Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geluk is nie ‘n bestemming waarby ‘n mens aankom nie, maar eerder die manier waarop ons deur die lewe reis. Soms loop ons geluk mis omdat ons dit iewers daar ver gaan soek, terwyl dit sommer naby aan ons is. Wyses kweek dit aan hulle voete!
DIE HEMEL IS WERKLIK (3)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
COLTON BYT VAS
Die volgende maand het die gips afgekom. Met die vals kanker-situasie en nierstene agter ons, het ek 'n paar maande daaraan bestee om weer te leer loop. Eers met 'n loopraam, toe erg mank, tot ek stadig maar seker die vermaerde spiere gesond geoefen het. Teen Februarie het ek uiteindelik 'n mate van onafhanklikheid bereik - net betyds vir die streeksraadsvergadering van ons kerkdenominasie in Greeley, Colorado. Die vergadering is geskeduleer vir die eerste week in Maart.
"Jy moet 'n bietjie wegkom” het Sonja 'n paar weke voor die vergadering aan my gesê. "Kom net weg en maak tyd vir 'n bietjie pret."
Hier was ons dus nou by die Butterfly Pavilion. 'n Monargskoenlapper het verbygefladder met oranje vlerke in swart gesegmenteer soos loodglas. Ek het 'n dankgebed gefluister vir die feit dat ons uitstappie hoegenaamd plaasgevind het.
Twee dae tevore, die Donderdag, het Colton teenoor Sonja begin kla van maagpyn. Ek was reeds in Greeley en Sonja was besig om remediërende klasse by Imperial High School te gee. Omdat Sonja die skool die onkoste van 'n substituutonderwyser wou spaar, het sy ons goeie vriendin Norma Dannatt gevra om Colton by haar huis op te pas sodat Sonja werk toe kon gaan. Norma, wat soos 'n gunsteling tante vir ons kinders was, het onmiddellik ja gesê. Maar teen die middag het Sonja se selfoon gelui. Dit was Norma: Colton se toestand het erg versleg. Hy het kouekoors gehad en die grootste gedeelte van die oggend tjoepstil op Norma se bank gelê, toegedraai in 'n kombers.
"Hy sê hy kry vreeslik koud, maar hy sweet iets verskrikliks," het 'n duidelik bekommerde Norma gese. Sy het gesê Colton se voorkop was oortrek van sweetdruppels die grootte van trane.
Norma se man, Bryan, het huis toe gekom, Colton net een kyk gegee en besluit dat hy siek genoeg is om ongevalle toe te gaan. Sonja het my gebel in Greeley om die nuus met my te deel, en net daar het ek gesien hoe ons uitstappie om die einde van 'n reeks beserings en siektes te vier, gekanselleer word ... weens siekte.
Sonja het vroeg geloop by die werk, Colton by Norma se huis gaan oplaai en hom dokter toe geneem. Die dokter het haar meegedeel dat daar 'n maagvirus was wat baie mense in die dorp siek gemaak het. Daardie nag was ons nie seker of ons uitstappie nog sou realiseer nie. In Greeley het ek gebid en in Imperial het Sonja gebid dat Colton gesond genoeg sou wees om die reis aan te pak, en teen die oggend het ons ons antwoord gekry: ja!
Colton se koors het deur die nag gebreek en teen Vrydagmiddag was hy weer sy ou self. Sonja het gebel en gesê: "Ons is op pad!"
Nou, by die Butterfly Pavilion, het Sonja op haar horlosie gekyk. Ons het 'n afspraak gehad om die leraar van Greeley Wesleyan Church, Steve Wilson, en sy vrou, Rebecca, vir aandete te ontmoet, en die kinders wou nog eers by die hotelswembad gaan swem. Daar was geen kans dat hulle in Maart in Imperial kon swem nie, so hierdie was 'n seldsame geleentheid vir hulle. "Oukei, ons moet seker aanstaltes begin maak hotel toe," het Sonja gesê.
Ek het na haar gekyk en toe na Colton. "Kom, boeta, dis tyd om te gaan. Is jy nog steeds seker jy wil nie vir Rosie vashou nie?" het ek gevra. "Dis jou laaste kans om 'n plakker te kry. Wat sê jy?"
Emosies het op Colton se gesig gespeel soos sonskyn en wolke in 'n vinnig bewegende front. Selfs sy ouer suster het hom nou al 'n bietjie geterg oor sy vrees. Terwyl ek toekyk, het Colton sy ogies op skrefies getrek en sy kakebeen uitgestoot: Hy wou daardie plakker hê.
"Goed, ek sal haar vashou," het hy gesê. "Maar net vir 'n kort rukkie."
Voor hy van plan kon verander, het ons almal terug marsjeer in die Kruip-en-Sien in en ek het die dieretuinwerker voorgekeer. "Dit is Colton en hy wil graag probeer," het ek gesê.
Die man het geglimlag en afgebuig. "Oukei, Colton, is jy gereed?"
Stokstyf het ons seun sy hand uitgesteek en ek het teen hom geleun en my hand onder syne geplaas.
Dit is vreeslik maklik, Colton," het die man gesê. “Hou jou hand net plat en stil. Rosie is baie mak. Sy sal nie seermaak nie."
Die dieretuinwerker het sy hand gelig en Rosie het oorgeloop na Colton se hand en weer terug na die man wagtende hand, sonder om ooit stadiger te beweeg.
Almal Colton toegejuig en hande geklap toe die werker vir hom sy plakker gee. Hy het sy vrees trompop geloop! Dit was 'n groot oorwinning vir hom.
Terwyl ons die Butterfly Pavilion besoek het, het ek nagedink oor die afgelope paar maande. Dit was moeilik om te glo dat die gebreekte been, die nierstene, die verlore werk, die finansiële stres, drie operasies en die skrik as gevolg van die kankermoontlikheid alles binne 'n halwe jaar gebeur het. Op daardie oomblik het ek vir die eerste keer besef dat ek gevoel het of ek in 'n geveg was. Vir maande was ek op my hoede, gereed vir die volgende hou wat die lewe kon uitdeel. Nou het ek egter totaal ontspanne gevoel vir die eerste keer sedert die vorige somer.
As ek die boksmetafoor net 'n bietjie langer oordink het, sou ek dalk by die logiese gevolgtrekking uitgekom het: In 'n boksgeveg kan die boksers 'n paar geweldige houe hanteer omdat hulle gereed is daarvoor. En gewoonlik is die uitklophou die hou wat hulle nie sien kom het nie.
Vervolg...