Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges vrees die toekoms omdat hulle bang is vir dit wat dalk vir hulle mag voorlê. Gelowiges nie. Alhoewel ons nie weet wat vir ons nog voorlê nie, weet ons ten minste in Wie se hande die toekoms is. Gelowiges wat weet aan Wie die laaste uur behoort, hoef vir geen enkele minuut bang te wees nie.
DWALING VAN DIE NUWE APOSTOLIESE HERLEWING (4)
Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing
Die koninkryk van God
4.1 ʼn Onhaalbare droom
In hul strewe na mag, maak die NAH telkens van die Bybelse metafoor die koninkryk van God gebruik. Dis skynbaar ʼn nuwe aardse gemeenskaporde waarin apostels al die belangrike funksies vervul. Gevolglik vertoon dit sterk parallelle met die teologiese liberalis meen Social Gospel van weleer.
Die droom van ʼn aardse Utopia van vrede en geregtigheid o.l.v. nuwe apostels is die steierwerk van hul toekomsverwagtings. Daarom is kerkgroei nie hul agenda nie; slegs die koninkryk van die apostels. Om dit te verwerklik, moet die demokratiese strukture van die bestaande kerke verander word ten einde ʼn magslustige priesterorde te vestig en te voed. Dis allermins Protestants en eerder Rooms!
4.2 ʼn Valse evangelie
Die Bybel leer dat die koninkryk van God nie ʼn aardse bestel is nie. Dis ʼn geestelike heerlikheid. Tydens sy verhoor sê Jesus vir Pilatus dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Daarbenewens leer die Bybel nêrens dat die wêreld ooit beter gaan word nie; beslis nie weens ʼn koninkryk wat deur mense gedryf gaan word nie. Jesus waarsku eerder dat die mensdom soos in die dae van Noag al hoe boser gaan word.
Wie dus ʼn evangelie verkondig dat die koninkryk van God sigbaar op aarde gaan aanbreek, dwaal. Om hemel op aarde te probeer skep, is om ʼn Armageddon te probeer omseil. Ongelukkig vind hierdie dwaling in feitlik elke gevoelsgodsdiensvrugbare grond. In die NAH tel dit net stoom op!
Hierdie dwaling is ʼn herlewing van Hermetisisme, ʼn ou filosofies-okkultiese opvatting dat die mens op ʼn terugreis na ʼn eenheidstaat met God is. Om dit te laat aanbreek, moetdaar skouer aan die wiel gesit wordomdat dit nie sonder menslike moeite kan verwerklik nie.
4.3 In Jesus se tyd
Die NAH se teologie van God se koninkryk hier en nou is vreemd aan die Bybel. Tydens Jesus se aardse bediening het baie Jode na ʼn sigbare koninkryk van God gesmag. Dit was egter vir hulle gelykluidend met ʼn bevryding van Romeinse gesag. Die dissipels het tot op die dag van Jesus se hemelvaart gehoop dat so ʼn koninkryk sou verwerklik:
“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6).
Daar was twee probleme daarmee. Dit was eerstens nie God se tyd nie en tweedens wou hulle Jesus vir die verkeerde rede koning maak. Die Bybel sê dat Jesus op God se tyd en vir die regte rede weer aarde toe sal kom. God kan nie gemanipuleer word om mense se wil te laat geskied nie.
4.4 Soldate van God
Die NAH is ʼn kookpot van misleiding en misleiers wat poog om God se magsgebied wat Adam glo in die tuin van Eden aan die Satan afgestaan het, vir Hom terug te wen. Hulle glo dat Satan se regering alleenlik omver gewerp kan word deur dit met ʼn ander regering, dié van die soldate van God, te beveg.
In die 40er jare het die Spadereën in Kanada ʼn soortgelyke dwaling verkondig en ʼn wêreldwye herlewing o.l.v. die seuns van God in die vooruitsig gestel. Laasgenoemdes sou as bewys van hul roeping dieselfde tekens en wonders doen as wat Jesus op die aarde gedoen het.
Baie Christene is ongeduldig dat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie en soek dan uitweë om geestelike vervulling te smaak. Dwaalleraars maak mense al vir baie jare wys dat hulle die wêreld vir Christus moet wen ten einde die koninkryk van God te laat kom. Ook die NAH met hul Elia-genote uit wie se bediening ʼn nuwe geloofsgemeenskap gaan spruit. Angus Buchan se Mighty Men en Manne van Belofte sluit hierby aan.
Op 1 Junie 2008 sê Buchan in Hillcrest: “God is looking for men, and for women, for boys and girls, that will change the world! The world! Waiting! All creation is waiting with expectation, on tip toes, for the manifestation of the sons of God! That’s you and me” (Internet).
Jesus waarsku:
“Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer” (Mt.11:12,13).
Vervolg...