Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Besef jy dat jy elke oomblik van elke dag van jou lewe voor die Heilige, Drie-enige God, Beskikker van volke en nasies aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort, staan? Of dink jy dalk dit is net in die kerk of dergelike plekke waar jy in sy heilige Teenwoordigheid is?
GEREFORMEERDE OORSIG... DIE GROOT TREK
Dr Jann Schlebush
In die Wakis: Die Voortrekkers se Godsdiensbeskouing en hulle uitlewing daarvan.
Die Here, ons God, het dit so beskik dat die volksplanting aan die Kaap plaasgevind het kort ná die Groot Kerkhervorming van die 16e eeu. En die tagtigjarige oorlog[1] was pas verby, waarin die Nederlandse Geuse[2] vir hulle vryheid en die behoud van die Gereformeerde geloof moes veg teen die Roomse vervolging van koning Filips van Spanje. Die Franse Hugenote het na Nederland gevlug en so-ook die Duitse gereformeerdes. Die VOC het in 1652 vir Jan van Riebeeck na die Kaap gestuur – slegs 43 jaar ná die Sinode van Dordtrecht. Só was ons Heer se beskikking dat die Europeërs wat na die Kaap gestuur is, nie slegs ‘n gereformeerde belydenis gehad het nie, maar inderdaad stryders was vir die suiwer leer van die Bybel – wat ook as Calvinisme bekend staan.
Dit is dus vanselfsprekend dat Godsdiens ‘n allesoorheersende rol gespeel het in die lewe aan die Kaap. Dit blyk ook duidelik uit Jan van Riebeeck se gebed en onderneming van 6 April 1654.
Huisgodsdiens was ‘n standaard-instelling van elke gesin. Die Vader was die priester van die huis en kinders is opgevoed in die kennis van die Bybel en die vrese van die Here. Die hele lewe is ingerig volgens die wette en voorskrifte van die Bybel. Die Christelike lewensbeskouing het ook die skool gerig en die vakinhoud bepaal. Sondag is as ‘n sabbat gevier en kerkgang, veral nagmaal, was ‘n groot geleentheid. Hierdie Godsdiensbeskouing en lewenswyse het voortgeduur tot in die tyd van die Voortrekkers.
Twee faktore het grootliks bygedra tot die hoë vlak van teologiese kennis en die diepte van die Voortrekkers se insig in, en begrip van, die verbondsverhouding tussen hulle en God. Eerstens is hul belangstelling in Bybelstudie en geloofsverdieping verhoog deur die jarelange geloofstryd van hulle voorouers; en tweedens was hulle vir die meeste van hul vrye tyd aangewese op wat hulle self kon voorsien. Hierdie twee faktore het bygedra daartoe dat hulle ywerige lesers was en die gesprekke dikwels om godsdiens gedraai het. Met die beperkte spasie in die wakis, kon hulle net die noodsaaklikste boeke saamneem. Die keuse het geval op die Bybel; Psalmboeke en geestelike liedere; teologiese boeke; en ‘n kleuterleesboekie met die naam: “Trapt der Jeugd”. Die tipiese wakis het die volgende boeke bevat: Bullinger se “Huijsboek”; Ursinus se Kategismusboek; preekbundels van á Brakel[3] en Smytegelt[4]; en Hellenbroek se kategismus[5]. Die meeste het ook geskrifte van Mel; á Marck; en d’ Outrein ingehad, en sommige miskien selfs ook geskrifte van Beukelman; Sjoerds; Trommius en ander[6]. Nie alleen is hierdie werke goed gelees nie, maar is dit gebruik om die kinders deeglik te katkiseer.
Dit is veral Heinrich Bullinger (en Zacharias Ursinus) se verbondsleer wat bepalend was vir die Voortrekkers se verbondsbeskouing. Hulle het die Bybel soos volg verstaan:-
- die Bybelse geskiedenis van Israel is ook vir ons in die Nuwe Testamentiese tyd ‘n leerskool;
- God se wet en sy beloftes aan Israel is vandag nog steeds op ‘n Godvresende volk van toepassing;
- die gesin; die familie en die volk het, as verbondsboublokke, Godgegewe hiërargiese strukture waaroor staat en kerk nie seggenskap het nie.[7] Hierdie behoueringsisteme moet ‘n gunstige omgewing skep vir die ware geloof om in te gedy. Hieruit volg ook dat gelowiges geroepe is tot verset – ook in volksverband, wanneer die owerheid nie volgens sy Goddelike opdrag regeer nie en sy perke oorskei.
