Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Terminale siekte laat ons opnuut besef dat ons tyd min geraak het. Tyd is nie ons reg nie; dis ‘n voorreg. Ons besit dit nooit. Dis aan ons geleen, ja, ‘n kosbare stukkie leengoed uit die hemel. Die sekerheid van ‘n ewige lewe laat ons egter berus dat ons veilig in God se hand is. Niks wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie.
DIE HEMEL IS WERKLIK (5)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
SKADU VAN DIE DOOD
Dit was Maandag 3 Maart. Die verpleegsters het Colton na 'n kamer geneem en 'n drup ingesit. Daar was twee sakke: een vir hidrasie en een met antibiotika. Ek en Sonja het saam vir Colton gebid. Norma het ingeloer met Colton se gunsteling speelding - sy Spider-Man- mannetjie. Gewoonlik sou Colton ekstaties wees om of Norma of Spider-Man te sien, maar hy het geen reaksie getoon nie. Later het ons vriendin Terri haar seun Hunter, Colton se beste maatjie, gebring vir 'n kuier. Weer het Colton nie gereageer nie; hy was amper leweloos.
Norma het op 'n stoel langs Colton se bed gesit en somber na Sonja gekyk. "Ek dink jy moet hom na die kinderhospitaal in Denver neem."
Maar op daardie stadium het ons die dokters vertrou en geglo dat alles gedoen word wat moontlik gedoen kon word. Colton was buitendien nie in 'n toestand om al die pad terug na Colorado te reis nie.
Colton het aanhou opbring. Sonja het die fort gehou en hom vertroos, terwyl ek huis toe gery het om te gaan kyk hoe dit met die res van ons lewe gegaan het. Op pad het ek by die kerk aangedoen om seker te maak dit het nie afgebrand nie. Ek het gaan kyk hoe dit met my garagedeur-ouens gaan, 'n paar nuwe kliënte teruggebel en 'n deur gaan regmaak. Die hele tyd wat ek weg was van die hospitaal af het ek gebid. Selfs gedurende my gesprekke met ander het ek bly bid, amper soos agtergrondmusiek wat eintlik op die voorgrond moes gewees het - as dit nie vir die irriterende feit was dat die lewe 'n manier het om maar aan te gaan nie.
Sonja het Maandagaand by die hospitaal deurgebring en ek het tuisgebly by Cassie. Dinsdagoggend het ek haar skooltoe geneem. Die res van die dag het ek so gereeld ek kon, tussen kerk- en besigheidsverpligtings, by die hospitaal aangedoen en gehoop op verbetering. Pleks daarvan het ek elke keer wat ek in my seuntjie se kamer ingestap het, gesien hoe hy dieper verval in die kloue van die onbekende monster wat hom beetgehad het. Hy was nie net besig om nie te verbeter nie, hy was besig om vinnig agteruit te gaan.
Teen die tweede middag het ek iets gesien wat my baie bang gemaak het: die skadu van die dood.
Ek het dit onmiddellik herken. As leraar sit 'n mens soms en wag op die dood. In 'n hospitaal. 'n Siekeboeg. 'n Hospis. Daar is onmiskenbare tekens: die vel verloor sy pienk kleur en verbleek tot die geel van geelsug. Asemhaling word swaar. Die oë is oop, maar die persoon is nie teenwoordig nie. En die kenmerkendste van alles: 'n insakking en verdonkering om die oë. Ek het dit al baie male gesien, maar dit was nooit onverwags nie - 'n pasiënt wat aan terminale kanker ly of iemand wat in die finale fase van bejaardheid is. Jy weet daardie persoon se lewe op aarde is gereduseer tot dae, dan ure, dan minute. Ek sou daar wees om die familie te onderskraag, om saam met hulle gebede te bid soos: God, neem haar asseblief gou. Neem asseblief haar pyn weg.
Ek het hierdie tekens op my seun se gesig gesien. My seuntjie wat nog nie eers behoorlik vier jaar oud is nie! Dit het my soos ‘n glas koue water in die gesig getref, 'n stem in my kop het geskreeu: Colton was besig om te sterf!
Ek is 'n stapper. Ek het soos 'n ingehokte leeu heen en weer geloop in Colton se kamer tot daar groewe in die vloer was. My maag het gedraai. In my borskas het 'n onsigbare hand my hart omklem.
