Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jósafat waarsku in II Kronieke die regters van die volk teen partydigheid en "aanneming van geskenke" – omkopery. Dit sien ons deesdae elke dag in ons eie land. Calvyn verklaar indien regters iets verkeerd doen, is hulle nie alleen onregverdig teenoor die mense wat hulle wederregtelik krenk nie, hulle verag ook God. Wat word van 'n land waar die 'leiers' en regters God verag? Verwonder ons ons dan dat dit met Suid-Afrika so sleg gaan?
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (13)
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
GOD LEI TOT OORWINNING
Alle mense wil graag wen en ook jy kan 'n wenner wees. Die teendeel is egter ook moontlik. Jy kan dalk 'n "born loser" wees! Dis nie lekker om aan 'n mens se nederlae te dink nie. Daar is niemand wat nie die een of ander tyd die ervaring van mislukking gehad het nie. Dink aan:
- Die keer toe jy nie die span gehaal het nie.
- Die keer toe jy nie die eksamen geslaag het nie.
- Daardie keer toe jy tevergeefs probeer vriende maak het.
- Toe jou verloofde die verlowing verbreek het.
- Toe iemand jou ingeloop het met 'n saketransaksie (deesdae sommer volop!).
- Toe dít wat jy gedink het net in ander families gebeur ook julle huis getref het. Ensovoorts...
Dit is deel van hierdie wêreld se ongenadigheid dat daar gedurig vingers na 'n mens gewys word wat vir jou sê: Jy is net nie goed genoeg nie.
As ons in ons harte anders oortuig was sou dit ons nie geraak het nie maar diep hierbinne weet ons as sondaarmense maar te goed dat soveel van die dinge waaroor ons vernederd en minderwaardig voel, maar al te werklik is.
Selfs al wil 'n mens dit ontken, al sê jy vir jouself jy het niks om oor ongelukkig te wees nie, is daar tog dinge in jou gemoed wat pla, wat jou gewete nie kan 'toesweis' nie. En as jou vyande dit ooit ontdek, kan hulle jou om hulle pinkie draai. Dit is waarskynlik wat die televisiestrooisage 'Dalas' so gewild gemaak het by die kykers.
Aan die een kant probeer die karakters so hard om supermense te wees; aan die ander kant ly hulle kort-kort tog sulke verpletterende nederlae.
Dit is natuurlik waarin satan hom so verlustig – ons nederlae. In die Bybel word die bose geteken as die aanklaer, die klikbek, die een wat al ons skandes voor God uitlap. Hy geniet die chaos en ontreddering wat die verleentheid bring. Daar is soveel waaroor mense hulle in hulleself kan skaam.
In Rigters 6 en 7 lees ons dat die Israeliete regtig diep verneder is. Net sodra die lande mooi omgeploeg was en die koring geil begin groei het, het hulle vyande, die Midianiete, gekom en alles vernietig. Die Midianiete het al die lewende hawe gesteel en die Israeliete sonder enige lewensmiddele gelos. Hulle moes dit alles magteloos gadeslaan. In 'n ommesientjie het rykmense bedelaars geword – die slawe van rowers.
Die goeie nuus wat ons uit Rigters 6 met albei hande in ontvangs kan neem, is dat God vir die gelowige, oorwinning beloof. Dit is ook die boodskap van soveel ander Bybelgedeeltes. 1 Johannes 5:4 sê: " ... enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin". 1 Kor 15:57 sê: "Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus." In Romeine 8:37 lees ons: "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet."
Die vraag is egter hoe God beplan om ons tot oorwinning te lei. Is hierdie nie maar net 'n onwerklike wensdroom nie? Hiertoe is die verhaal van Gideon se oorwinning 'n goeie inleiding. Uit wat ons in Rigters daarvan lees kan ons twee lesse leer oor wat ons moet doen as ons wil oorwin – ken jou vyand, en beveg hom met die beste wapens tot jou beskikking.
KEN JOU VYAND
Uit alles wat Gideon gedoen het kan ons agterkom dat hy sy vyande uitstekend geken het. Hy het geweet wie hulle was, waar hulle saamgetrek het en hoekom hulle aangeval het. Hy het ook geweet dat hierdie 'n stryd was wat op 'n dieper vlak afspeel, naamlik 'n Goddelike vlak. Byna elke groot stryd in die wêreld kan mens deels as 'n geestelike stryd sien.
