Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy siek is, is jou hele menswees siek, ook jou verstand, jou emosies en jou gees. As jy na die Here vra wanneer jy siek is kan jy seker wees dat Hy nooit ver van jou af is nie. Skep moed, vra God wat sy doel met jou lyding is, en jy sal nuwe sin in die lewe vind as gevolg van hierdie moeilike tyd.
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 25
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 25:1-13 Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies
Hierdie gelykenisis vir ons, wat vanuit ’n westerse kultuur daarna kyk, ’n vreemde verhaal. Tog is dit een van die bekendste gelykenisse wat Jesus vertel het, en dit skilder ’n prentjie wat vir die Jode baie bekend was. In al sy gelykenisse het Jesus beelde gebruik wat sy toehoorders en dissipels kon verstaan. So was die verhaal van die tien maagde ook niks vreemd nie.
’n Joodse paartjie het nie weggegaan op ’n wittebrood wanneer hulle getrou het nie. Hulle het by die huis gebly en is vir ’n week lank soos ’n prins en ’n prinses deur hulle familie, vriende en bure behandel. Dit was die gelukkigste week van hulle lewens.
By elke Joodse huwelik was daar werklik tien jong meisies wat die bruid geselskap gehou het totdat die bruidegom sy opwagting gemaak het. Almal het die bruidegom verwag, en het min of meer geweet dat dit tyd was vir die huwelik, maar niemand het met sekerheid geweet presies wanneer dit kon wees nie. Dit kon enige oomblik binne ’n sekere tydsbestek gebeur, en dit was vir die bruidegom baie opwindend as hy die bruid en haar geselskap aan die slaap kon aantref. Die gewoonte was dat hy iemand voor hom sou uitstuur om sy koms aan te kondig in die strate. Dit is ook belangrik om te weet dat niemand, wanneer dit al reeds donker was, toegelaat is om sonder ’n lamp in die straat te wees nie. Wanneer die bruidegom aangekondig is en op pad was, dan het die tien jong meisies al singende en dansende voor die bruid in die straat, die bruidegom tegemoet gegaan. Dit was ’n feestelike en vrolike geleentheid, en die dorpie se mense het almal hulle slaap onderbreek en uitgekom om te deel in die vreugde. Wanneer die geselskap die huwelikslokaal bereik het, is die deure gesluit en geen laatkommers is toegelaat nie. Hierdie hele drama wat in Jesus se gelykenis afspeel, is ’n stukkie van die werklike lewe in ’n dorpie in Palestina. Dr J. A. Findley, hoof van ’n Metodiste opleidingskollege in Manchester gedurende die vorige eeu, het vertel dat hy tydens ’n besoek aan Israel, hierdie hele toneel voor sy eie oë sien afspeel het. Soos wat sy toergids dit aan hom verduidelik het, het dit vir hom gevoel asof hierdie gelykenis van Jesus, spesiaal vir hom opgevoer is.
Soos wat dit die geval is met baie van Jesus se gelykenisse, het hierdie een ’n onmiddellike en plaaslike betekenis, maar dan het dit ook ’n baie wyer universele betekenis. Die gelykenis is vir die Jode bedoel. Hulle was God se uitverkore volk. Hulle hele geskiedenis moes vir hulle ’n voorbereiding gewees het vir die koms van die Messias, die Seun van die lewende God. Hulle het talle profesieë ontvang en hulle moes Hom verwag het. In plaas daarvan was hulle geheel en al onvoorbereid, en daarom is hulle uitgesluit.
Die gelykenis bevat egter ook twee universele waarskuwings:
- Daar is sekere dinge in die lewe wat ons nie kan verkry op die nippertjie nie. ’n Student wat die hele jaar deur lyf weggesteek het, kan nie ’n dag voor die eksamen begin leer en dan verwag om te slaag nie. Net so kan ons nie, wanneer ons al die geleenthede om ons verhouding met Jesus te versterk en Hom te leer ken vir wie Hy werklik is, om gevul te word met die Heilige Gees, laat verby gaan het, op die laaste oomblik verwag dat Hy ons gaan ken nie. Jesus het ook die gelykenis vertel van die man wat die bruilof probeer bywoon het sonder dat hy bruilofsklere aangehad het. Die koning en gasheer, het hom laat uitgooi, omdat hy nie voorbereid was nie.
