Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hulle wat nie bid wanneer die son skyn nie, sal ook nie weet hoe om te bid wanneer die wolke saampak nie. As jy in goeie tye getrou in jou verhouding met God wandel, sal die wolke nooit so dik pak dat jy nie sy Ligstrale daardeur sal kan sien nie.
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 5 (b)
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
(Weens die lengte van hierdie hoofstuk word dit in vier dele verdeel)
Matteus 5:10-12 Jesus was altyd baie eerlik met die mense oor wat met hulle sou gebeur as hulle Hom sou volg. Hy het dit baie duidelik gemaak dat Hy nie gekom het om vir mense die lewe maklik te maak nie, maar om betekenis daaraan te gee. Ons kan ons nie regtig indink hoe moeilik dit vir die vroeë Christene was in die samelewing waarin hulle gelewe het nie. Hulle lewens was omver gewerp. Alles het om die aanbidding van afgode gegaan, en elkeen moes ’n keuse maak. Hulle moes kies tussen besigheidsbelange en hulle lojaliteit aan Jesus.
Hulle sosiale verhoudings met vriende en familie was beïnvloed. Wanneer ’n offer in ’n afgodstempel aan ’n afgod geoffer is, dan is daar net ’n deel van die vleis aan die priesters gegee. Die res is aan die aanbidder teruggegee. Hy het dan sy vriende en familie genooi om saam met hom te kom fees vier in die tempel van daardie afgod.
Kon ’n Christen dan deel in ’n fees in ’n afgodstempel? Nee. Selfs ’n gewone ete in vriende se huis, het begin met ’n wynoffer wat gedrink is ter ere van afgode. Christene kon nie goedkeuring daaraan gee en daarin deel nie. Om ’n Christen te wees, was ’n eensame lewenspad. Soms het dit gebeur dat ’n man of sy vrou ’n Christen word, of soms een van die kinders. Onmiddellik was daar verdeeldheid in die huisgesin. So ’n persoon moes dikwels sy familiebande verbreek.
Die straf wat baie vroeë Christene vir hulle lojaliteit aan Jesus moes dra, was soms skrikwekkend. Baie Christene is vir leeus gegooi of het op brandstapels gesterf. Die wrede keiser Nero het hulle selfs aan die brand gesteek en as lampe vir sy tuin gebruik.
Daar is verskeie redes waarom die Romeine die Christene so ontsettend vervolg het, maar twee daarvan staan uit:
- Daar is baie skinderstories en leuens oor hulle vertel. Hulle is van kannibalisme beskuldig. Die woorde van Jesus wat tydens die nagmaal gebruik is, naamlik “dit is My liggaam” en “dit is My bloed,” is so verdraai dat die mense vertel het dat die Christene kinders offer en eet. Die Christene se weeklikse byeenkoms is ’n “liefdesmaal” genoem, en hulle het mekaar met ’n kus gegroet. Dit was die oorsaak dat daar onder die nie-Christene vertel is dat die Christene seksorgies hou en allerlei immorele dade verrig. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle familieverhoudings vernietig en die wêreld wil afbrand. Laasgenoemde lasterpraatjies het ontstaan na aanleiding van die feit dat die Christene in hulle eindtydverwagting, wanneer Jesus gaan terugkom, ’n prentjie geskep het van die wêreld wat in vlamme sal eindig.
- Die groot rede vir die vervolging van die Christene, was egter polities van aard. Die Romeinse Ryk het oor feitlik die hele bekende wêreld van daardie tyd regeer. Die Romeine het groot eenheid as volk ervaar en het geglo dat hulle dankbaarheid vir hulle voorspoed aan die godin van Rome, naamlik Roma, moet gaan. Mettertyd het hulle verering van Roma in keiseraanbidding oorgegaan, en een maal per jaar het hulle wierook vir hom gebrand en gesê: “Die keiser is god.” Aan elkeen wat dit gedoen het, is ’n sertifikaat uitgereik wat hulle dan kon toon as bewys van hulle lojaliteit aan die keiser. Dit is presies wat die Christene geweier het om te doen. Vir hulle was Jesus Christus die Here en hulle het geweier om die titel aan enigiemand anders te gee. Die Romeinse Regering kon nie enige dislojaliteit toelaat nie, en elke Christelike gemeente was dus vir hulle ’n groot bedreiging.
