Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie toelaat dat die handjie vol kosbare aardse ure wat God jou geleen het tussen jou vingers deurglip in 'n transaksie waar jy onsigbare dinge verruil vir sigbare dinge nie – die sigbare dinge is tydelik...
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 1:9-18
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Die brief van Jakobus
Jakobus 1:9-11 Arm en ryk in die gemeente
Christenskap gee aan elke individu dít wat hy of sy nodig het. Aan die persoon wat arm is of minderwaardig voel, verleen dit selfrespek en ’n gevoel van selfwaarde. In die vroeë Kerk was daar geen klasseverskille nie. Dit was heeltemal moontlik dat die slaaf die prediker in die gemeente kon wees wat die sakramente bedien het, terwyl die eienaar van die slaaf, net ’n gewone lidmaat was. Geen indiwidu was belangriker as die ander nie. Elke mens het geleer dat hy of sy vir God kosbaar en bruikbaar is, omdat Jesus vir elkeen gesterf het.
Aan die rykes het dit balans gegee en die besef dat hulle geld nie aan hulle die ewige lewe kan gee nie. Hulle het ’n valse gerustheid en sekuriteit in hul rykdom gehad en gedink dat hulle alles kan doen omdat hulle die geld daarvoor het en dat hulle hulself uit enige moeilike situasie kan koop. Jakobus skilder hier ’n duidelike prentjie van iets wat vir die mense van Palestina baie bekend was. In daardie woestynagtige gebied, het dit soms hard gereën en dan het die groen gras vinnig uitgekom. Dit het net een dag van brandende sonskyn nodig gehad om te verbrand asof dit nooit daar was nie. Hy gebruik die Griekse woord kausõn, wat gebruik is vir die suidooste wind wat direk van die woestyn af gewaai het en Palestina getref het met ’n hitte soos dié van ‘n oop oonddeur.
Net só, soos hierdie gras, is die rykdom van die rykes, hulle wat hulle vertroue plaas in hulle besittings. Dit kan enige oomblik en met enige geleentheid van hulle af weggeneem word, want die lewe is baie onseker. Barclay sê Jakobus het waarskynlik gedink aan Jesaja 40:6-7 en Psalm 103:15-18, waar ons ook hierdie gedagte kry dat die mens baie verganklik is en God onverganklik. Mense wat hulle vertroue in hierdie aardse rykdom plaas, is dwaas, want hulle kan dit enige oomblik verloor. Dit is wys om jou vertroue te plaas in iets wat jy nooit weer kan verloor nie, soos in God, deur Jesus Christus, wat aan ons die ewige lewe gegee het. Jakobus doen dus ’n beroep op die rykes om hulle eie hulpeloosheid te besef en hulle vertroue in nederigheid, in God te plaas.
Jakobus 1:12-18 Versoeking en verleiding
Vir mense wat die beproewing deurstaan het tot die eer van die Here, is daar vreugde, nie net in hierdie lewe nie, maar ook in die lewe hierna. Onthou die Griekse woord wat hy gebruik, dokimos, het die betekenis van silwer wat van alle onsuiwerhede gereinig is, net soos in verse 2 tot 4. Dit beteken dat die swakhede in ons menslike karakter verwyder word, sodat ons sterker na vore kan kom.
In die lewe hierna, ontvang ons die kroon van die lewe. Volgens Barclay, was daar in die antieke wêreld,ten minste vier groot betekenisse vir die woord, kroon, of die stephanos:
- ’n Kroon van blomme is tydens feesgeleenthede gedra, soos troues of ander feeste (Hoogl. 3:11).
- Die kroon was ook ’n simbool van koninklikheid en is gedra deur konings en ander persone in hoë posisies. Dit was soms van goud en soms ook van linne, en is soos ’n kopband gedra (Ps. 21:4; Jer. 13:18).
- Daar was ook ʼn kroon van lourierblare as die oorwinnaarskroon tydens sportbyeenkomste. Dit was die kroon wat elke deelnemer met alles in hom, begeer het (2 Tim. 4:8).
- Laastens weet ons van die kroon van eer en waardigheid. In Spreuke 1:9 lees ons dat ’n kind wat aan sy ouers gehoorsaam is en luister wat hulle hom leer, ’n lieflike krans vir sy hoof en sierlike kettings vir sy nek sal ontvang. Wysheid is ook ’n sierlike kroon vir so ’n persoon se hoof (Spreuke 4:9).
