Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Sommige mense skep behae daaruit om in onvrede te lewe; twis en wraakgierigheid word deur die Woord van God veroordeel omdat dit op selfvergelding en liefdeloosheid dui. Die vrug van die Gees is onder meer vrede (Gal 5:22). Iemand wat heeltyd onmin soek dra nie die Gees van God in hom nie. En iemand wat die vrede van Jesus Christus ken, sal altyd onvrede en onmin aktief vermy – vlug daarvan weg.
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 5:12
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Jakobus 5:12 Moenie ʼn eed aflê nie
Jakobus gebruik hier Jesus se lering tydens die Bergpredikasie in Matteus 5:33-37. In die antieke wêreld was daar die swak praktyk om baie maklik en vinnig ’n eed af te lê sonder om enige waarde daaraan te heg. Leuens en bedrog was aan die orde van die dag, en so ’n eed het absoluut niks beteken nie.
In die Joodse gemeenskap is daar onderskeid getref tussen ’n eed wat in die naam van God afgelê is, en ’n eed waarin daar nie direkte vermelding van God gemaak is nie. So ’n eed in die naam van God, was bindend en moes nagekom word. ’n Eed waarin daar nie spesifiek van God melding gemaak is nie, is op allerlei slim maniere en redes omseil sodat dit nie bindend hoef te wees nie. Hierdie praktyk het dan van die aflê van ’n eed, ’n bespotting gemaak.
In die samelewing van daardie tyd is so algemeen daarvan gebruik gemaak, dat niemand meer enige waarde daaraan geheg het of respek daarvoor gehad het nie. Leuens en bedrog was aan die orde van die dag. In ’n eerlike samelewing is geen eed nodig nie. ’n Christen moet weet dat elke woord gesê word in die teenwoordigheid van God en Christene moet geken word as mense van eer, vir wie die aflê van ’n eed nie nodig is nie.
Jakobus 5:13-19Die gelowige gebed
Die vroeë Kerk was ’n singende Kerk. Ons vind dat sang altyd ’n integrale deel van hulle byeenkomste was, wanneer ons na Paulus se beskrywing kyk in 1 Korintiërs 14:15 en Efesiërs 5:19. Wanneer Paulus dink aan die genade van God wat ook vir die heidennasies beskikbaar is, dan haal hy aan uit Psalm 18:50 waar Dawid sê dat hy tot eer van God se naam ’n loflied sing! (Rom.15:9). Die Kerk was bekend daarvoor dat hulle baie gesing het. Selfs buite-Bybelse bronne maak daarvan melding dat daar ’n sekte was wat vroeg in die oggend bymekaar gekom het, en gesing het vir “Christus, hulle God.”
Hulle het ook vir genesinggebid. Dit is ’n tradisie wat van die Joodse geloof oorgeneem is. Wanneer ’n Jood siek was, het hy na die rabbi toe gegaan, wat hom dan met olie gesalf het, en vir hom gebid het. Baie mense was deur bose geeste besete en slegs die Christene kon hierdie mense help. Baie van die vroeë kerkvaders het ook hieroor geskryf. Die Kerk het altyd omgegee vir die siekes, en daar was nog altyd lidmate in die Kerk wat die gawe van genesing ontvang het.
Daar is drie basiese idees wat in verse 16 tot 18 uitstaan:
- Dit was ’n baie diep gewortelde Joodse geloof dat waar daar siekte en swaarkry was, daar sonde moes gewees het. Die Jode het altyd sonde met swaarkry geïdentifiseer. Dit is ook waarom Jesus die verlamde man se genesing begin het met die woorde: “My seun, jou sondes word vergewe” (Mark. 2:5). Ons as Nuwe Testamentiese Christene kan vandag weet dat ons in ’n gebroke wêreld leef, en dat swaarkry ook deel daarvan is. Die Ou Testamentiese boek Job, wys ook vir ons dat dit nie altyd sonde is wat die oorsaak van ons lyding is nie, maar Barclay sê om volkome innerlike vrede na liggaam en siel te ken, moet ons in die regte verhouding met God staan.
