Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wonder by Bloedrivier het gebeur omdat die Voortrekkers tot God gebid en onwrikbaar geglo het dat Hy hulle sal red. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (Ps.33:12).
PETRUS: Hoofstuk 5
Waarom veg ons nie ?
Die Maandagmôre het Jesus vanaf Betanië na die tempel toe gegaan. Ek en Jakobus en Johannes het Hom gevolg, want ons wou nie hê dat Hy hier in Jerusalem alleen sonder ons dissipels moes wees nie. Ek het begryp dat Hy graag die volk - en hier was nou baie pelgrims in Jerusalem - meer wou leer van die ewige dinge van die koninkryk van God, net soos Hy dit in Galilea vir die skares gedoen het. Hy sal seker ook nie voordat die fees verby is, toelaat dat ons Hom as koning kroon nie.
Waarom haat hulle Hom so ?
Maar ek was weer baie bekommerd oor Jesus se veiligheid, want ek het gehoor die owerpriesters en skrifgeleerdes het glo gesê hulle slyp hulle tande vir Jesus, as Hy met die Paasfees Jerusalem toe kom. Hy moenie dink Hy ken die skrifte beter as hulle nie, want wie het Hom dit ooit geleer? Hulle wil sommer daardie Lasarus wat Hy lewendig gemaak het, ook bykom, want dit is deur hom dat almal nou skielik agter Jesus aanloop en dink Hy is wat wonders.
Hierdie houding van hulle het ek nie verstaan nie. Waarom haat hulle Hom so? As die hele volk agter Jesus aangaan, sal dit mos maklik wees om Hom koning te maak. Wil hulle dan nie ook vry van Romeinse oorheersing wees nie? Ek het een middag van die tempel af weggeglip en vir my by ‘n ruilwinkel ‘n kort swaard gaan koop. ‘n Mens kan nooit weet nie.
Die Dinsdagoggend het Jesus met sy bediening in die tempel voortgegaan. Ek en Jakobus en Johannes het maar altyd in die agtergrond tussen die mense rondbeweeg. Ek het ‘n paar van die slim menere na Jesus toe sien beweeg en nadergestaan om te hoor wat hulle in die mou voer. Hulle het hulle pad hardhandig oopgebeur tot voor Hom en smalend gevra wie vir Hom die reg gegee het om die mense hier in die tempel te leer. Hulle wou weet op watter gesag Hy dit doen.
Toe stel Jesus vir hulle ‘n weervraag: Is die doop van Johannes uit God, of deur mense ingegee? Hulle was te bang om Hom te antwoord en daarom het Jesus ook geweier om hulle vraag te antwoord.
Onderwyl ek so tussen die mense beweeg, sien ek vir Maria Magdalena en die ander twee goeie vroue, Johanna en Maria, wat daar in Galilea ons so goed versorg het. Maria Magdalena sê hulle kon onmoontlik in Magdala agterbly en het ‘n dag na ons ook in die pad geval hier na Jerusalem toe, net om naby Jesus te kan wees en ons te help as dit nodig is. Hulle is tuis by ‘n familielid wat hier in die stad woon. Sy is ‘n weduwee en haar naam is ook Maria. Sy woon saam met haar seun, ‘n jongman met die naam Markus Johannes, in ‘n baie groot huis. Sy het gevra of Jesus en die dissipels nie ook maar daar wil tuisgaan nie; daar is baie plek. Ek het vir Maria Magdalena gesê ek sal dit vir Jesus noem, maar Martha en Maria van Betanië voel baie gelukkig om ons daar by hulle te hê.
Jaloesie wek haat
Daardie selfde Dinsdagmiddag kom steur ‘n groep Fariseërs weer vir Jesus waar Hy besig is om met baie mense oor die ewigheid te praat. Onderwyl ek naderstaan, hoor ek hulle vra vir Hom of dit reg is om aan Rome belasting te betaal. Hy vra toe vir hulle wie se kop verskyn op elke geldstuk, waarop hulle moes erken dat dit die keiser s’n is. Hulle het baie kwaad van Jesus af weggestap toe hy vir hulle sê hulle moet aan die keiser betaal wat hulle aan hom verskuldig is, maar hulle moet ook aan God betaal wat hulle aan Hom verskuldig is.