Barclay sê ons hoef glad nie tussen hierdie vier betekenisse te kies nie. Al vier is van toepassing. Christene het ’n vreugde wat geen ander persoon ooit kan hê nie. Die lewe is vir hulle altyd ’n fees. Hulle het koninklikheid wat geen ander mens ooit kan hê nie. Al is hulle aardse omstandighede ook hoe nederig, is hulle kinders van die Koning van die konings. Hulle kan dít oorwin wat niemand anders ooit kan regkry nie, want hulle kan die probleme en swaarkry van hierdie lewe oorwin deur die krag en die teenwoordigheid van Jesus Christus en die Heilige Gees. Hulle het ’n nuwe eer en aansien, want hulle is altyd bewus daarvan dat hulle vir God soveel werd was, dat Jesus Christus sy lewe vir hulle wou gee.
Hierdie kroon, is die kroon van die lewe, wat beteken dat dit uit lewe bestaan. Dit gee aan ons ’n nuwe soort lewe, ’n lewe in oorvloed, deur Jesus Christus (Joh. 10:10).
Jakobus spreek in verse 13 tot 15 diegene aan wat vir God die skuld gee vir die versoeking waarin hulle kom. Die Jode het, uit ervaring, tot die slotsom gekom dat daar in elke mens twee neigings is; die neiging tot goed en die neiging tot kwaad. God het die mens gemaak en aan hom ’n eie keuse en ’n vrye wil gegee. Volgens die Joodse rabbi’s het hierdie neiging tot kwaad sy oorsprong in die Tuin van Eden gehad. In die Boek van Henog kry ons twee teorieë vir die ontstaan van sonde:
- Die gevalle engele is verantwoordelik daarvoor (1 Henog
64. Dit stem ook ooreen met Genesis 6:1-5).
- Die mens self het sonde geskep (1 Henog 98:4).
Al hierdie teorieë druk die verantwoordelikheid net al hoe verder terug in die verlede. Daar was selfs rabbi’s wat so ver gegaan het om te sê dat, aangesien God alles gemaak het, het Hy ook die boosheid gemaak. Van die begin af was dit die mens se instink om die skuld vir alles wat verkeerd gaan, op ander te pak. Adam het vir Eva die skuld gegee, Eva het weer die slang die skuld gegee, maar Jakobus weerlê hierdie siening. Elke mens word versoek deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Begeerte is iets wat vertroetel en gevoed kan word, maar dit kan ook beheer word en deur die genade van God, uitgeskakel word. Mense kan hulle gedagtes toelaat om ’n sekere rigting in te slaan, hulle oë op sekere dinge te fokus en sodoende hulle eie begeertes stimuleer. Mense kan hulself oorgee aan Christus en besig wees met goeie dinge, sodat daar nie meer plek of tyd in hulle lewens is vir bose dinge nie. Barclay sê Satan vind ledige hande om sy bose dinge te doen; dit is ongedissiplineerde gedagtes en harte wat nie aan God toegewy is nie, wat vatbaar is vir sy misleiding.
Die 1983-Afrikaanse Vertaling sê in vers 15, dat wanneer sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Die oorspronklike Griekse vertaling, volgens Barclay, het egter ’n effens ander betekenis. Die Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel stel dit so: “Dan, nadat die begeerte swanger geword het, gee dit geboorte aan sonde, en wanneer die sonde sy loop geneem het, verwek dit dood.” Die Griekse woord wat met “verwek” vertaal is, is dieselfde woord wat gebruik word wanneer ’n dier geboorte skenk. ’n Mens wat toelaat dat hy só deur sonde en begeerte oorheers word, daal dus af na die vlak van diere.
Die grootste waarde van hierdie gedeelte, lê in die feit dat elke mens sy eie verantwoordelikheid vir sy sonde dra; ’n getroetelde begeerte word so ’n groot sonde dat dit uitloop op die dood; terwyl dit ons eerder na die genade van God moet laat draai. Dit is die enigste plek waar ons gereinig kan word en dit is tot elkeen se beskikking.
Jakobus beklemtoon in verse 16 tot 18 weer die feit dat elke gawe wat van God af kom, goed is. Niks wat van God af kom, is nie goed nie. Veranderlikheid is ’n eienskap van alles wat geskep is, soos die sterre en die planete, maar God, wat die Skepper daarvan is, verander nooit.
In antieke Israel, was dit ʼn wet dat al die eerstes van die oes aan God, as ’n dankbare offer gebring moes word. Dit het aan Hom behoort. Net so, wanneer ons weergebore word deur die waarheid van die evangelie, word ons God se besitting.