Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Neem op hierdie ou jaar 'n stukkie wysheid met u die nuwe jaar in... 'n Wyse mens weet om nié die wysheid wat hy op sy pad deur die lewe verwerf het in ander mense se kele af te druk nie. Eerder as om sy persoonlike stukkie wysheid met ander te deel, is hy bereid om van húlle te leer en na hulle te luister.
DIE HEMEL IS WERKLIK (8)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
MINUTE SOOS GLETSERS
Vyftien minute later - dalk meer - het ek met droë oë uit daardie vertrek gestap. Dit was die eerste keer wat ek regtig alleen was vandat hierdie beproewing begin het. Ek wou sterk wees vir Sonja, 'n man sterk vir sy vrou. Ek het haar in die wagkamer aangetref, besig om haar laaste bietjie selfoonbatterykrag te gebruik om vriende en familie te bel. Ek het haar gedruk en vasgehou terwyl sy so teen my hemp gehuil het dat dit teen my bors vasgeplak het. Die bietjie batterykrag wat oor was op my selfoon het ek gebruik om Terri, my sekretaresse, by die werk te skakel. Sy sou die gebedsketting by die kerk aan die gang sit. Hierdie was nie 'n roetine-oproep nie. Ek was desperaat vir gebed, desperaat vir ander gelowiges om met hul vuiste teen die hemelse hekke te slaan en te smeek dat ons seun se lewe gespaar word.
Leraars is veronderstel om onwrikbare pilare van geloof te wees, nie waar nie? Maar op daardie oomblik het my geloof aan 'n garingdraadjie gehang wat vinnig aan't uitrafel was. Ek het aan die kere in die Skrif gedink wat God gebede beantwoord het, nie die gebede van die wat siek of op sterwe was nie, maar die gebede van hul vriende - byvoorbeeld, die verlamde man. Dit was toe Jesus die geloof van die verlamde man se vriende gesien het, wat Hy aan hom gesê het: "Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe" (Matt. 9:6). Op daardie tydstip was dit vir my nodig om ander gelowiges se sterkte en geloof te leen. Na ek klaar met Terri gepraat het, het ek en Sonja saam gesit en bid, bang om te hoop en bang om nie te hoop nie.
Die tyd het verbygesleep. Minute het teen die spoed van gletsers beweeg. Tussen gedempte gesprekke en sinlose praatjies was die wagkamer gevul met swanger stilte.
Negentig minute later het 'n verpleegster in pers teaterklere, en met 'n masker wat van haar gesig afhang, by die wagkamer ingekom. "Is Colton se pa hier?"
Haar stemtoon en die feit dat dit 'n verpleegster was en nie dr. O'Holleran nie, het my hoop laat opvlam.
Dalk is God genadig ten spyte van ons onnoselheid. Dalk gaan Hy vir ons nog 'n dag gee, nog 'n kans.
Ek het opgestaan. "Ek is Colton se pa."
"Mnr. Burpo, kan u saam met my kom? Colton is uit die teater, maar ons sukkel om hom te kalmeer. Hy skree nog steeds, en hy roep na u."
Toe hulle Colton weggestoot het na die teater, kon ek nie sy geskreeu verduur nie. Nou, skielik, was sy geskreeu die klank wat ek die heel graagste in die lewe wou hoor. Dit sou vir my pragtig wees.
Ek en Sonja het ons goed bymekaargemaak en die verpleegster deur die dubbeldeur gevolg wat na die teatersaal lei. Ons was nog nie by die herstelkamer nie, toe ons twee verpleegsters teëkom wat Colton in die gang af stoot. Hy was wakker en ek kon sien hy was op soek na my. My eerste reaksie was om so naby moontlik aan hom te kom. Ek dink ek sou saam met hom op die bed geklim het as ek nie gedink het die verpleegsters sou niks daarvan hou nie.
Die verpleegsters het lank genoeg stilgehou sodat ek en Sonja Colton se gesiggie, wat steeds bleek was, kon soen. "Haai, my seun, hoe voel jy?"
"Haai, Mamma. Haai, Pappa." Die amperse glimlaggie het sy gesig opgehelder.
Die verpleegsters het die bed weer begin stoot en 'n paar minute en 'n hysbakrit later was Colton ingeburger in 'n klein hospitaalkamer aan die einde van 'n lang gang. Sonja het vir 'n rukkie die vertrek verlaat om by die verpleegsters papierwerk af te handel. Ek het langs Colton se bed gesit en die feit dat my kind lewe, ingedrink.
'n Klein kindjie lyk selfs kleiner in 'n hospitaalbed wat vir volwassenes gemaak is. Colton het minder as 20 kilogram geweeg en sy lyfie het skaars die laken gelig. Sy voete het nie verder as 'n derde van die bed se lengte gestrek nie. Daar was steeds donker kringe om sy oë, maar dit het vir my gelyk of die blou van sy oë helderder geskyn het as twee ure vantevore.
