Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons trek so graag grense om ons want in die wêreld bied dit 'n bepaalde en goeie ruimte vir jou om in te leef. Wees egter versigtig dat jou grense nie vir jou 'n kluisenaarslewe veroorsaak nie.
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (7)
GOD GEE LEIDING DEUR SY WOORD
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
God praat vandag nog met mense. Een van die redes waarom mense kerk toe gaan, is om leiding uit die Woord van God te ontvang. Dát mens die Woord kan hoor, is maklik om te sê, maar die vraag hóé 'n mens die Woord hoor, is vir baie 'n probleem.
'n Professor by die kweekskool vertel van 'n jong predikant wat met sy intreepreek gesê het dat hy oortuig is dat die Here hon geroep het. Ná die diens het 'n ouerige dame hom voorgekeer en gevra: " Dominee, het jy regtig die Stem gehoor?" Selfs vir baie gelowiges is dit 'n vraag wat presies bedoel word as 'n gelowige sê dat hy deur die Here "geroep" is of as hy sê: "Die Here het hierdie boodskap vir my gegee om te verkondig."
Diegene wat kennis dra van die 'charismatiese beweging' is dikwels in die verleentheid omdat hulle gekonfronteer word met allerlei profesieë en gesigte. 'n Tyd gelede het daar byvoorbeeld 'n 'profesie' in Kaapstad die rondte gedoen dat Christene nou moet begin grond koop! Baie mense se reaksie daarop was dat hulle gesonde verstand dit ook vir hulle kon gesê het – dit was nie nodig vir 'n openbaring nie. Paulus leer ons om versigtig te wees vir mense wat te maklik met openbaringe te koop loop. Dis juis teen sulke geesdrywers wat hy te velde trek in sy tweede brief aan die Korinthiërs in hoofstukke 10-13. Blykbaar het hulle gespog dat sy openbaringe nie so goed soos hulle s'n was nie!
Daar is verskeie maniere waarop iemand se aanspraak dat God met hom gepraat het, verstaan kan word:
- Iemand kon regtig, 'fisiek' 'n stem gehoor het.
- Mense kan bedoel dat hulle dit in die Bybel gelees het.
- Dit kan 'n subjektiewe ingewing wees wat jy in 'n droom of tydens gebed gekry het.
- Dit kan ook 'n manier wees waarop jy 'n gewone gedagte bewoord om meer gewig daaraan te gee. In laaste instansie is dit tog waar dat ons alles wat ons het van die Here ontvang – en dit geld ook vir die goeie ingewings wat 'n mens kry.
Onder sekere omstandighede is nie een van bogenoemde 'metodes' om 'n boodskap van God te ontvang, verkeerd nie. Die volwasse Christen sal egter steeds die voorrang aan die tweede moontlikheid gee. Dit is só, want die Bybel is die geopenbaarde Woord van God aan alle mense. Dit vertel ons op gesaghebbende en duidelike wyse van Jesus Christus, in Wie die Woord van God 'n konkrete menslike gestalte aangeneem het. Daarom kan ons sê die Bybel is die Woord van God, want dit vertel ons duidelik, genoegsaam en gesaghebbend van Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het. Daaruit leer ons God en sy wil ken.
Nou is dit egter so dat mense nog steeds twee moeilike vrae kan vra oor die wyse waarop 'n boodskap uit die Bybel ontvang kan word:
- Hoe weet mens dat dit die korrekte woord is? Die duiwel kan ook Bybeltekste aanhaal – soos tydens sy versoeking aan Jesus in die woestyn.
- Hoe is dit moontlik dat die Woord in elke situasie kan spreek? Daar is nie tekste vir elke presiese situasie waarin ons verkeer nie, veral nie wat etiese sake soos sosiale etiek, mediese etiek en sommige politieke sake betref nie.
Ons gee nou eers aandag aan die tweede vraag:
Hoe hoor 'n mens die woord in 'n spesifieke situasie?
Die geheim hiervan is geleë in die leiding van die Heilige Gees. Jesus self en die Vader is in die kerk aanwesig deur die Heilige Gees. Die Gees maak die wil van die Vader en die Seun in elke situasie bekend. Die Heilige Gees leer ons bid. Hy leer ons getuig. Hy gee aan gelowiges die gawe van profesie. Hy gee aan hulle ook die gawe om die ware en valse geeste van mekaar te kan onderskei.
Ons kan hierdie waarheid skerp formuleer:
God gee aan sy kinders geestelike ore.
Hulle hoor dalk nie fisiek nie, maar hulle hoor tog wat Hy vir hulle wil sê op so 'n wyse dat hulle nie meer daaroor hoef te twyfel nie.
Die spesifieke boodskap wat ons uit die Bybel ontvang, is iets wat steeds gepaard gaan met gebed. Jesus leer ons nie verniet dat God die gelowige se gebed sal verhoor nie. Daar is sekerlik min gebede wat God so graag verhoor soos die gebed om wysheid en om 'n spesifieke boodskap van Hom.
