Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Mens met ‘n kalm, innemende persoonlikheid, sal die druk van die ouderdom skaars voel. Maar hy wat van jongs af befoeterd was, sal sy ou dae ook lastig vind.
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (9)
DIE GEES LEI MY IN DIE GEBRUIK VAN SY GAWES
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
Wat sal mens doen as jy 'n pasiënt in die hospitaal gaan besoek en jy vind dat die chirurg die persoon soos 'n motor se masjien heeltemal uitmekaar gehaal het? Oral lê daar hande, voete, oë en ore rond! Die beste wat 'n mens dan sal kan doen is om 'n begrafnis te reël.
Uit die Bybel leer ons dat die kerk ook 'n lewende "liggaam" is, die liggaam van Christus waarin elke orgaan noodsaaklik is vir die geheel. In hierdie liggaam is Jesus die kop, die diakens die hande, ouderlinge die oë en die predikant die mond, ens. Elkeen is 'n noodsaaklike orgaan. Wat sal met so 'n liggaam gebeur as iemand dit uitmekaar haal? As een oorgaan – klein of groot – nie sy deel doen nie is die liggaam lam of dood.
Een van die wonderlikste gawes wat die Here aan mense gee is die vermoë tot eenheid met hulle medemens. Dit is iets waarsonder mense nie kan lewe nie. Navorsers het bevind dat rotte wat in eensame afsondering gehou is makliker siek word en sterf as rotte wat saam aangehou word. So is dit ook met mense gesteld. Ons is eers waarlik mense as ons ons plek gevind het tussen ander.
Dit is ook wat so wonderlik is van 'n gemeente wat waarlik 'n gemeente van Jesus Christus is. Dit is 'n bakermat, 'n hawe, 'n vesting, 'n familie, waar mense hulself kan wees, tuis kan voel en terselfdertyd deel kan wees van 'n groter geheel.
In 1 Kor 12:1 skryf Paulus oor die gawes wat God gee. Hy sê gelowiges moet "ingelig" wees daaroor. Soos destyds is dit vandag ook van die grootste belang dat gelowiges sal leer om die gawes van die 'Gees' en die 'gees' te onderskei.
Een van die foute wat die gelowiges destyds in Korinte gemaak het ten opsigte van die gawes van die Gees was dat hulle te individualisties daaroor gedink het. Ons het dalk ook dieselfde probleem. Ons soek persoonlike vervulling en erkenning en wil nie net deel van 'n grys massa wees nie. Terselfdertyd is ons diep in ons harte tog ook groepsmense. Die vraag is nou hoe om hierdie twee uiteenlopende aspekte van ons menslike bestaan met mekaar te versoen.
Dit was juis die probleem van die Korintiërs. Elkeen het persoonlike vervullig gesoek maar op so 'n wyse dat dit wanorde in die kerk veroorsaak het. Hierin het hulle maar net die styl van die heidense godsdienste in hulle omgewing gevolg. Ons weet vandag heelwat van dié godsdienste weens etlike Griekse dramas wat vir ons behoue gebly het, sommige so oud soos 500 vC. Daaruit blyk dat ekstatiese belewenisse algemeen was. Elkeen het ekstaties geraak en "sy eie ding gedoen".
In Korinte het hierdie 'individualisme' twee gevolge gehad:
Dit het in die eerste plek tot godslastering gelei. Omdat die Korintiërs nie tussen die Gees van God en die geeste kon onderskei nie het hulle in hulle ekstase selfs in die kerk soos die heidene uitgeroep "Vervloek is Jesus!" 1 Kor 12:3.
Ekstatiese ervarings was nie per definisie verkeerd nie maar daar was 'n perk. Mense het gemeen as hulle so onder die invloed van die Gees was kon hulle enigiets sê. Dit is presies wat gebeur wanneer 'n mens die aksent in jou geestelike lewe op jou privaat belewing van die godsdiens laat val, en nie op die welsyn van die groep nie. Jy het uit die oog verloor waarom dit eintlik gaan.
