Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dank God dat die toekoms van ons volk nie in die hande van heidene berus nie, maar in SYNE! Daarom gee ek op hierdie dag geen treë sonder Hom nie. Met Hom loop ek tot aan die uithoeke van die aarde!
PETRUS: Hoofstuk 7
Op die kruin van oorwinning
Daardie Saterdagnag, nadat die sabbat verby is, het ons elf dissipels maar min geslaap. Die goeie Maria wat haar huis so gasvry aan ons beskikbaar gestel het, het ons in die ruim bovertrek gehuisves, waar ons ‘n paar dae vantevore die Paasmaal saam met Jesus geëet het. Ek het amper die heelnag gelê en rondrol, geteister deur my skuldgevoel teenoor Jesus en oor die onsekere omstandighede wat ons nou met sy dood binnegegaan het.
Soek julle die Lewende by die dooies ?
Ek het maar naderhand teen dagbreek die Sondagmôre opgestaan en in die tuin gaan rondstap . Toe kom Maria Magdalena en Maria en Salóme uit die huis. Ek het vir hulle gevra wat hulle op so’n ongewone uur van die dag buite kom doen. Maria het ‘n hoeveelheid welriekende olie by haar gehad en dit blyk toe dat hulle op pad is na die graf toe om Jesus se liggaam daarmee te gaan balsem.
“Maar sal julle die swaar klip voor die graf kan wegrol?”
“Nee Petrus, maar ek het daaraan gedink dat as ons dit nie regkry nie, gaan ek hulp by die tuinopsigter soek. Ek het gister gesien hy werk daar naby in die tuin met ‘n paar slawe,” sê Maria Magdalena.
Hulle is daar weg. ‘n Bietjie later het Johannes ook uit die huis gekom en by my op ‘n bankie in die tuin kom sit. Ons het maar weer ons gedagtes oor die skokkende gebeurtenisse van die afgelope paar dae met mekaar gedeel. Johannes het gesê ek moenie so sleg voel omdat ek gemaak het of ek Jesus nie ken nie. Hy het my lankal vergewe.
“Maar hoe moet ek dit weet? Hy is dan nou dood.”
“Ja Petrus, en ek het Hom só lief gehad.”
Toe sien ek die drie vroue wat in die straat aangehardloop kom. Hulle gewaar ons en pyl reg op ons af. Maria Magdalena is heel voor en toe sy by ons aankom, is sy só opgewonde en uitasem, dat dit ‘n rukkie neem voordat sy ‘n woord kan uitkry. Maar toe hou sy net aan stotter en uitroep: “Jesus…het opgestaan! Hy’t opgestaan…Hy leef, Hy leef, Hy leeef!”
Ek en Johannes het haar verstom aangestaar. Toe sy daarmee aanhou, het ek naderhand uitgeroep: “Dis onmoontlik! Bedaar tog! Wat het gebeur?”
Wat Maria Magdalena, toe nog steeds stotterend, vir ons begin vertel, het my laat voel of ek sweef, letterlik vasgevang en heen en weer geslinger tussen geloof en ongeloof, maar daar het ‘n ongekende blydskap in my begin opborrel onderwyl ons opgewonde luister na wat sy vertel.
Toe hulle naby die graf kom, hoor hulle ‘n harde donderslag en die grond onder hulle skud soos wanneer daar ‘n aardbewing plaasvind. Toe kom die vier wagte wat die graf moes oppas in doodsangs by hulle verbygestorm en verdwyn in die rigting van die stad. Hulle het self daar verskrik gestaan en wou omdraai, maar Maria Magdalena besluit toe dat sy wil sien wat daar gebeur het. Sy het voor die ander uit na die graf geloop.
Wat hulle gesien het, het hulle aldrie meteens versteend laat staan. Die groot ronde klip was voor die ingang van die graf weggerol en bo-op hom het ‘n engel in blinkende gewaad gesit. Hy het na hulle gekyk en gesê: “Moenie bang wees nie. Moenie die Lewende by die dooies soek nie. Jesus is nie hier nie. Hy het opgestaan. Gaan sê vir sy dissipels hulle moet bymekaar bly, sodat Hy aan hulle kan verskyn.”
