Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE nie deur sy groot genade 'n klein oorblyfsel van ons volk beskik het nie, sou daar soos met Sodom en Gemorra van ons niks oorbly nie. Maar Hy hét, ten spyte van ons wederstrewigheid. Leef dan só, dat Hy nie daaroor spyt word nie!
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 5 (a)
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
(Weens die lengte van hierdie hoofstuk word dit in vier dele aangebied)
Die bergrede
Soos ons alreeds gesien het, is daar in Matteus se vertelling ’n baie duidelike patroon. Deur van Jesus se doop te vertel, wys hy hoedat Jesus se tyd om tot aksie oor te gaan, aangebreek het. Deur van sy versoeking in die woestyn te vertel, wys hy hoedat Jesus doelbewus gekies het om God se wil uit te voer. Enigiemand wat ’n groot taak moet uitvoer, het hulp nodig en Matteus vertel vir ons hoedat Jesus vir Hom medewerkers uitgesoek het.
Helpers en medewerkers het ook instruksies nodig, en ons sien hier in sy bergrede, hoedat Jesus sy dissipels onderrig het in die boodskap wat aan die mense oorgedra moes word. In Lukas se vertelling sien ons dit nog duideliker, want daar volg die bergrede onmiddellik na die amptelike verkiesing van die twaalf dissipels (Luk 6:13).
Ons praat van Jesus se bergrede asof dit een enkele geleentheid was, terwyl dit glad nie die geval was nie. Daar is baie goeie redes waarom ons kan glo dat hierdie ’n soort opsomming is van ’n klomp preke wat Jesus gepreek het. Dit bevat net eenvoudig te veel inligting om in een preek te kon oordra. Daar is ook sekere dele wat geheel en al nie met die ander verband hou nie.
Ons kan sien dat Matteus hoofsaaklik dié Evangelie is wat vir ons lering gee. Dit is kenmerkend van hom dat hy Jesus se lering onder sekere groot onderafdelings ingedeel het, terwyl Lukas Jesus se lering regoor sy vertelling versprei het.
Matteus 5:1-2 In hierdie twee verse is daar drie belangrike en interessante aspekte om na op te let:
- Jesus het gaan sit om sy dissipels te leer. Wanneer ’n rabbi amptelik lering gegee het, het hy gaan sit. Jesus se lering was dus amptelik.
- Die tweede aspek het deur die vertaling van die 1983-Vertaling verlore gegaan. In die 1953-Vertaling sowel as die meeste goeie Engelse vertalings, lees ons dat Jesus sy “mond oopgemaak het” om sy dissipels te leer. In Grieks het hierdie uitdrukking ’n baie besondere betekenis. Dit word gebruik wanneer iemand iets baie belangrik wil sê. Dit word ook gebruik wanneer iemand werklik sy hart en gedagtes wil oopmaak en lering wil gee waarin daar geen grense is nie. Hierdie woorde sê dus vir ons dat Jesus se woorde tydens sy bergrede, baie gewigtig en belangrik was. Dit was die oopmaak van sy hart en gedagtes aan dié mense wat sy regterhand sou wees.
- Volgens Barclay is die Griekse woord wat gebruik is vir die woorde in vers 2, “...en Hy het hulle geleer en gesê: ...” ’n onvoltooide verlede tyd. Hy het sy dissipels dus herhaaldelik geleer. Daarmee sê Matteus vir ons dat die bergrede nie net een geleentheid was nie.
Die bergrede is dus baie groter as wat ons dink. Dit is die gekonsentreerde herinnering van baie ure se intieme gemeenskap tussen die dissipels en hulle Meester.
Matteus 5:3 Die Griekse woord vir “geseënd”, naamlik makarios, is ’n baie spesiale woord. Die geseëndheid wat vir Christene beskore is, is nie nét iets wat hulle eendag in die hemel gaan ervaar nie. Dit is ’n geseëndheid wat nou en hier bestaan. Dit sal wel sy volheid eendag in die teenwoordigheid van God bereik, maar dit is iets wat mense, wat aan hierdie uitsprake voldoen, nou reeds ontvang.
Makarios beskryf ’n woord wat in homself ’n vrede het wat onaantasbaar is. Dit is onafhanklik van al die veranderinge wat in die wêreld plaasvind. In Johannes 16:22 sê Jesus: “... en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.” Hierdie soort geseëndheid en vrede bly blink in ons oë, selfs al is ons in trane, en niks in lewe of dood kan dit van ons af wegneem nie.
Volgens Barclay is die korrekte vertaling van vers 3 soos volg: “Geseënd is hulle wat besef dat hulle hulpeloos is en hulle vertroue in God plaas.” Wanneer ’n persoon daarby uitgekom het, dan maak hy homself los van aardse besittings, want hy weet dat dit aan hom geen geluk kan bring nie. Hy raak geheel en al verknog aan God, omdat Hý dan vir hom alles is.
