Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wonder jy of God nog van jou bewus is in jou pyn en lyding? Augustinus het hierdie trooswoorde vir jou: God het één Seun sonder sonde, maar God het géén seuns sonder lyding nie. Al God se kinders hier op aarde word deur lyding beproef, maar ons sink nie soos die godloses daardeur nie want ons loop op die water van dankbaarheid teenoor Hom wat ons bo hou.
DIE UURGLASLOOP UIT (3)
Ds A.E. van den Berg
3. Bewaar jou klere
“Kyk, Ek kom ... Salig is hy wat waak en sy klere bewaar.... (Openb. 16:15).
Alle leuens het hul oorsprong by Satan in die Tuin van Eden toe hy vir Eva van die verbode vrug laat eet het. Hy het haar verseker dat hulle nie sou sterf soos God gesê het nie, maar eerder net so slim soos Hy sou wees deur goed en kwaad te ken. Toe die eerste mensepaar te laat besef het dat Satan vir hulle gelieg het en hulle nooit soos God sou word nie, het sonde-ellende hul straf geword.
In genade het God die mens nie afgeskryf nie, maar hom opnuut laat besef dat hy volkome op Hom aangewese is. Sonder God is daar geen hoop op redding nie, Hy wat Hom later in Jesus as Redder openbaar het. In sy eerste preek sê Jesus:
“Gelukkig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is...” (Mt.5:3).
In Openb.16 wys Hy hoe sleg die mense daaraan toe is wat hul afhanklikheid van God nie erken nie. As mense nie wil hoor nie, moet hulle maar voel! In hierdie hoofstuk stuur Jesus sy engele met die laaste plae. Jesus het miljoene engele tot sy beskikking. Met sy geboorte het ʼn engeleskaar die goeie tyding aangekondig. Nadat Hy ter voorbereiding van sy aardse bediening vir 40 dae lank deur die Satan versoek is, het engele Hom kom bedien. Toe Petrus sy swaard in Getsemane uitpluk, het Jesus hom gekeer:
“Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? (Mt.26:53).
In Openb.16 stuur Jesus self die sewe engele uit. Jesus sê dat as Hy weer kom, Hy engele sal uitstuur om sy uitverkorenes te versamel. Daar sal ʼn skeiding van kaf en koring wees.
As die eerste engel sy bak oor die aarde uitgooi, word diegene wat die merk van die dier het en sy beeld aanbid, met bose swere geteister. Wanneer die tweede engel sy bak oor die see uitgooi, word dit bloed en alles gaan dood. As die derde engel sy bak oor die varswater-bronne uitgooi, gebeur die selfde ding. En as die vierde engel sy bak oor die son uitgooi, tref ʼn verskroeiende hitte die mensdom.
Wanneer die vyfde engel sy bak oor die troon van die dier (beheer-sentrum van die Antichris) uitgooi, word sy ryk verduister en laat misleide kerklui paniekerig rondhardloop omdat daar vir hulle, soos vir die eerste mense in Eden, gelieg is. Toe Adam en Eva besef dat Satan vir hulle gelieg het, het hulle gaan wegkruip.
Die uitwerking van die engele se opdrag moet eerder figuurlik as letterlik verstaan word. Dit kom daarop neer dat lewensomstandighede vir verlorenes ondraaglik sal wees want hulle is so anders as die gelowiges, buite God se beskerming.
“Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebr.10:31).
ʼn Mens sou verwag dat die goddeloses hul in sulke omstandighede sou bekeer en om genade smeek. Openbaring sê dat net die teenoorgestelde gaan gebeur. Hulle verhard hulle verder en belaster God meer as ooit. Dit as sulks regverdig al die plae wat Jesus dan oor hulle laat kom!
“Want die tyd is naby. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word (Openb. 22:10).
