Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur. Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid. ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier. Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 5 (c)
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Inleidend tot Matteus 5:21-48
In hierdie verse kry ons lering van Jesus wat seker die heel belangrikste is in die hele Nuwe Testament. Hy praat hier met ’n outoriteit wat geen ander mens ooit sou droom om te doen nie. In Markus 1:20 lees ons dat die mense verbaas was oor die gesag waarmee Hy hulle geleer het. Ons kan ons nie indink hoe moeilik en skokkend dit vir die mense moes gewees het om na Hom te luister nie. Vir die Jode was die wet die mees heilige en goddelike iets wat ooit bestaan het. Elke byeenkoms in die sinagoge is met ’n ritueel begin. Die perkamentrolle waarop die wet geskryf was, is deur ’n persoon tussen die gemeentelede rondgedra, sodat elkeen sy eerbied aan die wet kan betoon.
Dit is hoe belangrik die wet vir die Jode was, en hier kom Jesus nou en haal die wet aan, maar spreek dit teë en vervang dit met sy eie lering. Hy wys die tekortkominge uit in die mees heilige geskrifte in die hele wêreld, en korrigeer dit met sy eie wysheid. Hy eien Homself die reg toe om die onveranderbare woord van God te verander. Kalm en sonder om enigiets te bevraagteken, doen Hy dit. Niemand het nog ooit so iets gehoor nie. Net één van twee dinge kon waar gewees het. Jesus was òf van sy sinne berowe, òf Hy was werklik die Seun van God.
Die verstommende ding van gesag, is dat dit selfbewysend is. Dit is soos ’n atmosfeer wat om ’n persoon is. So ’n persoon hoef nie aanspraak te maak op gesag nie, hy het dit of hy het dit nie. Jesus kon die hoogste menslike wysheid wat bestaan, korrigeer, omdat Hy is Wie Hy is.
Die standaard wat Jesus vir die mense gestel het, was nog meer ontstellend. Hy sê dat nie slegs die persoon wat moord pleeg, skuldig is nie, maar ook diegene wat kwaad is vir iemand anders. Nie net slegs iemand wat owerspel pleeg, is skuldig nie, maar ook iemand wat vuil gedagtes koester.
Hier was nou iets heeltemal nuut; iets wat ons nog nie heeltemal mooi begryp nie. Dit is nie genoeg om nié moord te pleeg nie, die enigste voldoende ding was om nooit eers daaraan te dink om moord te pleeg nie. Dit was Jesus se lering dat gedagtes net so belangrik is as dade, en dat dit nie genoeg is om nie te sondig nie, maar dat ons nooit eers moet begeer om dit te doen nie. Jesus is intens begaan oor ons gedagtes. Drie dinge kom hieruit na vore:
- Jesus se manier is die enigste pad na veiligheid en sekuriteit. In ’n sekere mate het elke persoon ’n gesplete persoonlikheid. ’n Deel van ons word aangetrek na die goeie dinge in die lewe, en ’n deel van ons word aangetrek na die bose dinge. In ons is daar ’n innerlike stryd aan die gang, twee stemmetjies wat ons voortdurend dring om die een of die ander te doen. Jesus sê die enigste veilige manier, is om die begeerte om verkeerde dinge te dink, uit te roei.
- Net God kan ons daarop oordeel, want mense sien ons dade, maar God sien die geheime van ons harte. Daar is baie mense wat die oordeel van die samelewing sal slaag, maar wie se goedheid sal verkrummel voor God wat alles weet en alles kan sien.
- Dit beteken dat elkeen van ons sondig is, en nie voor die oordeel van God sal kan staande bly nie. Om innerlik rein en skoon te wees, is dit nodig om te kan sê: “... en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20).
Hierdie nuwe standaard stroop ons van alle trots, en dwing ons na die Here Jesus toe. Net Hy kan ons in staat stel om die standaard te handhaaf wat Hy vir ons gestel het.