Ons moet nie dink dat Jesus hier gesê het dat armoede geseënd is, soos wat dit in sommige vertalings vertaal is nie. Armoede waar mense nie genoeg het om te eet of aan te trek nie, is iets wat ons as volgelinge van Jesus Christus, altyd moet probeer verlig. Regdeur die Bybel lees ons dat dit God se wil is dat armes gehelp moet word.
Die koninkryk van die hemel kan net aan ons behoort, wanneer ons God se wil doen. Ons kan ook net sy wil doen, wanneer ons ons eie onkunde en ons eie onvermoë in die lewe besef, en ons hele vertroue in God plaas. Gehoorsaamheid is altyd ’n gevolg van vertroue.
Matteus 5:4 Dit is belangrik om hier op te let dat die Griekse woord wat hier gebruik is vir “treur”, is die sterkste woord in Grieks wat hartseer kan beskryf. Dit is dieselfde woord wat in die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament, gebruik is om Josef se verdriet te beskryf toe hy geglo het dat sy geliefde seun, Josef, dood is (Gen 37:34).
Hierdie saligspreking kan op een van drie maniere verstaan word:
- Dit kan letterlik verstaan word. Daar is niks anders wat vir ons die meegevoel en deernis van ander mense en van God so duidelik kan wys, soos wanneer ons in ons diepste uur van hartseer en verdriet is nie. Wanneer dit net goed gaan met ons, dan is dit maklik om op die oppervlak van die lewe te funksioneer. Hartseer stoot ons in die dieper dinge van die lewe in. Dan kan God ons help, sodat nuwe krag en skoonheid ons wese versterk en verryk.
- Sommige mense dink dat hierdie saligspreking beteken dat mense geseënd is wat desperate hartseer en meegevoel het met die swaarkry van hierdie wêreld. Volgens vers 3 het ons gesien dat dit ’n goeie ding is om los te wees van aardse besittings, maar dit is nooit goed om onsself emosioneel los te maak van ander mense nie. Die wêreld sou baie armer gewees het sonder diegene wat intens begaan is oor die swaarkry van ander mense. Om ’n Christen te wees, is dus om om te gee.
- Eersgenoemde twee gedagtes is beslis deel van hierdie saligspreking, maar dit is nie die hoofgedagte nie. Die hoofgedagte is ongetwyfeld dat hulle wat werklik berou het oor hulle eie sonde en hulle eie onwaardigheid, geseënd is.
Die begin van Jesus se boodskap was: “Bekeer julle!” ’n Mens kan homself nie bekeer, as hy nie berou het oor sy sonde nie. Dit is eers wanneer so ’n persoon se oë oopgaan vir wat sonde is en dit wat hy doen, dat hy of sy werklik berou het. Dit is wat die kruis van Jesus vir ons doen.
Matteus 5:5 In ons moderne samelewing het die woord “sagmoedig”, nie altyd ’n baie positiewe betekenis nie. Dit skep soms die indruk van ’n ruggraatlose, onderdanige en oneffektiewe persoon. Tog was die Griekse woord praus, ’n baie positiewe woord. Dit het die gesonde balans beskryf tussen te veel woede en te min woede. ’n Moontlike, baie goeie vertaling vir hierdie vers sou wees: “Geseënd is hulle wat op die regte tyd kwaad is, maar nooit op die verkeerde tyd nie.” Die woord praus word ook gebruik om ’n dier te beskryf wat getem en afgerig is, en geleer het om beheer te aanvaar. ’n Ander goeie vertaling vir hierdie vers sou dus ook wees: “Geseënd is hulle wat selfbeheersing het.”
Ware menslikheid kom altyd na vore wanneer ons bewus is daarvan dat ons die skepsele is, en God ons Skepper, en dat ons sonder Hom niks kan doen nie. Jesus het gesê dat sulke mense die nuwe aarde sal ontvang (Matt 5:5). Dit is duidelik dat hierdie Griekse woord praus, nie met net een woord in Afrikaans vertaal kan word nie. Indien vertalers werklik reg aan hierdie woord sou laat geskied, so vers 5 se vertaling so geklink het: “Geseënd is hulle wat net kwaad is op die regte tyd en nooit op die verkeerde tyd nie; hulle wat elke drang en passie onder beheer het. Omdat sulke mense deur God beheer kan word en die nederigheid het om hulle eie onkunde en swakheid te besef, kan hulle gebruik word om die wêreld te help regeer.”
