Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ware vreugde ontdek jy slegs deur die krag van gebed en die werking van die Heilige Gees.
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 4:1-10
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Jakobus 4:1-10 Waarskuwing teen wêreldliefde en hoogmoed
Die Nuwe Testament is baie duidelik daaroor dat hierdie oorweldigende begeertes van die mens ’n baie groot gevaar vir ons geestelike lewe is. Jesus het gesê: “Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie” (Luk. 8:14). Paulus skryf aan sy geloofskind,Titus:“Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en in jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat” (Tit. 3:3).
Die belangrikste keuse wat elke mens in sy lewe moet neem, is om te kies tussen jou eie genot, of om God te plesier. ’n Wêreld waar mense kies om hulleself bo alles te plesier, word ’n slagveld van barbaarsheid en verdeeldheid.
Wanneer ’n lewe deur begeertes oorheers word, het dit verseker die volgende gevolge:
- Dit laat mense baklei. Soos Jakobus dit sien, het dit oorlogskrag. Dit veroorsaak nie net oorlog in so ’n persoon se innerlike nie, maar dit laat mense teen mekaar oorlog maak. Die mens se basiese begeerte is altyd vir dieselfde dinge: geld, mag, aansien, aardse besittings en die bevrediging van fisiese drange.Wanneer almal daarna strewe om dieselfde begeertes te bevredig, dan word hulle lewens een groot, kompeterende stadion. Mense vertrap, verwoes en vermoor mekaar in ’n poging om te gryp en te
kry wat hulle wil hê. Gehoorsaamheid aan die wil van God daarenteen, bring mense nader aan mekaar, want hulle weet dan dat hulle mekaar behoort lief te hê en te dien.
- Die hunkering na genot en plesier dryf mense daartoe om dinge te doen waaroor hulle later skaam voel. Dit dryf hulle tot jaloesie, vyandskap en selfs moord. Voordat mense tot sulke dade oorgaan, vind daar eers ’n emosie in hulle binneste plaas wat getroetel word en hulle gedagtes begin oorheers, sodat hulle begin planne maak in hulle verbeelding. So groei dit en lei dan tot verwoestende optrede.
- Hierdie hunkering na aardse genot kom staan op die ou einde tussen ons en God. Wanneer ons gebede so selfsugtig raak, dat dit net oor onsself en ons eie begeertes gaan, dan is dit nie vir God moontlk om dit te beantwoord nie. ’n Ware en opregte gebed is om vir die Here te sê: “Laat U wil geskied!” Ons het altyd ’n keuse of ons ons lewens net om onsself, ons eie behoeftes en ons eie begeertes gaan laat draai. Ons moet net onthou, as dít ons keuse is, dan sny ons onsself af van ander mense, maar bowenal van God.
In vers 4 spreek Jakobus die “ontroues” aan. Die Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel, gebruik die woord “owerspeliges.” Volgens Barclay, moet hierdie woord nie letterlik opgeneem word nie, maar gesien word as geestelike owerspel. Die hele idee is afkomstig van die bekende Ou Testamentiese konsep van Yahweh as die man van Israel en Israel as die vrou van God (Jes. 54:5; Jer. 3:20). Om ’n verbond te sluit met die afgode van ’n vreemde land en offers aan hulle te bring en te ondertrou met afgodsdienaars, is geestelike prostitisie (Eks. 34:15-16). Die profeet Hosea het gekla dat Israel ontrou was aan hulle God (Hos. 9:1). Volgens Barclay mag hierdie manier van praat dalk vreemd klink vir ons moderne ore, maar daar is iets baie kosbaar in saamgevat. Dit beteken dat ons verhouding met God nie ’n onpersoonlike afstandsverhouding is soos dié van ’n eienaar en ’n slaaf nie, maar soos die intieme verhouding van ’n man en ’n vrou. Dit beteken dat ons God se hart kan breek, soos wat ’n ontroue huweliksmaat se ontrouheid die ander se hart kan breek.
Ons moet in gedagte hou dat Jakobus hier vir Jode gepreek het, en dat dit vir hulle ’n baie bekende beeld was. Vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, is die beeld van Jesus en sy Bruid, meer bekend, maar ook net so kosbaar.
