Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
VANDAG het God vir jou die geskenk van 86 000 sekondes gegee. Het jy een van hulle gebruik om vir Hóm dankie te sê?
DIE GROOT VERVAL (1)
Ds Andrè van den Berg
LEES REEKS BY DIE GROOT VERVAL
Inleiding
Dwaalleer is skadeliker as verraad. Verraaiers kom gewoonlik aan die lig en verdwyn daarna van die toneel. Nie valse leraars nie. Hulle bly die waarheid skaad sonder om aan die pen te ry.
Aan die begin van die Christen-era het die Satan Jode en Romeine gebruik om die kerk te probeer vernietig. Toe dit nie slaag nie het hy sy strategie verander en met dwaalleer in die boesem van die kerk opgeduik en baie sukses behaal. Dit gaan weer gebeur; hierdie keer net andersom - eers ʼn godsdiensverval en daarna fisiese vervolging:
“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie ..... asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word (2 Thess.2:1-3).
Hierdie afval sal aan ʼn weersin in die waarheid gekenmerk word. Satan haat die waarheid en gebruik selfs kerke om gruwels soos homoseksualisme te ontsondig, homoseksuele mense tot kerklike ampte toe te laat en mense van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig. Dis alles lynreg in stryd met die waarheid.
Petrus waarsku oor verderflikheid wat nagevolg gaan word (2 Pet 2:2,3).
Kerkverval begin gewoonlik by vrysinnige teologiese opleiding. Sodra dwaalleer in die kerklike murg beland, bly daar spoedig slegs ʼn leë dop oor. ʼn Besorgde gelowige skryf in ʼn Amerikaanse kerkblad dat sy land se theological seminaries niks anders as theological cemeteries geword het nie!
Vrysinnige teoloë leer hul studente dat daar geen ware, persoonlike God in die hemel is nie. So ook nie ʼn Satan of ʼn hel nie. Daarbenewens is die Bybel nie deur die Heilige Gees begeester nie en vol foute. Daarom moet die wonders van Jesus nie letterlik verstaan word nie, maar metafories. En so word vandag se kateder-taal more se kansel-taal en mense mislei.
Die afvalligheid waarvan Paulus aan die Tessalonisense skryf, is alreeds in volle swang en ʼn duidelike aanduiding dat die wederkoms van Christus baie naby is. Johannes skryf dat Satan net voor die einde van die wêreld losgelaat gaan word: “... om die nasies te verlei....” (Openb.20:8). Dit gebeur tans sienderoë. Gelowiges moet hul baie deeglik van Satan se strategie en optrede vergewis. Die Bybel gee genoegsame inligting daaroor.
1. Die vroeë kerk
Aan die einde van die eerste eeu het die saad van dwaalleer wat in die tyd van die apostels baie subtiel in die kerklike akker gesaai is, ontkiem en kop bo die grond begin uitgesteek. Die leraars wat destyds die persoon en werk van Jesus anders as die apostels verkondig het, was die voorlopers van die latere sektes.
Sommige van hierdie valse leraars het die kerk van buite af binnegekom. Ander het weer uit die boesem van die kerk self gekom en so oortuigend gelieg, dat mense hulle geglo en die spoor byster geraak het. Daarom was die kerk genoodsaak om ter wille van die bewaring van die suiwere leer en die behoud van gemeentes streng teen hulle op te tree:
“Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh.2:18,19).
Valse leraars het mense van die waarheid weggerokkel en onmin, verwarring en twyfel oor die geloofslewe gesaai. Dit het liefdeloosheid in die gemeentes veroorsaak. Johannes skryf in sy eerste sendbrief dat ware geloofsgemeenskap juis aan ʼn liefde vir die waarheid en vir mekaar geken word.
Gelowiges mag nie oor die grondliggende waarhede van die Bybel van mekaar verskil nie, maar volstrekte eensgesindheid oor die persoon van Christus, sy sondeloosheid, liggaamlike opstanding en redding deur genade alleen hê. So ook oor die gesag van die Bybel en die werking van die Heilige Gees. Dis grondliggende waarhede wat gelowiges van vroegs af saamgesnoer en later ook belydenisskrifte laat opstel het.
Baie van die valse leraars in die vroeë kerk is deur die Griekse filosofie van destyds beïnvloed. Hulle het byvoorbeeld verkondig dat die mens se liggaam sleg en derhalwe tot die dood gevonnis is. Die siel daarenteen was volstrek goed en kon nie deur vleeslike sondes aangetas word nie. Dit was dit as’t ware ʼn lisensie om die gebooie van God te verag en na hartelus te sondig. Jesus het baie anders oor sonde gepraat en in sy Bergpredikasie selfs die morele wette van die OT duideliker toegelig.
Johannes sluit hierby aan: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom — en sy gebooie nie bewaar nie — is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh.2:3-6).
Valse leraars het Jesus se Messiasskap verdag probeer maak: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus in die vlees gekom het nie...” (:7). Die tragiese was dat sommige van hulle selfs uit eie kerkgeledere gekom het: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het...” (1 Joh.2:19).
Paulus het hierdie toedrag van sake voorsien en aan die einde van sy bediening in Efese vir die ouderlinge gesê: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Hand.20:29-31).
Dwaalleer het destyds so oorhand toegeneem dat Johannes ʼn baie harde opdrag aan die gelowiges moes gee: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh.10,11).