Die Israeliete was nie sommer enige groep mense nie. Hulle was God se verbondsvolk, sy eiendomsvolk. God het beloof om hulle God te wees en hulle het gesweer om trou aan Hom te bly. Dit het hulle stryd in 'n heel ander lig gestel. Hulle ontrou en ongehoorsaamheid, afgodery en onsedelikheid was in die eerste plek hulle grootste vyand. 'n Mens self, is in sekere sin jou eie grootste vyand want jou sondigheid ontneem jou die krag om behoorlik te kan terugveg.
BEVEG JOU VYAND MET DIE BESTE WAPENS
Omdat Gideon sy vyande reg uitgeken het kon hy hulle effektief beveg. Hy doen drie dinge:
- Hervorming na binne. Hierdie is sy kwaaiste stryd, want wie hou nou daarvan dat sy afgode van hom weggeruk word soos wat Gideon met die Baälstamme gedoen het.
- Kennis van die wil van God. Nadat God se Gees hom vervul het en hy die manskappe opgeroep het, toets hy die wil van God. Daarvan het ons in 'n vorige aflewering verneem. Noudat hy die regte leiding ontvang het, het Gideon 'n ongekende vrymoedigheid om voort te gaan. God self is nou die aanvoerder van sy volk.
- Keuse van die regte manskappe. Al die banges – en hulle is altyd in die meerderheid – word teruggestuur huistoe. Hulle was ook onder diegene wat kwaai gely het onder die Midianiete en tot God om hulp geroep het maar dit was 'n leë geroep. Toe die afgode tuimel, het hulle moed hulle begewe. God het hullle nie nodig in sy stryd nie. Hulle sou egter weldra ontdek hoe nodig hulle vir God het.
JESUS CHRISTUS
Die goeie nuus is dat God deur dit wat Hy in Jesus Christus gedoen het, reeds vir die gelowige 'n beslissende oorwinning behaal het, en dat hierdie oorwinning beskikbaar is vir elke sondaar wat dit maar net sal aanvaar.
Gaan kyk maar hoe die Bybel ons vyande beskryf. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose geeste in die lug. Kyk maar na die wapens wat Jesus vir ons uitgesit het: 'n harnas van geregtigheid; stewels as bereidheid vir die evangelie; 'n skild van geloof; 'n helm van verlossing en die Woord as wapentuig.
Wie sy leiding van God ontvang het en dit volg kan nie verloor nie. Jy kan seker wees van oorwinning. Dis een stryd wat mens nie kan verloor nie. So seker as wat die ooggetuies gesien het dat Jesus leef, dat Hy die vernedering van die Kruis oorwin het en dat Hy aan die regterhand van God gaan sit het om oor die ganse kosmos te regeer, so seker sal diegene wat in Hom glo en met Hom wandel, die oorwinning sien.
Gideon se oorwinning oor die Midianiete was onvermydelik. Die ramshorings, die breek van die kruike, die verskrikking van die fakkels – dit was alles net eens te veel vir sy vyande. Hulle wat ontelbaar was, is oortuigend oorwin deur maar net 300 manne (verhouding 1:450).
In die Ou Testament was net 'n paar mense bevoorreg om só met die Gees vervul te wees soos Gideon. Sedert Pinkster is die Heilige Gees egter tot beskikking van elkeen wat glo. God sê deur die Gees wat in Jesus was, vir jou: "Ek bied jou oorwinning. Ek is baie geïnteresseerd oor hoe jy my leiding gaan gebruik om jou nederlae te oorkom. Jy kan 'n wenner wees."
Die vraag is nou wat jy met hierdie boodskap gaan doen. Gaan dit jou regtig help om 'n lewe van oorwinning te lei? Weet jy reeds wat dit is om so vry te kan uitstap onder die moeilikste omstandighede?
"Glo jy in Jesus? Kan jy dit aanvaar dat Hy regtig aan die kruis en in sy opstanding oorwin het? Ontvang dan my Gees," sê die Here. "
Soveel jy vra, soveel oorwinning is vir jou beskikbaar. En nog meer!