Hulle was nog besig om van hulle verstomming te herstel, toe die engel verdwyn. Hulle het net daar omgespring en teruggehardloop hier na ons toe.
Ek het nie ‘n oomblik langer gewag nie. Ek het weggespring en begin hardloop. Toe ek deur die stadspoort trek en die wagte op my skree omdat hulle dink ek vlug, was Johannes nog kort agter my, maar toe gaan hy verby, want ek het begin moeg word. Hy was eerste by die graf. Toe ek daar aankom, het ek dadelik ingegaan. Jesus was nie daar nie. Ek het die doeke sien lê. Die een wat om Jesus se kop gedraai was, het netjies eenkant opgerol gelê. Toe het Johannes ook ingegaan en dit alles gesien.
Sê dit vir Petrus
Ek was teleurgesteld en het nie geweet wat om te dink nie. Ons het maar weer teruggegaan en toe ons by die groot huis kom, sê die vroue vir ons dat Maria Magdalena ‘n rukkie na ek en Johannes ook weer na die graf gegaan het. Toe sy uiteindelik terugkom, was sy nog meer opgewonde as die eerste keer. Sy sê sy het gedink iemand het Jesus se liggaam weggeneem en op ‘n ander plek gaan neerlê. Sy het in die tuin ingestap, toe daar skielik ‘n man voor haar staan. Sy wou by hom weet of hy nie miskien Jesus se liggaam weggeneem het nie. Sy enigste antwoord was: “Maria!” Dit was Jesus!
Hy het vir haar gesê sy moet Hom nie aanraak nie, want Hy het nog nie opgevaar na sy Vader nie. Sy moet dit asseblief vir die dissipels kom vertel, en ook vir my. Ons moenie weggaan nie en bymekaar bly, want Hy wil graag aan ons verskyn.
Kan jy dink wat daardie woorde, “en sê dit ook vir Petrus,” vir my beteken het? As Hy werklik opgestaan het, is Hy nie vir my kwaad nie, want Hy noem my naam spesiaal! Kan ons vir Maria Magdalena glo? Die ander dissipels het nie, maar ek het begin glo.
Ons het daardie dag verder in groot opgewondenheid verkeer. Ek en Johannes het vir die ander vertel wat ons gesien het. Ons het oor die engel se verskyning gepraat. Ons het vir Maria Magdalena en die ander twee vroue oor en oor uitgevra oor wat hulle gesien het. So het die dag vir ons traag omgegaan, onderwyl ons gewag het dat Jesus, as Hy werklik opgestaan het, sy belofte moet nakom om ons te kom besoek.
Die enigste vreemdeling in Jerusalem
Maar laat daardie middag het daar nog ‘n merkwaardige gebeurtenis plaasgevind, waarvan ons eers teen die aand se kant gehoor het. Twee pelgrims, wat ook volgelinge van Jesus was, was ook hier in Maria se groot huis tuis tydens die Paasfeesverrigtinge. Die een se naam is Kleopas. Hulle twee het vanmiddag weer in die pad geval na hulle tuisdorpie Emmaus, wat sowat 20 kilometer wes van Jerusalem lê. Hulle was net soos ons dissipels, bitter teleurgestel oor wat met Jesus gebeur het en het so ver as wat hulle gestap het, daaroor geloop en praat.
Hulle was nog nie ver uit die stad nie, toe hulle ‘n vreemdeling gewaar wat met hulle begin saamstap. Die Man wou by hulle weet waaroor hulle so ernstig met mekaar gesprek voer en waarom hulle so droewig lyk. Kleopas vra toe vir Hom of Hy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem is omdat Hy nie weet van al die dinge wat die afgelope dae in die stad gebeur het nie. Hulle twee het toe vir Hom vertel dat hier ‘n groot profeet in die stad was, Jesus van Nasaret, wat kragtig in werk en woord voor God en die hele volk was, maar die priesterhoofde en ander owerstes het Hom só gehaat dat hulle gesorg het dat Hy tot die doodstraf oorgelewer is en ‘n kruisdood gesterf het.
