Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se seën en vaderlike guns glinster ook oor die voedsel wat Hy ons skenk. Hoewel sondevergifnis vir ons liggaam baie belangriker as voedsel is sluit Hy die seën op die gebruik van ons daaglikse brood in by sy genade.
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 17
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 17:1-8 Die wonderlike tyd wat Jesus saam met sy dissipels deurgebring het in Sesarea Filippi, word nou opgevolg deur hierdie hoogtepunt van verheerliking op die berg. Ons is nie seker op presies watter berg dit plaasgevind het nie, maar dit moes heel waarskynlik teen die hange van die pragtige en statige Hermonberg gebeur het. Dit was heel moontlik nag gewees, want Lukas vertel vir ons dat die dissipels aan die slaap geraak het (Luk 9:32). Die volgende dag het hulle van die berg afgegaan, toe die vader van ’n seun met epileptiese aanvalle, hulle ingewag het (Luk 9:37).
Miskien wonder ons waarom Jesus alleen teen die verlate berghange opgegaan het, maar Lukas gee vir ons ’n aanduiding. Jesus wou gaan bid (Luk 9:29). Teen hierdie tyd was Jesus verseker daarvan dat Hy op pad was na die kruis. Hy het dit vir sy dissipels herhaaldelik gesê. Ons kan onsself net so effens indink hoe groot Jesus se innerlike stryd was. Ons het gesien dat Hy by Sesarea Filippi moes vasstel of een van sy dissipels Hom sou herken vir wie Hy werklik is. Ons het gesien hoedat Petrus triomfantlik ontdek en uitgeroep het dat Hy die Messias, die Seun van die lewende God is!
Daar was egter nog ’n groter vraag waarop Jesus ’n baie duidelike antwoord moes kry, voordat Hy sy laaste reis na Jerusalem kon aanpak. Hy moes baie seker maak, bo alle twyfel, dat Hy dít doen wat God van Hom verlang; dat dit God se wil vir Hom is om aan ’n kruis te gaan sterf. Hy het teen die berg opgegaan om God se stem te gaan hoor.
Jesus het geen ander wil gehad as God se wil nie. Ons sê graag dat Jesus sonder sonde was, en die rede daarvoor is dat Hy altyd gevra het wat sy Vader van Hom verlang. Is dit wat ons ook doen? Ons doen so dikwels net wat ons wil. Jesus het nie sy probleme deur sy eie denke probeer oplos nie. Hy het nie na ander gegaan vir menslike raad nie. Hy het dit op ’n eensame plek na God, sy Vader geneem.
Daar teen die berghange, verskyn daar twee groot figure aan Jesus: Moses en Elia. Dit is verstommend om te besef hoeveel ooreenkoms daar is tussen ervaringe wat hierdie twee groot dienaars van God gehad het, en dit wat Jesus beleef. Toe Moses van Sinaiberg afgekom het nadat hy die twee kliptafels van God ontvang het, was hy nie bewus daarvan dat sy gesig geblink het nie (Eks 34:29). Beide Moses en Elia het hulle intiemste ervaringe met God op ’n berg gehad. Lees gerus die volgende Skrifgedeeltes: Eksodus 31:18; 1 Konings 19:9-12; Deuteronomium 34:5-6. Elia het sy vertrek uit sy aardse lewe, voor die verstomde oë van Elisa, in ’n wa van vuur en perde van vuur geneem (2 Kon 2:11).
Ons het ook reeds gesien dat die Jode vas geglo het dat Elia die voorloper en aankondiger van die Messias sou wees wat hulle verwag het.
Die werklike rede waarom Elia en Moses egter met Jesus oor sy vertrek uit hierdie aardse lewe kom praat het, kry ons in Lukas se weergawe van die gebeure (Luk 9:31). Dit sou in Jerusalem voltooi word. Die Griekse woord wat Lukas gebruik vir vertrek, is exodus. Dit is ook die woord wat gebruik is vir die volk Israel se vertrek uit Egipte, en dit is presies wat Jesus nou gaan doen. Hy moes in volle vertroue in God, ’n baie moeilike reis aanpak. ’n Reis wat ’n kruis insluit, maar in groot heerlikheid sou eindig.