- Die tweede waarskuwing is dat daar sekere dinge in die lewe is wat ons nié kan leen nie. Die onwyse meisies wou die ander vyf se olie leen. Ons kan nié ’n verhouding met God leen nie. Ons moet dit vir onsself verkry. Ons kan ook nie ’n lewe waarin ons gesterf het aan onsself, van iemand anders leen nie. Dit is ’n pad wat onsself moet loop.
Dit is seker een van die ergste dinge in die lewe om te hoor, dat dit ongelukkig nou te laat is. Hoeveel te meer as dit ons ewige lewe is wat op die spel is.
Matteus 25:14-30 Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke
Net soos die gelykenis van die tien jong maagde, het Jesus in hierdie gelykenis ook ’n bekende prentjie gebruik om vir sy toehoorders iets te sê op ’n beeldryke en verstaanbare wyse. In die antieke tyd was dit nie vreemd vir ’n ryk man om sy besittings in die sorg van sy slawe vir ’n tyd lank te laat nie, omdat ’n reis baie lank kon duur. So het hierdie gelykenis ook ’n onmiddellike betekenis en les vir diegene wat dit vir die eerste keer by Jesus gehoor het, maar dit het ’n hele reeks lesse wat deur al die eeue, tot vandag toe nog, op ons as Christene van toepassing is. Omdat daar in die 1953-Afrikaanse Bybelvertaling van talente gepraat word, het hierdie gelykenis deur baie jare in die volksmond van die Afrikaners as die “Gelykenis van die talente” bekend gestaan. Dit het dikwels gebeur dat onderwysers hierdie gelykenis gebruik het om by skole se prysuitdelingsgeleenthede, die leerlinge aan te moedig om die “talente” wat hulle ontvang het, te gebruik sodat hulle beter in hulle skoolwerk kan presteer. In die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling is die Griekse woord wat gebruik is, vertaal met “muntstukke”, wat baie mense weer laat glo het dat Jesus geleer het dat hulle moes woeker met die geld wat God vir hulle gee.
’n Talent was nie ’n muntstuk nie. Dit was die gewig van ’n sekere hoeveelheid silwer. Silwer was baie waardevol, en ’n talent silwer was soveel werd as ongeveer vyftien jaar van ’n werkende man se loon. Die onmiddellike les wat ’n mens opval, is dat Jesus sy toehoorders se aandag gevestig het op die nutteloosheid van die lui slaaf. Hy het die silwer wat hy ontvang het, in die grond gaan begrawe, sodat hy dit aan sy eienaar kon teruggee presies net soos wat dit was. Die hele doel van die skrifgeleerdes en die Fariseërs was om die wet te bewaar presies net soos wat dit was. Hulle het self gesê dat hulle ’n heining rondom die wet wil bou, sodat hulle dit net so kan hou. Enige verandering, enige verbetering of enigiets nuuts, was vir hulle taboe. Hierdie metode wat hulle gevolg het, het hulle godsdiens verlam en kragteloos gemaak, en elke verhouding met God tot niet laat gaan.
Net soos die man in die gelykenis, het die ortodokse Jode geweier om na God se stem te luister, die profesieë geïgnoreer en geweier om hulle gemaklike lewenswyses in gevaar te stel. Hulle het hulself doelbewus blind gehou vir wie Jesus was. God kan niks doen met ’n persoon wie se verstand gesluit is en wat sy eie vooropgestelde idees as sy godsdiens beskou nie. Dit is waarom die Jode, en ook die slaaf in die gelykenis, veroordeel is.