Die geweldige vervolging wat plaasgevind het, het vir ons wat vandag daarop kan terugkyk, ’n bloedgevlekte spoor van heerlikheid nagelaat, wat vir ons die lojaliteit wys wat deur die eeue aan Jesus Christus betoon is. Een van die mees bekende martelare was Polycarpus, die bejaarde biskop van Smirna. Toe hy voor die Romeinse magistraat verskyn het en beveel is om sy geloof in Jesus Christus af te lê, of te sterf, was sy woorde: “Vir ses en tagtig jaar lank het ek Christus gedien. Hy het my nog nooit enige kwaad aangedoen nie. Hoe kan ek nou my Koning verraai wat my gered het?” Hy het op ’n brandstapel gesterf.
Die oomblik wanneer ons Christenskap opoffering van ons verg, dan is dit ’n geleentheid om ons lojaliteit aan Jesus te betoon, sodat die wêreld dit kan sien. Deur vervolging, deel ons in die groot geleentheid, die drama van die ewigheid. Om in so ’n oomblik te deel, is nie ’n straf nie, maar ’n heerlikheid. In vers 12 sê Jesus ons moet bly en verheug wees. Die Griekse woord wat gebruik word, beteken om op te spring van vreugde. Dit is ook die woord wat gebruik is wanneer ’n bergklimmer die hoogste bergpiek bereik het, en hy van vreugde op en af spring omdat hy die bergpad kon oorwin.
Wanneer ons vervolging verduur, dan maak ons die pad makliker vir diegene wat volg. Deur ons onbeweeglike geloof en getuienis oor Jesus Christus, maak ons dit makliker vir ons nageslag.
Niemand gaan alleen deur vervolging nie. In sulke tye is Jesus nader aan ons as in enige ander tyd. Toe Daniël se vriende, Sadrag, Mesag en Abednego, in die brandende vuuroond gegooi is omdat hulle nie vir Nebukadneser wou aanbid nie, het Nebukadneser, meteens vier manne in die oond, inplaas van drie gesien. Sy woorde was: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ’n hemelwese!” (Dan 3:25).
Daar is een vraag wat nog gevra moet word, en dit is: Waarom is vervolging onvermydelik? Die antwoord is dat dit onvermydelik is omdat die kerk veronderstel is om die gewete van die samelewing in ’n volk te wees. Wanneer dinge reg gedoen word, moet die kerk dit prys. Wanneer dit verkeerd gedoen word, is dit die kerk se plig om te bestraf. Ons word nie noodwendig deur die dood bedreig vir ons lojaliteit aan Christus nie, maar spot en beledigings sal ons altyd kry.
Jesus Christus het vandag nog sy getuies nodig, hulle wat bereid is om vir Hom te lewe en te sterwe.
Matteus 5:13 Met hierdie woorde het Jesus vir ons een van die mooiste komplimente gegee wat ons vir enige mens kan gee. Wanneer ons iemand se standvastige en bruikbare karakter wil beskryf, dan sê ons graag: “Mense soos hy, is die sout van die aarde.” In die antieke wêreld was sout baie waardevol. Vir die Grieke was sout selfs goddelik. Sout het drie besondere kwaliteite gehad:
- Dit is met reinheid en suiwerheid geassosieer. Wanneer Christene dan die “sout” van die aarde moet wees, dan moet hulle voorbeelde van reinheid wees. Ons leef in ’n samelewing waarin standaarde voortdurend verlaag word, en dit die Christen se taak is om vir die samelewing te wys wie Jesus is. Christene mag hulleself nie van die wêreld onttrek nie, maar hulle moet hulleself skoonhou van die besmetting van hierdie wêreld (Jak 1:27).
- Sout is die eenvoudigste van alle preserveermiddels. Dit hou voedsel vars en werk verrotting teë. So preserveer sout ook die samelewing teen korrupsie, en as Christene die sout van die aarde is, dan moet hulle ’n antiseptiese uitwerking op die lewe hê. Ons weet almal dat daar sekere mense is in wie se geselskap dit maklik is om rein op te tree, maar daar is sekere mense wat dit vir ons moeilik maak. Christene is diegene wie se teenwoordigheid die korrupsie moet teëwerk en in wie se geselskap dit vir ander mense makliker is om ordentlik op te tree.
