Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons leer in die Woord dat die tong baie maal onheil beraam, soos 'n geslypte skeermes, 'n werker van bedrog, woorde wat mens verslind deur 'n bedrieglike tong, sê Dawid (Ps 52). As ons elke woord wat ons elke dag spreek eers goed deurdink het met die gevolge daarvan, sou ons dalk heeltemal ander woorde gekies het...
DIE GROOT VERVAL (2)
Ds Andrè van den Berg
LEES REEKS BY DIE GROOT VERVAL
3. Valse profete in kerklike ampte
3.1 Soos jakkalse
ʼn Leraar moet volstrek betroubaar wees. Paulus skryf: “En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word” (1 Kor.4:2). Valse leraars is ontrou. Sommige van hulle is bedrieërs en ander misleiers. Bedrieërs weet dat hulle leuenaars is, maar bedrieg mense ter wille van stoflike gewin. Misleiers daarenteen is weer oortuig dat hulle reg is, maar dwaal weens gebrekkige Skrifkennis. God het hulle nooit tot sy diens geroep nie, nogtans matig hulself die reg aan om namens Hom te praat.
Esegiël noem hulle jakkalse: “Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope” (Eseg. 13:4). Esegiël het twee basiese opdragte van God ontvang. Hy moes Juda eerstens daarop wys dat hulle deur hul eie toedoen gestraf word. Tweedens moes hy ook God se oordeel oor die valse profete in hul midde aankondig wat mense mislei het.
In Eseg.13:1-16 wys die profeet op enkele van die jakkalsprofete se kenmerke. Hulle prediking het byvoorbeeld nie as gevolg van Godsbesieling gekom nie. Dit was alles hul eie gedagtes en verlangens wat hulle op God oorgeprojekteer het. God is slegs formeel daarby betrek om gesag daaraan te verleen. Hulle was soos jakkalse tussen puinhope (:4) - roofdiere wat op die buitewyke van Israel se stede na maklike kos gesoek het.
In vers 6 word gesê dat die jakkalsprofete nie vir die waarheid in die bresse tree nie. As ʼn stadsmuur destyds iewers gebreek het, het die inwoners die breuk bewaak totdat dit herstel is. Valse profete het geestelike breuke groter gemaak deur mense die dood vir die lewe te laat aansien
3.2 Dwaasheid
ʼn Kerk wat die waarheid nie beskerm nie, het geen bestaansreg nie. In die tyd van die profeet Hosea het godsdiensmisleiding Israel se straf verhaas. God kla hulle aan en sê: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het .....” (Hos.4:6).
Ontspoorde kerklui laat ʼn volk verkeerde dinge doen soos wat met Israel gebeur het met die maak van die goue kalf in die woestyn. Leraars wat sonde nie aanspreek nie, skep ʼn lugleegte wat met allerlei booshede gevul word. Daarom het God deur die eeue heen leraars tot die bediening geroep aan wie Hy kennis van die waarheid en die gawe van profesie geskenk het.
Kennis van die Bybel is die hoogste kennis waaroor ʼn mens kan beskik. Geen ander kennis bied enige seën na die dood nie, slegs dié van God. Daarom bid Jesus in Joh.17: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (:3).
Leraars moet kennis van God se Woord oordra sodat mense geestelik kan groei: “En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is” (Eseg.44:23). Maleagi skryf: “Want die lippe van ʼn priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ʼn boodskapper van die Here van die leërskare” (Mal.2:7).
In die tyd van Hosea het priesters slegs naam gehad. Van ʼn profetiese visie of roeping was daar geen sprake nie. Hulle het ʼn dowe oor na die waarheid gedraai en selfs die voorsienigheid van God gewantrou en sy beheer van die wêreld bevraagteken.
Ten spyte daarvan dat God die waarheid by wyse van gebooie en insettinge aan hulle toevertrou het, het hulle geleef asof dit iets vreemds was: “Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag” (Hos.8:12). Paulus skryf: “Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is...” (Tit.1:10).
Wie die waarheid liefhet en verkondig, lewer ʼn sterk getuienis teenoor ʼn onverskillige wêreld. Moses sê: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ʼn wyse en verstandige volk. En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deut.4:6,8).