In die kerk is daar nou 'n nuwe maatstaf om die aanwesigheid van die Gees te toets. Dit belydenis dat 'Jesus die Here' is, het nou die maatstaf geword – blinde ekstase is nie meer genoeg nie.
Die tweede probleem waartoe die 'individualisme' gelei het was die ontwrigting van die gemeente. 'n Gemeente waar elkeen bloot doen wat hy lus het en goed dink is gedoem. Jesus is tog die Here van die gemeente. As gemeentelede nie hulle bevele van Hom ontvang nie kan hulle nie saamwerk en as gemeente funksioneer nie. Hulle het verder hoogmoedig geraak oor die verskillende gawes van die Gees wat hulle van die Here ontvang het. Hulle het vergeet dat dit gawes was. Hulle het gemeen dat dit aangebore eienskappe of besittings was waarvoor hulle gewerk het. Daarom kon hulle daaroor roem en op mekaar neersien.
Die gevolg hiervan was dat wêreldse standaarde in die kerk begin geld het. Mag en gesag, en nie liefde nie, het die laaste woord begin spreek. Die kerk het versplinter.
Om hierdie wantoestand teen te werk, gebruik Paulus nou die beeld van die liggaam om die regte verhoudinge in die kerk te beskryf.
Sy argument het min of meer soos volg gelui: 'n Liggaam is 'n wonderlike ding. Daar is 'n groot verskeidenheid organe en tog werk hulle almal saam onder bevel van die brein. Hulle het mekaar nodig. Die Griekse filosowe het hierdie beeld gebruik om te verduidelik hoe die wêreld aanmekaar gesit is. Volgens hullewas dit die rede of logika wat alles aanmekaar gebind het.
Paulus pas die beeld van die liggaam toe op die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus. Wat lede verbind, is nie logika, of blote mag nie, maar die Gees. Soos wat die menslike liggaam deur die menslike gees beheer kan word om as geheel op te tree, so word die kerk deur die Gees van Christus beheer om as eenheid op te tree. Sy Gees is die Gees van liefde, van vertroue, van hoop.
Die Gees verbind mense aan Jesus en maak sy liefde duidelik in hulle lewens. Dit help hulle om die konsekwensies van Jesus se liefde te begryp en deur te voer in hulle eie lewe.
Dit is die Gees wat ons wysheid, krag, geloof, hoop en liefde gee. Dit is deur die Gees dat die Beeld van God in ons herstel word.
Kyk na die nege gawes wat in 1 Kor 12:8-10 opgenoem word:
- Woord van wysheid
- Woord van kennis
- Geloof
- Gesondmaking
- Krag om wonders te doen
- God se boodskap te verkondig
- Onderskeiding tussen geeste
- Die gebruik van klanke/tale
- Om tale uit te lê
In 1 Kor 12:11 word die verhouding tussen hierdie gawes en die Gees beskryf: "Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil." Die bedoeling van hierdie vers is nie om die veelheid te beklemtoon nie maar die eenheid. Deur die mense se sondigheid het hulle soveel van die verskeidenheid gemaak dat die eenheid daaronder gely het. 'n Mens sou nooit kon sê dat hulle dieselfde Here gedien het nie.
Let op hoe die eenheid beklemtoon word in verse 4-6:
"Daar is 'n verskeidenheid gawes, maar dit is een Gees wat dit gee; daar is 'n verskeidenheid bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is 'n verskeidenheid kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring."
Ons het hier een waarheid wat drie maal op verskillende maniere weergegee word juis om die gedagte van eenhyeid so sterk as moontlik te beklemtoon. Dit is ook interessant om te let hoe die drie-eenheid van God hier ter sprake kom: die Heilige Gees, die Here Jesus Christus en God die Vader, tree hier op as EEN.