- Die grootste en belangrikste funksie van sout, is dat dit smaak gee aan enigiets waarby dit gevoeg word. Kos sonder sout is smaakloos en maak ’n mense eintlik naar. Christene is soos sout in die lewe en verleen geur daaraan. Dit is tragies dat mense dikwels Christenskap aan presies die teenoorgestelde koppel. Dit is ons taak om die glans van Christenskap terug te bring in ’n donker wêreld.
Jesus vra dan hoe ’n mens weer die sout se smaak kan herstel as dit verslaan het. Dit is moeilik, want sout verloor nie sommer sy smaak nie. Die belangrike punt wat egter hier oorgedra word, is iets wat die Nuwe Testament vir ons herhaaldelik beklemtoon; dit is dat onbruikbaarheid rampspoedig is. Wanneer Christene nie die taak wat hulle het, uitvoer nie, dan is die gevolg daarvan altyd ’n ramp.
Matteus 5:14-15 Hierdie woorde is ’n baie groot kompliment vir ons as Christene, want Jesus verwag van ons om presies dít te wees waarop Hyself aanspraak maak, naamlik om die lig van die wêreld te wees (Joh 9:5). Hierdie woorde van Jesus was ’n baie bekende uitdrukking vir die Jode. Hulle het self van Jerusalem gepraat as ’n “lig vir die heidene”.
Van een ding was die Jode egter baie seker, en dit is dat niemand sy eie lamp aangesteek het nie. God het dit vir hulle aangesteek. Die lamp van die volk van God, was ’n geleende lig, en so moet dit ook met elke Christen wees. Die glans en lig wat ons as Christene uitstraal, kom van die teenwoordigheid van Jesus Christus in ons lewens.
Wat beteken dit wanneer Jesus sê dat ons die lig vir die wêreld is? Ons kan drie punte hier uitlig:
- ’n Lig is heel eerste iets wat bedoel is om gesien te word. Die huise in Palestina was baie donker met net een klein ronde venstertjie. Die lamp in die huis het dan gewoonlik op ’n lampstaander gestaan en die hele dag gebrand. Die lamp was in die vorm van ’n bootjie met olie in waarin die pit gedryf het. Dit was nie maklik om die lamp weer aan te steek wanneer dit dood gegaan het nie, want dit was nog voordat iets soos vuurhoutjies bestaan het. Wanneer die huisbewoners uit die huis weggegaan het, dan het hulle die lamp van die staander afgehaal en dit onder ’n maatemer gesit sodat dit nie ’n gevaar vir die huis is nie. Die hoofsaaklike doel van die lig was egter om gesien te word.
Net so is ’n Christen veronderstel om gesien te word, en dit stop nie wanneer ons by die kerkdeur uitstap nie. In ons elke dag se lewe, waar ons gaan en wat ons doen, moet ons lig skyn in ’n donker wêreld.
- ’n Lig is ook ’n gids. Op die riviere waarin skepe gevaar het, se walle kon die ligte gesien word wat moes help dat die skepe veilig daarin kon vaar. Straatligte is ook bedoel om die pad te verlig sodat ’n mens veilig daarin kan ry. Net so is Christene veronderstel om die pad vir ander duidelik te maak. Daar is baie mense wat nie die morele moed en krag het om op te staan vir ’n saak nie, maar wanneer daar iemand is wat hulle kan ondersteun, dan kan hulle die regte ding doen. Die samelewing het gidsligte nodig. Daar is baie mense wat wag vir iemand om vir hulle die nodige leiding te gee.
- ‘n Lig is dikwels ook ’n waarskuwing. Dit vertel ook vir ons wanneer daar gevaar dreig. Dit is soms die taak van Christene om vir ander die gevaar van ’n situasie of ’n optrede uit te wys.
Matteus 5:16 Twee belangrike dinge staan hier duidelik uit.
- Mense moet ons goeie werke sien. Daar is twee woorde in Grieks wat albei “goed” beteken. Die een woord is agathos, wat net eenvoudig beteken dat iets goed is in kwaliteit. Die ander woord is kalos, wat nie net beteken dat iets goed is nie, maar dat dit aangrypend mooi en besonders is. Laasgenoemde is die woord wat hier gebruik word. Christene se dade moet kalos wees. Daar moet ’n sekere skoonheid aan Christene se goedheid wees, en nie ’n element van hardheid en kilheid nie. Daar is goeie dade wat mense nader trek en ander wat hulle afstoot.