In die Joodse geskiedenis was Moses die wetgewer, en Elia die grootste van al die profete. God se stem het deur hom tot die mense gekom. Dit is asof hierdie twee grootste manne in Israel se geskiedenis, aan Jesus verskyn het om vir Hom te vertel om voort te gaan. Dit was vir Hom die teken en die antwoord waarna Hy gesoek het. Dit was egter nie al nie; ook die hoorbare stem van God het vir Hom gesê dat Hy op die regte pad was. ’n Wolk het meteens sy skaduwee oor hulle gegooi (Luk 9:34). Daardie wolk van God se heerlike teenwoordigheid, was deel van Israel se geskiedenis. Lees gerus Eksodus 13:21-22, 34:5, 40:34; 1 Konings 8:10; 2 Kronieke 5:13-14). Hierdie ervaringe het vir Jesus gehelp om die pad na die kruis aan te pak.
Hierdie gebeurtenis het egter vir die dissipels ook baie beteken:
- Hulle moes moedeloos gevoel het by die gedagte dat Jesus Jerusalem toe gaan om te gaan ly en te sterf. Dit moes vir hulle gelyk het asof alles verlore was. Die hele atmosfeer op die berg was egter een van verheerliking en glorie. Dit moes ongetwyfeld die harte van die dissipels opgelig het en hulle gehelp het om die heerlikheid agter die skande raak te sien; die oorwinning aan die einde van die vernedering; die kroon na die kruis. Dit is logies dat hulle nog nie alles verstaan het nie, maar hulle moes ’n klein bietjie van die hele atmosfeer begryp het.
- Petrus moes daardie nag twee lesse geleer het. Die oomblik toe hy besef het wat aan die gang was, was dit sy eerste reaksie om drie hutte te wil bou. Hy was altyd die man vir aksie, maar soms is daar ’n tyd vir stilte, vir bepeinsing, vir aanbidding, vir eerbied in die teenwoordigheid van so ’n groot heerlikheid. Die Psalmskrywer sê: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde” (Ps 46:11). Soms is ons so besig om iets te probeer doen, terwyl dit beter sou wees om net stil te wees, te luister, en verwonderd te wees in aanbidding en in die teenwoordigheid van God.
- Petrus wou so graag daar op die berg bly. Hy het gewens dat daardie groot oomblik nooit sou verbygaan nie en hy was nie lus om terug te gaan na die elke dag se probleme en sorge nie. Dit is ’n gevoel wat ons almal ken. Daar is tye van stilte, vrede, intimiteit en nabyheid aan God wat ons almal graag sou wou laat aanhou, maar dit is nie moontlik nie. Hierdie tye word aan ons gegee om ons te versterk en krag te gee sodat ons in staat kan wees om die pad na die kruis te stap.
Matteus 17:9-13 Die dissipels kry hier weer die opdrag om stil te bly, en dit was baie nodig. Die groot gevaar was dat die mense vir Jesus as die Messias sou aankondig, sonder om te weet wie en wat die Messias werklik moes wees. Die hele verstaan van die Messias, sowel as sy voorloper, moes drasties verander. Die idee van ’n Messias wat hulle in oorwinning sou kom lei, was so diep in die Joodse denke ingegraveer, dat dit amper onmoontlik was om dit te verander.