Matteus 5:21-22 Hierdie is die eerste voorbeeld van die nuwe standaard wat Jesus gestel het. Die tien gebooie sê: “Jy mag nie moord pleeg nie” (Eks 20:13). Jesus sê selfs al is jy net kwaad vir jou broer, is jy al skuldig. Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, is orgizesthai. Dit beskryf ’n diepgewortelde woede wat ’n mens vertroetel en daaroor broei. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat woede verbied word. Jakobus sê dat iemand wat kwaad word, nie doen wat voor God reg is nie (Jak 1:20). Paulus maan die gemeente in Kolossense om al die dinge soos woede, haat, nyd en gevloek te laat staan (Kol 3:8).
In vers 22 gaan Jesus voort om te waarsku teen woede wat aanleiding gee tot beledigende woorde. Onder die Joodse rabbi’s was daar ’n gesegde waarmee hulle gesê het dat drie soorte mense in die Gehenna sal beland, en nooit weer sal terugkeer nie, en dit is owerspeliges, mense wat hulle naaste openlik verkleineer, en mense wat hulle naaste ’n beledigende naam gee. Woede in ’n mens se hart en woede in jou taalgebruik, is albei ewe verbode.
Die Griekse woord wat in vers 22 vertaal is met “gek”, is rhaka. Volgens Barclay is dit ’n amper onvertaalbare woord. Om vir iemand te sê hy is ’n rhaka, is om vir hom te sê hy is ’n breinlose idioot, ’n onnosel gek en ’n domkop sukkelaar. So ’n gesindheid weerspieël die uiterste verwaandheid en eiewaan. Sulke verwaandheid moet nog swaarder gestraf word as woede. Dit moet deur die Joodse Raad gestraf word. Dit is asof Jesus sê dat die sonde van diep gewortelde woede, baie erg is, maar die sonde van verwaandheid, is nog erger.
Daar is niks wat so min by ’n Christen pas nie, as verwaandheid en selftevredenheid. Die twee dinge wat mense maklik verwaand maak en laat dink dat hulle beter is as ander mense vir wie Jesus ook gesterf het, is materiële besittings en intellektuele vermoëns. Die Griekse woord mõros, is net so moeilik om te vertaal. Dit is in die 1983-Vertaling met “idioot” vertaal. Wanneer ’n persoon ’n ander persoon so noem, dan kritiseer hy nie net sy intellektuele vermoëns nie, maar hy beledig sy morele karakter en hy brandmerk so ’n persoon as iemand van lae morele standaarde en as immoreel.
Jesus sê met ander woorde, wanneer ons iemand se goeie naam en sy reputasie vernietig, dan is ons skuldig aan die ergste straf van almal, naamlik die helse vuur. Volgens die Young’s Literal Translation is so ’n persoon strafbaar met die gehenna of fire. Gehenna is ’n woord met ’n geskiedenis, en is deur verskeie vertalings met “hel” vertaal. Die woord is algemeen deur die Jode gebruik en beteken “Hinnomdal”. Dit is ’n vallei of dal aan die suid-westelike kant van Jerusalem. Die plek is bekend daarvoor dat dit die plek is waar koning Agas offerandes aan die afgod Moleg gebring het en van sy eie kinders verbrand het (2 Kron 28:3). Toe koning Josia regeer het, en weggedoen het met al die afgodediens van die Israeliete, het hy die Hinnomdal tot ’n vervloekte plek verklaar (2 Kon 23:10). As gevolg daarvan, het die Hinnomdal die plek geword waar Jerusalem se vuilgoed weggegooi en vernietig is. Dit was soos ’n publieke verassingsoond. Daar het permanent vuur gesmeul en ’n dik laag rook het daaroor gehang. Daar het walglike wurms uitgebroei wat moeilik doodgemaak kon word. In die mense se gedagtes was dit ’n vuil en vervloekte plek, en daarom het dit ’n sinoniem geword vir die plek van God se vernietigende oordeel, die hel.
Dit is vir Jesus belangrik dat ons verstaan dat nie net ons optrede geoordeel sal word nie, maar ook ons gedagtes. Langdurig gekoesterde woede is erg, kwaadpraat is nog erger, maar die onverskillige maniere waarop mense ander se goeie naam vernietig, is die heel ergste van alles. Mense wat hierdie dinge doen, mag dalk nooit ’n moordenaar in aksie wees nie, maar hy is ’n moordenaar in sy hart.
