Gedagtes vir elke dag
Jesus se beeldspraak in Mat 19 oor "kinders" wat sy nuwe koninkryk sal binnegaan het niks te doen met "kinderlike" kwaliteite van onskuld of onselfsugtigheid nie. Die punt is dat kinders min of meer aan die onderkant van die sosiale rangorde was – magteloos en totaal ondergeskik aan volwasse gesag. Die koninkryk, die plek waar God se waardes as koning tel, werk nie met rangordes nie. God gee sy koninkryk gratis aan magteloses, aan die mense wat – soos die destydse kinders – niks verdien en op geen voorregte kan aanspraak maak nie – mense soos ons.
DIE HEMEL IS WERKLIK (9)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
UITERS ONGEWONE GEBEDE
Vir nog 'n week na die noodappendektomie het Colton aanhou opbring, en ons het aangehou om twee maal per dag gif uit sy lyf te pomp met behulp van dr. O'Holleran se plastiekpype en granate. Stadig maar seker het Colton se toestand begin verbeter. Hy het ophou naar word, hy het weer kleur in sy wange gehad en hy het 'n bietjie begin eet. Ons het geweet hy was besig om gesond te word toe hy begin regop sit en met ons gesels, met die videospeletjie speel wat die verpleegster langs sy bed gesit het en selfs belangstelling getoon het in die splinternuwe sagte leeuspeelding wat Cassie vir hom gebring het. Sewe dae na ons aankoms by die hospitaal in North Platte het die mediese span eindelik gesê ons kan ons seun huis toe neem.
Soos soldate na 'n lang maar gewonne oorlog, was ek en Sonja afgemat, maar ook oorstelp. Op 13 Maart het ons die oorblyfsels van die lang hospitaalverblyf in 'n mengelmoes van tasse en plastieksakke gepak en aanstaltes gemaak na die hysbak. Ek het Colton in 'n rolstoel gestoot en Sonja het 'n klomp ballonne gedra.
Die hysbakdeure het reeds begin toegaan toe dr. O'Holleran in die gang verskyn en letterlik geskree het dat ons moet wag. "Julle kan nie gaan nie! Julie kan nie gaan nie!" Sy stem het in die gang weergalm terwyl hy 'n stuk papier in ons rigting gewaai het. "Daar is nog 'n probleem!"
Toe dr. O'Holleran ons by die hysbak inhaal het hy gesê 'n bloedtoets wat op die laaste oomblik gedoen is, het onthul dat Colton se witbloedtelling skielik die hoogte ingeskiet het. "Dis heel moontlik nog 'n abses” het hy gesê. "Ons sal dalk weer moet opereer."
Ek het gedink Sonja gaan net daar flou word. Ons albei was dood op ons voete teen daardie tyd en kon nie meer baie hanteer nie. Colton het in trane uitgebars.
Nog 'n CT-skandeerbeeld het nuwe infeksiekolle in Colton se buik getoon. Daardie middag moes dr. O'Holleran en sy chirurgiese span ons seuntjie weereens oopsny en skoonmaak. Hierdie keer was ek en Sonja nie vreesbevange nie. Die doodskadu het lankal Colton se gesig verlaat. Maar ons het 'n nuwe bekommernis gehad: Colton het vir omtrent tien dae nie geëet nie. Hy het aanvanklik maar 18 kilogram geweeg, maar nou het hy in so 'n mate weggesmelt dat sy elmboë en kniee buitengewoon groot gelyk het. Sy gesig was uitgeteer soos dié van 'n honger weeskind.
Ná die operasie het ons ons kommer teenoor dr. O'Holleran gelug. "Hy het nog niks meer as 'n klein bietjie jellie of sop in amper twee weke geëet nie," het ek gese. "Hoe lank kan 'n kind sonder kos gaan?"
Dr. O'Holleran het Colton in die intensiewe-sorgeenheid geplaas en ekstra voeding vir hom voorgeskryf wat deur 'n voedingsbuis toegedien moes word. Maar ek vermoed die bed in die intensiewe-sorgeenheid was net soveel vir ons bedoel as vir Colton. Ons het amper so lank as wat Colton nie geëet het nie, nie geslaap nie, en ons was heeltemal vodde. Deur Colton in die intensiewe-sorgeenheid te plaas, kon die dokter ons dwing om te gaan rus.
"Colton sal piekfyn wees vanaand," het hy aan ons gesê. "Hy sal heeltyd sy eie verpleegster hê en as enigiets gebeur, sal iemand byderhand wees om hom te help."
Ek moet erken, daardie woorde het soos 'n oase in die woestyn van uitputting geklink.
Ons was bang om Colton alleen te los, maar het geweet dr. O'Holleran is reg. Daardie aand was die eerste aand vandat ons die Harrisse se huis in Greeley verlaat het, wat ek en Sonja saam deurgebring het. Ons het gepraat. Ons het gehuil. Ons het mekaar bemoedig. Maar nog belangriker, ons het soos twee skipbreukelinge geslaap tydens hul eerste warm, droë nag.
