Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle mense moet sterf. Maar natuurlike oorsake klink meer aanvaarbaar as onnatuurlike oorsake. Die Afrikanervolk kan net so onnatuurlik uitsterf as waarvan Jesus in Luk 13 waarsku dat die res van die volk net so sal sterf soos dié wat reeds vermoor is as die volk hulle nie wil bekeer nie – dit is die voorwaarde. Die oproep tot bekering wat op dowe ore val maak 'n mens bang. Bid dat ons volk vandag sal terugkeer na ons God sodat ons nie almal onnatuurlik hoef te sterf nie!
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 5
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Jakobus 5:1-6 Waarskuwing aan rykes
Dwarsdeur hierdie gedeelte is elke woord wat Jakobus gebruik, baie sorgvuldig gekies om ’n duidelike, visuele prentjie te skep van dit wat hy wil sê. In die eerste drie verse is dit sy doel om die absolute nutteloosheid van aardse rykdom te beklemtoon. Hy sê eintlik aan die rykes dat as hulle geweet het wat hulle aanvang, dan sou hulle huil en kerm as hulle geweet het wat vir hulle wag met die oordeelsdag. Die prentjie is nog meer visueel wanneer ons verstaan dat die Griekse woord wat hy gebruik, ololuzein, is wat ons in Afrikaans “klanknabootsing” noem. Met ander woorde, dit maak die klank na van iemand wat hardop huil en skree en ween uit vrees vir die verskrikking van die dag van die Here (Jes. 13:6; 14:31; 15:2-3; 16:7; 23:1; 23:14; 65:14; Am. 8:3).
In die antieke wêreld was duur klere ’n simbool van rykdom. Josef het vir sy broers nuwe klere gegee (Gen. 45:22). Akan het ’n ramp oor sy volk en die dood oor sy familie laat kom vir ’n baie mooi kledingstuk uit Sinar wat hy teen die bevel van die Here vir hom as buit geneem het (Jos. 7:21). Nou sê Jakobus dat hierdie klere, wat hulle rykdom is, deur die motte opgevreet sal word. Jesus het gesê dat ons nie vir ons skatte op die aarde moet bymekaar maak waar mot en roes dit wegvreet nie (Matt. 6:19).
Ons sien in vers 3 dat selfs hulle goud en silwer, waaraan hulle so baie waarde heg, deurgeroes sal wees in die oordeelsdag en dit sal vir hulle as bewys dien van die absolute tydelikheid en waardeloosheid van aardse dinge. Die vreeslike begeerte vir aardse weelde, is soos roes wat in mense se liggame en siele invreet. Die laaste sin van hierdie vers is soos ’n waarskuwing. Die enigste skat wat mense wat hulle lewens aan die vergader van aardse rykdom gewy het, sal besit, is ’n verterende vuur wat alles sal uitwis.
Volgens Barclay is daar geen ander Bybelboek wat oneerlike en gulsige rykdom en inhaligheid en selfsug so sterk veroordeel, soos die Jakobusbrief nie. Die profeet Amos het geprofeteer oor mense wat hulle luukse blyplekke vol rykdom vergader wat deur diefstal en geweld in die hande gekry is (Am. 3:10). Jesaja het gewaarsku teen diegene wat huis op huis inpalm en die een plaas na die ander in die hande kry (Jes. 5:8). Die Spreukeskrywer sê dat hy wat op sy rykdom staatmaak, tot ’n val sal kom (Spr. 11:28). Jesus het gesê: “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg” (Luk. 6:24). Paulus stel dit baie mooi en duidelik in sy brief aan Timoteus wanneer hy vir hom skryf dat mense wat begeer om ryk te wees, in versoeking val en hulle in strikke van sinlose en skadelike begeertes vasloop wat mense in die verderf laat beland (1 Tim. 6:9).
Van alle boeke, deur alle eeue heen, in enige taal of kultuur, was daar nog nooit ’n boek wat só ernstig gewaarsku het, teen die gevaar en verantwoordelikheid van oorvloedige aardse besittings, soos die Bybel nie.
Die Bybel is reg van die begin van die Ou Testament af, baie duidelik daaroor dat ’n arbeider sy loon werd is en dit moet ontvang. Toe Moses die volk bymekaar geroep het, en aan hulle die voorskrifte en bepalings van die Here gegee het waarvolgens hulle moes lewe, het hy ook vir hulle gesê: “Jy mag nie ’n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al ’n volksgenoot is, of ’n vreemdeling wat by jou woon in een van jou land se stede. Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees” (Deut. 24:14-15). Ander soortgelyke Skrifgedeeltes is Levitikus 19:13; Spreuke 3:28; Jeremia 22:13; Maleagi 3:5; Lukas 10:7; 1 Timoteus 5:18. In elke deel van die Bybel kry ons die lering dat die almagtige God van die heelal, begaan is oor elkeen wat werk vir sy geld. ’n Dagloner in Palestina het vir ’n hongerloon gewerk en dit was nie vir hom moontlik om te spaar nie. As hy nie sy geld ontvang het nie, selfs net vir een dag nie, dan kon hy en sy gesin nie eet nie.
Die 1983-Afrikaanse Vertaling gebruik in vers 5 die woorde: “julle smul na hartelus”. Die Nuwe Lewende Vertaling het dit vertaal met: “na hartelus elke behoefte bevredig.” Barclay sê dat die Griekse woord wat Jakobus hier gebruik, spatalan, iets baie erger beteken. Dit is ’n skaamtelose, wellustige lewe van brassery en losbandigheid. Die woord is ’n veroordeling van rykes wat hulleself só selfsugtig in hulle rykdom verlustig, dat hulle alle verantwoordelikheid teenoor hulle naaste vergeet het.
Elkeen wat kies om hierdie pad te stap, kies ook die einde van die pad. Die einde van elke vetgemaakte bees, is om geslag te word vir een of ander feesgeleentheid. Net so word elke man en vrou wat so ’n luukse, selfsugtige, hebsugtige lewe lei, soos beeste wat vetgemaak word vir die oordeelsdag. Die einde van al hulle sinlike genot is hartseer en die dood. Selfsug lei altyd na vernietiging van ons siel en gees.
Jakobus verwys heel waarskynlik in vers 6 na Jesus. Petrus sê in Handelinge 3:14: “Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ’n moordenaar begenadig moet word.” Volgens Ananias het God vir Paulus uitgekies om die Regverdige te sien en sy stem te hoor (Hand. 22:14). Petrus sê ook in sy eerste brief, dat Christus een maal vir die sondes gely het, die onskuldige vir die skuldiges…(1 Pet. 3:18). Jesus het geen weerstand gebied nie. Jesaja het geprofeteer: “Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie gekla nie” (Jes. 53:7). Volgens Barclay kan dit wees dat Jakobus aan die rykes wil sê dat in hulle selfsugtige onderdrukking van die armes, hulle Jesus Christus weer kruisig.