Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! - Klaagliedere 3:56-57
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 1
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Die brief van Jakobus
Jakobus 1
Jakobus 1:1 Jakobus beskryf homself met ’n titel waarin sy enigste eer en glorie lê in die feit dat hy ’n dienaar van God en die Here Jesus Christus is. Judas, die skrywer van die Judasbrief, is die enigste ander Nuwe Testamentiese skrywer wat homself met hierdie woorde beskryf, sonder enige verdere kwalifikasie. Hy was ook ’n broer van die Here Jesus. Hierdie titel, doulos in Grieks, veronderstel absolute gehoorsaamheid, nederigheid, en lojaliteit. Dit impliseer ook ’n sekere mate van trots. Al die geloofshelde van die Ou Testament het as die doulos van God bekend gestaan. Deur hierdie titel vir homself toe te eien, het Jakobus homself gelykgestel aan ’n groot aantal persone wat hulle vryheid, hul vrede en hul eer gevind het in volkome onderdanigheid aan die wil van God, soos Moses, Elia, Jesaja ensovoorts.
Die brief is geadresseer aan die twaalf stamme in die verstrooiing. Die Griekse woord wat gebruik word, is Diaspora. Dit is ’n benaming wat gebruik is vir al die miljoene Jode wat om een of ander rede buite die beloofde land, verspreid oor die aarde, gewoon het. Volgens Barclay was hierdie verstrooiing van die Jode van baie groot belang vir die verspreiding van die Christendom, omdat daar oral sinagoges was waar die Christenpredikers kon begin preek. Daar was ook oral mense wat alreeds die Ou Testament baie goed geken het en hulle kennis met nuwe bekeerlinge kon deel. Hierdie verstrooiing van die Jode het met drie geleenthede plaasgevind:
- Die Noordryk, waarvandie hoofstad Samaria was, is deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer na Assirië in ongeveer 722 v.C. (2 Kon. 17:23).
- Die tweede groot wegvoering het plaasgevind in ongeveer 580 v.C., toe die Suidryk deur die Babiloniërs oorwin is en die inwoners na Babel toe weggevoer is (2 Kon. 24:14-16).
- Die derde groot uittog van die Jode het veel later plaasgevind toe die Romeinse stad Pompeius, Jerusalem oorgeneem het in 63 n.C. Baie Jode is toe na Rome geneem as slawe.
Baie Jode het vrywillig na Egipte uitbeweeg (2 Kon. 25:26) en ander ook na Sirië. Derduisende Jode is van tyd tot tyd doodgemaak, maar historiese geskiedskrywers soos Josephus het gesê dat daar geen stad of plek was, waar die Joodse wet en tradisies nie wortel geskied het nie.
Jakobus sê dat hy aan die twaalf stamme skryf. Volgens Barclay kan dit die Joodse Christene buite Palestina wees, maar ons moet ook nooit vergeet dat vir die vroeë Christene en apostels, die Christelike Kerk, die ware Israel was nie. Paulus sluit sy brief aan die Galasiërs af met die woorde: “… vrede en barmhartigheid aan die ware Israel van God” (Gal. 6:16). Ons kan dus aanneem dat hierdie brief vir die hele wyer Christelike Kerk geskryf is.
Jakobus 1:2-8 Geloof en wysheid
Jakobus wil dit baie duidelik maak dat ’n Christen se lewenspad nie ’n maklike pad is nie. Die Griekse woord wat hy gebruik en wat met “beproewinge” vertaal is, peirasmos, beteken in werklikheid om getoets te word. Elkeen wat so getoets is, kom sterker en reiner aan die ander kant uit. Hierdie selfde woord is gebruik in die Septuaginta (Griekse Ou Testament) toe die koningin van Skeba gekom het om die wysheid van Salomo te toets (1 Kon. 10:1). Abraham is ook getoets (peirazein) toe God aan hom die opdrag gegee het om Isak te gaan offer (Gen. 22:1). Die Griekse woord vir “toets” in vers 3, is dokimion. Dit is dieselfde woord wat gebruik word wanneer silwer getoets word om te kyk of dit suiwer is. Die doel van die toetse wat ons dus deurgaan, is om ons te reinig van alle onsuiwerhede.
Daar bestaan eintlik nie net een enkel Afrikaanse woord vir die
Griekse woord, hupomonē, wat in die Afrikaanse vertalings met “geduld” of “volharding” vertaal is nie. Hupomonē beteken nie net om iets geduldig te verdra nie. Dit beteken die vermoë om swaarkry so om te draai, dat die grootheid en glorie van God daarin raakgesien kan word. Talle martelare het op brandstapels tussen vlamme gestaan en lofliedere aan God gesing, terwyl hulle gesterf het. Dit is ’n vermoë, nie net om die swaarkry te verduur nie, maar om dit te oorkom en daaruit op te staan.
Die Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel vertaal die laaste deel van vers 4 so: “…sodat julle volmaak en volkome kan wees terwyl julle niks kortkom nie.”
Die Griekse woord wat Jakobus gebruik vir “volmaak,” is teleios. Dit beteken in werklikheid om só volwasse te wees, dat ’n persoon geskik sal wees vir die taak waarvoor hy deur God geroep is. Ons reaksie op elke ondervinding in die lewe, kan ons dus geskik of ongeskik maak vir dit wat God wil hê ons moet doen.
Die Griekse woord vir “volkome” wat hy gebruik, is holoklerõs. Dit beteken om in elke opsig sonder vlek of rimpel te wees. Dit is dieselfde woord wat gebruik is wanneer ’n offerdier as geskik verklaar is, om as offer vir God aangebied te word. Hierdie toetse stel ons in staat om geleidelik ons swakhede en sonde te oorwin, sodat ons geskik verklaar kan word vir diens aan God en aan mekaar.
Die Griekse woord vir “niks kortkom” nie, is leipesthai, wat in werklikheid oorwinnend beteken. Ons kan dan in oorwinning elke dag leef en geleidelik die standaard bereik wat Jesus van ons vra.
WanneerJakobus vir sy lesers sê dat hulle hul swaarkry en toetse op die regte manier moet gebruik, dan wonder ons onmiddellik waar ons die insig en wysheid kan kry om al hierdie toetse reg te gebruik. Die antwoord hierop is, dat ons dit vir God moet vra. Vir Jakobus, wat ’n Christen met ’n Joodse agtergrond was, was wysheid baie prakties. Dit is wysheid wat in die elkedag se besluite en verhoudings toegepas kan word. Wanneer ons vir hierdie wysheid vra, dan moet ons twee dinge onthou:
- Ons moet onthou hoe God gee. God gee oorvloedig en vrygewig sonder om te bereken.
- Ons moet onthou hoe ons moet vra.Ons moet vra sonder om te twyfel. Wanneer ons dan wysheid van God vra, moet ons glo dat ons sal ontvang wat God weet vir ons reg is en die beste is.