2. Kenmerke
2.1 Onverskillig teenoor die waarheid
Valse leraars het sekere kenmerke. Een van die opmerklikste is ʼn onverskillige hantering van die Bybel. Hulle tas die gesag van die Bybel aan en breek dit af tot op die vlak waar dit bloot as mense se woorde oor God beskou word. Die skeppingsgeskiedenis word verdraai, Jesus se maagdelike geboorte ernstig bevraagteken en sy genesingwonders as wolhaarstories afgemaak.
Daarmee dompel valse leraars hul volgelinge in ʼn geestelike duisternis soos in die dae van die profete. Jesaja skryf: “ ... As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ʼn volk wat geen dageraad het nie” (Jes.8:20). Juda is deur valse profete mislei om gruwels te bedryf waarna God hulle ongehoorsaamheid aan die Skrifte met ʼn ballingskap gestraf het.
Ongehoorsaamheid aan die Skrif lê aan die wortel van alle dwaalleer. Jesus sê vir die kerklui van sy tyd: “ ... Julle dwaal, omdat julle die skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29). Wie aan God ongehoorsaam is, gaan mank aan geestelike krag omdat die Bybel die kanaal is waardeur sy krag na mense vloei.
2.2 Geen oefening nie
Soos wat ʼn liggaam sonder fisiese oefening nie gesond kan wees nie, kan ʼn siel nie sonder geestelike oefening gesond bly nie. Paulus skryf: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid” (1 Tim.4:7). Oefening in die kennis van God verhoed dat mense dwaal: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Polikarpus, ʼn leerling van Johannes, skryf in 108nC dat Paulus, omdat hy deur die Woord van God besiel was, geen gelyke as prediker gehad het nie. En dis ʼn groot waarheid – wie deur die Woord en Gees van God besiel is, dwaal nie.
Ongelukkig verwar mense dikwels die vurige betoog van ʼn ekstrovert met kragtige prediking. Nee, as prediking nie deur die onvervalste Woord van God kom nie, het God nooit met so ʼn mens gepraat nie. Hosea waarsku: “ ... Die profeet word ʼn dwaas, die man van die gees ʼn waansinnige...” (Hos.9:7). Dwaalleer skep soms die indruk van waansinnigheid.
Woordprediking het ʼn deeglike kennis van die Bybel en besieling deur die Heilige Gees as grondslag. Petrus sê: “...terwyl julle veral dit moet weet dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is al ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet.1:20,21).
Om die siel fiks te hou, moet gelowiges in die kennis van die Bybel bly oefen. ʼn Man van God is altyd ʼn man van die Bybel. Die digter van Ps.119 wei 176 verse aan die voortreflikheid van die Skrif en gebruik die 22 letters van die Hebreeuse alfabet as raamwerk om te sê dat God se Woord die A tot die Z van die lewe is. Moses roep Israel selfs in die woestyn tot Skrifoefening op: “Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel ... Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe ...” (Deut.32:46,47).
2.3 Willekeur
Valse leraars verdraai die Bybel na willekeur. Jesus waarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15). Paulus skryf aan Timoteus: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim.4:1,2).
Hy gee aan Titus ʼn riglyn vir alle ware predikers: “...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is ... hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins” (Tit.1:9-11).
Valse leraars gee slegs voor om baie erns met godsdiens te maak. Dis alles blote toneelspel. Hulle rokkel eerder mense van die waarheid af maar glo nogtans dat God hulle spesiaal geroep het om uitsonderlike werktuie in sy koninkryk te wees en beskou hulself as immuun teen God se oordele.
2.4 Oppervlakkigheid
Gesonde kerkleer het altyd Skrifdiepte, iets wat klaaglik by dwaalleer ontbreek. Die gevolg is dat die kerklike wêreld hol van oppervlakkige vermaak geword het. Soos wat kabbelende geluide vlak water aandui, verraai dwaalleer oppervlakkige Skrifkennis. Dit maak talle kerke ʼn kilometer breed maar slegs ʼn sentimeter diep.
God het geen behae in oppervlakkige kerklike vermaak nie, maar aan kerke wat grondige leiding in die Bybelse waarheid gee. Die groot probleem is dat mense die Bybel nie ken nie. ʼn Amerikaanse navorsingspan het bevind dat 69% van die ondervraagdes die Bybel bloot as ʼn riglyn om goed te leef beskou het. Nagenoeg 50% het die Bybel en die Koran as eenderse riglyne beskou. Wat ʼn nood het die mensdom nie aan die kennis van die Woord van God nie!
Geroepe leraars verkondig altyd die volle Bybelse waarheid sonder om iets na te laat. Paulus sê by sy afskeid aan die ouderlinge in Efese dat God hom nie sal straf indien iemand wat hom gehoor het, verlore sou gaan nie: “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Hand.20:27). Sy woorde nie nalaat ... nie beteken in die oorspronklike taal om niks weg te steek nie.
Valse leraars steek die waarheid weg en toon weinig begrip vir groot Bybelse waarhede soos byvoorbeeld die leer oor redding deur genade alleen nie. Daarom struikel hulle oor die leer van die uitverkiesing en verkondig in stryd met die Bybel dat die mens God se vennoot in sy redding is en derhalwe iets van sy redding kan verdien. Hoe druis dit nie teen die gees van die Hervorming in van genade alleen nie!
Vervolg...