Matteus 5:6 Woorde bestaan nooit in isolasie nie, maar moet altyd verstaan word vanuit die agtergrond van die persoon wat dit sê. Dit is veral waar van hierdie vers. Dit moes op die mense wat dit die eerste keer gehoor het, ’n heel ander indruk gemaak het as wat dit vandag op ons as moderne mense maak.
Die feit is dat ons vandag nie altyd weet wat werklike honger en dors is nie. ’n Werkende man in Palestina het net een denarius per dag verdien, en kon daarmee nie baie ver kom nie. Hulle kon net een maal per week ’n stukkie vleis eet, en was altyd op die grens van “amper sterf van die honger.”
Dors was iets wat ’n inwoner van Palestina in sy ergste graad geken het. Wanneer ’n reisiger te voet op reis was en die warm sandstorms hom oorval het, was sy neusgate en keel so vol sand, dat hy byna versmoor het. ’n Oorweldigende dors het hom dan beetgepak; iets wat ons in die moderne samelewing nie ken nie.
Die vraag van hierdie vers is: Hoe graag wil ons versadig wees en reg in ons lewens hê? Is dit maar net ’n vae wens, of is dit ’n skerp en intense begeerte? Dit sal ’n groot verskil in ons lewens maak as ons reg bo alles in ons lewens begeer. Genadiglik kom geseëndheid ook na almal wat, ten spyte van hulle mislukkings, steeds met passie vasklou aan dit wat reg is in die lewe.
Die groot wonder van ons sondige, menslike wesens, is dat ons as sondaars, nog altyd rondgejaag word deur dit wat reg is. Dat ons selfs in die modder, nooit van die sterre kan vergeet nie. Dawid het altyd ’n begeerte gehad om vir die Here ’n tempel te bou. As gevolg van sy sonde, mag hy dit nie gedoen het nie. Tog het die Here vir hom gesê dat dit goed is dat hy die voorneme gehad het (1 Kon 8:18). In sy genade oordeel God ons nie net op dit wat ons bereik het nie, maar ook op ons drome.
’n Ander interessante gebruik van die Griekse grammatika in hierdie vers, gee daaraan die betekenis dat die dors en honger wat ervaar word, nie net is vir ’n gedeelte van dit wat begeer word nie, maar vir alles van dit wat beskikbaar is. Hierdie vers sê dus eintlik dat dit nie genoeg is om net gedeeltelike reg en goedheid te begeer nie, maar ons moet alles begeer wat beskikbaar is. ’n Louwarm begeerte is dus nie goed genoeg nie.
Matteus 5:7 Hierdie vers maak ’n stelling van ’n beginsel wat ons dwarsdeur die Nuwe Testament kry. Die Nuwe Testament is baie duidelik daaroor dat ons mekaar moet vergewe as ons self vergifnis wil ontvang. Jakobus sê: “Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie” (Jak 2:19). Jesus sluit sy vertelling oor die skuldeiser wat genade ontvang het, maar nie genade wou betoon nie, af met die woorde: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (Matt 18:35). Lees gerus ook Jesus se gebed in Matteus 6:12-15.
Hier is ook iets baie interessant wat op hierdie teks van toepassing is. Die Griekse woord wat hier met “barmhartig” vertaal is, is eleēmon. Dit is uit die oorspronklike Aramees vertaal vanaf die woord chesedh, wat beteken dat ’n mens die vermoë besit om binne in ’n ander persoon te klim sodat jy deur sy oë kan kyk, met sy gedagtes kan dink en met sy gevoel kan voel. Hierdie is dus baie meer as net ’n emosionele oomblik van meegevoel. Dit is ’n doelbewuste identifikasie met ’n persoon, totdat ons kan voel hoedat hy voel en dinge kan sien soos wat hy dit sien.
As ons so ’n doelbewuste poging aanwend en daarin kan slaag om met ’n ander persoon te identifiseer, dan sal dit ’n baie groot verskil maak:
- Dit sal ons daarvan bewaar om om gaaf te wees op die verkeerde manier. Ons vind een uitstaande voorbeeld van onsensitiewe en misplaasde gaafheid in die Nuwe Testament in Lukas 10:38-42 toe Jesus besoek afgelê het aan huis van Marta en Maria in Betanië. Jesus se kruisiging was net ’n paar dae in die toekoms en Hy het dit geweet. Al wat Hy graag wou doen, was om ’n bietjie te rus en te ontspan. Marta was lief vir Jesus en wou hom graag onthaal en bederf, maar dit was nie Jesus se behoefte nie. Haar gespannenheid moes aan Jesus se senuwees geskaaf het. Maria het besef dat Jesus rus en vrede nodig gehad het. As ons net die moeite kan doen om onsself in iemand anders se skoene te plaas, dan sal ons heel dikwels daarin slaag om dié soort barmhartigheid te bewys wat hulle regtig nodig het.
