Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het ons in hierdie moeilike lewe geplaas, en daarom gee Hy ons 'n godsdiens wat sterk genoeg is hiervoor. Dit behels dat ons by Hom 'n skuilplek kry teen die ergste koue en die diepste donker, maar veral by Hom skuil in die tye van sonskyn en vreugde.
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (5)
HOE KOM MENS OP DIE GOLFLENGTE VAN DIE HEILIGE GEES?
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
Wanneer 'n soldaat, alleen in vyandige gebied, besig is met teenoperasies, dan is die beste ding waarvoor hy kan wens 'n tweerigtingradio. Kontak met sy eie hoofkwartier is van die uiterste belang:
- Sy hoofkwartier kan hom van lewensbelangrike inligting voorsien oor die vyand se bewegings. Hy kan sy besluite aan hulle oordra en met hulle uitklaar.
- Die feit dat sy mense weet waar hy is en wat met hom gebeur, kan van lewensbelang wees. Oor die radio kan hy hulp inroep. Dit is vir hom 'n versekering ingeval van nood.
Dit is presies wat die teenwoordigheid van die heilige Gees vir 'n gelowige moet beteken. As gelowiges leef ons elke dag in 'n gebied waar die vyand baas is. Ons is eintlik besig met 'n soort ondergrondse bedrywigheid in Satan se tuisarea. Die Heilige Gees is aan Christene gegee om hulle by te staan in hulle beplanning en om hulp in nood te verleen.
Die Heilige Gees was egter nie altyd so tot beskikking van die gelowiges nie. In die Ou Testament het slegs enkeles Hom ontvang – Abraham, Josef, Dawid, Daniël, Jesaja, Joël en die skrywers van die Ou Testament. Ook hulle is telkens geknaag deur die gevoel van "die afwesigheid van God". Net soos die dissipels ontsteld was oor die gedagte dat Jesus wou weggaan – eers na die doderyk, daarna na die hemel – was die mense van die Ou Testament dikwels in vertwyfeling oor waar God dan is. Daarom kla die psalmdigter: "Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: 'En waar is jou God nou?' " (Ps 42:4).
Daar was egter die belofte in Joël 2:28-29 dat die Gees in die laaste dae aan alle gelowiges gegee sou word – aan kinders en grootmense, aan armes en rykes, manse en vroue. Die Kerk het Hom tien dae na die hemelvaart, met Pinkster, eens en vir altyd ontvang, en wie tot geloof kom, het Hom ontvang. Hiervan getuig Petrus op Pinksterdag.
Tog is dit moontlik om in Jesus te glo en nog nie in die krag van die Heilige Gees te leef nie. In Handelinge 8:14-17 lees ons byvoorbeeld van dissipels wat in Jesus geglo het, maar nog nie die Gees ontvang het nie. Vir hulle was God in sekere sin nog steeds afwesig.
Wie God se nabyheid wil ervaar, moet die Heilige Gees positief in ontvangs neem. Om dit te kan doen, moet jy enkele dinge goed besef:
- Hierdie Gees is 'n geskenk wat eenvoudig net onvang moet word. Hy kan nie verwerf of verdien word nie, maar slegs ontvang word as 'n geskenk, as 'n talent waarmee jy moet woeker. Vir wie het, sal nog meer gegee word. - Daar is talle voorbeelde in die Skrif van hoe mense hiervan bewus geword het. Gewoonlik het dit met wonders gepaard gegaan. Die hoogste bewys van die Gees onder gelowiges was egter die wonder van liefde en die oorwinning in hulle lewens. Dít het weer die snelle uitbreiding van die evangelie tot gevolg gehad.
- Dit kan egter ook gebeur dat mens 'n verkeerde "gees" in ontvangs neem. So verwys Paulus in 2 Tim 1:7 na 'n gees van lafhartigheid. Ons moet besef die Heilige Gees is nie 'n krag, gesindheid of ding nie, maar 'n Persoon. Hy is nie eens 'n tweerigtingradio nie, maar 'n Persoon. Die Bybel beskryf sy werk op dieselfde manier as wat persone se werk beskryf word: Hy is 'n "Voorspraak", Hy "tree vir ons in" (soos mense), Hy "staan" ons in ons swakheid "by", Hy "leer en herinner" ons (soos 'n menslike onderwyser). Die Heilige Gees is die "Gesant" van Christus en die Vader. Hy is een met Hulle in die heilige Drie-eenheid.
Christus se hemelvaart was nie die vertrek van Jesus nie, maar juis sy bewindsaanvaarding. Dit was die begin van sy heerskappy in die eintlike sin van die woord. 'n Mens kan die beeld van die son gebruik om dit te verduidelik: Toe Jesus nog op aarde was, was Hy ver en dof, soos die son met skemer of sonsopgang. Noudat Hy op middaghoogte is, is sy gloed helder en warm, nader as ooit.
Hierdie heerskappy van Christus kom tot 'n werklikheid deur sy Gees. Om die waarheid te sê, God doen niks behalwe deur sy Gees nie. Hierdie Gees is die Gees van Christus.
'n Gelowige moet eenvoudig net leer om na Hom te luister. Om terug te keer na die beeld van die tweerigtingradio: Ons moet leer om op die regte golflengte in te skakel. Ons moet leer om nie alles vir onsself te hou nie, maar om strategie met Hom te deel, om te luister na dít wat van die hoofkwartier kom. Die Heilige Gees is reeds gegee, die vraag is net of jy Hom al positief in ontvangs geneem het.
Miskien het jy reeds iets van hierdie geheim ontdek, maar het jy die diepe begeerte om nog meer te ontdek: om jou te verdiep in kommunikasie met die Heilige Gees en om meer doelgerig gebruik te maak van jou "tweerigtingradio."
Waar jy inskakel op die golflengte van die Heilige Gees, begin dinge met jou gebeur, die avontuur ontplooi:
- Daar vind 'n wedergeboorte plaas, eers in jou lewe as gelowige, in die kerk, en uiteindelik in die hele skepping.
- Jy word toenemend in die waarheid gelei.
- Jy raak al hoe meer seker van jou saligheid soos wat jy meer en meer van die ewige lewe ervaar.
- Jou vrymoedigheid neem toe. Voorheen was die dissipels bang, afgunstig, geestelik arm; daarna was hulle vrymoedig, verdraagsaam, liefdevol, geestelik oorvloedig.
- Jy is nooit meer alleen nie. Hy kom vir ewig by jou bly selfs al moet jy dikwels alleen en in gevaarlike omstandighede jou geloof uitleef (Joh 14:16).
Mag jy besonderlik ingestel word op sy golflengte! Mag jy 'n nuwe gevoeligheid ontwikkel sodat daar meer beplanning en meer oorwinning kan wees in jou lewe en in die lewe van die kerk van Jesus Christus!