"Pappa?" Colton het my ernstig aangekyk.
"Ja?"
Hy het nie vir 'n oomblik weggekyk nie.
"Pappa, weet Pappa ek het amper doodgegaan?"
Vrees het my vasgegryp. Waar het hy dit gehoor?
Het hy die mediese personeel hoor praat? Het hy iets gehoor wat die chirurgiese span gesê het, ten spyte van die narkose? Want ons het beslis nie voor hom genoem dat hy naby aan die dood was nie. Ek en Sonja was bang dat hy op die randjie was, ons het dit geweet na ons uitgevind het dat sy blindederm al vyf dae lank gif in sy gestel laat sypel het. Maar ons was uiters versigtig om niks voor Colton te sê wat hom kon bangmaak nie.
My keel het toegetrek, die eerste teken van trane. Party mense raak paniekerig as hulle met hul tieners oor seks moet praat. As jy dink dis erg, probeer om met jou kleuter 'n gesprek te hê oor die dood. Colton was al saam met my in verpleeginrigtings, plekke waar mense hul geliefdes toestemming gee om die lewe te verlaat. Ek was nie van plan om my seun toestemming te gee om op te gee nie. Ons was nog nie buite gevaar nie, en ek wou nie hê hy moes dink die dood was 'n opsie nie.
Ek het my stem gedwing om beheersd te bly en vir my seun geglimlag. "Word jy maar net gesond, reg so, ou seun?"
"Goed, Pappa."
"Ons gaan net hier by jou bly. Ons bid vir jou." Ek het die onderwerp verander. "Sê eers vir my, wat kan ons vir jou bring? Wil jy jou speelgoedmannetjies van die huis af hê?"
Ons was nie lank in die kamer nie, toe drie lede van ons kerkraad by die hospitaal opdaag. Ons was so dankbaar daaroor. Soms wonder ek wat mense doen wat nie 'n groot familie of 'n kerk het nie. Waar kom hul ondersteuning vandaan in krisistye? Cassie het by Norma in Imperial gebly tot my ma, Kay, van Ulysses, Kansas, af kon kom. Bryan se familie woon in North Platte en hulle het ook gekom om ons te help. Ons kerk se onderskraging te midde van die storm sou die wyse verander waarop ek en Sonja gemeentebesoek in moeilike tye en smart benader. Ons was voorheen getrou daarin; nou doen ons dit met hernude ywer.
Sonja was gou weer terug in die kamer en nie lank daarna nie het dr. O'Holleran ingekom. Colton het stil gelê terwyl die chirurg die laken weggetrek het om die sny vir ons te wys - 'n horisontale lyn oor die regterkant van sy klein magie. Daar was bloedbevlekte gaas oor die wond en toe die dokter dit begin afhaal, het Colton saggies gehuil van vrees. Ek dink nie hy kon al iets voel nie, want die lokale verdowing wat die chirurgiese span toegedien het, het nog nie uitgewerk nie.
Colton se ingewande was so gekontamineer deur die gif van die gebarste blindederm dat dr. O'Holleran besluit het om die snit oop te los sodat dit steeds kon dreineer.
Die dokter het die wond effens oopgemaak.
"Sien julle die grys weefsel?" het hy gevra. "Dis wat met inwendige organe gebeur wanneer daar infeksie is. Colton gaan nie die hospitaal kan verlaat voor alles wat grys is daarbinne, weer pienk is nie."
Plastiekbuise het aan albei kante van Colton se buik uitgesteek. Aan die einde van elke buis was iets wat die dokter 'n "granaat" genoem het. Die deursigtige maar gekleurde plastiek het nogal soos granate gelyk, maar eintlik was dit handpompe. Die volgende oggend het dr. O'Holleran ons gewys hoe om die granate te druk om etter uit Colton se buik te pomp en hoe om die opening daarna met vars gaas te bedek. Dr. O'Holleran het die volgende paar oggende opgedaag om na die wond te kyk en gaas daarop te sit. Colton het gedurende die besoeke blou moord geskree en begin om die dokter met al die negatiewe dinge wat aan die gebeur was, te assosieer.
Saans, wanneer die dokter nie daar was nie, moes ek die wond dreineer. Voor die operasie was Sonja vir amper 'n week op braakpatrollie, en na die operasie was sy elke oomblik langs Colton se bed. Maar om die etter te dreineer, was 'n grillerige taak en sy het nie daarvoor kans gesien nie. Dit het buitendien drie volwassenes geneem om Colton vas te druk. Terwyl ek dus die granate gepomp het, het Sonja twee verpleegsters gehelp om hom vas te hou. Sy het kalmerende woorde gefluister terwyl Colton geskree en geskree het.
Vervolg...