Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde handel nie onwelvoeglik nie...
DIE HEMEL IS WERKLIK (15)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
POP
Op 'n sonnige dag in Augustus het Colton, toe vier jaar oud, op die passasiersitplek van my rooi bakkie geklim en het ons Benkelman toe gery. Ek moes soontoe gaan om 'n kwotasie vir 'n installasie te gaan doen en het besluit om Colton saam te neem. Hy was nie juis geinteresseerd in die installasie van industriële garagedeure nie. Maar hy was mal daaroor om in my diesel-Chevy te ry omdat sy karstoeltjie hoër was as in die Expedition en hy alles kon sien.
Benkelman is 'n klein plaasdorpie ongeveer 60 kilometer suid van Imperial. Dit is in 1887 gestig, maar nou het dit begin verval soos so baie ander gemeenskappe in die platteland van Nebraska. Die aantal inwoners was besig om af te neem omdat tegnologie die werk op die plase begin verminder en mense na groter stede verhuis het vir werk. Ek het verby die bekende kunsmis- en aartappelaanlegte gery wat aan die oostekant van Imperial staan, toe het ek suid gedraai in die rigting van Enders-meer. Ons het verby die munisipale gholfbaan aan ons linkerkant gery wat hier en daar met sederbome gespog het en toe ons oor 'n sementdam ry, het die meer onder aan ons regterkant geskitter. Colton het afgekyk na 'n snelboot wat 'n skiër deur sy kielwater getrek het. Ons het die dam oorgesteek, deur 'n vallei gery, en op die tweebaansnelweg na die suide geklim. Ons was nou omring deur plase met twee meter hoe mielies wat heldergroen teen die lug afgesteek het. Die teer het soos 'n lem daardeur gesny.
Colton het skielik gepraat. "Pappa het 'n oupa gehad wie se naam Pop was, né?"
"Jip, ek het."
"Was hy Pappa se mamma se pappa of Pappa se pappa se pappa?"
"Pop was my mamma se pa. Hy is dood toe ek net so bietjie ouer as jy was."
Colton het geglimlag. "Hy is baie gaaf."
Ek het amper van die pad af gery en in die mielies beland. Dis 'n dolle dag wanneer jou seun in die teenwoordige tyd van iemand praat wat 'n kwarteeu voor sy geboorte gesterf het. Maar ek het kalm probeer bly. "Het jy Pop gesien?"
"Ja, in die hemel het ek by hom gebly. Pappa was baie lief vir hom, né?"
"Ja, ek was," is al wat ek kon uitkry. My kop het gedraai. Colton het nou net 'n splinternuwe onderwerp aangeraak: mense wat jy verloor het en in die hemel ontmoet. Snaaks genoeg, met al die opwinding rondom Jesus en die engele en perde, het ek nooit eens daaraan gedink om hom te vra of hy iemand ontmoet het wat ek dalk geken het nie. Maar hoekom sou hy? Ons het nog geen vriende of familie verloor vandat Colton gebore is nie, so wie sou daar wees vir hom om te ontmoet?
En nou dit. Ek het seker nog 15 kilometer in Benkelman se rigting gery met gedagtes wat gejaag het.
Ek wou nie dieselfde fout begaan deur 'n idee by Colton te plant soos toe ek gese het mens moet doodgaan voor jy hemel toe kon gaan nie. Ek wou nie he hy moes dinge bloot terugsê net om my te behaag nie. Ek wou die waarheid weet.
'n Halwe kilometer van die pad af, aan ons linkerkant, het 'n wit kerktoring uit die mielieland verrys. Sint Paul's Lutheran Church, wat in 1918 gebou is. Ek het gewonder wat die mense van hierdie lank gevestigde plaaslike gebou sou dink van die dinge wat ons seuntjie ons vertel het.
Toe ons Dundy-distrik binnery was ek uiteindelik gereed om oop vrae te vra: "Colton," het ek gesê.
Hy het weggedraai van die venster waaruit hy 'n fisant dopgehou het wat deur rye koring agter ons aangekom het. "Ja?"
"Hoe het Pop gelyk?"
Hy het breed geglimlag. "Pappa, Pop het baie groot vlerke!"
Weer in die teenwoordige tyd. Dit was aardig.