- Ons kry ook hier die indruk dat sondebelydenis teenoor ’n mens gedoen word, en veral teenoor die persoon teen wie daar verkeerd opgetree is. In ’n sekere sin is dit makliker om sondes teenoor God te bely, as teenoor ’n ander persoon. Maar net soos wat sonde ’n skeidsmuur tussen ons en God maak, net so vorm dit ook ’n skeidsmuur tussen ons en ’n persoon teenoor wie ons verkeerd optree. Om albei hierdie skeidsmure te verwyder, moet albei soorte skuldbelydenis gedoen word. Sondebelydenis was ’n gebruik in die Morawiese kerk, wat deur John Wesley oorgeneem is in die vroeë jare van die Metodiste kerk. Hy het sy lidmate twee of drie maal per week laat vergader om sondebelydenis te doen en vir mekaar vir genesing te bid. Barclay sê dat hierdie ’n gebruik is wat met baie groot wysheid toegepas moet word, omdat dit soms meer kwaad as goed kan doen. Tog het Jesus self gesê dat wanneer iemand sy offer na die altaar wil bring en dit hom byval dat sy broer iets teen hom het, moet hy sy offer eers los en gaan regmaak (Matt. 5:23-24).
- Die derde beginsel wat hier na vore kom, is dat gebed geen perke kan hê nie. Vir die Jode was gebed niks anders, as om met die krag van God kontak te maak nie. Dit was die kanaal waardeur die krag en genade van God na die mens gebring word, om die probleme van die lewe te kan hanteer. Hoeveel te meer geld dit nie vir ons as Christene nie, wat die krag van die Heilige Gees leer ken het nie?
In verse 17 en 18 word Elia as voorbeeld genoem van ’n mens wat so gelowig gebid het, dat dit vir drie en half jaar nie gereën het nie (1 Kon. 17:1). In 1 Konings 18:42 sien ons dat Elia gebuig het, met sy kop tussen sy knieë. Dit was ’n aanduiding van ’n smekende houding in gebed. Vir die Jode was die houding waarin ’n persoon bid, baie belangrik. Hulle het aangeneem dat dit die rede is waarom die Here Elia se gebed verhoor het.
In verse19 en 20 sê Jakobus dat ons moet probeer om iemand wat van die waarheid afgedwaal het, terug te bring. Wanneer ons kyk na wat die verskillende uitdrukkings in die Nuwe Testament is wat in verband met “waarheid” gebruik word, dan sien ons hoe uiteenlopend die karakter van Christelike “waarheid” is. Ons moet waarheidliefhê (2 Tess. 2:10); ons moet dit gehoorsaam (Gal. 5:7); ons moet dit openlik bekend maak (2 Kor. 4:2); ons moet in liefde daarby bly (Efes. 4:15); Jesus het vir die waarheid getuig (Joh. 18:37); ons moet getrou aan die waarheid lewe (1 Joh. 3:19); dit maak ons vry (Joh. 8:32); dit is ’n gawe van die Heilige Gees, gestuur deur Jesus Christus (Joh. 16:13-14). Die duidelikste van almal is Johannes 3:21, waar ons sien dat ons volgens die waarheid moet handel. Die heel belangrikste van almal is Johannes 14:6 waar Jesus vir Tomas gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” Hierdie waarheid is dus iets, of Iemand aan wie ons ons totale lewe moet onderwerp.
Jakobus sluit in vers 19 sy brief af met een van die grootste en mees opheffende gedagtes in die hele Nuwe Testament. Dit kom ’n hele paar keer daarin voor. Veronderstel iemand dwaal af op ’n verkeerde pad, en ’n mede-Christen help daardie persoon en bring hom terug van sy verkeerde pad, dan word nie net daardie persoon se siel gered nie, maar hy bedek ook daardeur menigte van sy eie sonde. As ons ander mense hulle oortredings vergewe, sal ons Vader in die hemel ook ons oortredings vergewe (Matt. 6:14). Die kerkvader, Origines, wat in die 2 e eeu n.C. geleef het, het in een van sy preke wat behoue gebly het, gesê dat daar ses maniere is waarop mense vergifnis vir sondes kan verkry:
- Deur die doop (Hand. 22:16).
- Deur martelaarskap (Op. 6:9).
- Deur barmhartig te wees. Jesus het aan die Fariseërs gesê hulle moet liewer die inhoud van hulle bekers en borde vir die armes gee, dan sal alle dinge vir hulle rein wees (Luk. 11:41).
- Deur ander te vergewe (Matt. 6:14).
- Deur liefde te bewys (Luk. 7:47).
- Deur ander mense van hulle verkeerde weë te bekeer. Paulus se raad aan die jong Timoteus is: “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister (1Tim. 4:16). Daniël het geskryf: “ … en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre (Dan. 12:3). Dit lyk asof die hoogste eer wat God vir mense weggebêre het, vir diegene is, wat ander na Jesus gelei het, want so ’n persoon deel in die werk van Jesus Christus, die Redder van almal.