4. Selfverheerliking
4.1 Vangstrikke
Paulus skryf aan die gelowiges in Rome: “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik, en hulle verlei deur hulle vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Rom.16:17,18).
Dwaalleraars stel strikke waarin mense dikwels onbewustelik trap. Paulus se woorde “hou hulle in oog” is ʼn metafoor wat na die wagte op die stadsmure verwys het wat gedurig op die uitkyk vir vyandelike optrede was. Paulus het gereeld met mense gebots wat van die ou Joodse gebruike in die kerk probeer vestig het. Dit het in talle gemeentes onderlinge onenigheid veroorsaak. Sy opdrag vermy hulle beteken om nie deur hul misleiding besmet te word nie.
Hy skryf aan Timoteus: Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy, want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos ʼn kanker...” (2 Tim.2:17). Misleiding benewel nie net mense se verstand nie, maar lê ook beslag op hul harte sodat hulle nie tot bekering kan kom nie. Hulle sit gepoleer en gestryk in kerke sonder om ooit in die bloed van Jesus gewas te wees!
4.2 Maskers
Valse profete skuil agter ʼn vrome masker. Paulus skryf: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15). Satan het hom juis vermom om Eva te mislei.
In die gelykenis van die koninklike feesmaal in Mt.21 sien die koning ʼn gas sonder ʼn bruilofskleed en laat hom verwyder. Dis sprekend van mense wat die redding in Christus valslik vir hulself toe-eien. Hulle lyk soos feesgangers om mense te flous. God word nooit geflous nie: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb.4:12,13).
4.3 Gewildheid
Mense verrig geen boosheid so gelate as dit wat uit godsdienstige oortuiging geneem word nie. Die apostel Petrus was besorg oor die aanhang wat valse leraars geniet het en skryf: “En baie sal hulle veranderlikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:2). Dit gaan vir valse leraars om eiebelang. Paulus vra Timoteus om geen gemene sake met hulle te hê nie: ...“mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloor het” (2 Tim.3:5).
Valse leraars mislei mense dikwels met wondertekens. In sy Profetiese rede waarsku Jesus teen ʼn skerp toename in misleiding net voor die einde van die wêreld: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen, om as dit moontlik was ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Mt.24:24,25).
In die vroeë kerk het Simon die towenaar (Hand.8:9-11) en Elimas (Hand.13:8) mense met wondertekens mislei. Paulus sê vir Elimas: “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand.13:10).
Jesus waarsku dat die laaste misleiding so erg gaan wees, dat die uitverkorenes geskud maar nie mislei sal word nie: “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan my gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie” (Joh.10:28,29).
Ná Jesus se hemelvaart het talle valse leraars hul as die Messias voorgedoen. Simon bar Kokhba was een van hulle. Hy was ʼn Jood wat in 135nC teen die Romeinse owerheid in opstand gekom en ʼn eie staat in Palestina gestig het. Die Jode het hom terstond as Messias gekroon. Sy staat is egter drie jaar later deur die Romeine omver gewerp waarna hulle hom gedood het. Bar Kokhba beteken seun van ʼn ster. Ná sy dood is daar spottend na hom as Barcoziba seun van die leuen verwys.
5. Menseverering
5.1 Valse gerustheid
Valse leraars praat sondes goed net om mense goed oor hulself te laat voel: “...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper...” (Rom.1:25). Die woord verruil dui op ʼn bewustelike keuse.
Valse leraars verkies die leuen bo die waarheid. Paulus skryf aan die Tessalonisense dat God hulle laat begaan: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Tess.2:11). Valse leraars draai baie selde in hulle spore om: “Want dit is onmoontlik om dié wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak (Heb.6:4-6).
5.2 Misleiding
Valse leraars laat mense in gruwels volhard maar nogtans glo dat hulle die hemel sal beërwe. Paulus praat met die Korintiërs oor seksuele gruwels wat mense die ewige lewe gaan kos: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerder ... of sodomiete ... sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor.6:10). Niemand saai in die vlees, maar maai in die gees nie.
Sulke misleiding het Paulus baie bedroef: “Want baie – van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê – wandel as vyande van die kruis van Christus” (Fil.3:18). Hy veroordeel hulle: "...behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8). Paulus spreek met die Griekse woord anatema (vervloeking) sy volstrekte weersin in dwaalleraars uit.
