Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wil van God is onafwendbaar: dit wat Hy gewil het, sal gebeur. Ons kan maar net bewende buig voor God se albestier.
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (4)
JESUS DOOP ONS MET DIE HEILIGE GEES
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
Watter wonderlike Koning is Jesus nie! Hy regeer sy onderdane nie deur mag en geweld of vrees soos die owerhede van hierdie wêreld nie, maar deur die Heilige Gees; nie met dooie wette nie, maar volgens sy Woord.
Talle mense wat eenmaal die besluit geneem het om Jesus die Koning van hulle lewens te maak, het hierdie geheim al ontdek. Tog is daar baie mensewat bely dat hulle in Jesus glo maar nog nie hierdie heerlike ontdekking gemaak het nie. 'n Besluit om Jesus die HERE van jou lewe te maak, het verreikende gevolge. Indien hy so 'n besluit geneem het, is die volgende stap om toe te laat dat Jesus jou van dag tot dag lei. Daar bestaan egter baie misverstand oor hoe Jesus 'n mens deur sy Gees regeer.
- Vir die moderne mense (wat nie meer in allerlei geeste of spoke glo nie) is dit soms moeilik om 'n idee te vorm van die Heilige Gees. Die vraag is egter nou of ons moet teruggaan na 'n voorwetenskaplike wêreldbeeld om in die Heiige Gees te kan glo. Vir mense wat die Bybelse boodskap reg verstaan, behoort dit egter nie 'n probleem te wees nie.
- Mense is ook soms geneig om die Gees as 'n "dit" te sien – 'n onpersoonlike mag. Die Gees word as iets misterieus gesien wat soos 'n onsigbare krag in ons "gegiet" word. Dit is dan wanneer daar in 'n gelowige se lewe 'n ongesonde beklemtoning plaasvind van allerlei vreemde ervaringe en spekulasies oor die Gees.
Dit hang saam met die verskynsel dat mense soms nie presies weet hoe om tussen die Heiige Gees en die ander Persone van die Drie-eenheid te onderskei nie. As ons teruggaan in die geskiedenis van hierdie probleem, kom ons by een van die mees tragiese hoofstukke in die kerkgeskiedenis, naamlik die stryd tussen die kerk in die Ooste en die kerk in die Weste van ongeveer 'n 1 000 jaar gelede. Hierdie stryd veroorsaak vandag nog skeuring in die kosbare liggaam van Christus. Die Oostere kerke het geleer dat die Gees slegs van God af uitgaan, terwyl die Westerse kerk geleer het dat Hy van die Vader én die Seun uitgaan. Indien 'n mens glo dat die Gees slegs van die Vader af uitgaan, dan moet jy uit die aard van die saak 'n sterker onderskeid maak tussen die werk van die Seun en van die Gees in jou lewe. Op sy beurt open dit weer die deur vir 'n siening waarvolgens die Gees 'n onpersoonike mag kan wees wat die mens oorval en in ekstatiese belewenisse manifesteer.
Hierteenoor moet ons daaraan vashou dat die Gees en die Seun een is in hulle werke en dat die een nie losgemaak mag word van die ander nie. Dit is hieroor dat ons in Johannes 1:29-34 kan lees. Johannes sê onder andere:
"God... het gesê... die Een op wie jy die Gees sien kom... dit is Hy...". So word ons dan meegedeel dat die Vader self getuig dat die Heilige Gees op geen ander manier na ons toe kom as deur die Seun nie.
- Vandag vind mense dit ook moeilik om aan die Gees as 'n persoon te dink. Dit is interessant dat ons byna nêrens in die Bybel 'n plek vind waar daar direk met Hom gepraat word soos met die Vader of die Seun nie. Tog is die Gees 'n persoon. Maar die woord "persoon" moet anders verstaan word as ons moderne woord "persoon". (Oorspronklik het die woord "persoon" op 'n masker – 'n "persona" – gedui wat deur Griekse akteurs in die Antieke Tyd gedra is en waardeur hulle met die gehoor kon kommunikeer.) As ons sê dat die Gees 'n persoon is, dan beteken dit eenvoudig dat God deur die Gees met ons in 'n persoonlike verhouding tree en dat ons nie die Gees met ons eie gewete of selfs ons eie onderbewussyn moet verwar nie.