Daar is egter baie meer in hierdie gelykenis wat vir ons as kosbare lesse kan dien:
- God gee aan ons verskillende vermoëns, net soos wat die een slaaf vyf ontvang het, die ander een twee en die laaste slaaf vyf. Dit is nie ons vermoëns wat saakmaak nie, dit is hoe ons dit gebruik. God verwag nooit van ons om iets te doen waartoe ons glad nie instaat is nie. Hy verwag wel van ons om die vermoëns wat ons ontvang het, ten volle te gebruik. Mense is nie op gelyke vlak wat hulle vermoëns betref nie, maar hulle kan gelyke hoeveelhede moeite doen. Dit maak nie saak of ons een talent silwer of vyf ontvang het nie, ons kan dit neerlê in God se diens.
- Die loon vir goeie werk, is nog meer werk om te doen. Die twee slawe wat met hulle vermoëns gewoeker het, is nie opdrag gegee om te gaan terugsit en te rus omdat hulle goed gedoen het nie. Hulle het nog groter opdragte en verantwoordelikhede in diens van hulle eienaar ontvang.
- Diegene wat gestraf gaan word, is hulle wat nie eers probeer het nie. Die slaaf met die een talent, sou beter daaraan toe gewees het as hy ten minste probeer het, al het hy nie daarin geslaag om wins te maak nie. Dit is altyd ’n versoeking vir die persoon wat net een talent ontvang het, om te besluit dat dit nie eers die moeite werd is om te probeer nie. Dit is altyd die moeite werd om ’n risiko aan te gaan in diens van ons Meester. Hy kan die bietjie wat ons kan doen, ’n baie groot oes laat oplewer.
- In vers 29 word ’n groot universele waarheid neergelê. Wanneer ons oor vermoëns beskik wat ons beoefen, dan sal ons dit in ’n toenemende mate al hoe beter kan gebruik. Enige sportman, kunstenaar of musikant sal dit kan bevestig. Wanneer ons iets nie gebruik nie, dan verloor ons dit. ’n Groot lewensles wat ons uit hierdie gelykenis kan leer, is dat die enigste manier om ’n gawe of vermoë te behou, is om dit in diens van God en van ons medemens te gebruik.
Matteus 25:31-46 Die profetiese rede: die laaste oordeel
Hierdie gelykenis se les is glashelder. God gaan ons oordeel op grond van ons reaksie op ander mense se nood. Sy oordeel hang nie af van al die kennis wat ons versamel het nie, die gewildheid wat ons geniet het, of die fortuin wat ons bymekaar gemaak het nie. Ons sien ook hier wat die aard van die hulp moet wees wat ons moet gee:
- Dit is hulp in die gewone, alledaagse dinge. Om vir iemand iets te ete of te drinke te gee, om siekes te help, gevangenes te besoek, ensovoorts, is alles dinge wat enigeen kan doen. Dit is nie ’n geval van groot somme geld weggee nie, of om jou naam in die annale van die wêreldgeskiedenis te laat opskryf nie. Hierdie gelykenis maak die pad na heerlikheid vir ons almal oop.
- Ons moet nie die hulp wat ons gee bereken nie. Diegene wat hulp verleen het, het nie daaraan gedink dat hulle dit vir Jesus doen en sodoende daardeur vir hulleself meriete by Hom verdien nie. Hulle het gehelp omdat dit ’n natuurlike instink was, gebore uit ’n liefdevolle hart. Diegene wat nie hulp verleen het nie, se reaksie was dat hulle wel sou gehelp het as hulle geweet het aan wie dit was dat hulle dit moes doen. Sommige mense help graag wanneer hulle lof en dank en publisiteit daardeur kan verkry. Dit is nie vrygewigheid nie; dit is versluierde selfsug en eie-ek.
- Dit is ’n wonderlike waarheid dat Jesus alle onselfsugtige hulp aan ander, as hulp aan Homself beskou. Daar is niks wat ’n ouerhart so verbly, as wanneer iemand hulp aan sy kinders verleen nie. God is ons groot Vader, en die beste manier om sy hart te verheug, is om hulp aan sy ander kinders te verleen.