Hy word sieker, God! Wat gaan ons doen?
Terwyl ek heen en weer geloop het, het Sonja haar angs gekanaliseer in die rol van besige oppasser. Sy het Colton se kussing reggeskud, sy komberse reggetrek, seker gemaak hy drink iets. Sy het hierdie rol vervul om te keer dat sy ontplof. Elke keer wat ek na haar gekyk het, kon ek die onrus in haar oë sien. Ons seun was besig om weg te dryf en, nes ek, wou sy weet: Wat makeer hom? Die dokters het toetsuitslag op toetsuitslag gebring, maar geen antwoorde nie - net niksseggende observasies. "Dit lyk nie of hy op die medikasie reageer nie. Ek weet nie ... ek wens die chirurg was hier."
Ek en Sonja het geworstel met vertroue in die dokters. Ons was nie dokters nie. Ons het geen mediese ervaring gehad nie. Ek is 'n leraar; sy is 'n onderwyseres. Ons wou hulle vertrou. Ons wou glo die professionele medici het alles in hul vermoë gedoen. Ons het aanhou dink: Die volgende keer wat die dokter instap, gaan hy nuwe toetsuitslae hê; hy gaan die medikasie verander; hy sal iets doen om daardie skadu van die dood van ons seun se gesig te verwyder.
Maar hy het nie. En daar het 'n punt gekom waar ons ons voet moes neersit.
Woensdag het ons vir die hospitaalpersoneel in Imperial gesê dat ons Colton na die Great Plains Regional Medical Centre in North Platte sou neem. Ons het Norma se voorstel van die kinderhospitaal in Denver oorweeg, maar het gevoel dit sou beter wees om nader aan ons ondersteuningsnetwerk te bly. Dit het nogal heelwat tyd geneem om Colton uit die hospitaal ontslaan te kry, soos wat altyd maar die geval is wanneer iemand 'n hospitaal verlaat, maar dit het vir ons soos 'n ewigheid gevoel. Uiteindelik het 'n verpleegster ingekom met ontslagvorms, 'n afskrif van Colton se toetsuitslae en 'n groot, bruin koevert met die X-strale in. Sonja het solank die pediater, dr. Dell Shepherd, se spreekkamer geskakel om sy personeel te laat weet ons was op pad.
Om halfelf daardie oggend het ek Colton uit sy hospitaalbed getel, en die papheid van sy liggaam het my geskok. Hy het soos 'n lappop in my arms gevoel. Dit sou die perfekte geleentheid gewees het om paniekerig te raak, maar ek het my probeer bedwing. Ten minste het ons nou iets gedoen.
Colton se stoeltjie was agter in ons kar vasgemaak. Ek het hom saggies daarin gesit en terwyl ek hom vasgemaak het, het ek gewonder hoe vinnig ek die 90 minute lange rit na North Platte kon voltooi. Sonja het saam met Colton agterin geklim, bewapen met 'n pienk plastiekbakkie van die hospitaal waarin hy kon opgooi.
Dit was 'n sonnige maar koue dag. Terwyl ek die motor op die snelweg gestuur het, het ek die truspieeltjie so gedraai dat ek Colton kon sien. 'n Klompie kilometers het verbygegaan. Ek het Colton hoor opbring. Toe hy klaar was, het ek afgetrek sodat Sonja dit kon uitgooi langs die pad. Terug op die snelweg het ek in my truspieeltjie gesien hoe Sonja die X-straal uit die bruin koevert haal en dit teen die sonlig hou. Stadig het sy haar kop geskud en haar oë was vol trane.
"Ons het drooggemaak," het sy gesê. Haar stem het gebreek oor die beeld wat nou vir ewig in haar brein gegraveer sou wees.
Ek het my kop teruggedraai sodat ek die drie klein ontploffings kon sien waarna sy gekyk het. Die kolle het massief gelyk in die spookagtige beeld van Colton se bolyf. Hoekom het dit nou soveel groter gelyk?
"Jy's reg. Ons moes geweet het," het ek gesê.
"Maar die dokter..."
"Ek weet. Ons moes nie na hom geluister het nie."
