Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet onsself aanvaar soos ons is want dit is hoe God ons geskep het. Aanvaarding beteken dat jy waardevol is net soos jy is. Dit laat jou toe om die ware jy te wees. Jy word nie ingedwing in iemand anders se idee van wie jy werklik is nie. Dit beteken jou idees word ernstig opgeneem omdat dit jouself weerspieël. Jy kan praat oor hoe jy binnekant voel – en iemand gee werklik om. Ware selfaanvaarding word nie in die krag van prositiewe denke, kopspeletjies of sielkunde gevind nie; dit is 'n geloofsdaad wat deur die genade van God plaasvind.
STUDIEHANDLEIDING - JAKOBUS
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Die brief van Jakobus
Agtergrond van die brief
Die brief van Jakobus het ’n opdraende stryd gevoer om in die Bybel opgeneem te word. Dit is weggelaat uit die eerste samestelling van Nuwe Testamentiese boeke, die Muratoriese Kanon, wat in 170 n.C. saamgestel is. Sommige kerkvaders deur die eeue het die brief as deel van die Geskrifte aanvaar, maar getwyfel of dit wel deur Jakobus, die broer van Jesus, geskryf is. Ander het egter weer geweier om dit as deel van die Bybelse Kanon te aanvaar. Die eerste kerkvader wat die brief onvoorwaardelik as kanoniek aanvaar het, was Augustinus (354-430 n.C.). Hy was ook oortuig daarvan dat die skrywer wel Jakobus, die broer van Jesus was. Dit was eers na hierdie aanvaarding van Augustinus, dat die brief van Jakobus volle erkenning begin kry het.
In 1546, tydens die Konsilie van Trente, het die Rooms Katolieke Kerk vir eens en vir altyd die Rooms Katolieke Bybel finaal saamgestel. Die boeke daarin is in twee groepe verdeel, naamlik die proto- en die deutero-kanonieke boeke. Die proto-kanonieke boeke was dié boeke wat reg van die begin af, sonder enige twyfel, aanvaar is. Die deutero-kanonieke boeke is dié boeke wat geleidelik hul pad na die Nuwe Testament moes verdien. Die Rooms Katolieke Kerk het Jakobus by die tweede groep ingedeel.
Die groot kerkhervormer, Martin Luther (1483-1546), het geweier om hierdie brief van Jakobus te aanvaar en sou dit baie graag heeltemal uit die Bybel wou verwyder, as hy maar net kon. Sy redes daarvoor was dat die briefskrywer te veel klem op werke gelê het en dat dit in stryd is met Paulus se lering van redding uit genade. Hy maak ook nie melding van die kruisiging van Jesus, sy opstanding of van die Heilige Gees nie. Volgens Luther bevat die brief wel uitstekende lering, maar hy het geweier om dit as gesagvol te aanvaar. Barclay is van mening dat, wanneer ons die Jakobusbrief bestudeer, dan kan ’n mens nie anders nie as om te besef dat Martin Luther se persoonlike vooroordeel, hom daarvan weerhou het om gesonde oordeel toe te pas in hierdie geval.
Die skrywer van die brief
Die skrywer gee aan ons geen praktiese inligting oor homself nie, behalwe net dat hy “ ’n Dienaar van God en die Here Jesus Christus” (Jak. 1:1) is. In die Nuwe Testament word daar van verskeie persone met dieselfde naam, Jakobus, melding gemaak. Daar is Jakobus, die seun van Alfeus (Hand. 1:13), asook Jakobus, seun van Sebedeus (Mark. 3:17), wat albei deel van die twaalf dissipels was. Daar is ook melding gemaak van ’n Klein Jakobus in Markus 15:40, maar van hom weet ons niks verder nie. Jakobus, die seun van Sebedeus, was ’n broer van Johannes, en hy kon moontlik die skrywer gewees het, maar hy is onthoof deur Herodus Agrippa in 44 n.C. Hy is dus te vroeg dood om die skrywer van die brief te kon wees.
Daar bly dan net nog Jakobus, die broer van Jesus oor. Deur verskeie bewyse uit die Nuwe Testament, kan ons aflei dat Jesus se familie nie verstaan het waarmee hy besig was nie en geen simpatie met Hom gehad het nie (Mark. 3:21). Johannes sê reguit dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie (Joh. 7:5).