Daardie Woensdagmôre het hulle hul aanvalle teen Jesus verskerp. Hulle het in groter getalle in die tempel opgedaag en aanmekaar probeer om Hom met hulle slimmighede vas te trek. Jesus het hulle naderhand ‘n klomp huigelaars en blinde dwase genoem wat die buitekant van die beker en die skottel skoonmaak, terwyl dit aan die binnekant vol hebsug en roof is. Hulle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk, maar binneïn vol doodsbeendere en gruwelikhede is. Ek het amper geskrik toe Hy vir hulle sê hulle lyk vir die mense vroom, maar van binne is hulle vol huigelary en minagting van die wet.
Ek kon sien hulle is briesend kwaad toe hulle daar uitstap, maar hulle het nie gewaag om hulle hande aan Hom te slaan nie. Maria Magdalena sê hulle het in die rigting van die paleis van die hoëpriester Kajafas geloop. Aan hulle gepraat het sy uitgemaak dat al die lede van die Raad daarheen op pad was, want Kajafas wou hê hulle moes besluit wat hulle met Jesus gaan doen, omdat hulle dit nie meer langer kan verdra dat feitlik die hele volk agter Hom aangaan en Hom as ‘n groot profeet vereer nie.
‘n Rukkie nadat hulle die tempel verlaat het, het Jesus my geroep en gevra dat ek en Johannes na ‘n sekere adres in die stad moet gaan. Ons sal ‘n groot huis daar aantref en ons moet vir die inwoners daarvan sê dat Jesus ons gestuur het om te vra of Hy en sy dissipels nie die volgende aand - dit is die Donderdagaand - die Pasga daar kan kom eet om die Paasfees te vier nie.
Toe ons daar aankom, ontdek ek tot my verbasing dat dit die huis is van die Maria waar Maria Magdalena en die ander twee vroue ook tuis is. Ek het gedink Maria Magdalena het vir Jesus van die huis gesê, maar sy sê, o nee, Jesus weet alles.
Dit was die Woensdagaand. Onderwyl ons drie dissipels saam met Jesus vanaf die tempel na Betanië terugstap, neem ek my voor om die volgende oggend die ander nege manne te vra om saam met ons stad toe te kom, want ek het die vrede nie meer vertrou weens die verskriklike vyandige houding van die Fariseërs en skrifgeleerdes nie.
Judas, waar was jy ?
Daardie aand sê my broer Andreas vir my: “Ouboet Simon, ‘n rukkie nadat julle vanmôre stad toe is, het Judas Iskariot sy reismantel oor sy skouer gegooi en in die rigting van die Olyfberg gestap. Toe ek agter hom aan roep en vra waar hy heen gaan, het hy gemaak of hy my nie hoor nie en maar aangestap en oor die bult verdwyn. Hy het laat vanmiddag eers teruggekom. Hy wil nie vir ons sê waar hy was nie en wat hy gaan doen het nie.”
Ek het dadelik gevoel daar is fout. Ek het hom deeglik onder hande gaan neem, maar kon niks uit hom kry nie en hom toe maar gelos. Ek het nooit van Judas gehou nie.
Waarom sê Hy so ?
Die Donderdagoggend was Jesus nie haastig om weer na die tempel te gaan nie. Hy het baie met ons gepraat voordat ons almal saam stad toe gegaan het. Hy het weer vir ons gesê dat Hy van ons af weggaan en dat ons nie nou saam met Hom daarheen kan gaan nie. Ek het dit nie verstaan nie. Ek het vir Hom gevra, na watter plek toe gaan Hy en waarom kan ons Hom nie daarheen vergesel nie. Toe het Hy net gesê: “Nee, nie nou nie, maar later sal dit wel gebeur.”