- Dit sal vergifnis en verdraagsaamheid ook soveel makliker maak. Iets wat ons altyd moet onthou, is dat daar ’n rede is waarom ’n persoon optree soos wat hy optree. Elke mens tree vanuit sy vorige ervarings op. Daar is ’n Franse spreekwoord wat sê: ‘... om alles te weet, is om alles te vergewe’. Vergifnis is soveel makliker as ons in die ander persoon se gedagtes kan klim.
- Dit is presies wat God gedoen het toe Hy mens geword het in Jesus Christus. Hy het letterlik in die vel van ’n mens geklim. Hy het met menslike oë kom kyk, met menslike gevoelens kom voel, en met menslike gedagtes kom dink.
Matteus 5:8 Die Griekse woord vir “rein”, is katharos, en dit het ’n verskeidenheid van gebruike.
- Oorspronklik het dit net “skoon” beteken, soos wanneer vuil klere skoon gewas is.
- Dit is ook gereeld gebruik vir wanneer die koring van die kaf geskei en gesif word.
- Die woord is ook gebruik wanneer melk of wyn onverdund was. Dit is ook gebruik wanneer metaal van alle onsuiwerhede gesuiwer is.
’n Goeie vertaling vir hierdie saligspreking sou dus gewees het: “Geseënd is hulle wat met skoon, onverdunde aandag en motivering na God soek, want hulle sal Hom verseker sien.”
Wanneer ons iets goed doen, of vrygewig is, of iets doen wat groot opoffering van ons verg, dan is dit moeilik om nie te begeer dat ander dit raaksien nie. Die selftevredenheid wat ons ervaar wanneer ander ons as helde beskou, is iets waarvoor ons onsself altyd moet ondersoek. Ons moet onsself altyd afvra wat die motiewe is waarom ons dinge doen. Wanneer ons dit doen, dan staan ons gewoonlik beskaamd, want daar is min dinge in die lewe, wat selfs die beste van ons, sonder gemengde gevoelens doen.
Jesus sê hier dat net iemand met ’n rein hart vir God sal sien. Dit is ’n lewensfeit dat ’n mens net dít wat hy wil sien, kan sien. Twee mense wat langs ’n pad stap, sien heeltemal verskillende dinge raak. So hoor twee mense in ’n geselskap ook die gesprek teen die verskillende agtergronde van wat in hulle gedagtes is. ’n Persoon met vuil gedagtes, sal in enige situasie iets raaksien wat vir hom ’n vuil grap kan wees.
Jesus sê dat dit slegs die rein hart is wat vir God sal sien. Dit is ’n waarskuwing om te onthou, dat wanneer ons daarin slaag, deur God se genade, om ons harte skoon te hou, dan maak ons onsself geskik daarvoor om eendag vir God te sien.
Matteus 5:9 In hierdie vers is daar drie aspekte waarna ons moet kyk:
- Eerstens is daar die woord “vrede”. Die Griekse woord daarvoor is eirēnē, en die Hebreeuse woord is shalõm. Die betekenis van shalõm is nie net die afwesigheid van probleme nie, maar ook die teenwoordigheid van alle goeie dinge.
- Tweedens is dit belangrik om daarop te let dat die seën nie vir die “vredeliefhebbers” beskore is nie, maar vir die “vredemakers”. Dit gebeur dikwels dat mense vrede op ’n verkeerde manier liefhet. Sulke mense dink dat hulle die vrede wil bewaar, maar intussen hoop hulle vir hulself ’n klomp probleme vir die toekoms op. Die vrede waarvan hier gepraat word, is nie om probleme te ignoreer nie, maar om dit in die gesig te kyk, dit te hanteer en dit te oorwin. Die pad na vrede, loop deur moeite, harde werk en stryd.
- Die vers sê dat vredemakers “kinders van God” genoem sal word. Die Griekse woord wat gebruik is, beteken eintlik “seuns van God”. Hebreeus het nie baie byvoeglike naamwoorde nie, en daar word dikwels ’n hele frase gebruik om iets te beskryf. So sal daar gesê word dat iemand “ ’n seun van wysheid” is, in plaas daarvan om te sê hy “ ’n wyse man” is. ’n Persoon wat vrede maak, doen dus ’n Goddelike werk, want God is ’n God van vrede.
Hierdie saligspreking het dus betrekking op iemand wat van die lewe ’n beter plek maak, in sy hart en verstand vrede ervaar en in die regte verhouding met ander mense leef. Vir ’n Joodse rabbi was laasgenoemde die grootste taak wat ’n mens kon verrig, naamlik om vrede te bewerkstellig en te bewaar. Sulke mense doen ’n Goddelike werk, want God se groot begeerte is vrede tussen mense en met Homself.
(Matteus 5:10-12 (b) vervolg...)