Matteus 5:23-24 Toe Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy eintlik maar net die Jode herinner aan ’n beginsel wat hulle baie goed geken het. Wanneer iemand iets verkeerd gedoen het, het daardie verkeerde daad die verhouding tussen die persoon en God versteur. Die offer was die manier om daardie versteurde verhouding weer te herstel. Daar is twee baie belangrike punte wat ons hier moet onthou:
- Offerandes was nie bedoel om versoening vir ’n doelbewuste sonde te bewerkstellig nie. Wanneer iemand onbewustelik gesondig het, of in ’n oomblik van swak selfbeheer gesondig het, dan was ’n offerande effektief. ’n Offer was egter kragteloos wanneer ’n persoon doelbewus, kwaadwillig en met oop oë gesondig het.
- Om krag te hê, moes ’n offerande ook belydenis van sonde en ware berou insluit. Ware berou behels altyd ’n poging om al die gevolge wat die sonde gehad het, reg te stel. Die Groot Versoendag is gehou om versoening te vra vir die hele nasie, maar die Jode het dit baie duidelik gemaak dat selfs die offers wat op die Groot Versoendag gebring is, tevergeefs was, tensy die mense nie eers met hulle naaste versoening bewerkstellig het nie. Wanneer iemand ’n offer gebring het omdat hy iets gesteel het, is die offer as tevergeefs beskou totdat die persoon dit wat hy gesteel het, terugbesorg het aan die eienaar. Indien daar bevind is dat die gesteelde item nie terugbesorg is nie, is die offer as onrein beskou en buite die tempel verbrand. Die Jode moes hulle uiterste bes doen om dinge eers self reg te maak, voordat hulle dit met God kon regmaak.
Vir enige offer om waarde te hê, moes daar ware belydenis en herstel betrokke wees. Die prentjie wat Jesus hier skilder, is baie duidelik. Die aanbidder het nie self sy offerande geoffer nie. Die priester het dit namens hom gedoen. Hy moes deur ’n hele aantal voorhowe gaan voordat hy tot by die hof van die priesters gekom het, waarin hy nie mag gegaan het nie. Hy moes by die afskorting wag, gereed met sy hande op sy offer. As hy dan skielik onthou dat daar iets verkeerd is tussen hom en sy broer, sy vriend of sy buurman, dan moes hy teruggaan en dit gaan herstel.
Jesus is baie duidelik oor hierdie basiese feit, ons kan nie in die regte verhouding met God staan as ons nie in die regte verhouding met mekaar is nie. Somtyds wonder ons waarom dit voel asof daar ’n skeiding is tussen ons en God. Soms wonder ons waarom dit voel asof God nie ons gebede verhoor nie. Die kans is baie goed dat onsself daardie skeidingsmuur opgerig het, deur iemand anders te na te kom en niks te doen deur dit reg te stel nie.
Matteus 5:25-26 Hier gee Jesus die mees praktiese raad denkbaar. Sy raad is dat mense hulle probleme moet uitsorteer voordat dit ophoop en nog meer probleme in die toekoms skep. Hierdie prentjie van twee opponente wat op pad is hof toe, mag vir ons vreemd klink, maar in die antieke wêreld het dit dikwels gebeur. Onder die Griekse wet, kon die klaer die aangeklaagde sommer self arresteer. Hy het hom aan sy mantel gegryp en hof toe gesleep. Die skuldige moes op heterdaad betrap word, en die misdaad was gewoonlik diefstal. Dit was dus nie ’n vreemde gesig om ’n klaer met ’n skuldige persoon te sien wat op pad is na ’n hof toe nie.
Onder die Jode was dit ook nie ’n vreemde gesig nie, en Jesus het heel waarskynlik ’n situasie wat onder die Joodse wet plaasgevind het, in gedagte gehad, want hierdie saak het oor finansiële skuld gegaan. Sulke sake is gewoonlik deur die plaaslike raad van ouderlinge aangehoor. Wanneer ’n man skuldig bevind is, is hy aan die hofoffisier oorhandig, wat moes toesien dat hy al sy skuld betaal. As hy dit nie kon betaal nie, het die hofoffisier oor die mag beskik om hom tronk toe te stuur totdat al sy skuld betaal is.
