Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie oorleg en wysheid het, is gewoonlik spaarsaam met sy woorde; iemand wat by jou kom skinder gaan ook van jou skinder – vermy sy skinderpraatjies!
HOE KOM ʼn MENS IN DIE HEMEL? (3)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Hoe kom mens in die hemel?
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Om iets te laat slaag, is dit belangrik om ʼn plan te hê. God het voor die grondlegging van die wêreld ʼn plan vir gelowiges gehad om in die hemel te kom. Hierdie verlossingsplan is ʼn lewensroete wat oor die bekering tot Jesus loop. Wie hierdie roete nie volg nie, sal nooit die hemel bereik nie. Dis die enigste toegangsroete. Daarom sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Alle ander paaie sal in die hel eindig.
God se verlossingsplan kom egter met Jesus se wederkoms tot ʼn einde. In die gelykenis van die 10 maagde (Matt.25) vergelyk Jesus hierdie dag met ʼn huweliksfees wat aanbreek. Mense is lank vooraf in kennis gestel dat dit gaan plaasvind. By hierdie huweliksfees is ʼn deur ter sprake; een op ʼn gegewe tyd gesluit om nooit weer oopgemaak te word nie. Baie mense sal, soos die vyf dwase maagde wat te laat by die fees aangekom het, so naby aan die hemel kom, maar dit nogtans mis.
Daar is by sommige mense onduidelikheid oor hoe om deel aan hierdie fees te hê. Baie mense glo dat jy maar net mooi moet leef en kyk wat gebeur. Dis ʼn lewenslange onsekerheid wat niks van ʼn moeilike eksamen verskil waarvoor jy op naalde en spelde vir die uitslag wag nie.
Kan ʼn mens hier op aarde 100% van ʼn plek in die hemel seker wees? Ja, beslis! In Joh.6:37 sê Jesus: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie”. ʼn Bekeerde sal hom nooit voor ʼn toe deur bevind nie!
So anders as afgode, is God nie ʼn sadis wat die pyniging van mense geniet nie. Hy wil nie hê dat enigeen in die hel moet beland nie, maar verseker in die hemel moet kom.
Tydens die ballingskap het Juda geglo dat God hulle verwerp en as’t ware aan hel op aarde oorgegee het. Daarom het God vir Esegiël tot profeet geroep om die saak te gaan regstel: “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom moet bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle verkeerde weë! Waarom wil julle tog sterwe?” (33:11).
Die onbetwisbare feit dat ons reeds hier op aarde van ʼn plek in die hemel seker kan wees, word in Joh.14 baie duidelik gestel. Jesus sê dat Hy vir ons plek in die hemel gaan voorberei. Aan die kruis sê Jesus vir die bekeerde misdadiger: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43). Dis ʼn belofte van sekerheid.
Hoe gaan dit in die hemel lyk? Die hemel gaan drie verrassings oplewer. Eerstens gaan daar mense wees wat ons glad nie daar verwag het nie. Tweedens gaan ons ook mense mis wat ons wel daar verwag het. En derdens, die grootste vreugde, ons is vir ewig daar!
Toe daar by geleentheid aan ʼn gelowige gevra is of hy werklik glo dat daar ʼn hemel gaan wees, het hy geantwoord: “Ja, want ek bly daar”. Die hemel was in hom lank voordat hy in die hemel was!
Die hoofdoel van God se verlossingsplan is nie soseer om mense in die hemel te kry nie, maar om die hemel in mense te kry. Daarvoor moet ons van sonde wat ons gees bind, bevry wees: Paulus vermaan: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge” (Kol.3:2-3)
ʼn Jong Britse sendeling wat vir ʼn paar jaar in die Ooste gewerk het, het op die vooraand van sy terugkeer na Engeland ernstig siek geword. Hy het net aan sy terugkeer gedink - sy ouers, sy susters en die meisie met wie hy wou trou. Toe die dokter hom oor die ware toedrag van sy gesondheid inlig, nl. dat hy sterwend is, was hy vir ʼn wyle stomgeslaan. Toe verhelder sy gesig: ” Wel dan gaan ek na my hemelse tuiste waaroor ek so baie gepreek het!” Dis hoe ons oor die hemel moet dink. Daardie innerlike vrede wat die Heilige Gees ons gee, al is ons ook sterwend, spreek van die saligmakende geloof in ons Here Jesus!
Maar waar is die hemel? Ons praat dikwels daarvan asof dit baie ver is; anderkant die maan, sterre en planete. Nee, die hemel is in werklikheid binne hoorafstand van elke gelowige. Daarom bid ons tot God wat in die hemel woon en sê: “Onse Vader wat in die hemel is”. As Hy te ver was, sou Jesus ons nooit so leer bid het nie.
Ons ken almal die probleme wat ons soms met telefone het. Jy sukkel om na mense met wie jy wil praat, deur te kom, veral as hulle ʼn bietjie ver is. Ek onthou as kind hoe ons hooflynoproepe moes bespreek. Dit was nie vir optel en bel nie; daar moes reëlings met die poskantoor getref word.
Hoe wonderlik is gebed nie! Ons kan die geloofsgehoorstuk optel en God is daar – geen beperkings, reëlings of koste nie. Daardie lyn is 24 uur per dag oop totdat jy jou laaste asem uitblaas. En alles is hooflynoproepe; ons praat met die Hoof van die heelal in sy hemelwoning!
Ek kan onthou hoe verbaas die mense in 1969 met die eerste maanlanding was; veral die wonder van telekommunikasie. Ruimtevaarders kon vanaf die maan met mense op die aarde praat. Dit was verbysterend! Hoe veel te meer is die wonder van gebed nie – ons kan met God in die hemel praat! Daarom behoort ons hele menswees op die aarde grootliks op die hemel ingestel te wees.
Dinamies vertaal, lees die teksvers: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom in die hemel behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Moet dit nie vir al die geld in die wêreld mis nie!