Wanneer Jakobus sê dat vriendskap met die wêreld, vyandskap met God is, dan is dit belangrik om te verstaan wat hy daarmee bedoel:
- Jakobus bedoel nie daarmee dat ons niks in hierdie wêreld mag besit of geniet nie. Hy sou saamgestem het dat die skepping God se handewerk is en dat ons, net soos Jesus, onsself daarin mag verlustig en dit geniet.
- Ons het al reeds gesien dat wanneer ons lees van die kosmos, dan word bedoel die “wêreld sonder God”. Paulus skryf in sy brief aan die Romeine: “Die dinge waarmee die sondige natuur hom besig hou, is immers vyandskap teen God” (Rom. 8:7). Aan Timoteus skryf Paulus “…want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat …” (2 Tim. 4:10).
- Jesus het gesê: “Niemand kan vir twee base werk nie …Julle kan nie God en Mammon dien nie” (Matt. 6:24). Ons kan ons tyd gebruik om ons naaste te dien en só ons voorberei op die ewigheid, of ons kan die wêreld gebruik en daardeur opgeslurp word, en sodoende toelaat dat dit ons baas word.
Vers 5 is besonder moeilik. Jakobus sê dat dit in die Skrifstaan, maar hy gee geen aanduiding van waar dit staan nie. Dit kan wees dat hy aanhaal uit ’n boek wat verlore gegaan het, en wat hy as gesagvol beskou het, of dit kan ook wees dat hy dalk in een sin opsom wat vir hom die ewigheidsbetekenis van die Ou Testament is. Barclay sê ook dat dit moeilik is om dit uit Grieks te vertaal, maar dit is duidelik dat God ’n jaloerse God is, en nie van wedywering hou nie. Die Ou Testamentiese skrywers was nooit bang om die woord “jaloers” aan God se karakter te koppel nie. Lees gerus Deuteronomium 32:16; 21; Eksodus 20:5; 34:14;
Sagaria 8:2.
Dit is dalk vandag moeilik om die woord “jaloers” met God te vereenselwig, omdat dit ’n negatiewe betekenis gekry het, maar die wonderlike waarheid is, dat God die liefhebber van ons gees is, en die feit is dat ’n mens net verlief kan wees op, en volkome toegewy kan wees aan, een persoon op ’n slag, soos ons aan God behoort te wees.
As God dan so ’n groot toewyding van ons verlang, hoe kan ons dit regkry? (vers 6). Jakobus se antwoord op die vraag is, dat die genade wat Hy gee, nog groter is. Genade het egter een groot eienskap: ons kan dit nie ontvang as ons nie besef dat ons dit nodig het nie, en dan na God toe gaan en nederig daarvoor pleit nie. Jakobus haal aan uit Spreuke 3:34 waar geskryf is: “…aan die ootmoediges gee Hy genade (1953-Afrikaanse Vertaling). Petrus gebruik hierdie selfde aanhaling in sy brief in 1 Petrus 5:5.
Die Griekse woord vir trots wat hier gebruik word, huperĕphanos, se letterlike betekenis is om jouself beter as ander te ag. Die probleem met trots, is dat dit ’n ding in ’n mens se hart is. Iemand wat daaraan ly, kan dit ook baie goed wegsteek. Hierdie soort trots sny ons van God af omdat so ’n persoon homself so bewonder, dat hy nie sy eie behoefte besef nie. So ’n persoon troetel sy eie onafhanklikheid so, dat hy God nie nodig het nie en hy nie sy eie sonde kan erken nie.
Die nederigheid waarvoor Jakobus hier pleit, is nie ’n ineenkrimpende onderdanigheid nie. Hierdie soort nederigheid het twee groot eienskappe:
- Die eerste is om te weet dat die duiwel homself as ’n lafaard sal openbaar wanneer ons teen hom te staan kom. Die vroeë Christene het geweet dat die duiwel hulle sou aanval, maar dat hy hulle nie kan oorwin nie. Petrus skryf dieselfde wanneer hy in 1 Petrus 5:8-9 sê: “Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand … Hóm moet julle teëstaan deur standvastig in julle geloof te bly” (Nuwe Lewende Vertaling). Christene het hierdie soort nederigheid wanneer hulle weet dat hulle moet veg teen hierdie versoeker, nie in hulle eie krag nie, maar in die krag wat God aan hulle gee.