Colton het voortgegaan. "My vlerke was piepklein, maar Pop s'n was groot!"
"Hoe het sy klere gelyk?"
"Hy het wit aangehad, maar blou hier." Hy het die lyfband-gebaar gemaak.
Ek het die bakkie om 'n leer gestuur wat iemand in die pad laat val het, en toe weer teruggeswenk na die middel van die pad. "En jy kon by Pop bly?"
Colton het geknik en sy ogies het verhelder.
"Toe ek klein was, het ek en Pop baie pret saam gehad." Ek het Colton nie vertel waarom ek so baie tyd by Pop en ouma Ellen op hul plaas in Ulysses, Kansas, deurgebring het nie maar die waarheid was dat my vader wat vir Kerr-McGee Petroleum gewerk het, aan bipolêre depressie gely het. Soms, wanneer sy episodes baie erg geraak het, moes my ma, Kay, 'n laerskoolonderwyseres, hom laat opneem. Sy het my na Pop gestuur om my daarteen te beskerm. Ek het nie geweet ek is "weggestuur" nie. Ek het net geweet ek was gek daaroor om die plaas te verken, hoenders te jaag en hase te jag.
"Ek het baie by Pop op die platteland gekuier," het ek Colton vertel. "Ek het saam met hom op die oesdorsmasjien en trekker gery. Hy het 'n hond gehad wat ons saamgeneem het as ons gaan hase jag het."
Colton het weer geknik. "Ja, ek weet! Pop het my vertel!"
Ek het nie geweet wat om daarop te antwoord nie, toe sê ek maar: "Die hond se naam was Charlie Brown en hy het een blou en een bruin oog gehad."
"Cool ! Kan ons ook so 'n hond kry?"
Ek het gelag. "Ons sal sien."
My oupa, Lawrence Barber, was 'n boer wat almal geken het en deur almal as vriend beskou is. Hy het die meeste van sy dae voor sonop begin deur eers na die plaaslike donutwinkel te ry om stories uit te ruil. Hy was 'n groot ou wat voetbal gespeel het. Sy vrou, my ouma Ellen (dieselfde ouma wat geld gestuur het om te help met die delging van Colton se hospitaalrekeninge), het altyd gese dit sou vier of vyf ouens neem om Lawrence Barber op die voetbalveld plat te trek.
Pop het net af en toe kerk toe gegaan. Hy was nogal privaat oor geestelike dinge, soos baie mans neig om te wees. Ek was omtrent ses jaar oud toe hy dood is na hy laat een aand van die pad af gery het. Pop se Crown Victoria het 'n kragpaal getref, wat in die helfte gebreek het. Die boonste helfte van die paal het die Crown Victoria se dak verpletter, maar die kar se momentum het Pop 'n verdere kilometer die veld in geneem. Die ongeluk het die krag van 'n substasie 'n ent terug uitgeslaan en 'n werker het ondersoek gaan instel. Pop het blykbaar net na die ongeluk nog geleef, want reddingspersoneel het hom aangetref waar hy oor die passasiersitplek gestrek was in 'n poging om die deurhandvatsel by te kom. Toe hy egter met die ambulans by die hospitaal aangekom het, het die dokters verklaar dat hy dood was. Hy was net 61 jaar oud.
Ek onthou my ma se hartseer by die begrafnis, maar haar hartseer het nie daar geëindig nie. Soos ek ouer geword het, het ek haar soms in gebed aangetref met trane wat saggies oor haar wange rol. Wanneer ek haar gevra het wat fout was, sou sy my eerlik antwoord: "Ek weet nie of Pop hemel toe is nie."
Ons het eers baie jare later, in 2006, by my tannie Connie gehoor van 'n spesiale diens wat Pop twee dae voor sy dood bygewoon het - 'n diens wat moontlik die antwoord van my oupa se ewigheid inhou.
Die datum was 13 Julie 1975, en die plek was Johnson, Kansas. Ma en tannie Connie het 'n oom genaamd Hubert Caldwell gehad. Ek het van oom Hubert gehou. Nie net was Hubert 'n eenvoudige plattelandse leraar nie, maar hy was lief daarvoor om te gesels en 'n mens kon maklik met hom gesels. (Ek het ook van Hubert gehou omdat hy korter as ek was. Dit gebeur so min dat ek langer as iemand is, dat so 'n kuier na 'n voorreg voel.)