Van die begin van Handelinge af, sien ons ’n duidelike, onverklaarbare verandering in sy familie se gesindheid (Hand.1:14). Van hierdie Skrifgedeelte af word dit duidelik dat Jakobus die leier van die kerk in Jerusalem geword het. Dit is ook bevestig deur die kerkvader Hieronimus, dat Jakobus vir 30 jaar lank hierdie posisie beklee het.
In 1 Korintiërs 15:5-7 skryf Paulus dat Jesus, nadat Hy opgestaan het, eers aan Sefas, toe aan die twaalf, toe aan meer as vyf honderd broers tegelyk, en toe ook aan Jakobus afsonderlik verskyn het.
Volgens die Apokriewe boek, “Die Evangelie aan die Hebreërs,” lyk dit asof Jakobus ’n eed geneem het dat hy nie weer sou eet voordat Jesus opgestaan het uit die dood nie. Jesus het dus na Jakobus toe gegaan en aan hom die versekering gegee waarna hy gesmag het. Wat in daardie oomblikke tussen hulle gebeur het, sal ons nooit presies weet nie, maar dat dit vir Jakobus verander het van ’n vyandige en onsimpatieke broer, na ’n dienskneg van die Here Jesus vir die res van sy lewe, en ’n martelaar tot die dood toe, is verseker.
Die Joodse historikus, Josephus, het berig dat Jakobus deur die hoëpriester Ananias, oorgelewer is om gestenig te word in ongeveer 62 n.C. (Antiquities, 20:9:1) ’n Ander kerkhistorikus, Eusebius, het ook hierdie gebeurtenis baie volledig weergegee en vertel hoedat die Fariseërs hom bespot en uitgelag het, omdat hy onder die mense as “Jakobus, die Regverdige”, bekend gestaan het.
Soos dit maar deur die eeue gegaan het, het teoloë allerlei teorieë gehad oor Jakobus en gewonder of hy werklik ’n bloedbroer van Jesus was. Barclay sê egter dat die Griekse woord wat elke keer gebruik is wanneer van hom gepraat is as die broer van Jesus, is adelphos, die woord vir ’n “bloedbroer”.
Kan hierdie Jakobus die skrywer van die brief wees?
Redes waarom ons dink dat dit so is:
- As Jakobus ’n brief geskryf het, sou dit definitief ’n algemene brief aan al die Joodse Christene gewees het.
- Daar is niks in die brief wat nie deur ’n goeie Jood aanvaar sou kon word nie.
- Die brief van Jakobus en die brief van die kerkvergadering in Jerusalem, begin albei met die woord “Groete” (Jak. 1:1; Hand. 15:23).
- In die brief van die kerkvergadering, word daar melding gemaak van die nie-Joodse nasies oor wie God sy Naam uitgeroep het (Hand. 15:17). In die Jakobusbrief kry ons hierdie selfde gedagte: “…die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie?” (Jak. 2:7).
Volgens hierdie kriteria lyk dit asof Jakobus beslis die skrywer van die brief kan wees. Daar is egter een groot probleem wat Bybelnavorsers deur die jare baie gepla het. Die brief is in baie goeie klassieke Grieks geskryf, iets wat’n persoon wat in ’n Aramese huis, met ’n tradisionele Joodse opvoeding, grootgeword het, nie sou kon doen nie. Die Grieks is van so ’n goeie gehalte dat dit die skrywer se huistaal moes wees.
Die mees waarskynlike oplossing vir hierdie probleem, en ook volgens Barclay die mees aanvaarbare, is dat dit ’n preek kon wees wat Jakobus in die gemeente gepreek het, en dit later deur ’n Griekssprekende persoon, in Jakobus se naam, oorgeskryf is en aan die Hellenistiese Jode wat in verstrooiing gewoon het, gestuur is. Dit verduidelik die feit dat dit in die vorm van ’n preek geskryf is, en ook dat daar nie van Jesus se opstanding en sy Messiasskap melding gemaak is nie. Dit was nie die hoofdoel van die preek en ook nie van die brief nie.
Een ding is seker, volgens Barclay, dat wanneer ons hierdie brief gelowig bestudeer, dan kan ons die Here dank dat dit bewaar gebly het vir ons onderrig en inspirasie.