“Ons het vuriglik gehoop en ook vas geglo dat Hy Israel van die Romeine gaan verlos, maar al ons hoop en verwagting het drie dae gelede saam met Hom gesterf. Maar nou het daar vanmôre weer dinge gebeur wat ons nog verder in die war bring. ‘n Paar vroue het sy graf gaan besoek, maar dit is leeg. Hulle sê daar was ‘n engel by die graf, wat vir hulle gesê het dat Hy lewe. ‘n Paar van ons het toe na die graf gegaan en gesien dat dit leeg is, maar Hy self was nie daar nie. Nou weet ons ook nie meer wat om te glo nie.”
Die Man het toe met hulle begin praat oor alles wat daar in die skrifte oor die Messias opgeteken staan en dat dit so bepaal is dat die Christus met sy koms na die aarde veel moes ly, voordat Hy in sy heerlikheid sou ingaan. Hulle was verbaas dat hierdie Man dit alles weet.
Toe hulle naby Emmaus kom, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan, maar Kleopas het Hom uitgenooi om in sy huis te kom oornag, aangesien dit al laat was. Aan tafel die aand het hierdie vreemdeling die brood geneem en toe Hy dit breek, het Kleopas hulle eers ontdek dat hulle die hele middag al die tyd saam met Jesus gestap het! Toe hulle Hom herken, het Hy uit hulle gesig verdwyn.
In hulle groot verbasing en blydskap, het hulle alles net so aan tafel gelos en die twintig kilometer na Jerusalem terug gehardloop. Hulle het laat die aand uitasem by ons aangekom en die trap opgestorm na die bokamer, waar ons nie kon ophou praat oor die wonderlike dinge wat gebeur het nie. Toe Kleopas klaar vertel het van hulle wonderlike ontmoeting met Jesus, het ons almal saam gejuig in die wete dat daar nou geen twyfel meer bestaan dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het nie.
Die merk van die spykers
Die volgende oomblik het Jesus daar in die bovertrrek voor ons verskyn! Ons was nog besig om oor Hom te praat, toe staan Hy daar by ons. Ons was almal half verskrik en het net na Hom bly staar. Toe sê Hy: “Vrede vir julle! Moet tog nie so bang wees nie. Dit is nie ‘n spook wat julle sien nie. ‘n Spook het nie vlees en bene soos ek nie. Kom vat aan my en voel self.”
Ek wou my nie deur die ander laat voorspring nie en was eerste by Hom op my knieë, onderwyl ek prewel: “My Here en my God!”
Die ander dissipels het moed geskep en skoorvoetend nadergekom om aan Hom te raak. Toe die vroue ‘n loflied aanhef, het ons spontaan ingeval en begin om die Here te loof dat Hy sy Seun uit die dood vir ons opgewek het om verder met sy seënende teenwoordigheid by ons te wees.
‘n Hele rukkie lank was ons eintlik sku vir Jesus. Ons was half bang en half skaam om met Hom te praat. Hy het daar voor ons gestaan, maar Hy het nie meer presies gelyk soos altyd nie. Sy verheerlikte liggaam was anders. Maar dit was Hy. Sy vriendelike oë het ons toegelag en toe het Hy met ons begin praat.
Oorwinnaar, Redder, Verlosser, Middelaar
Uiteindelik het ek verstaan waarom Hy so onder die priesterhoofde en volksleiers moes ly. God het Hom na die aarde gestuur om sy koninkryk in die harte van mense te kom vestig. Hy moes aan ‘n kruis sterf om vir die sondeskuld van die ganse mensdom te betaal, want God laat nie die sonde ongestraf bly nie. Hy het nie gekom as ‘n politieke koning om Israel se vyand, die Romeine, te verdryf nie, maar om die veel groter mag van die duisternis wat die aarde teister, te verbreek en te oorwin. Dit het Hy met sy kruisdood en sy opstanding gedoen. Hy gaan nog ‘n klein rukkie by ons bly en dan gaan Hy terug na sy Vader en ons Vader, om vir sy oorwinning oor die bose verheerlik te word. Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee. Niemand kan na die Vader gaan sonder Hom nie, want Hy is ons Middelaar. Elkeen van ons wat ons sonde bely en Hom aanneem as Redder en Verlosser uit die mag van die sonde, ontvang vergifnis vir al sy ongeregtigheid. Daarom is sy gebod dat ons mekaar moet liefhê en so die wet van God vervul.