Oom Hubert het Pop, Connie en baie ander na herlewingsdienste genooi wat hy in sy klein plattelandse kerkie gehou het. Van agter sy kateder by die Church of God of Apostolic Faith, het Hubert sy boodskap afgesluit deur te vra of daar iemand was wat hul lewe aan Christus wou gee. Oom Hubert het gesien hoe Pop sy hand opsteek. Maar om die een of ander rede het die storie nooit my ma bereik nie, en het sy haar sporadies vir die volgende 28 jaar daaroor gekwel.
Na ons tuiskoms vanaf Benkelman, het ek my ma gebel en vertel wat Colton gese het. Dit was op 'n Vrydag. Die volgende oggend het sy by ons huis aangekom na sy al die pad van Ulysses gery het om te hoor wat ons seun van haar pa te sê gehad het. Ek was verbaas oor hoe vinnig sy opgedaag het.
"Genade, sy het blitsig hierheen gery!" het Sonja gesê.
Daardie aand het ons om die etenstafel geluister hoe Colton sy ouma van Jesus se reënboogperd vertel en hoe hy tyd saam met Pop deurgebring het. Die ding wat Ma die meeste verras het, was die manier waarop Colton die storie vertel het: Pop het sy agterkleinkind herken, selfs al is Colton dekades na Pop se dood gebore. Dit het Ma laat wonder of die mense wat ons vooruit gaan, weet wat hier op die aarde aangaan. Of sal ons in die hemel ons geliefdes ken - selfs die wat ons nie in hierdie lewe ontmoet het nie - op die een of ander volgende-lewe-manier van weet wat ons nie op die aarde geniet het nie?
Toe vra Ma Colton 'n vreemde vraag: "Het Jesus enigiets gesê oor jou pappa wat 'n leraar geword het?"
Net toe ek wonder hoekom op aarde iets soos my beroep hoegenaamd ter sprake sou kom, het Colton my verras deur entoesiasties sy kop te knik. "O ja! Jesus het gesê Hy het na Pappa gegaan en vir hom gesê hy moet 'n leraar word en Pappa het 'ja' gesê en Jesus was baie bly!"
Ek het omtrent van my stoel afgeval. Dit was waar en ek het duidelik die nag wat dit gebeur het, onthou.
Ek was 13 jaar oud en het 'n jeugsomerkamp bygewoon by John Brown University in Siloam Springs, Arkansas. Tydens een aandbyeenkoms het pastoor Orville Butcher gepraat oor hoe God mense tot die bediening roep en hulle gebruik om sy werk oor die hele wêreld te doen.
Pastoor Butcher was 'n kort, bles, lewendige leraar - energiek en boeiend, glad nie droog en vervelig soos wat kinders soms van ouer leraars verwag nie. Hy het daardie aand 'n groep van 150 tieners uitgedaag: "Daar is sommige van julle hier vanaand wat deur God gebruik kan word as leraars en sendelinge."
Die herinnering aan daardie oomblik van my lewe is kristalhelder, soos die oomblik wat 'n mens jou graad ontvang of jou eerste kind gebore word. Ek onthou dat die kinders se gesigte en die leraar se stem vervaag het. Ek het gevoel hoe daar op my hart gedruk word - amper soos 'n fluisterstem: Dis jy, Todd. Dis wat Ek wil hê jy moet doen.
Ek het nie vir 'n oomblik getwyfel dat dit God se stem was nie. Ek was vasbeslote om gehoorsaam te wees. Ek het net betyds weer my aandag by pastoor Butcher bepaal om te hoor hoe hy sê indien enige van ons daardie aand van God gehoor het, en indien ons ons daartoe verbind het om Hom in die bediening te dien, moet ons ten minste een persoon daarvan vertel wanneer ons weer tuis was. Toe ek dus by die huis gekom het na die kamp, het ek in die kombuis ingeloop.
"Ma, wanneer ek groot is, gaan ek 'n leraar wees." Ek en Ma het oor die dekades al 'n paar maal die gesprek onthou, maar ons het Colton nog nooit daarvan vertel nie.
Vervolg...