Hierdie stukkie praktiese raad van Jesus, het waarde vir ons lewe hier op aarde, maar ook vir ons ewige lewe. Die ondervinding het al oor en oor bewys dat as ’n geskil nie onmiddellik uitgesorteer en opgelos word nie, dan broei dit en word al hoe erger soos wat die tyd aanstap. Bitterheid broei bitterheid. Dit het al baie gebeur dat twee mense se onenigheid aan hulle nageslagte oorgedra word en deur verder geslagte oorgeërf word. As een van die twee partye aan die begin die genade gehad het om die ander party om vergifnis te vra, dan het die hartseer situasie dalk nooit ontstaan nie.
Ons moet die situasie onmiddellik regstel. Dit mag wees dat ons verkeerd was en dan moet ’n mens nederig genoeg wees om dit te erken en om vergifnis te vra. Dit mag wees dat ons reg was, maar selfs dan moet ons die eerste tree gee om die verhoudingsbreuk te herstel. Wanneer persoonlike verhoudings skeef loop, sal dit nege uit die tien keer moontlik wees om dit te herstel deur onmiddellike optrede. Wanneer daar nie onmiddellik opgetree word nie, dan laat bitterheid alles net erger word.
Jesus se bedoeling met hierdie uitspraak, het egter veel verder gegaan as net hierdie lewe op aarde. Ons moet dinge met ons naaste regmaak solank ons nog geleentheid het op aarde. Wanneer ons eendag sterf, gaan ons voor God, die finale Regter, staan. En ons verhouding met God, kan nie reg wees as ons verhoudings met ons medemense nie reg is nie.
Matt 5:27-28 Hier is die tweede voorbeeld van Jesus se nuwe standaard. In Eksodus 20:14 word owerspel verbied. ’n Skuldige moes die doodstraf ontvang (Lev 20:10), maar volgens Jesus is nie net die persoon wat die daad pleeg, skuldig nie, maar ook diegene met verbode gedagtes, is skuldig voor God. Volgens die Griekse woord wat hier gebruik word, is dit wanneer ’n persoon sy oë gebruik om sy passie so op te wek dat hy doelbewus gestimuleer word. Die Joodse rabbi’s was baie bewus van die feit dat die oë gebruik kan word om die verkeerde begeertes te stimuleer. Hulle het ’n spreukwoord gehad wat gesê het, die oë en die hand is die twee oorsake van sonde.
In die sondige wêreld waarin ons leef, is daar baie dinge wat doelbewus uitgedink is om seksuele begeertes op te wek. Die laaste en vuilste manier waarop die duiwel, in ons moderne samelewing, daarin slaag om mense op hierdie mnier te laat owerspel pleeg, is deur die vrylike beskikbaarheid van pornografie.
Matteus 5:29-30 Hier gee Jesus ’n baie groot opdrag. Hy dring daarop aan dat ons enigiets wat ons kan aanleiding gee om sonde te doen, geheel en al uit ons lewens verwyder. Die Griekse woord wat gebruik word vir iets wat ons “laat struikel”, is baie interessant. Dit is afgelei van die woord skandalĕthron, wat die aas is wat in ’n lokval gebruik word. Dit beteken dus dat enigiets wat tot ons vernietiging kan lei, moet ons met geweld uit ons lewens verwyder.
Hierdie opdrag volg onmiddellik na die gedeelte oor verbode gedagtes en begeertes, en dit lei daartoe dat ons kan vra: “Hoe bevry ’n mens homself van verbode gedagtes en beelde?” Deur ondervinding weet elke persoon dat gedagtes en beelde ongenooid ons gedagtewêreld binnekom, en dat dit een van die moeilikste dinge denkbaar is, om die deur daarvoor toe te maak. Die enigste twee manier om dit reg te kry, is om jou lewe te vul met Christelike optrede soos bestudering van die Bybel en liefdesdiens aan mense. Die enigste genesing vir lelike gedagtes, is mooi optrede. ’n Ander manier is om jou gedagtes te vul met goeie gedagtes en deur onmiddellik aan iets anders, wat mooi is, te dink.