Hy het ons beveel om mekaar lief te hê, om in God en ook in Hom te glo en nie ontsteld te wees omdat Hy weggaan nie. Hy sal vir ons ‘n Trooster stuur; dit is die Heilige Gees wat by ons sal bly en ons versterk.
Dit was alles baie duidelike woorde, en tog het ek dit nie verstaan nie en die ander elf beslis ook nie.
Waarom doen Hy dit ?
Ons het daardie middag laat almal saam met Hom stad toe gegaan en ‘n rukkie voor sononder by Maria se huis gekom waar ons die Paasfeesmaal sou geniet. Maria Magdalena en die ander vroue het dit vir ons voorberei in die ruim bovertrek waar ons almal gaan aansit het.
Toe gebeur daar ‘n buitengewone snaakse ding wat my baie ontstel het. Jesus het opgestaan, ‘n handdoek om sy lyf gebind, ‘n skottel water geneem, by elkeen van ons kom kniel, ons voete gewas en met die handdoek afgedroë. Toe Hy by my kom, protesteer ek luidkeels: “Asseblief Here, ek sal dit so nooit as te nimmer toelaat nie!”
“Maar Petrus, dan het jy geen deel hoegenaamd aan My nie.”
Toe ek dit hoor, was ek soos gewoonlik maar weer voor op die wa. “Ag Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en gesig!” Maar Jesus wou ons net ‘n les in nederigheid leer en toe Hy dit vir ons sê, het ek dit darem begryp, want Hy het gesê dit moet ons ook aan ons minderes doen..
Judas, Judas !
Dit was ‘n besondere aand. Ek het gevoel dinge is nie soos altyd nie. Jesus was swaarmoedig. Ons het Hom nooit so geken nie. Hy het gesê Hy wou so graag hierdie maaltyd saam met ons geniet, want daar sal nie weer vir Hom so’n geleentheid wees voordat Hy in sy heerlike koninkryk kom nie, maar Hy voel bedroef omdat een van ons twaalf Hom vannag gaan verraai.
Die skok van hierdie mededeling was op elkeen se gesig te lees. Ek het vir Johannes, wat die naaste aan Jesus was, gefluister om vir Hom te vra wie dit is, en toe dit blyk dat dit Judas is, het ek geweet dat sy verdwyning die vorige dag daar iets mee te doen het.
Nog voor die haan sal kraai
Nadat Jesus hom uitgestuur het om sy vuilwerk te gaan doen, was ons almal verslae, ek die meeste van almal. Waarom moet soiets plaasvind? Jesus kan dit mos verhoed. Hoe gaan hy Hom verraai? Waarom het Jesus die afgelope tyd so baie van sy dood gepraat?
Nadat Judas uit is, het Jesus ons een vir een aangekyk. Ek het die droefheid in sy oë gelees toe Hy sê: “Julle sal almal nog vannag vir My in die steek laat en wegvlug wanneer die dinge begin gebeur wat moet plaasvind.”
Sonder dat ek twee keer dink, rol die woorde toe weer uit my mond: “Ag, nooit nie, Here! Dit sal ék nooit doen nie! Ek sal U nooit in die steek laat nie!”
Is dit ‘n gevoel van jammerte vir my wat ek in sy oë lees? Hy kyk my aan en sê: “Moenie so seker wees nie, Petrus. Voordat die haan vannag gaan kraai, sal jy My al drie keer verloën het en maak of jy My nie ken nie.”
Dit was vir my amper te veel. “Nooit nie, Here! Ek sal liewers saam met U sterf as om dit aan U te doen. Ek sal U nooit verloën nie, nooit in der ewigheid nie!”
Die ander dissipels het ons oopmond aangestaar. Toe val almal in ‘n koor weg om Jesus te verseker dat nie een van ons Hom ooit sal verloën nie.
Dis my liggaam, dis my bloed
Jesus het ons nie weer geantwoord nie. Hy het brood geneem, dit gebreek en aan elkeen van ons ‘n stukkie gegee om te eet en gesê dis sy liggaam wat vir ons gebreek word. Daarna moes ons elkeen ‘n slukkie wyn uit die beker neem. Hy het gesê dat dit sy bloed is wat vir ons vergiet word, tot vergewing van al ons sondes.