Hierdie is moeilik verstaanbare verse. Lees gerus wat die profeet Maleagi sê oor wat Elia gaan kom doen voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom (Mal 4:5-6). Die Jode het dit verkeerd verstaan en Jesus moet dit vir die dissipels in perspektief stel in vers 11 en 12. Dit is waarom die dissipels moes stilbly oor wat hulle gesien en geleer het. As hulle sou uitgaan en die verkeerde Messias sou verkondig, sou dit net in tragedie eindig. In die eeu voor Jesus se kruisiging, het daar nie minder nie as tweehonderd duisend Jode hulle lewens verloor in sinlose en onnodige opstande en rebellies. Voordat enigeen vir Jesus Christus kan verkondig, moet hy of sy eers verstaan wie en wat Hy is. Totdat Jesus vir sy dissipels die noodsaaklikheid van die kruis geleer het, moes hulle bereid wees om stil te bly en te leer. Dit is nie ons eie idees wat ons moet verkondig nie; dit is die boodskap van Jesus self. Ons kan nie ander mense leer, as Jesus ons nie eers self geleer het nie.
Matteus 17:14-23 Onmiddellik nadat Jesus en sy dissipels van die hemelse glorie af teruggekeer het, word hulle met ’n aardse probleem gekonfronteer en moes hulle prakties te werk gaan. Die seun se toestand was só ernstig dat hy ’n gevaar vir homself en vir ander mense was. Jesus het die demoon net een maal skerp aangespreek, en hy het van die seun af weggegaan, en hy was gesond. Hierdie gebeure is baie betekenisvol, want:
- Die geloof van die seun se vader is aangrypend. Ten spyte van die dissipels se mislukte poging om die seun te help, het die vader nooit getwyfel in die krag van Jesus nie. Hy het geglo as hy net by Jesus kon uitkom, dan sou sy probleme opgelos wees.
- Ons sien hier hoeveel druk die mense op Jesus uitgeoefen het en hoeveel hulle eise van Hom geverg het. Iemand wat waarlik ’n volgeling van die Here Jesus is, is iemand vir wie ander mense nooit ’n oorlas is nie. Dit is maklik om ’n groot Christen te wees wanneer ons besig is om te bid, en ons ná aan God voel, met die probleme van die wêreld uitgesluit. Dit is egter nie godsdiens nie; dit is ontsnapping. Ware godsdiens begin eers wanneer ons van ons knieë af opstaan om ander mense en hulle probleme, tegemoet te gaan. Ons neem ons eie behoeftes na God toe, sodat ons vrede kan hê, maar ook die krag en genade kan hê om ander in hulle nood by te staan.
- In vers 17 sien ons Jesus se hartseer omdat sy dissipels so sukkel om te verstaan.
- In verse 20 en 21 verduidelik Jesus vir hulle dat geloof in God die instrument is wat mense in staat stel om die struikelblokke wat hulle lewenspad versper, te verwyder. Die Jode het goed geweet waarvan Jesus praat toe Hy gesê het dat ’n mens vir ’n berg kan sê om te verskuif. Elke groot skrifgeleerde en leraar was bekend as ’n “opgrawer” of “vergruiser” van berge. Om ’n berg te verskuif, of op te grawe, was uitdrukkings om te sê dat ’n mens jou probleme uit die weg ruim. Jesus het daarmee bedoel dat ’n mens met genoeg geloof in God, die grootste probleem kan hanteer of die moeilikste taak kan verrig.
Matteus 17:24-27 Om die tempel in Jerusalem te onderhou, het baie geld gekos. Met die daaglikse oggend- en aandoffer, moes daar ook ’n jaaroud lammetjie geslag en geoffer word. Dan was daar ook nog wyn-, meel- en olieoffers. Die olie vir die reukoffers wat elke dag gebrand is, moes ook aangekoop en voorberei word. Die priesters, en ook die hoëpriester se kleredrag, was baie duur om te vervang wanneer dit gedaan was. Volgens Eksodus 30:14 word daar bepaal dat elke Jood wat ouer as twintig jaar was, ’n jaarlikse tempelbelasting van ’n halwe sikkel silwer moes betaal. Dit het dieselfde waarde as twee dae se dagloon van ’n arbeider gehad. Dit was verpligtend en die tempel het daardeur ’n baie groot inkomste gehad.