Matteus 5:31-32 Toe Jesus hierdie wet vir die huwelik neergelê het, was dit in ’n tyd in die geskiedenis toe die huweliksband in die grootste gevaar ooit was, om totaal vernietig te word.
Christenskap het ’n tweeledige agtergrond. Dit het die Joodse wêreld as agtergrond, sowel as die leefwêreld van die Grieke en die Romeine.
Teoreties was die Joodse ideaal van die huwelik, die hoogste in die hele wêreld. Dit was ’n heilige verpligting wat ’n man op homself geneem het, en hy was veronderstel om egskeiding te verafsku. God het gesê Hy haat egskeiding (Mal 2:16), en die rabbi’s het geglo dat God lankmoedig is met enige ander sonde, maar nie met ontrouheid nie. Die tragedie van die lewe is dat die ideaal so dikwels in die praktyk so ver tekort skiet.
’n Joodse vrou is onder die wet baie laag geag. Sy het geen regte gehad nie, en haar man kon van haar skei teen haar wil. Die Joodse egskeidingswet was ook baie eenvoudig, en hulle het hulle op Deuteronomium 24:1 beroep waar daar geskryf is, dat die man aan sy vrou ’n egskeidingsbrief mag gee, wanneer hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Die kern van die saak lê by die interpretasie van die woord “onbetaamliks”.
Daar was twee verskillende Joodse skole waar rabbi’s studeer het aangaande die Joodse wet. Die een skool het gesê dat ’n man net van sy vrou kan skei op grond van owerspel. Vir hulle is dit wat iets onbetaamliks is. Die ander skool was meer liberaal en vrydenkend en het “iets onbetaamliks” so wyd as moontlik geïnterpreteer. Volgens hulle kon ’n man van sy vrou skei wanneer sy die kos gebrand het, te veel sout ingegooi het, in die publiek sonder ’n hoofbedekking was, ensovoorts.
Ons kan net dink watter een van die skole die grootste invloed en aanhang gehad het. In die tyd van Jesus was ’n huwelik so onseker, dat die Joodse meisies onwillig was om te trou. Hierdie woorde van Jesus was dus ’n praktiese manier waarop Hy die struktuur van die familielewe wat besig was om ineen te stort, moes hanteer.
In die Griekse samelewing was daar absoluut niks verkeerd met ’n buite-egtelike verhouding nie. In die Grieke se siening van die huwelik, was daar ’n geweldige teenstelling. Griekse mans het van ’n respektabele Griekse vrou verwag dat sy so in afsondering moes leef, dat sy nie eers alleen op straat mag verskyn het nie. Sy mag nie aan enige sosiale lewe deelgeneem het nie. ’n Man het van sy vrou verwag om die hoogste morele sedelike standaard te handhaaf. Hy het hoofsaaklik met ’n vrou getrou om sy huishouding te hanteer, en dan het hy sy plesier elders gaan soek. Tempelprostitute was saans die strate vol. Daar was ook ’n verstommende klas van Griekse vroue wat die hetairai genoem is. Hulle was die minnaresse van bekende mans, en was maklik die mees gekultiveerde en sosiaal aanvaarbare vroue van hulle tyd. ’n Griekse man het nie eers nodig gehad om deur ’n wetsproses te gaan om van sy vrou te skei nie. Hy kon net sy vrou in die teenwoordigheid van twee getuies ontslaan, en dan was hy geskei.
In die Romeinse samelewing, het die vader van die familie letterlik mag van lewe en dood oor die hele familie gehad. Vir hulle was die huis alles. Hulle het aanvanklik buitengewone hoë morele lewenstandaarde gehandhaaf, totdat hulle die Grieke oorwin het.
Alhoewel die Romeine Griekeland militêr oorwin het, het die Grieke die Romeine op morele en sosiale gebied verslaan. Twee eeue voor Christus, het die Grieke Rome geïnfiltreer, met tragiese gevolge vir hulle nageslag.
Ons kan dus duidelik sien dat daar saam met Christenskap, ’n nuwe ideaal van kuisheid die wêreld binnegekom het, waarvan mense van daardie tyd, maar net kon droom.
(Matteus 5:33-37 vervolg...)