Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
...Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking; want hulle sê Die HERE het die land verlaat, en die HERE sien nie. Daarom ook, wat My aangaan, my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal hulle wandel op hulle hoof laat neerkom – Esègiël 9.
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 5:7-11
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Jakobus 5:7-11 Volharding
Die vroeë kerk was oortuig daarvan dat Jesus se terugkoms baie naby was, en Jakobus bemoedig sy mense deur te sê dat hulle geduldig moet wag, net soos wat ’n boer geduldig wag vir sy oes. Hy weet dat die oes eers die vroeë reën, en dan ook die laat reën nodig het om ’n goeie oes op te lewer. Die reën was baie belangrik vir ’n boer in Palestina en ons lees dikwels daarvan in die Bybel. (Deut. 11:14; Jer. 5:24; Joël 2:23) Net so, soos wat ’n boer weet dat ’n oes op die regte tyd ’n goeie oes lewer, net so sal Jesus se terugkeer op die regte tyd, ’n goeie oes lewer. Vergelyk Jesus se gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matt. 13:29). Terwyl hulle wag, moet hulle die tyd ten beste gebruik om hulle geloof te versterk. Paulus het graag sy lesers aangemoedig om die “tyd uit te koop” (Efes. 5:16; Kol. 4:5).
Die Nuwe Testament gebruik drie verskillende woorde wanneer van die tweede koms van Jesus Christus gepraat word:
- Die eerste is parousia. Dit is ’n woord wat onder andere gebruik is wanneer ’n koning of goewerneur aangekom het in ’n provinsie in sy koninkryk. (Matt. 24:3; 1 Tes. 2:1 1 Kor. 15:23; 1 Joh. 2:28).
- Die tweede is epiphaneia. Dit is ’n woord wat gebruik is wanneer ’n god aan sy aanbidders verskyn het. (Tit. 2:13; 2 Tim. 4:1; 2 Tess. 2:9).
- Die derde woord wat gebruik word, is apokalupsis, wat “blootlê” of “openbarend” beteken (1 Pet. 1:7; 1:13).
Ons kan dus die tweede koms van Jesus, volgens die skrywers van die Nuwe Testament, in drie punte saamvat:
- Dit gaan die aankoms wees van Jesus as Koning in die aardse deel van sy koninkryk.
- Dit gaan die gebeurtenis wees wanneer God persoonlik aan almal wat Hom aanbid, gaan verskyn en sy troon tussen hulle gaan vestig.
- Dit gaan die oomblik wees wanneer God sy hemelse heerlikheid in volheid aan die wêreld gaan openbaar.
Wanneer ons kyk na wat die Nuwe Testament vir ons leer oor hierdie tweede koms van die Here Jesus, dan is daar twee belangrike dinge wat uitgelig moet word:
- Niemand weet wanneer dit gaan wees nie. Jesus het gesê dat Hyself nie eers weet nie, net God sy Vader weet (Matt. 24:36).
- Dit gaan so skielik soos weerlig wees (Matt. 24:27), en so onverwags soos ’n dief in die nag (1 Tess. 5:2).
Kinders van die Here moet te alle tye gereed wees (1 Pet. 4:7), ons moet nie moedeloos raak nie (2 Pet. 3:4), en ons moet voorberei vir sy koms deur selfbeheersd en nugter te wees sodat ons kan bid
(1 Pet. 4:7). Ons moet inskiklik en bedagsaam lewe (Fil. 4:5), ons moet ophou met die duisternis en die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe (Rom. 13:11-14). Die apostel Johannes het sy “liewe kinders” aangemoedig om in Hom te bly, sodat ons niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie, en nie beskaamd sal staan by sy wederkoms nie (1 Joh. 2:28).
Dit is altyd ’n troos om te hoor dat daar ander mense is wat reeds deurgegaan het, wat ons moet deurgaan. Jakobus herinner sy mense daaraan dat God se profete nooit sou kon doen wat hulle gedoen het, as hulle nie hulle swaarkry geduldig verduur het nie. Jesus het gesê wie volhard tot die einde toe, sal gered word (Matt. 24:13). Dan noem hy Job se “geduld” as voorbeeld. Die Griekse woord wat hy gebruik is hupomonē. Volgens Barclay klink die woord “geduld” heeltemal te passief om dit mee te vertaal. Job het baie vrae gehad oor sy swaarkry, hy het geworstel met God, maar hy het nooit sy geloof in sy Verlosser verloor nie (Job 19:25). Die uiteinde van al Job se swaarkry, was dat God hom in die laaste deel van sy lewe meer geseën het, as in die eerste deel (Job 42:12). Daar sal altyd tye in ons lewens wees wanneer ons dink dat God ons vergeet het, maar as ons vasklou aan God se beloftes en Wie Hy is, dan sal ons ook soos Job aan die einde van alles kan sê: “… maar nou het ek U met my eie oë gesien” (Job 42:5).