Ná 'n nag in die intensiewe-sorgeenheid is Colton weer geskuif na 'n ander hospitaalkamer. Die wag-en-sien-siklus het van voor af begin. Wanneer kan Colton hier uitkom? Wanneer kan ons huis toe gaan en weer normaal wees? Nou het dit egter gelyk of Colton se derms ophou werk het. Hy kon nie die toilet gebruik nie en het uurliks meer bedremmeld gevoel.
"Pappa, my maag is seer," het hy in die bed gelê en kerm. Die dokter het gesê selfs al laat Colton net 'n wind, sou dit 'n goeie teken wees. Ons het probeer om hom in die gang op en af te laat loop om dinge los te skud, maar Colton kon net stadig aanskuifel, dubbel gevou van die pyn. Niks wou help nie. Teen die vierde dag na die tweede operasie kon hy net opgekrul van pyn in die bed lê soos die hardlywigheid ingeskop het. Daardie middag het dr. O'Holleran nog slegte nuus gebring.
"Ek is jammer," het hy gese. "Ek weet julle is al deur diep waters, maar ek dink ons het alles wat ons kon vir Colton hier gedoen. Ons dink dit sou dalk die beste wees om horn na 'n kinderhospitaal oor te plaas. Daar is een in Omaha of in Denver."
Tussen ons het ons omtrent 5 nagte se slaap in 15 dae gehad. Na meer as twee weke langs Colton se bed, het ons amper weer op die pad na normaliteit geklim - met hysbakdeure wat letterlik besig was om toe te gaan, ons gesin binne met ballonne - toe alles om ons weer aan skerwe gespat het. Nou was ons seun nogmaals in ondraaglike pyn met geen einde in sig nie. Ons kon nie eens 'n horison sien nie.
Net toe ons dink dinge kon nie erger raak nie, het dit: ‘n Frats-lentesneeustorm was besig om na die Midde-weste te beweeg. Binne ure het dik sneeulae teen die hospitaaldeure gelê en die motorbande in die parkeerterrein was begrawe in die sneeu. Of ons nou die kinderhospitaal in Omaha wat agt ure se ry weg was, sou kies, en of ons nou Denver, wat drie ure weg was, sou kies, daar was geen manier dat ons enigeen kon nie behalwe miskien deur lugvervoer.
"Ek kan nie meer nie!" het Sonja hulpeloos gesê en in trane uitgebars.
Dit was ook omstreeks hierdie tyd dat 'n groepie mense in ons kerk besluit het dit was tyd vir ernstige gebed. Kerkvriende het oproepe gemaak en kort voor lank het omtrent 80 mense na Crossroads Wesleyan Church gery vir 'n gebedsvergadering. Sommige was in ons gemeente en ander was van ander gemeentes, maar hulle het almal saamgekom om vir ons seun te bid.
Dillan het my op my sel gebel en vertel wat aangaan. "Waarvoor spesifiek kan ons bid?" het hy gevra.
Dit was dalk 'n vreemde versoek, maar ek het hom vertel wat dr. O'Holleran gesê het 'n goeie teken sou wees. Daardie nag is dalk die enigste opgetekende geval in die geskiedenis wat 80 mense bymekaargekom het en gebid het dat iemand 'n wind moet laat!
Natuurlik het hulle ook gebid dat die weer moes opklaar sodat ons Denver toe kon gaan, en vir genesing. Maar binne 'n uur is die eerste gebed bewaarheid!
Colton het onmiddellik begin beter voel. Hy kon daardie aand die toilet gebruik. Teen die volgende oggend het hy in sy kamer gespeel asof die hele nagmerrie nie plaasgevind het nie. Ek en Sonja kon ons oë nie glo nie: Behalwe vir die feit dat hy maer was, was Colton sy ou self. In minder as 12 ure het die wiel gedraai van totale desperaatheid tot totale normaliteit.
Om en by nege-uur die oggend het dr. O'Holleran kom kyk hoe dit met sy pasiënt gaan. Toe hy sien dat Colton regop sit, glimlag en gesels en met sy mannetjies speel, was hy sprakeloos. Vir 'n lang ruk het hy net gestaar. Verstom het hy Colton ondersoek en nog 'n rondte toetse voorgeskryf om driedubbeld seker te maak dat Colton se ingewande besig was om te herstel. Dié keer het Colton al die pad na die CT-skandeerlaboratorium gehuppel.
Ons het nog 'n dag en 'n half in die hospitaal gebly om seker te maak Colton se ommeswaai was blywend. Gedurende daardie 36 uur het dit gevoel of daar meer verpleegsters gekom en gegaan het as gewoonlik. Een op 'n slag of twee-twee het hulle stadig die kamer binnegekom - en elke keer was hul reaksie dieselfde: Hulle het net na ons seuntjie gestaar.
Vervolg...