Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christene is mense wat van die naglewe van sonde oorgegaan het na 'n lewe van lig in die HERE. Maar nou moet hulle ook lewe soos mense van die lig – dit bring mee om elke ding in jou lewe te ondersoek, of dit reg voor God is, of nie.
STUDIE- HANDLEIDING – 1 PETRUS 1:3-9
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Petrus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
1 Petrus 1:3-9 Die lewende hoop en die egte geloof
Dit neem ’n mens lank om die rykheid van hierdie gedeelte werklik te begryp, want daar is min gedeeltes in die Nuwe Testament waar daar meer van die groot fundamentele Christelike waarhede bymekaar kom, as hier. Dit begin met ’n lofprysing aan God, maar dit is ’n lofprysing met ’n verskil. Ons as Christene, anders die Jode, voeg altyd die woorde: “Vader van ons Here Jesus Christus,” by in ons lofprysing. Ons bid nie tot ’n onbekende God op ’n afstand nie, maar ons bid tot dié God na wie ons kan gaan, deur Jesus Christus, met kinderlike vertroue.
Hierdie gedeelte begin ook met die gedagte van ’n nuwe lewe deur God aan ons geskenk. Hierdie gedagte van wedergeboorte sien ons regdeur die Nuwe Testament:
- Ons wedergeboorte vind plaas deur die wil en die handeling van God (Joh. 1:13; Jak. 1:18).
- Dit is die werk van die Heilige Gees (Joh. 3:1-15).
- Dit gebeur deur die woord van waarheid (Jak. 1:18; 1 Pet. 1:23). Dit is die skeppende Woord van God in Jesus Christus, wat wedergeboorte bewerkstellig.
- Die resultaat van wedergeboorte is dat hulle wat weergebore is, die eerste vrugte van ’n nuwe skepping is (Jak. 1:18).
- Ons wedergeboorte vestig ons hoop op die genade wat ons deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus (1 Pet. 1:3). Ons het hierdie hoop omdat ons weergebore is uit onverganklike saad (1 Pet. 1:23), deur die opstanding van Jesus Christus (1 Pet. 1:3).
- Ons wedergeboorte is tot geregtigheid (1 Joh. 2:29; 3:9; 5:18). Ons word daardeur gereinig van ons sonde en krag gegee om in geregtigheid te lewe. Dit beteken nie dat ons nooit weer sal sondig nie, maar wanneer ons val, dan sal ons die krag en genade ontvang om op te staan.
- Ons wedergeboorte is ook tot liefde (1 Joh. 4:7). Die lewe van God in ons, reinig ons van onvergewensgesindheid en selfgesentreerdheid, omdat die opofferende liefde van God in ons is.
- Laastens is ons wedergeboorte ook tot oorwinning (1 Joh. 5:4). Omdat die lewe van God in ons is, leer ons om in oorwinning te lewe.
In vers 4 sê Petrus dat ons ’n onverganklike erfenis het wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. Vir die Jode was die beloofde land hulle Godgegewe besitting vir die toekoms. Die Christen se erfenis is selfs nog groter. Petrus sê dit is onbesmet en onverwelklik. Enige blom verwelk en gaan dood, maar Christene erf ’n lewe waar daar geen verrotting of verandering plaasvind nie. Hulle erf dus God self. Die Psalmskrywer sê: “Here, U is my lewe,
U sorg vir my” (Ps. 16:5). Jeremia sê: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom” (Klaagl. 3:24).
Op ons reis deur hierdie wêreld na die ewigheid, word ons beskerm deur die krag van God deur geloof. Die woord wat Petrus in vers 5 gebruik vir “bewaar”, is phrourein. Dit is ’n militêre woord, en beteken dat ons deur God se weermag beskerm word en hulle staan op wag om ons. Dit is nie asof God ons red van al die swaarkry en probleme van hierdie lewe nie, maar Hy stel ons in staat om dit te oorkom en aan te beweeg.