Ek sê nou eerlik vir jou, ek het daardie aand nie verstaan wat Jesus hiermee bedoel het nie. Maar één ding het vir my duidelik begin word: As Jesus so herhaaldelik van sy dood praat, vervaag alle hoop om Hom hierdie Paasfees koning van Israel te maak.
Nie my wil nie
Ons was vroeg-aand klaar met die Paasfeesmaal. Jesus het weer, asof ingedagte in die flouerige lamplig na elkeen van ons dissipels bly staar. Ek het my verbeel daar is ‘n sweem van veroordeling in sy blik toe Hy na my kyk, maar toe sê Hy skielik: “My tyd het gekom. Kom saam met My.”
Onderwyl ons in die straat afgestap het in die rigting van die westelike poort, waarlangs ons die stad verlaat het, het ek gewonder waarheen ons op pad is. Na ‘n uur of meer se loop, het die Olyfberg in die flou maanlig voor ons opgedoen.
Jesus het ons na die mooi tuine van Getsémané gelei wat aan die voet van die berg lê. ‘n Endjie tussen die bome in het Hy halt geroep en vir ons gevra om daar vir Hom te wag; Hy wil graag nog ‘n endjie verder gaan om daar alleen tot sy hemelse Vader te gaan bid. Maar Hy het vir my en Jakobus en Johannes gevra om saam met Hom te gaan. Ons het in stilte verder saam met Hom gestap. Toe gaan Hy weer staan en sê ons drie moet daar vir Hom wag; Hy wil graag alleen verder gaan.
Onderwyl ons daar sit en wag, het Johannes gesê hy is baie bekommerd oor Jesus se veiligheid. Waar sou Judas wees en waarom het Jesus gesê dat hy Hom gaan verraai?
Ek het meteens vreeslik vaak geword en kon nie my oë oophou nie en toe sommer net daar waar ons gesit het, omgekeer en aan die slaap geraak. Dit het met Jakobus ook gebeur, maar Johannes het blykbaar daarin geslaag om die vaak wat hom wou oorweldig, te trotseer. Hy het nader gekruip aan die plek waarheen Jesus gegaan het, totdat hy Hom kon sien om ‘n oog oor Hom te kan hou. Jesus het onder ‘n boom gekniel, in vurige gebed tot sy hemelse Vader en Hom by tye gesmeek om die beker wat voor Hom lê, weg te neem, maar dan het Hy weer berus en gebid dat sy Vader se wil moet geskied.
Johannes sê hy het saggies nog nader gekruip en ademloos geluister en gesien hoe ernstig Jesus met sy Vader worstel. Sy sweet wat op die grond geval het, het soos bloeddruppels geword. Toe sien Johannes ‘n engel wat by Jesus verskyn om Hom te ondersteun. Johannes het saggies teruggekruip tot by ons en toe ook aan die slaap geraak.
‘n Rukkie daarna het Jesus by ons gekom en ons wakker gemaak en gevra of ons dan nie eers een ou uurtjie saam met Hom kan wakkerbly nie. Ek het so skaam gekry.
Ons is terug na die ander dissipels toe en hulle ook aan die slaap gekry. Jesus het hulle ook wakker gemaak en gesê: “Kom ons loop. Die man wat My verraai, is hier naby.”
Waarom moes dit gebeur ?
Ek wil nie graag vertel wat daarna plaasgevind het nie, maar ek moet. Die herinnering aan wat hulle aan Jesus gedoen het en wat met my persoonlik gebeur het, wil nie as skrikbeeld uit my geheue vervaag nie.
Daar het ‘n klomp lawaaierige mense, wat met stokke en swaarde gewapen was, na ons toe aangestap gekom, met Judas Iskariot op die voorpunt. Toe het ek eers besef dat die dinge waarvan Jesus gepraat het, werklik gaan plaasvind.