Die insameling daarvan is baie goed georganiseer en elke jaar is daar in al die groot en ook die kleiner dorpies in Palestina, stalletjies opgerig waar die belasting betaal kon word.
Ons sien in hierdie gedeelte dat die amptenare na Petrus toe gegaan het om te vra of sy leermeester dan nie die tempelbelasting gaan betaal nie.
Petrus se onmiddellike reaksie was dat Jesus dit natuurlik betaal. Nog voordat hy vir Jesus daarvan gesê het, vertel Jesus vir hom ’n kort gelykenis in verse 25 en 26. As enige koning van sy onderdane verwag om belasting te betaal, dan verwag hy dit beslis nie van sy eie kinders en familie nie. Die belasting is gehef om sy eie huishoudelike kostes te dra. Hierdie belasting wat nou ter sprake is, was vir die tempel in Jerusalem, wat die huis van God was. Jesus was die Seun van God. Jesus het mos gesê, toe sy ouers na Hom gesoek het in Jerusalem: “Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Luk 2:49). Hoe kan die Seun dan onder verpligting wees om belasting te betaal vir die onderhoud van sy eie Vader se huis?
Nogtans sê Jesus vir Petrus dat hulle die belasting moet betaal, sodat hulle nie die mense aanstoot gee nie. Die Griekse woord wat Jesus gebruik, wat met “aanstoot gee” vertaal is, skandalizein, beteken eintlik sodat hulle nie vir ander mense ’n struikelblok moet wees nie. Hulle moet vir die ander mense ’n voorbeeld stel. Net so behoort ons ook nooit iets in ons lewens toe te laat, wat vir ander mense ’n struikelblok is of ’n slegte voorbeeld stel nie.
Die Evangelie van Matteus is in ongeveer 80 tot 90 n.C. geskryf. Die tempel in Jerusalem is in 70 n.C. vernietig, en nooit weer herbou nie. Die Romeinse keiser van daardie tyd het ’n wet uitgevaardig dat hierdie tempelbelasting nou aan die tempel van Jupiter in Rome betaal moes word. Die Jode was geweldig in opstand daaroor en wydverspreide rebellie daaroor, het voorgekom. Die Jode en die Christene het ’n reputasie gekry dat hulle slegte en dislojale burgers was. Matteus het heel waarskynlik hierdie gebeure in sy vertelling ingesluit, om vir die Joodse Christene te beklemtoon, dat hoe onaangenaam die pligte van ’n landsburger ook al is, hulle die las moet dra. Christenskap en goeie burgerskap, gaan hand aan hand.
Omdat die Jode baie lief was daarvoor om op ’n beeldryke, dramatiese manier te praat, kan ons Jesus se woorde in vers 27 dalk verklaar deur te sê dat Hy in ’n grap vir Petrus gesê het dat hulle vir ’n paar dae gou moet gaan visvang. Hulle sal dan genoeg geld maak om die belasting te betaal. Die Bybel leer ons nooit dat die lewe se verpligtinge op so ’n moeitelose manier nagekom kan word, as om geld in ’n vis se bek te kan kry nie. Ons is veronderstel om daarvoor te werk. God doen nie vir ons wonderwerke wanneer ons dinge vir onsself kan doen nie. Al was die dissipels arm, was dit glad nie onmoontlik vir hulle om die geld vir die tempelbelasting te gaan verdien nie. Jesus het tydens sy versoeking deur die duiwel in die woestyn, geweier om klippe in brood te verander om in sy eie behoeftes te voorsien. Die lewe sou chaoties gewees het as mense hulle verpligtinge op so ’n lui en moeitelose manier kon nakom.
Wanneer ons die Joodse manier van beeldryke spraak in ag neem, het Jesus heel waarskynlik vir Petrus gesê dat hy in die visse se bekke gou die geld kon verdien wat hulle nodig het. Deur te werk, is die Christelike manier om te lewe, vir onsself te sorg en ons skuld te betaal. Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonisense: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Tess 3:10).