Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geld is kosbaar, 'n huis ook goed, maar die allerbeste is 'n goeie vriend, in donker dae gee hy jou moed. Groete aan al ons vriende in die geloof!
VEROOT- MOEDIGING EN BYBELSE VERSET
Dr Jann Schlebush
Wat leer die Bybel ons van verset en hoe verskil Bybelse verset van mensgerigte verset?
Om mee te begin, moet ons verstaan in watter verhouding ons as sy volk tot God staan. Ons verhouding tot God moet wees soos ‘n klein kindjie se verhouding tot sy ouers. In ‘n gesonde gesin versorg en help die ouers hul kinders.
Maar as ‘n kind ongehoorsaam is of in opstand kom teen sy ouers, straf hulle hom. In ‘n gesonde gesin is ‘n kind lief vir sy pa, maar ook bang vir sy pa. Net so moet ons verhouding tot ons hemelse Vader wees. (Ps 103; 2 Sam 7:14)
In Spr 9:10 leer ons Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. Dit is lewensbelangrik dat ons hierdie waarheid mooi verstaan. As ons verset aanpak sonder wysheid en verstand gaan ons groot probleme kry.
Die beginsel van Wysheid is die vrees van die Here: Wat beteken dit om God te vrees? Dit beteken dat ons iets van sy groot krag verstaan en dat niemand voor sy toorn kan standhou nie. Dit beteken dat ons bang moet wees vir Hom, want as Hy slaan, slaan Hy baie hard.
Kennis van die Heilige is verstand – wat beteken dit? Dit beteken ons moet God leer ken. Hoe leer ons Hom ken? Deur die Bybel te lees. Die almagtige God is nie ‘n mistieke, vreemde God wat Homself vir ons verberg nie. Nee, Hy het vir ons die Bybel gegee sodat ons Hom kan leer ken. Daarom moet ons gaan kyk wat leer die Bybel werklik.
Die Bybel leer ons op baie plekke dat die Here ons seën as ons gehoorsaam is en straf as ons ongehoorsaam is, juis omdat Hy ons hemelse Vader is.
Dt 28:1-14 verduidelik hoe God ons seën as ons gehoorsaam is. Lees asb die hele treffende hoofstuk met aandag deur. Let op verse 9 en 10:
Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel.
En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees.
Volksgenote – die van julle wat julle geskiedenis ken of wat oud genoeg is om te onthou – besef julle hoe geseënd ons was tydens apartheid? Toe ons ‘n Christelike land was? Ons Vader het ons geseën, maar God soek sy eer. Luister wat sê Hy in Mal 1:6 ‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag!
En het ons nie by Bloedrivier ‘n gelofte afgelê om aan Hom die eer te gee nie?
En Dt 23:21 sê As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.
Die profesie van straf in Dt 28 word vandag in ons volk vervul. Let bv op:
Vers 15: Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.
25 Die HERE sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug—en jy sal ‘n skrikbeeld vir al die koninkryke van die aarde word.
Ook in die Nuwe Testament maak ons Here dit duidelik dat Hy die volk seën as ons gehoorsaam is, en straf as ons ongehoorsaam is. Gaan lees maar self in Rom 1 waar Hy sê:
Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, Dan gaan Hy verder om te sê Hy sal ons straf met homoseksualiteit. Ook hierdie straf sien ons self vandag in ons volk.
Ja, God straf ons soos Hy beloof het. Hierdie verdrukking en volksmoord wat ons nou beleef is ‘n strafgerig van God self.
Ons moenie dink Satan is in beheer nie. God is in beheer. Kom ons kyk wat sê Amos 3:6 Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? Hy straf ons volk omdat ons afgewyk het van sy gebooie en omdat ons nie aan Hom die eer gegee het toe Hy ons geseën het nie.
Nou is ons ook geneig om te dink dat ons toekoms afhang van mense. Aan die een kant raak mense moedeloos omdat hulle dink die getalle-oorwig teen ons is te groot dat ons ooit weer vry kan word.
Aan die ander kant dink mense dat ons op ons eie krag uit hierdie gemors moet kom – en net God se hulp vra.
Wat leer die Bybel hieroor? In Jes 10 lees ons hoe God ‘n vreemde koning gebruik om sy volk te straf en, as hierdie koning van Assirië dan later begin arrogant raak en dink dit is uit sy eie krag wat hy oor God se volk regeer, dan sê die Here: hy is net ‘n stok in sy hand; hierdie vreemde regering is maar soos ‘n byl waarmee God kap. En dan lees ons aan die einde hoe God die byl wat homself verhef het, vernietig: Net soos God gedoen het met Israel, doen Hy nou ook met ons volk. Dink maar net aan hoe arrogant hierdie vreemde heersers in ons land geword het.
Maar in vers 21 kom die Vaderlike troosbelofte: Die oorblyfsel sal terugkom na die sterke God toe.
Maar Bybelse verset beteken nie net om in jou huis te sit en bid nie. Dit verg geloofsdade en aktiewe deelname. Ons het ‘n verbruikerskultuur aangeleer. Ons het geleer om net toeskouers te wees – voor die TV, by die sport en selfs in die kerk. Ons het afgeleer om deel te neem aan die stryd vir Christus. Kyk maar na die Bybelse versetstryders: Moses, Gideon, Simson, Jehu, daar is te veel om te noem.
Kom ons kyk na ‘n praktiese voorbeeld van Bybelse verset – in Rigters 6 en 7 is van die geskiedenis van Gideon:
Rig 6:1 Maar toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank.