Judas het Hom met ‘n verraaiersoen vir hulle aangewys en toe hulle op Hom begin toesak, het ek net gedink, dis nou of nooit en my kort swaard uitgepluk. Die eerste ou wat ek bygekom het, was Malgus, die Hoëpriester se slaaf. My sleggemikte hou het sy oor afgekap en toe ek weer my arm lig om te slaan, hou ‘n ongekende krag my vas en ek hoor Jesus se stem: "Nee Petrus, dit mag nie gebeur nie!”
Snaaks, almal het skielik tot stilstand gekom en in die lig van hulle brandende fakkels gestaan en kyk hoe Jesus Malgus se oor optel en weer aan sy kop heg, onderwyl Hy sê: “As Ek my Vader nou bid, sal Hy twaalf legioene engele stuur om My te red, maar wat nou gaan gebeur, móét gebeur sodat die skrifte vervul kan word.”
Toe het ek stomgeslaan gestaan en kyk hoe hulle Jesus boei en van ons af wegneem. Ek kon nie glo wat ek sien nie en ‘n rukkie lank het dit gevoel of ek my bewussyn verloor. Toe ek tot verhaal kom, kon ek skaars nog die rumoer van die spul tempelwagte hoor, onderwyl hulle besig was om vir Jesus soos ‘n misdadiger na die stad aan te jaag. Johannes het ‘n endjie van my af hulle met betraande oë gestaan en agternakyk. Die ander dissipels was almal skoonveld. Tot Jakobus wat altyd saam met my en Johannes die driemanskap gevorm het om Jesus te vergesel en te ondersteun, het saam met die ander gevlug.
Johannes het gesê: “Kom ons gaan kyk wat hulle met Hom wil doen.” Ons het die bende op ‘n draffie agternagesit en hulle ingehaal toe hulle met Jesus by die paleis van die hoëpriester Kajafas aankom. Johannes het die plek geken en saam met hulle na binne geglip, maar ek kon nie verder as die binneplein kom nie en het toe maar probeer om ongemerk by ‘n groepie aan te sluit wat by ‘n vuurtjie gesit het. Ek kon hiervandaan deur die oop deur van die vergadersaal vir Jesus geboeid sien staan, onderwyl hulle allerhande valse beskuldiginge teen Hom slinger.
Toe kraai die haan
‘n Diensmeisie wat by ons vuurtjie verbygeloop het, het na my gekyk en gesê dat ek een van Jesus se dissipels is. Ek het dit heftig ontken. ‘n Rukkie later het nog een so gesê. Ek het gesê sy weet nie waarvan sy praat nie, maar toe ‘n man hier by ons vuurtjie sê ek is maar seker een van Jesus se dissipels, want die Aramees wat ek praat, verraai dat ek ‘n Galileër is, het ek opgespring en begin vloek en hoog en laag gesweer dat ek Hom gladnie ken nie. Toe hoor ons duidelik die skril gekraai van ‘n haan bo die geroesemoes van stemme opklink. Ek het in my spore vasgesteek. Jesus het omgedraai en na my gekyk, voordat ek die binneplaas uitgestorm het. Petrus, voordat die haan vannag sal kraai, sal jy My driemaal verloën…
Sy woorde het soos vuur in my gebrand en my trane kon dit nie uitwis nie. Ek het die nag ingevaar en later nie geweet waar ek my bevind nie. Maar die goeie Johannes het blykbaar gesien wat met my gebeur en watter koers ek inslaan. Hy het later na my kom soek en my in die tuin van Getsémané gekry, waar ek in ‘n geskokte toestand onder dieselfde boom gesit het waar Jesus vroegaand in gebed geworstel het. Ook ek was besig om in my verdriet te worstel met my skuldgevoel. Ek het besef dat hulle op daardie oomblik miskien al besig is om Hom dood te maak en dat ek nooit geleentheid gaan kry om vir Hom te sê hoe jammer en spyt ek is dat ek Hom so in die steek gelaat het nie.
Wat het ek gedoen, ag wat het ek gedoen? Hoe sal ek ooit met hierdie wroeging in die hart kan bly voortleef?