Die vereistes vir so 'n gebed is:
a. Dat dit in die Naam van Jesus gebid moet word;
b. Volgens sy wil;
c. In die geloof dat jy dit reeds ontvang;
d. Saam met ander gelowiges.
Hoe dit werk, weet ons nie presies nie maar dit is die ervaring van derduisende gelowiges dat as iemand in 'n saak werklik die aangesig van die Here soek, hy 'n antwoord kry. En van hierdie antwoord weet hy: Dit kom van die Here af. Dit maak deel uit van 'n mens se 'normale Christelike lewe' om van tyd tot tyd van sulke gebedsverhoringe te kan getuig.
In die Bybel vind ons reeds talle voorbeelde hiervan. So byvoorbeeld bid Paulus op sy derde sendingreis tot die Here om hom by te staan in sy toekomsbeplanning. Hierop ontvang hy die boodskap dat hy vir die Here moet ly. In Handelinge 20:22-23 sê hy die volgende:
"En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag."
In Sesarea het die profeet Agabus na Paulus gekom en Paulus se gordel gevat, sy eie hande en voete daarmee vasgebind, en gesê: "So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van die hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer" Hand 21:11. Hierop het die mense vir Paulus gesmeek om tog nie te gaan nie. Omdat Paulus egter 'n duidelike boodskap van die Here ontvang het, kon hy die volgende met oortuiging sê: "Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe" Hand 21:13.
Kom ons kyk na nog 'n voorbeeld van 'n spesifieke boodskap wat Paulus ontvang het. In 2 Kor 12: 7-10 vertel hy dat hy drie maal gebid het dat die Here 'n doring in die vlees van hom sal verwyder. Hierdie was nie maar net 'n gebed om eie voordeel nie. Ons kan aanneem dat hy opreg die wil van die Here in hierdie saak gesoek het. Wat was toe die antwoord? Die Here sê vir hom: "My genade is vir jou genoeg!" Ons lees egter nêrens in die Evangelies van 'n geleentheid waar Jesus dit presies so gesê het nie. Dit was 'n spesifieke antwoord van die lewende Here in 'n spesifieke situasie. God verwyder nie die 'doring' nie, maar sê wel vir Paulus Hy weet van sy probleem. God wys hom waarom hy 'n doring in die vlees het en hoe dit vir hom uiteindelik ten goede sal meewerk.
Dikwels sêPaulus dat hy 'n bevel van die Here ontvang het waarvan ons nie in die Evangelies kan lees nie. Hy moes dit van iewers anders as uit die blote oorvertelling van die woorde van Jesus gekry het.
Dit bring ons terug na ons eerste probleem:
Hoe maak 'n mens seker dat dit die Woord is wat hy gehoor het?
Hoe weet ons dat die Woord wat ons hoor, korrek is? Dít wat ons van die Here verneem, kan dalk maar net ons eie gedagtes wees. Dit kan iets willekeurigs wees. Jy kan 'stemme' hoor wat dalk jou eie gevoel is. Hier is 'n groot gevaar waarvoor ons op die uitkyk moet wees.
Tog is daar 'n onfeilbare toets om te kyk of die boodskap wel van die Here is. Dit is dat geen openbaring ooit met die oorgelewerde boodskap van die Bybel kan en mag bots nie. God gaan nooit terug op sy Woord nie. Dit beteken nie dat elke 'boodskap' wat 'n gelowige kry in die presiese vorm van 'n Bybelteks moet wees nie. Dit beteken egter wel dat dit getrou moet wees aan die basiese boodskap van die Bybel.
Die Bybel mag dus noot as roulette-masjien gebruik word om lukraak teksverse op te spoor nie – dit is 'n volledig heidense manier van omgaan met die Skrif. Waar die gelowige wel lig in die Skrif soek, moet die sentrale boodskap van God se verbondsgenade steeds in gedagte gehou word.
Nou kan ons die vraag vra: Was die antwoord wat Paulus op sy gebed verkry het, "My genade is vir jou genoeg", in pas met die res van die Bybel? Dit is duidelik dat Jesus nêrens presies so gesê het nie, maar dit staan tog op elke bladsy van die Bybel geskryf! God se genade is genoeg.
Ons kan aanvaar dat hoe verder 'n Christen op die weg van heiligmaking vorder, hoe meer sal sy gewete en die ingewinge wat hy in drome en gebede ontvang in pas wees met die wil van God. 'n Gelowige sal egter wys wees om hierdie leiding steeds as relatief tot, en onderworpe aan, die geopenbaarde lig van die Skrif te sien – en om die saak so te verduidelik as hy daarvan getuig.
Die hoofsaak van hierdie artikel is dat God eintlik vir ons wil sê: Ek wil met jou praat. Jy kan My raadpleeg en Ek sal jou verhoor. Ek sal jou Vader wees, en jy my kind. Jy kan my leiding steeds toets aan die Woord wat Ek jou gegee het.