Valse leraars het die Bybelse leer oor redding verdraai en mense met hul slim stories op dwaalweë gebring. Paulus eis dat gelowiges hulle moet vermy. Moses waarsku eeue tevore: “En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie... jy moet daar heeltemal ʼn afsku van hê ... “ (Deut.7:26). In Spr.19:27 waarsku Salomo teen misleiding wat na die waarheid klink.
Gelowiges moet dit wat van die Bybelse leer van verlossing afwyk, verwerp. Dwaalleer draai hoofsaaklik om die as van ʼn skeefgetrekte verlossingsleer wat op die ewige verderf uitloop. Jesus gee duidelik opdrag: “ ... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).
Paulus skryf aan die Korintiërs dat al sou ʼn engel ʼn boodskap bring wat nie met die Bybel strook nie, gelowiges dit moet verwerp. Hoeveel te meer as ʼn mens so ʼn boodskap sou verkondig! Die Bybelse leer van redding uit genade alleen is ʼn onveranderlike waarheid waaraan geen regstelling of toevoeging gemaak mag word nie.
5.3 Hebsug
Valse leraars verryk hulself ten koste van gemeentelede. Daarom staan hulle bediening in skrille kontras met Jesus se aardse bediening. Paulus het self met valse aantygings teen hom geworstel toe teenstanders hom daarvan beskuldig het dat hy net geld uit sy prediking wou maak. Hy skryf aan die Tessalonisense: “Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie” (1 Tess.2:5).
Valse leraars het die uitwerking wat die nuwe godsdiens in die vroeë kerk op mense gehad het gesien en hulle vertroue in die apostels se optrede vir hulself begeer. Gelowiges het destyds selfs eiendom verkoop en die opbrengs aan die apostels vir behoeftige gelowiges gegee. Gevolglik het valse leraars geglo dat hulle geld uit godsdiens kon maak. Maar om daarin te kon slaag, moes hulle die invloed van die apostels ondermyn en mense afrokkel.
Geld uit godsdiens was niks nuuts nie. Jesaja skryf: “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jes.56:10,11).
Paulus skryf aan Timoteus: “ ... mense wat verdorwe in hul verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:5). Petrus skryf: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar williglik; nie om vuil gewin nie ...” (1 Pet.5:2).
6. Die groot ommekeer
6.1 ʼn Ongesonde leer
Paulus voorspel dat daar ʼn tyd gaan aanbreek dat godsdiens ingrypend gaan verander. Hy skryf aan Timoteus: “...verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering, want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:2-4).
Met die gesonde leer bedoel Paulus die leer wat tot die redding van siele en stigting van gelowiges bydra. Die woorde omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees beteken in die Grieks om genoegdoening uit verligting te put, soos byvoorbeeld om ʼn oor wat juk te krap. Hoe verder mense afdwaal, hoe sterker word die behoefte aan predikers wat sonde streel. [A1] Vandaar sy goeie raad aan Titus: “Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie” (Tit.2:15).
6.2 Onenigheid
Valse leraars maak graag daarop aanspraak dat hulle benewens ʼn roeping ook besondere kennis van God het. Dit het van vroegs af aanleiding tot hoogmoed gegee soos wat in Korinte gebeur het (1 Kor.14). Valse leraars verdraai die waarheid, lok graag redenasies uit en floreer op woordestryd. Paulus skryf: “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik, en hulle verlei deur hulle vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Rom.16:17,18). Hy skryf aan Titus: “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel” (Tit.1:15).
Dwaalleer veroorsaak tot vandag toe nog twis, onmin en tweedrag, iets waarvan Paulus nare ervarings gehad het. Valse profete het destyds baie gesinslewens geskaad: “Want uit hulle is dié wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word” (2 Tim.3:6). Onderlinge liefde kan net bewaar word deur die suiwerheid van God se Woord te bewaak.
Valse leraars beswadder altyd die waarheid en diegene wat dit verkondig. Petrus skryf: “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag ’n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul; met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het ’n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking. Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal...” (2 Pet.2:12-15).
Vervolg...