Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe gelukkig is die mens uit wie se mond geen bitter woorde kom nie en met ‘n bietjie humor van distels rose kan maak!
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 3
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Die brief van Jakobus
Jakobus 3:1-12 Beheersing van die tong
In die vroeë Kerk was die rol van ’n leermeester van baie groot belang en hulle is ook met groot agting behandel. Die Griekse woord wat Jakobus hier gebruik vir leermeesters, is didaskaloi. Dit is dieselfde woord waarvandaan ons Afrikaanse woord, “didaktiek”, wat “lerende onderwys”, beteken, afgelei is. In 1 Korintiërs 12:28 noem Paulus diegene wat onderrig gee, as een van die lys van sommige ledemate wat God aan sy gemeente, die liggaam van Christus, gegee het. Die apostels en die profete het altyd rondgereis en het nooit lank in een gemeente gebly nie. Die mense wat onderrig gegee het, het in die gemeente gebly en ’n baie belangrike werk gedoen om die nuwe bekeerlinge te leer en op te voed in die Christelike geloof.
Ons lees in die Nuwe Testament van sulke onderwysers wat hulle posisies misbruik het en die gemeente met vals leringe probeer beïnvloed het. In Handelinge 15:24 sien ons dat daar leermeesters was wat probeer het om Christenskap weer om te swaai na ’n soort Judaïsme en wetsonderhouding. Daar was ook leermeesters wat self nie geleef het soos wat hulle die gemeente geleer het nie (Rom. 2:17-29). Dan was daar ook leermeesters wat ander mense probeer leer het, terwyl hulle self niks geweet het nie (1 Tim. 1:6-7). En dan, die hartseerste van almal, was daar leermeesters wat sélf aan die versoekinge van hierdie wêreld toegegee het (2 Tim. 4:3).
Waaroor Jakobus bekommerd is, is die feit dat Christen leermeesters vanuit ’n gevaarlike agtergrond kom. Hulle moes die plek van die rabbi’s inneem. ’n Rabbi is met baie groot respek behandel en daar was selfs in die Joodse kultuur ’n gewoonte om ’n persoon se verantwoordelikhede teenoor sy ouers ondergeskik te stel aan dié van sy rabbi (Mark. 7:11). ’n Rabbi is nie toegelaat om geld te aanvaar vir sy lering nie en hy was veronderstel om vir sy eie onderhoud te voorsien deur een of ander ambag te beoefen. Die samelewing het dit as ’n baie vroom en edele taak gesien wanneer iemand ’n rabbi in sy huis ingeneem het en vir hom voorsien het in sy daaglikse behoeftes. Dit was dus gevaarlik maklik vir ’n rabbi om in ’n geestelike tiran te verander wat ’n groot ophef van sy vroomheid en kennis gemaak het. Hulle het daarvan gehou om die beste sitplek by elke funksie te kry en om deur die publiek raakgesien te word. Volgens Barclay is daar geen ander werk wat meer aanleiding kon gee vir geestelike en intellektuele hoogmoed, as ’n geestelike leermeester nie (Matt. 23:4-7).
Barclay beklemtoon dit baie ernstig dat ’n leermeester altyd twee dinge moet onthou:
- Hy moet altyd die waarheid leer en nie sy eie opinies nie. Dit is baie maklik om in ’n strik te trap om God se waarheid so te draai dat dit die leermeester pas.
- Hy moet baie versigtig wees dat sy eie optrede nie in stryd is met dít wat hy leer nie.
Jakobus waarsku sy gemeente ernstig dat as hulle die verantwoordelikheid kies om ander te wil leer, dan moet hulle onthou dat hulle strenger as ander mense beoordeel sal word.
In vers 2 lig Jakobus twee aspekte van ons Christenlewe uit:
- Die eerste is dat daar niemand op aarde is, wat nie op een of ander manier sonde doen nie. Die woord wat Jakobus hier gebruik vir sonde, beteken dieselfde as in Galasiërs 6:1 waar Paulus ook sê ons moet mekaar ophelp wanneer iemand “struikel” of “gly”. Hy sê met ander woorde, dat niemand ooit die Christenpad stap sonder om te gly of te struikel nie. Johannes sê in 1 Johannes 1:8, dat as ons dink dat ons nooit sondig nie, dan bedrieg ons onsself. Die Prediker skryf in Prediker 7:20: “Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nooit sondig nie.” Selfs die Griekse filosowe, soos Seneca, het erken dat alle mense sonde doen, sommige net bietjie meer as ander, en hulle was nie eers Christene nie.
- Die tweede is dat daar geen sonde of struikeling is waarin ons makliker kan val as die sonde met dit wat ons sê nie. Daar is ook geen sonde wat groter skade kan aanrig as dit wat ons sê nie. Jesus sê in Matteus 12:36-37 dat ons vir elke ligsinnige woord sal rekenskap gee en op grond van ons eie woorde vrygespreek of veroordeel sal word. Hy het dit gesê net nadat die Fariseërs Hom daarvan beskuldig het, dat Hy met die duiwel saamwerk om bose geeste uit te dryf. Sy antwoord daarop was, dat waarvan die hart vol is, loop die mond van oor. In woede of onbewaakte oomblikke, sê ons dít wat eintlik in ons harte aangaan en waarmee ons die meeste pyn en hartseer veroorsaak.