In die tweede deel van vers 5, sê Petrus ook dat die saligheid aan die einde van die tyd geopenbaar sal word. Ons kry hier die twee konsepte wat die basis vorm vir Nuwe Testamentiese denke. Die Nuwe Testament maak dikwels melding van die laaste dae. Die Jode het alle tyd in twee tydperke verdeel. Eers kry ons hierdie huidige tydperk wat deur die duiwel beheer word, en dan die goue tyd van God wat gaan kom. Tussen hierdie twee tydperke, gaan die dag van die Here plaasvind waarin die wêreld vernietig gaan word deur God se oordeel, en dan herstel gaan word. Ons weet nie wanneer dit gaan gebeur of hoe dit gaan gebeur nie, maar ons kan alles wat die Nuwe Testament vir ons daaroor sê, bymekaar voeg:
- Die vroeë Christene het geglo dat hulle alreeds in die laaste dae leef (1 Joh. 2:18).
- In die laaste dae sal die Gees van die Here uitgestort word op alle mense (Hand. 2:17).
- Voordat die einde aanbreek, sal die bose ’n finale aanslag loods en vals leraars sal na vore kom (1 Joh. 2:18; Jud. 18).
- Die dooies sal opgewek word. Jesus het belowe dat Hy sy eie sal opwek (Joh. 6:39-40).
- Dit sal ongetwyfeld ook ’n tyd van God se oordeel wees oor sy vyande (Joh. 12:48; Jak. 5:3).
Vir baie gaan dit ’n tyd van verskrikking wees, maar vir ons as Christene, is dit ’n tyd van verlossing en bevryding. Hierdie bevryding het baie fasette. Dit is bevryding van gevaar, bevryding van siekte, bevryding van oordeel en bevryding van sonde. Daarna kan ons as Christene uitsien aan die einde.
Christenskap het Petrus se lesers ongewild gemaak, maar nou staar hulle ernstige vervolging in die gesig. Die lewe gaan vir hulle uiters moeilik raak. Petrus herinner hulle, en ook vir ons, aan drie redes waarom ons enigiets kan verdra wat met ons gebeur:
- Ons kan vorentoe kyk na die wonderlike erfenis wat vir ons wag, ’n lewe saam met God. Vir Christene is swaarkry en vervolging nie die einde nie, want God se heerlikheid wag op ons.
- Ons kan ook enigiets uithou, wanneer ons onthou, dat elke beproewing in werklikheid ’n toets is. Voordat goud suiwer kan wees, moet dit deur vuur getoets word. Wanneer ons geloof deur vuur getoets is, dan is dit sterker as wat dit ooit was. Die Griekse woord wat Petrus gebruik, poikilos, wat vertaal is met “allerhande” beproewings, is baie interessant.Dit beteken letterlik “veelkleurige”. Hy gebruik dieselfde woord net nog een keer op ’n ander plek wanneer hy van die genade van God praat (1 Pet. 4:10). Ons probleme en swaarkry mag dalk “veelkleurig” wees, maar so is ook die genade van God. Daar is vir elke beproewing, ’n genade met ’n ander kleur,of ’n ander faset.
- Aan die einde van ons swaarkry, wanneer Jesus Christus verskyn, dan ontvang ons lof en heerlikheid en eer van Hom. Ons doen dikwels ons grootste moeite in hierdie lewe, nie vir geld nie, maar om erkenning in iemand se oë te sien, en ’n woord van lof te hoor. Christene weet dat, wanneer hulle volhard, hulle aan die einde hulle Meester se “Mooi so!” sal hoor (Matt. 25:21).
Petrus teken in verse 8 en 9 ’n duidelike, kontrasterende prentjie tussen homself en sy lesers. Hy was só bevoorreg om vir Jesus te ken in sy tyd hier op aarde. Sy lesers het nie daardie vreugde geken nie, maar tog het ons Hom lief. Alhoewel ons Hom nie gesien het nie, glo ons in Hom, en dit gee aan ons ’n vreugde wat nie met woorde beskryf kan word nie.