- God se verbond met ons is steeds dieselfde as met Israel, net met ‘n ander bediening, naamlik dat Christus die volmaakte offer vir gelowiges gebring het;
- die verbondsvolk staan steeds kollektief in verhouding tot God.
Die Voortrekkers het dan ook baie ooreenkomste gesien tussen hulle en Israel van ouds. Voor die gelofte van Bloedrivier hou Sarel Cilliers ‘n diens en preek oor Josua en Israel se oorloë.
Die streng godsdiensbeskouing het dan ook hulle lewensbeskouing gerig en, hoewel steeds sondige mense, het dit ook hulle lewenswandel bepaal. Verder was die lewe aan die Oosgrens en veral die lewe van die Voortrekkers ‘n pionierslewe en is gekenmerk deur ontbering en gevaar. Hierdie faktore het meegebring dat die Voortrekkers gedurig bewus was van hulle afhanklikheid van God – en ook van Sy teenwoordigheid en van Sy groot krag – nie alleen op geestelike gebied nie, maar ook in die alledaagse lewe.
Die Gereformeerde Godsdiensbeskouing van die Voortrekkers was ook bepalend vir hulle optrede teenoor vreemdelinge. Hulle het naamlik altyd vrede en goeie buurmanskap nagestreef, maar was sterk gekant teen rasvermenging. Hulle het ook ‘n ‘Voortrekkermanifes’ opgestel, waarin hulle onder andere die volgende beginsels gestel het:-
- Ons sal die beginsel van ware vryheid handhaaf;
- Ons sal niemand in slawerny hou nie;
- Ons sal geen volk molesteer nie en niemand sy eiendom ontneem nie. As ons egter aangeval word, sal ons ons persoon en eiendom teen enige vyand verdedig.
- Sover dit van ons afhang, sal ons in vrede en vriendskap met alle ander volke leef;
- Ons gaan ons in ‘n woeste en gevaarlike gebied vestig, maar ons vertrou op ‘n alsiende, regverdige en genadige God. Ons sal Hom altyd vrees en in nederigheid probeer gehoorsaam.
Ingevolge hul Godsdiensbeskouing was hulle deeglik bewus daarvan dat hulle sondige mense was wat niks het om op te roem nie, maar ook dat hulle deur die uitverkiesing geroepe is om Gods eer te dra en te verkondig – ook aan ander volke.
Ook die Gelofte van Bloedrivier getuig van hulle suiwer Bybelse perspektief van volslae afhanklikheid van, en ‘n vaste vertroue in God. Hulle perspektief kan saamgevat word in die woorde van Spr 21:31 Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.
Treffend is ook hoe hulle sterk vryheidsideaal getemper is deur hulle onderwerping aan die wil van God en die bede dat Sy wil geskied.
Lugtenburg beskryf die Voortrekkerlewe as:-
- “eenvoudig, met eenvoudige klere en meubels;
- ingerig volgens Gods Woord;
- die kondisie van hul vee is bepalend vir hul welstand; en
- geluk is ‘n goeie vrou en ‘n lewendige klompie kinders.”
Gedurende die 18e en 19e eeu het die Liberalisme van die Franse Rewolusie die Nederlande oorspoel en ook die teologie besmet. Hierdie besmetting het ook die Kaapse Kerk beïnvloed. Deur die beskikkende hand van ons Heer het die Groot Trek juis in hierdie tyd plaasgevind toe Liberalisme die kerk en sosiale lewe aan die Kaap oorspoel het. Dit het meegebring dat die Voortrekkers gebly het by die leer van “de oude schrijwers”.
Intussen het die Liberalistiese beginsels van vryheid, gelykheid en broederskap subtiel sy weg gevind tot in die Nederlandse Gereformeerde kweekskole en kerke. Dit het gelei tot ‘n vervlakking en ‘n vergeesteliking van die godsdiens. Dit het geen ruimte gelaat vir die Bybelse leer van die verbond nie. Dit het die godsdiens vergeestelik en verskraal tot ‘n eendimensionele godsdiens waar die mens sentraal staan en al wat belangrik is, is die mens se saligheid. So het die nuwe sendelinge en predikante in die Kaap God se verbondstrukture misken en gelykstelling en vermenging van rasse bevorder.