Die sesde engel gooi sy skaal oor die Eufraat uit wat sy waterlaat opdroog. Die Bybel dui die Eufraat as ʼn Godgegewe grens aan (Gen.15:18; Ex. 23:31; Jos.1:4; 1Kon.4:21,24). Openbaring verwys ook daarna in dieselfde sin. As hierdie grens opgehef word, maak dit die pad vir die konings van die Ooste af oop om onder aanhitsing van die Satan en sy bondgenote (Antichris en valse profeet) al die goddeloses vir die laaste oorlog teen God en sy Seun te versamel. Johannes sien dat ʼn bose propaganda van stapel gestuur word wat soos paddas uit die onheilige drie-eenheid se bekke spring om mense vir oulaas te mislei en aan Satan se kant te probeer kry.
Dawid het hierdie groot dag waarin al die nasies van die wêreld teen God en sy Seun opruk, profeties voorspel:
“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!“(Ps.2:1-3).
Satan gaan die goddeloses wysmaak dat Jesus die oorsaak van al hul ellende en rampe op die aarde is en opsweep om met alle geweld van Jesus en sy gelowiges ontslae te raak. In hul waansinnigheid, storm hulle net soos Farao van ouds blindelings die see van ewige verderf tegemoet.
ʼn Magdom van nasies gaan by Armageddon (16:16) saamkom. Dis ʼn naam wat ons aan die berg Megiddo en ʼn diep vallei wat daarvandaan in die Dooie See uitloop, herinner. In die Hebreeus word berg en dal hier letterlik aan mekaar verbind. Talle veldslae is al in hierdie omgewing gevoer soos bv. in die tyd van koning Josafat van Juda (2Kron.20). Juda het geen kans teen so ʼn oormag gestaan nie. Josafat het sy volk voor God laat verootmoedig en om hulp gesmeek, waarna God die vyand vernietig het sonder dat Juda ʼn vinger hoef te verroer het. Daarna is daar dikwels na hierdie plek as die Dal van Josafat of Laagte van beslissing verwys. As die sesde skaal uitgegooi word, Op die groot dag van die laaste oorlog, waar die sesde skaal uitgegooi word, gaan Jesus en sy leërskare ʼn oorlog voer en die vyand finaal verpletter.
Openb.12 beskryf ook ʼn beslissende oorlog in die hemel toe Satan en sy magte voor die skepping verpletter en as bannelinge op die aarde neergewerp is. Jesus gaan met sy wederkoms finaal met hulle op die aarde afreken!
Met die sesde skaal verskuif die oorlog van die hemel na die aarde. Satan se magte slaag daarin om die mensdom te beïndruk. God lag vir hom en hy word by Armageddon beslissend verslaan. Die Psalmdigter sien iets hiervan raak:
“Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot” (Ps.2:4,9).
In Openb. 16 gaan dit nie oor wat gaan gebeur nie, maar wat elke gelowige in die aangesig van hierdie laaste oorlogte doen staan. Gelowiges moet doen wat Josafat en sy volk gedoen het; hul voor God verootmoedig en op sy bystand wag. Dit het later by Bloedrivier gebeur. God stel nie sy kinders teleur nie!
Met die uitgiet van die sesde skaal, onderbreek Jesus gang van die verrigtinge om gelowiges eers dringend te waarsku:
“Kyk, Ek kom soos ʼn dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar....” (POpenb.16:15).
Openbaring maak dikwels van skoon klere melding. Sulke klere is deur die Bybel heen ʼn simbool van die regverdiging van gelowiges deur die bloed van Jesus aan die kruis. Mense met wit klere is gered.
In Openb. 7 sien ons bv. ʼn ontelbare geredde skare almal met wit klere aan. Van hulle word gesê:
“...hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam (:14).
En dis wat gelowiges in die laaste dae moet doen –hou jou lewe skoon en leef rein want uit ʼn rein lewe skyn die mooiste lig. Wie sy lewe op aarde rein hou, verloor dit nie in die hiernamaals nie.
Jesus is feitlik nakend gekruisig. Hou jou geestelike klere aan. Hy het met sy bloed aan die kruis gereinig. Daarsonder kan niemand voor Jesus verskyn nie want as Hy weer kom, kom Hy as Regter!