gebring is.” Rosemary kyk haar uit die hoogte aan. “Is daar iets verder wat u wil weet?”
“Ek het nog nie ’n antwoord op my eerste vraag ontvang nie. Het u onlangs eiendom aan Alexander Kaseph verkoop?”
“Nee, beslis nie. Ek het nog nooit eers die naam gehoor nie.”
Bernice voel oortuig dat die vrou nie die waarheid praat nie. Maar sy besef dat verdere redenasies niks sal help nie.
“Julle het nie dalk ’n kruisverwysingslêer nie?” vra sy net voordat sy omdraai om te loop.
“Nee,” sê Rosemary vinnig.
“Dankie,” reageer Bernice kortaf. “En al het julle ook, sou julle my tog nie gehelp het nie. Tot siens.” En met dié woorde verlaat sy die gebou.
Vervolg...