- Ons goeie dade is ook veronderstel om aandag op God te vestig, en nie op onsself nie. Christene dink nooit aan wat hulle gedoen het nie, maar wat God hulle in staat gestel het om te doen. Hulle vestig nooit die aandag op hulleself nie, maar rig dit na God toe.
Matteus 5:17-20 Aanvanklik lyk hierdie woorde van Jesus na ’n verstommende stelling om te maak. Hy lê daarmee die ewigheidskarakter van die wet neer, en nogtans kan Paulus sê: “Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word” (Rom 10:4). Jesus het herhaaldelik die sogenaamde Joodse wette verontagsaam. Hy het nie die handewas-seremonie nagekom nie en Hy het siekes op die Sabbat genees, alhoewel dit verbode was. Hy is as ’n wetsverbreker veroordeel en gekruisig. Tog praat Hy hier van die wet met soveel respek en eerbied, wat geen rabbi of Fariseër van Hom sou verwag nie.
Die 1953-Vertaling het vers 18 so vertaal: “...sal geen jota of titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” ’n Jota is die Hebreeuse letter iodh. Dit is in die vorm van ’n afkappings-s, dus nie veel groter as ’n klein kolletjie nie. ’n Tittel is wat ’n serif genoem word. Dit is die klein lyntjies aan die onderkant van ’n letter, soos byvoorbeeld die twee lyntjies aan weerskante van ’n hoofletter I. Daar het ook vanuit hierdie vers die Afrikaanse spreekwoord ontstaan: “Geen jota of tittel sal nagelaat word nie.” Jesus het dus hiermee die feit beklemtoon dat die wet so heilig is, dat nie die allerkleinste besonderheid daarvan verby sal gaan nie.
Hierdie woorde van Jesus was vir mense so verstommend, dat baie nie kon glo dat Jesus dit wel gesê het nie. Tog is dit iets wat so onwaarskynlik is dat iemand anders dit uitgedink het, dat ons met groot oortuiging kan sê dat dit wel Jesus se woorde is.
- Die Jode het met die wet, drie verskillende dinge bedoel: Gewoonlik het dit vir hulle die tien gebooie beteken.
- Hulle het dit ook gebruik vir die eerste vyf boeke van die Bybel. Dit is die deel van die Bybel wat as die Pentateug bekend staan. Pentateug beteken “Die vyf boekrolle,” en dit was vir die Jode die belangrikste deel van die Bybel.
- Hulle het ook daarmee die mondelingse wette, of die wette wat deur die skrifgeleerdes omskryf is, bedoel.
Wat was hierdie mondelingse wet? In die Ou Testament vind ons groot, breë beginsels wat God gegee het, en wat die mense self, onder God se leiding, op individuele situasies in die lewe moes toepas. Vir die latere Jode was hierdie beginsels nie meer genoeg nie. Hulle het begin dink dat dit moontlik was om vir elke moontlike situasie in die lewe ’n reël of regulasie af te lei. Daar het toe ’n groep mense ontstaan wat hulleself die “skrifgeleerdes” genoem het. Hulle het hulleself daarmee besig gehou om, afgelei vanaf die groot wette, letterlik duisende der duisende reëls en regulasies uit te dink.
’n Voorbeeld hiervan is die reëls wat neergelê is oor die Sabbat wat heilig gehou moet word, en geen werk gedoen mag word nie. Die Joodse wetsonderhouers, met hulle passie vir omskrywings, het toe gevra: “Wat is werk?” So bepaal die skrifgeleerdes se wet dat niks op ’n Sabbat gedra mag word wat swaarder is as ’n gedroogde vy nie, of ’n hoeveelheid melk wat met een sluk gesluk kan word nie. Net genoeg heuning wat op ’n wond gesit kan word, mag gedra word, of genoeg water om oogsalf mee klam te maak, of genoeg ink om twee letters van die alfabet mee te skryf. Daar is nog veel meer. Hulle het eindelose ure spandeer om oor sulke dinge te redeneer. Dít was vir hulle die essensie van godsdiens.
Om te skryf was ook werk. Daarom moes hulle alle skryfwerk ook definieer. ’n Persoon mag nie meer as twee letters met sy linkerhand en twee met sy regterhand geskryf het nie, anders was hy skuldig aan oortreding van die wet.
Om ’n siek persoon te help op ’n Sabbat, was ook werk. Dit mag net gebeur het wanneer die persoon se lewe in gevaar was, anders moes daar net iets gedoen word wat die persoon sou help om nie sieker te word tot die volgende dag nie. ’n Skoon verband kon op ’n wond gesit word, maar daar mag nie salf op gesit word nie.