Dan lees ons in die res van die hoofstuk hoe die Here vir Gideon geroep het en sy geloof versterk het. In hoofstuk 7 lees ons hoe Gideon opgetrek het om teen die Mideaniete en Amalekiete te veg. En hoe die Here vir hom gesê het dat sy soldate te veel is, want, as Hy aan hulle die oorwinning gee, sal hulle dalk dink dat hulle in eie krag gewen het. God het toe die soldate verminder tot net 300 oorgebly het. Ons lees daar dat Gideon ook maar bang was, want die vyand het ‘n geweldige groot weermag gehad. Vers 12 sê hulle was soos sprinkane in menigte. Die Here het egter Gideon se geloof versterk en hy het met sy 300 soldate teen die vyand gaan veg. Die Here het verwarring onder die vyand gesaai, sodat hulle mekaar aangeval het en aan Israel die oorwinning gegee.
Gideon het God onvoorwaardelik vertrou en in sy krag geglo.
Dawid is ook vir ons ‘n goeie voorbeeld. Luister na sy gesindheid van onvoorwaardelike vertroue toe hy teen die reus, teen Goliat moes veg: Ons lees in 1Sam 17:45
Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.
Teen hierdie agtergrond kan ons leer wat beteken Bybelse verset. Die Bybel leer wel dat ons ons moet verset teen ‘n onderdrukker. Maar nie op die mens se rewolusionêre manier nie. Nee – dit moet Godgerig wees.
Die kern van Bybelse verset is dat ons alles onder God se gesag moet stel.
Eerstens moet ons ons eie lewens onder God se gesag stel. Daardie sonde in jou lewe moet jy uitroei!
Tweedens moet jy jou gesin onder God se gesag stel. Julle moet elke dag Bybel lees en verkieslik ook as gesin saam huisgodsdiens hou.
Sit net ‘n slag die TV af! En lees saam Bybel en Bid saam!
EN: Die beginsels van die Bybel moet ons in ons gesinne toepas.
Dit beteken ook dat julle mans priesters van julle gesinne is. Julle verteenwoordig God in julle gesinne! So moet julle voorbeeld en lewenswandel wees.
Ons is God se kinders: – prinse en prinsesse in sy koninkryk!
Ons moet soos prinse en prinsesse optree.
Derdens moet ons ook ons volk onder God se gesag stel. Dit beteken dat ons nie die volk se vryheid as ons hoofdoel moet beskou nie. Ons volk se vryheid moet slegs ‘n middel wees tot die eer van God. Die rede vir ons hele bestaan moet wees om God te verheerlik. Rom 12:1 sê dit is ons redelike godsdiens. Ja, ons besef ons is ver daarvandaan, maar dit is wat verootmoediging beteken – dat ons ons lewens en ons lewensbeskouing moet verander om voor God te wandel, ja om ons volkome aan sy gesag te onderwerp.
Vervolgens moet ons al die ander lewensverbande aan God se gesag onderwerp: die skool, die werk, die besigheid, ons sport, ons vriendekring, ook die kerk – ja, alles.
En laastens kom ons by die staat. Ook die staat moet ons aan God se gesag onderwerp. In Hand 4:19 en weer in Hand 5:29 lees ons: En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.
Die Bybel leer in Rom 13 dat ons die staat moet gehoorsaam. As die regering ‘n wet maak dat ons by ‘n stopstraat moet stop, dan moet ons dit gehoorsaam. Maar die staat staan steeds onder God se gesag. Hulle moet regeer soos Hy voorskryf. So-nie oortree hulle sy wet en dan moet ons in verset kom. Ons het ook ‘n Bybelse verpligting om vir ons eie mense te sorg (1Tim 5:8). Ons moet sug oor die gruwels in die land (Eseg 9:4). Verseker leer die Bybel dat jy jou gesin en jou mense moet verdedig as jy aangeval word. Die Bybel leer nie pasifisme nie, maar stryd.
Maar eers moet ons verootmoedig voor ons Vader - sy gesag aanvaar en ons volkome daaraan onderwerp. Ons het gesien dat dit God self is wat hierdie vreemde owerheid oor ons gestel het. As ons uit eie krag en met slegs die volk voor oë teen hierdie owerheid in opstand kom, kom ons inderdaad teen God se gesag in opstand (Rom 13). En dan gaan Hy ons nog harder slaan. Nee, nie in ons eie krag nie, maar in afhanklikheid van ons Aanvoerder, Jesus Christus.
Kom ons kyk ten slotte‘n laaste voorbeeld van praktiese Bybelse verset: Moses het nie na Farao gegaan en gedreig met die magtige Israel-volk nie. Hy het ook nie op die konstitusionele hof of op internasionaal erkende minderheidsregte staatgemaak nie. Nee, hy het gekom in die Naam van die lewende God. Bybelse verset beteken ons moet aan vriend en vyand bekend maak dat ons in die Naam van God stry. In die Naam van JHWH.
Dit begin nou darem seker vir ons almal duidelik word dat die Boer en sy Roer magteloos geword het. Die Broederbond se plan om onsself ekonomies te bemagtig gaan duidelik ook nie werk nie. Trouens, niks of niemand kan voor die almagtige God standhou nie. Verseker ook nie die Boerevolkie as ons in opstand kom teen God se strafgerig en ons op eie krag onsself probeer red nie. Maar ook nie die ANC regering of die internasionale geldmag wat ons wil vernietig nie.
Daarom kan ons julle vandag met vrymoedigheid oproep tot stryd – onder leierskap en aanvoering van Koning Jesus.
Kom ons aanvaar sy gesag;
Kom ons gehoorsaam sy bevele;
Kom ons maak aan vriend en vyand bekend dat ons bereid is tot volskaalse verset onder sy bevel;
Kom ons stel weer ons volk en ons land onder sy gesag.