Vóór die Groot Trek het dit alreeds konflik veroorsaak tussen die Boere aan die Oosgrens en die Liberale regering aan die Kaap, sowel as met die Liberale sendelinge en predikante. Hierdie konflik was trouens ‘n belangrike oorweging om uit die Kolonie[8] te trek. Met die Groot Trek was die Kaapse Kerk dan ook só vyandiggesind teenoor die Voortrekkers dat hulle almal onder sensuur geplaas het en geweier het om hulle van predikante te voorsien. Die Voortrekkers het hulle aan die kerkordelike reëling onderwerp wat bepaal het dat slegs geordende predikante die sakramente mag bedien. Dit het groot ontwrigting meegebring omdat daar selde ‘n predikant besoek afgelê het. Omdat die Voortrekkers gedink het hulle is afhanklik van predikante, het hulle dan ook versoeke aan die Nederlandse Kerk gestuur om aan hulle predikante te voorsien. Uiteindelik het die Nederlandse Kerk aan die versoeke gehoor gegee. Maar ongelukkig was die predikante wat hulle gestuur het, reeds besmet met Liberalisme. Dit het tot groot konflik en ongelukkigheid gelei en uiteindelik selfs tot kerkskeuring. Ouderling JJ Venter het selfs in 1858 aan die Kerk in Nederland geskryf dat ‘n gedeelte van die gemeente van Bloemfontein en mense uit die Kaapkolonie self ‘n leraar sou onderhou wat weer die leer soos Smytegelt, Mel, á Brakel, Van Leeuenaarde en “diergelijke geestelijke schrijwers” verkondig. Hy het selfs al sy goedere verpand as ‘n waarborg vir die traktement van die predikant, indien hy maar net weer “in Godshuijs met vreugde kan gaan”. Ook die Skotse kerk het hulle oor die Voortrekkers ontferm en predikante gestuur. Die meeste van hulle het die leer ongelukkig ook nie suiwer verkondig nie en dit het tot verdere verwarring en konflik gelei. Trouens, die Voortrekkers se godsdiensbeskouing was ‘n doring in die vlees van die Liberale predikante. Hulle het die Voortrekkers beskuldig van fatalisme; fundamentalisme; en ‘n Ou-Testamentiese geloof. So was ds Dirk van der Hoff geskok omdat “het grootste gedeelte sweert bij á Brakel en Hellenbroek”. Die redelike Godsdiens waarvan Hellenbroek getuig is immers dat ons hele lewe ‘n welgevalle offer aan God moet wees[9] – vandaar die Voortrekkers se beskouing van volle toewyding aan God – ook in die alledaagse lewe.
Net soos in die tyd van die profete; in die tyd van Jesus op aarde; en in die tyd van die Hervorming, was dit dus ongelukkig juis die hoofstroom teoloë en predikante[10] wat verantwoordelik was vir die afvalligheid wat gedurende die laaste deel van die 19e eeu ingetree het.
[1] 1566-1609
[2] Skeldnaam vir die Nederlanders wat teen Koning Filips van Spanje in opstand gekom het om hulle minderwaardigheid te beklemtoon. Dit het later ‘n erenaam geword vir die vryheidstryders.
[3] “Redelijke Godsdienst”
[4] Veral “Des Christens Heil en Cieraad” en “ Des Christens eenige troost in leven en sterven”
[5] Die uitgebreide “Groot Hellenbroek” of die verkorte “Klein Hellenbroek”
[6] Bekker; Borstius; Broes; Bunyan; Erskine; Groenewegen; Harvey; Immens; Kist; Lasenius; Teellink; Molenaar; Myseras; Newton; Sluijter; Van Alpen; Van der Groe; Ritzema van Lier; Van Lodenstein; en Van Niel.
[7] Dit staan bekend as die federale struktuur van die verbond
[8] Die Kaapkolonie wat onder Britse beheer was.
[9] Rom 12:1
[10] Hulle was in daardie tyd ‘priesters’, ‘skrifgeleerdes’ en ‘fariseërs’ genoem.