In verse 3 en 4 gebruik Jakobus weer twee van sy mooi illustrasies. Die eerste gaan oor ’n stang in ’n perd se bek waarmee sy hele liggaam beheer kan word. Die tweede illustrasie gaan oor die klein roertjie waarmee ’n baie groot skip aangedryf word. Al is die winde ook hoe sterk, kan die stuurman die skip daarmee beheer.
Net so, al is die tong ook so ’n klein liggaamsdeeltjie, kan die hele liggaam daarmee beheer word. Jakobus pleit geensins daarvoor dat ’n mens net moet stilbly nie, veral nie uit vrees dat ’n mens iets verkeerd sal sê nie. Hy pleit vir beheer van die tong.
In verse 5 en 6 vertel Jakobus van ’n klein vuurjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. Die prentjie van ’n vuur in ’n woud en die ontsettende skade wat dit kan aanrig, was bekend onder die Jode en kom dikwels in die Ou Testament voor (Ps. 83:15). Jesaja sê in Jesaja 9:18-19: “Onder die straf van die Here die Almagtige brand die land weg, die volk het vuurmaakhout geword; die een mens bekommer hom nie oor die ander nie.” Lees ook Sagaria 12:6. In die droë seisoen was die gras en bosse in Palestina so droog soos papier en wanneer dit vlam gevat het, was daar geen keer aan nie.
Daar is twee redes waarom die skade wat die tong kan aanrig, soos ’n vuur is:
- Dit versprei baie wyd en ver. Die Psalmdigter sê in Psalm 73:9 dat die goddeloses links en regs op die aarde beledig.
- Die tweede rede is dat dit onbeheerbaar is. Net soos wat ’n droë bos in Palestina onmiddellik buite beheer was wanneer dit vlam gevat het, net so kan niemand die skade wat ’n tong aanrig, beheer nie.
In vers 6 lees ons dat die tong ’n “wêreld vol ongeregtigheid” is. Die Griekse woord vir wêreld wat Jakobus gebruik, is kosmos. Elke keer wanneer ons in die Nuwe Testament van die kosmos lees, dan veronderstel dit die “sondige wêreld”, “die wêreld sonder God”. Lees gerus Johannes 14:17; 14:22; 15:18-19; 18:36; 1 Korintiërs 1:20; Romeine 12:2. Dit is almal voorbeelde van waar die Griekse woord kosmos gebruik is, bedoelende “die wêreld sonder God.” Ons kan dus sê dat ’n ongedissiplineerde tong soos ’n wêreld is wat vyandig teenoor God is, en die hele liggaam kan besmet. In die laaste gedeelte van vers 6 gebruik Jakobus die Griekse woorde trochos geneseõs, waarvan die letterlike betekenis “die wiel van bestaan” is. Wat Jakobus eintlik hiermee sê, is dat die tong so ’n vernietigende vuur kan aansteek, dat dit jou totale lewe, van jou geboorte tot jou dood, en daarna, kan verwoes. Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit baie mooi: “Die tong kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan.”
Volgens Barclay verwys Jakobus waarskynlik in verse 7 tot 8 na Genesis 9:2 waar die Here vir Adam en Eva gesê het dat Hy al die diere, groot en klein, tot hulle beskikking stel. Dawid sê ook in Psalm 8:7 dat die Here aan die mens mag gegee het oor al die dinge en diere van die aarde. Die mens het al daarin geslaag om letterlik enige wilde dier mak te maak en te beheer, maar niemand kon dit nog ooit met ’n tong regkry nie.
Jakobus verwys in verse 9 tot 12 na iets wat ons almal goed ken. Ons is almal bewus daarvan dat daar iets van ’n gespletenheid in die menslike natuur is. Elkeen van ons is soms ’n held en soms ’n lafaard; ons is almal soms vreeslik vroom en soms baie sondig. Jakobus is oortuig daarvan dat hierdie teenstelling nêrens méér sigbaar is, as in die tong nie, en dit moet nie so wees nie. Vir hom is dit onnatuurlik, net soos wat dieselfde fontein nie soet en brak water kan voortbring nie. Selfs die apostels het soms teenstellende dinge gedoen en gesê. Petrus het die een oomblik vir Jesus gesê dat hy saam met Hom sal sterf (Matt. 26:35) en by die volgende geleentheid het hy Jesus met vloekwoorde verloën (Matt. 26:69-75).
Dieselfde Johannes wat gesê het: “Liewe kinders, ons liefde moet nie net woorde en lippetaal wees nie” (1 Joh. 3:18), wou ’n vuur uit die hemel roep om ’n Samaritaanse dorpie te verwoes (Luk. 9:54). Dit is een van die moeilikste pligte op ’n Christen se lewenspad, om toe te sien dat dit wat sy tong sê, nie dít wat God graag sou wou hoor, weerspreek nie.