Die skrifgeleerdes was die mense wat al hierdie reëls uitgedink het, en die Fariseërs het dit onderhou. Die woord “Fariseër” beteken ook “die afgesonderde een”.
Vir baie eeue was hierdie wette van die skrifgeleerdes nie neergeskryf nie. Dit was ’n mondelinge wet, en is van geslag tot geslag oorgedra deur mondelinge oorlewering van geslagte skrifgeleerdes. In die middel van die derde eeu na Christus is dit eers neergeskryf en dit staan vandag bekend as die Mishnah. Latere skrifgeleerdes het hulleself besig gehou deur kommentaar daarop te skryf en dit staan bekend as die Talmud. Daar bestaantwaalf gedrukte volumes van die Jerusalem Talmud. Vir die streng, ortodokse Jode was godsdiens, die onderhouding van belaglike reëls wat vir hulle ’n saak van lewe en dood was. Daarmee wou hulle die ewige lewe verdien.
Dit is verseker nie wat Jesus bedoel het, toe Hy gesê het dat nie een van hierdie reëls verby sal gaan nie. Hy het dit herhaaldelik self verbreek en veroordeel. Dit is ook die soort wette wat Paulus veroordeel het.
Wat het Jesus dan bedoel met die wet? Hy sê dat Hy nie gekom het om die wet ongeldig te maak nie, maar om dit te vervul. Hy het die werklike betekenis van die wet kom bekend maak. Selfs vir die skrifgeleerdes en Fariseërs was daar een groot beginsel, en dit is dat God se wil in alles gesoek moet word. Hulle was reg deur God se wil te soek, maar hulle was verkeerd deur dit te probeer doen deur duisende mensgemaakte reëls en regulasies.
Wat is dan die werklike beginsel agter die hele wet wat Jesus kom vervul het? Wat is dit wat Hy vir ons kom wys het?
Wanneer ons na die tien gebooie kyk, dan sien ons dat die essensie daarvan is dat ons respek en eerbied vir God moet hê, asook respek en eerbied vir ons naaste en vir onsself. Op hierdie beginsels is die hele wet gebaseer. Dit is hierdie eerbied en respek wat Jesus kom vervul het. Hy het vir ons in die werklike lewe kom wys presies hoe eerbied vir God en respek vir ander mense lyk. Hierdie respek en eerbied bestaan nie uit die nakom van ’n klomp verspotte reëls en regulasies nie. Dit bestaan nie uit offers nie, maar uit genade. Dit bestaan nie uit wettisisme nie, maar uit liefde.
Die respek en die eerbied wat die basis is van die tien gebooie, kan nooit verval nie. Dit is die permanente basis waarop ons verhouding met God en ons medemens gebaseer moet wees.
Jesus het in hierdie gedeelte twee breë beginsels neergelê:
- Daar is geensins ’n stryd tussen die hede en die verlede nie, maar ’n definitiewe voortsetting van die verlede in die hede. Mense moes eers leer wat reg en verkeerd is en bewus word van hulle sonde en hulle eie onwaardigheid en onvermoëns, voordat hulle kon verstaan wat Jesus vir hulle kom doen het.
- Jesus waarsku sy dissipels ook hier dat hulle nie moet dink dat Christenskap maklik is nie. Die regverdigheid van ’n volgeling van Jesus moet die regverdigheid van die Fariseërs en die skrifgeleerdes by verre oorskrei. Wat het Jesus daarmee bedoel? Die Fariseërs en die skrifgeleerdes se hoofdoel en begeerte was om die wet na te kom. Maar die motief waarmee ’n Christen moet leef, is liefde. Die een begeerte van alle Christene is om hulle verwonderde dankbaarheid te toon vir die liefde wat hulle van God in Jesus Christus ontvang het.
Die Jode het daarna gestreef om die wet van God na te kom, en aan die eise van die wet is daar altyd ’n beperking. Christene se doel in hierdie lewe is om hulle dankbaarheid te toon vir God se liefde. Aan die eise van liefde is daar geen beperking in tyd of in ewigheid nie. Wanneer ons besef hoe lief God ons het, dan ontvang ons die grootste taak in die hele wêreld, en dit is om op daardie liefde te reageer.
(Inleiding tot Matteus 5:21-48 – vervolg...)