Niemand het vinger gewys nie. Ons het nie mekaar blameer nie. Maar ons albei was baie kwaad vir onsself. Ons het tydens elke stap probeer om die regte ding te doen. Die dokter het gesê X-strale; ons het X-strale laat neem. Die dokter het gesê 'n drup; ons het 'n drup laat insit. Die dokter het gesê bloedtoetse; ons het bloedtoetse laat doen. Hy was die dokter, nie waar nie? Hy het geweet wat hy doen ... of hoe? Ons het elke keer probeer om die regte besluit te neem, maar ons het die verkeerdes geneem en Colton het nou die prys daarvoor betaal. 'n Hulpelose kind het gely omdat ons foute gemaak het.
Agter my het Colton pap in sy karstoeltjie gelê en sy stilte was die hardste geluid wat ek nog ooit gehoor het.
Daar is die verhaal in die Bybel oor koning Dawid van Israel. Dawid het owerspel gepleeg met Batseba, die vrou van Urija, een van Dawid se getroue soldate. Toe het Dawid, in 'n poging om sy sonde te verbloem, Urija op die voorpunt laat veg. Hy het geweet Urija sou op hierdie plek sterf. Later het Natan, die profeet, na Dawid gekom en basies gesê: Kyk, God weet wat jy gedoen het en hierdie is die gevolge van jou sonde: Die kind wat jy en Batseba verwek het, sal nie leef nie (2 Sam. 12:13-14).
Dawid het sy klere geskeur en gehuil en biddend by God gepleit. Hy was so bedroef dat sy amptenare te bang was om hom te vertel toe die baba dood is. Maar Dawid het dit agtergekom. Hy het opgestaan, hom gewas, geëet en kalm die begrafnis gereël. Sy optrede het sy amptenare verwar en hulle het gesê: Hei, wag 'n bietjie! Het jy nie net 'n paar minute gelede nog kop verloor nie? Het jy nie nou net nog by God gesoebat en gehuil nie? Nou is jy so kalm ... wat gaan aan?
Dawid het verduidelik: Ek het gehoop God sou van plan verander, maar Hy het nie (2 Sam. 12:21-23).
In Dawid se kop het hy gedoen wat hy kon terwyl daar nog iets was wat hy kon doen.
As ek terugdink aan die rit na North Platte, is dit hoe ek gevoel het. Ja, die X-strale het sleg gelyk en my kind is op die randjie van die dood.
Maar hy was nog nie dood nie.
Dit was nie nou die tyd om op te gee en te rou nie. Dit was nou die tyd vir gebed en dade. God, laat ons daar kom.
Ons moet ons seun help.
Ek het gevoel ek het gefaal as 'n pa.
Ons het North Platte die middag binnegery en ons direk na die pediater so spreekkamer gehaas. Ek het uit die motor gespring en Colton in 'n kombers toegedraai en hom in my arm gedra soos 'n brandweerman sou. Sonja het ons goed bymekaargemaak en my gevolg, steeds met die hospitaal se bakkie in haar hand.
By ontvangs het 'n vriendelike vrou ons gegroet.
"Ons is die Burpo's," het ek gesê. "Ons het uit Imperial gebel oor ons seun."
"Die dokter is uit vir ete."
Uit vir ete?!
"Maar ons het dan vooruit gebel," het ek gese. "Hy het geweet ons kom."
"Sit, asseblief," het die ontvangsdame gesê. "Die dokter sal binne 10 of 15 minute terug wees."
Haar houding het verklap dat sy nie die erns van die saak verstaan nie en die woede het binne my ontplof. Uiterlik het ek my egter bedwing. Ek kon skree en raas, maar dit sou niks vermag nie. Ook is ek 'n leraar. Ons kan nie die luukse bekostig om ons humeur in die openbaar te verloor nie.
Ek en Sonja het 'n sitplek in die wagkamer gekry en 15 minute later het die dokter opgedaag. Hy was gerusstellend volwasse - grys hare, 'n bril, 'n netjiese snor. Die verpleegpersoneel het ons teruggelei na 'n ondersoekkamer, en Sonja het die toetsuitslae en X-strale aan die dokter oorhandig. Hy het Colton so vinnig ondersoek dat die gedagte by my opgekom het hy probeer verlore tyd inhaal.
Toe die dokter klaar was het hy ons met ‘n dringendheid in sy oë na die radiologiese afdeling gestuur vir ‘n CTskandering. Ons het so gou ons kon in die lang gang met Colton in my arms afgestap soontoe.
Vervolg...