Johannes se woorde: "Daar is die Lam van God..." is die teken dat die tyd van vervulling van die profesië aangebreek het, die tyd waarin God volkome geken kan word. In die heilshandelinge van God soos dit agtereenvolgens in die Bybel beskryf word, is die Gees die laaste Persoon van die Drie-eenheid wat aan ons bekendgestel word. In die Ou Testament is reeds beloof dat die Gees aan die einde van die tyd uitgestort sal word. As die Gees uitgestort word, dan het die vervulling van alles in die Skepping aangebreek. Met die bekendmaking van die Gees, het die volle openbaring tot ons gekom.
Ons kan die Bybel se leer oor die Gees bondig beskryf aan die hand van die volgende drie punte:
- Die Gees gaan uit van God die Vader
Die Heilige Gees is God se Gees. Wie die Gees het, ken God se wil. Van die begin van die skepping is Hy saam met die Vader en die Seun ewige en waaragtige God. In die begin het die Skepper hierdie Gees ingeblaas in Adam en aan hom lewe gegee. Hierdie Gees is teruggetrek na die sondeval, maar wel by geleentheid gegee aan die konings, priesters en profete om hulle toe te rus vir hulle ampswerk.
- Hy gaan uit van die Seun
Jesus se geboorte is voorafgegaan deur die inwerking van die Gees in Maria. By sy doop word dit duidelik dat die Gees met Hom is. Sy besit van die Gees blyk verder uit sy innige verbondenheid met die Vader en sy kennis van die Vader se wil. Later blaas Jesus op sy dissipels en deel so aan hulle die (belofte van die) Gees mee. Dit is die vervulling van wat Johannes die Doper sê in Johannes 1:33: "Die Een op wie jy die Gees sien kom én bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop."
Ook in die Nuwe-Testamentiese briewe word die noue verband tussen Jesus en die Gees duidelik. So sê Paulus byvoorbeeld: "Die HERE is die Gees" ( 2 Kor 3:17, 1953-vertaling). Hiermee bedoel hy nie dat hulle identies is in wese nie, maar wel in die wyse waarop hulle in hierdie bedeling werk. Die Gees van God, is ook die Gees van Jesus.
- Hy is saam met hulle ware en ewige God
Ons moet dit beklemtoon dat die Bybelskrywers nie maar net beeldspraak gebruik het toe hulle oor die leiding en teenwoordigheid van die Heilige Gees geskryf het nie. Dit was die ervaring van 'n Teenwoordigheid groter as hulself wat hulle onder woorde probeer bring het. Dit was ook nie maar net hulle eie denke oor God of hulle eie gevoelens nie. Hierdie konkrete ervaring van die Gees het saamgehang met die amper bonatuurlike uitwerking wat vervulling met die Heilige Gees in die lewens van die gelowiges gehad het.
Een van die interessantste dinge wat 'n mens opmerk as jy lees wat die Bybel oor die Gees leer, is dat die Heilige Gees 'n praktieser, amper tasbare werklikheid vir die destydse gelowiges was. Waar hulle oor die Gees skryf, bedoel hulle iets meer as net hul eie ervarings, fantasie of denke. Die Gees is méér as bloot net 'n projeksie van 'n mens se onderbewussyn.
As jy dus aan die leiding deur die Gees dink, is daar 'n paar dinge wat jy in gedagte moet hou:
- Dink aan die Gees as 'n Persoon en nie as 'n geheimsinnige "mag" nie. Daarom moet 'n mens liewer vra: "Wie is die Gees?" en nie: "Wat is die Gees nie?" nie. Anders raak die Gees maklik maar net 'n fantasie of gevoelens, 'n projeksie van onsself.
- Wanneer 'n mens bid om vervulling met die Gees, dan vra jy eintlik om met Jesus self vervul te word. Die Gees wil jou niks van Homself vertel nie, maar alles van die Vader en die Seun. Wie in die Gees vaskyk en konsentreer op sy eie geestelike ervarings, loop gevaar om die Gees los te maak van die Vader en die Seun. Die Gees is deursigtig: Wie in die Gees is, sien die Vader en die Seun in hulle volle werklikheid. Een ding is seker:
God die Vader en Jesus die Seun, kom nie na 'n mens toe op 'n wyse anders as deur die Heilige Gees nie. As ek dan my hart oopmaak vir die Vader en die Seun, dan neem die Gees intrek in my hart, en andersom. - As gelowige moet 'n mens jouself telkens opnuut oopstel vir die koningskap van Jesus, vir inwoning deur die Heilige Gees en vir daaglikse leiding. Dit beteken dat 'n mens daarna sal strewe om telkens 'n nuwe gevoeligheid te ontwikkel vir die teenwoordigheid van Jesus deur die Heiige Gees in elke nuwe situasie waarin jy jou bevind.