- Mense met hierdie soort nederigheid, weet hulle het die grootste voorreg van almal, toegang tot God se teenwoordigheid. In die tyd van die Ou Testament het net priesters toegang tot God gehad. Deur die versoeningswerk van Jesus Christus, kan ons nou met vrymoedigheid voor die troon van God verskyn om genade te ontvang (Heb. 4:16).
In verse 8 tot 10 praat Jakobus met die sondaars. Die Griekse woord wat hy gebruik is hamartõlos, wat ’n geharde sondaar beteken, diegene wat opsigtelik en moedswillig ongehoorsaam is en ’n korrupte lewe lei. Van sulke mense vereis Jakobus ’n lewensverandering. Hulle moet rein hande en harte hê. (Vergelyk Ps. 24:4). Die Ou Testamentiese priesters moes hulleself was voordat hulle vir diens kon aanmeld (Eks. 30:19-21; Lev. 16:4). Ortodokse Jode het ’n seremoniële handewas uitgevoer voordat hulle geëet het (Mark. 7:3). Jesus se antwoord aan die Fariseërs, toe hulle wou weet waarom die dissipels nie hulle hande was voor hulle eet nie, se antwoord was: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af” (Mark. 7:6). In 1 Timoteus 2:8 dring Paulus daarop aan dat mans “ ...met ’n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis.” Die etiese vereiste van die Bybel, sê Barclay, is skoon lippe (Jes. 6:5-6), skoon hande (Ps. 24:4), skoon harte (Ps. 73:13) en skoon gedagtes (Jak. 4:8). Jesus het gesê: “Gelukkig is hulle wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8 Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel).
Barclay sê ons moet nie in hierdie gedeelte iets lees wat Jakobus nie bedoel het nie. Hy misken nie die vreugde van ’n Christenlewe nie. Hy doen hier twee dinge:
- Eerstens pleit hy vir ’n sober en rein lewe.
- Tweedens beskryf hy die begin van ’n Christen se lewe, en nie die einde nie.
Die Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel vertaal vers 9 se begin so: “Wees treurig …” Die Griekse woord wat Jakobus gebruik, is talaipõrein. Dit is ook ’n moeilike woord om te vertaal, maar het die betekenis van om te besef dat al jou aardse weelde, rykdom, gemak en genot aan jou geen beskerming of sekuriteit kan bied nie. Wanneer Jakobus sê ons moet treur, dan beskryf hy die eerste tree van ’n Christen se lewe, wanneer hy met God en sy sonde gekonfronteer word. Die geweldige hartseer van sondebesef verander in groot vreugde by die wete dat ons sonde vergewe is. Jesus het ook gesê: “Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4).
Jakobus sluit hierdie gedeelte af in vers 10, deur ’n beroep te doen op Goddelike nederigheid. Regdeur die Bybel sien ons die oortuiging dat slegs die nederige, die seën van die Here kan ken. (Job 22:29; Spr. 29:23; Jes. 57:15; Matt. 23:12; Luk. 14:11). Dit is net wanneer iemand sy eie onkunde besef, dat hy God se leiding vra. Dit is net wanneer iemand sy eie armoede in dit wat werklik saakmaak, besef, dat hy smeek vir die rykdom van God se genade.
Dit is net wanneer iemand sy eie swakheid besef, dat hy op God se krag kan staat maak. Net so is dit net wanneer iemand van sy eie sonde bewus is, dat hy sy nood aan ’n Redder besef.
Daar is in hierdie lewe een sonde wat die basis van alle ander sondes is, en dit is om te vergeet dat ons skepsele is en God die Skepper. Wanneer ons dít onthou, dan besef ons ons eie hulpeloosheid en draai ons na die enigste bron wat ons kan help.