Ek sal nooit glo nie
Toe ek daar so na Hom staan en kyk, waar Hy in die flou lamplig voor ons almal staan, terwyl ‘n stralekrans van lig om Hom skyn, het ek met ‘n jubeling in my hart finaal geweet dat dit werklik God is wat hier voor ons staan. Ek het ook geweet dat ek Hom nooit weer gaan verloën nie en dat my lewe voortaan in nederige diens aan Hom gewy gaan word.
Jesus se verskyning aan ons klompie dissipels daardie aand van die eerste dag van sy opstanding, het ons onwillekeurig bymekaar gehou. Niemand wou weggaan en afwesig wees in geval Jesus weer aan ons sou verskyn nie. ‘n Week later het die wonderlike gebeurtenis toe weer plaasgevind. Tydens die vorige geleentheid was Tomas nie saam met ons nie. Toe ons Hom later vertel dat Jesus by ons was, het hy gesê hy glo dit nie. Hy sal eers glo as hy sy hande oor Jesus se wonde kan laat gaan, maar anders, nooit nie.
Met Jesus se tweede verskyning aan ons, het Jesus hom geroep en gesê hy moet aan die merke van die spykers kom voel. Toe eers het Tomas uitgeroep, “My Here en my God!” en voor Hom neergeval en Hom aanbid.
Ek gaan visvang
By hierdie tweede verskyning van Jesus aan ons, het Hy weer gesê dat Hy nog ‘n rukkie by ons gaan bly. Ek het nie geweet hoe lank dit nog sal wees nie. Ek wou nie graag so onbepaald misbruik maak van die goeie vrou Maria se gasvryheid aan ons dissipels nie. Toe het ek en my broer Andreas, Johannes en Jakobus, Tomas, Filippus en Natanael besluit om weer na ons tuisomgewing by die Galilese See terug te gaan. Ons is almal vissers en kan ons ou beroep dalk weer daar voortsit wanneer Jesus nie meer by ons is nie. Daarom het ons sewe weer die lang pad na die noorde aangedurf en behoue in Kapernaum aangekom.
Die volgende dag het ek eenvoudig net gebrand om weer te voel hoe spartel die visse in die net as jy hom intrek en ek sê vir die ander: “Ek gaan visvang!” Hulle sê: “Ons kom ook.”
Dit was ‘n stil aand, en waarom ons die hele nag lank niks gevang het nie, weet ek nou nog nie. Toe dit lig word en ons besig was om met die skuit kant toe te roei, sien ons ‘n Man op die strand staan. Hy het vir ons gevra of ons nie iets gevang het om te eet nie, maar ons het niks gehad nie. Ons is toe al in die vlakwater, ongeveer ‘n honderd tree van die strand af, toe Hy ons weer toeroep en sê ons moet die net aan die regterkant van die skuit uitgooi, dan sal ons iets kry.
Toe het ek geweet! Ons maak so, en meteens is dit net soos die wonderlike visvangs van drie jaar gelede toe ek die Here Jesus die eerste keer ontmoet het. Die net is só swaar van visse dat ons hom skaars kan sleep. Johannes kyk na die Man op die strand en sê: “Dit is die Here! Ek gryp my hemp en trek dit haastig aan en spring in die vlakwater en beur so vinnig as wat ek kan na die strand toe, na Jesus toe!
Johannes hulle het die skuit kant toe gebring en die net uitgesleep met honderd drie en vyftig mooi visse daarin.
Op die strand het ‘n vuurtjie gebrand. Jesus sê ons moet van die vis wat ons gevang het, bring om gaar te maak. Toe ons sewe saam met Hom om die vuur plaasneem, heers daar meteens weer die gewyde atmosfeer wat ons altyd in sy teenwoordigheid ervaar het.
Jesus het aan ons brood uitgedeel, en die vis. Onderwyl ons saam met Hom aan hierdie maaltyd deelgeneem het, het nie een van ons sewe eintlik ‘n woord gesê, of vir Hom gevra wie Hy is nie, want ons het almal geweet dis Jesus, die Here.
Het jy My baie lief ?
Toe die ander dissipels begin doenig raak met die versorging van die vis wat ons gevang het, het net ek en Jesus by die vuurtjie bly sit. Hoe baie keer was ek en Hy die afgelope paar jaar nie saam alleen in mekaar se geselskap nie! Nadat ek daardie keer vir Hom gesê het, “Gaan asseblief weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige man,” wou ek net altyd by Hom wees. Ek weet Hy het my sonde vergewe toe ek Hom so verloën het en nou sit ek my net en verlustig in sy heilige teenwoordigheid.
Toe sê Jesus: “Petrus, het jy My lief? Het jy My liewer as hierdie ander dissipels?”
“Ja Here, U weet dat ek U liefhet.”
“Dan moet jy my lammers laat wei.”
Daarna vra Hy weer vir my: “Petrus, het jy My baie lief?”
Ek kon weer met ‘n eerlike gemoed antwoord: “Ja Here, U weet dat ek U liefhet.”
Jesus se enigste antwoord op my belydenis was dat ek sy skape tog mooi moet oppas, maar toe vra Hy ‘n derde keer vir my of ek Hom liefhet. Ek het Hom weer uit my hart verseker dat ek Hom liefhet en dat Hy dit weet, want Hy weet alles. Daarop het Hy my weer beveel om sy skape te laat wei. Hy het ook vir my gesê dat ek in my jonkheid gegaan en gedoen het wat ek wil, maar dat ek in my ouderdom deur iemand anders gebring sal word waar ek nie wil wees nie.
Al wat ek toe daarvan verstaan het, was dat Jesus my vra om as ‘n herder en leraar die blye boodskap van sy liefde, genade, redding en verlossing uit die mag van die sonde, uit te dra aan die wagtende wêreld. Hoe ek, die arme ou ongeleerde visser van Kapernaum dit ooit sal kan doen, het ek gladnie geweet nie. Maar ek het onthou dat Jesus gesê het Hy gaan van my en Johannes hulle vissers van mense maak en later het Hy vir my gesê ek is die rots waarop Hy sy gemeente gaan bou. Hy het groot planne met ons en veral met my. Ek het besluit om geduldig te wag.
Ek kom weer
Voordat Jesus daardie môre van sy derde verskyning aan ons by die Galilese See weer uit ons gesig verdwyn het, het Hy vir my gesê dat ek al die dissipels moet vra om weer in Jerusalem bymekaar te kom, waar Hy van ons afskeid wil neem voordat Hy na sy Vader gaan. Daarom het ons sewe daarheen teruggegaan en die ander dissipels en getroue volgelinge van Hom gevra om saam met ons na die Olyfberg te gaan waar Hy afgespreek het om by ons aan te sluit.
Toe ons daar aankom, was Jesus weer by ons. Ek het so gewens dat Hy maar altyd by ons kon bly, maar Hy het gesê dat dit noodsaaklik is dat Hy weggaan, anders kan die Gees van Waarheid, die Heilige Gees, nie as Trooster na ons toe kom nie. Ons moenie van mekaar af weggaan voordat die Gees nie gekom het nie. Daarna moet ons sy getuies wees in Jerusalem en Judea en Samaria tot in die uithoeke van die wêreld en gaan verkondig dat God die wêreld só lief het dat Hy sy eniggebore Seun na die aarde gestuur het om aan ‘n kruis te kom sterf en so vir die sondes van die ganse mensdom te betaal, sodat elkeen wat in Hom glo as Verlosser en Saligmaker, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Toe het Hy sy hande seënend oor ons uitgestrek en voor ons oë in die lug begin opgaan, totdat ‘n wolk Hom naderhand heeltemal bedek het. Ons groepie kon maar nie ophou om in die ruimte in te staar waar Hy verdwyn het nie, maar toe staan daar skielik twee engele by ons wat sê Jesus sal, net soos wat Hy van ons af opgevaar het, weer na ons toe kom.
Hierdie verskyning van die engele het ons almal se droefheid oor Jesus se weggaan in blydskap verander, ook omdat Hy beloof het om aan ons die Heilige Gees as Trooster te stuur, om altyd by ons te bly. Daarom het ons almal saam na Jerusalem teruggegaan om met blymoedigheid op die koms van die Gees te wag.