Hierdie 'model-beskrywing' van die kerk kan ons op 'n verskeidenheidvlakke toepas: op die plaaslike gemeente, die Christelike huisgesin, die breëre kerkeverband en die wêreld. Waar die verskeidenheid funksioneel is binne 'n groter geestelike eenheid, is dit nooit 'n bedreiging vir die mense nie. Daar is sekerlik in elke groep dié onvolwasse mense wat almal eenders wil optree. 'n Gemeenskap wat toegee aan hierdie neiging is 'n groep tropdiere. Almal word gelykgemaak tot 'n grys middelmatigheid. Dit werk 'n gevoel van onsekerheid in die hand. Die mense begin teen mekaar ywer. Paulus laat ons die fout hiervan duidelik insien: 'n Liggaam waarin al die organe eenders is, is 'n gedrog.
As die klem egter op die eenheid val, sal die verskeidenheid tot sy reg kom . Dit bring die Christen op 'n punt wat hy vir die ander sal sê: "Ek is bly jy is nie soos ek nie. Ek gun dit vir jou om anders te wees. Ek gun dit selfs vir jou om meer talente as ek te hê. Ek weet, dat as dit regtig nodig is, dan sal die Heilige Gees dit ook aan my gee."
Net soos die verskeidenheid, kan die eenheid, indien dit 'n egte geestelike eenheid is , ook nooit 'n bedreiging wees nie. As die klem op die regte eenheid val, sal mense nie dinge los van mekaar probeer doen nie. 1 Kor 12:7 lui: "Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal." Dit wat tussen jou persoonlik en God gebeur, is tot voordeel van almal. As dit nie so is nie, dan is daar fout.
Daar is gelowiges wat hulle talente vir hulself hou. Hulle meen dat hulle "goeie, Christelike" lewens lei, terwyl hulle hulself eenkant hou. Hulle gebruik hulle gawes net vir hulself, of vir hul eie kringetjie. Of vir die deel van die kerk waarvan hulle hou. Hulle moet besef dat hulle gawes gegee is tot voordeel van almal.
Omdat die gawes verskillend is, mag gelowiges nie hulle talente van mekaar weerhou nie. Hulle is juis anders, sodat hulle die een liggaam die heel beste kan dien. Daarom sal mense in die kerk ook nooit vir mekaar mag sê: "Toe, doen jy maar jou ding en ek sal myne doen", nie. Daar is wederkerigheid tussen die verskillende lede. As hulle los van mekaar funksioneer, werk dinge nie behoorlik nie.
Die boodskap van 1 Kor 12 aan gelowiges vandag is baie duidelik. Dit sê: "Verhef jou hart tot God. Aanbid Hom. Word vervul met die Heilige Gees. Erken Jesus as die Here van die kerk en as die Here van jou lewe. Maak begroting van wat die Here aan jou gegee het. Som jou bates op. Vra jouself af hoe jy dit aangewend het. Wat het jy wat jy nie ontvang het nie? Wat is daar wat nie van die Gees afkomstig is nie?
En verder: Wees jouself. As jy iets het wat die Here aan jou gegee het, moet dit nie opkrop en vir jouself hou nie. Die Gees werk nie so nie. Tog moet jy ook nie soveel daarop steun dat jy dit nie aan die korreksie van ander wil blootstel nie.
Aan die eenkant: Lug jou mening. Dit is belangrik. Moet jou nie laat intimideer deur enigiemand nie. God het dit aan jou gegee. Dit is joune. Wees dankbaar daaroor.
Aan die ander kant: Erken die reg van ander om ook menings te gee. En moet hulle nie verhinder nie. Luister na hulle soos jy wil hê dat hulle na jou moet luister. En laat dit toets deur die gemeente, deur die kerk, in die lig van die Woord en onder die leiding van die Gees van die Here. So word die liggaam gedien.
Ten slotte kan ons sê dat dit die Here se plan vir elke gemeente is dat die Gees só daarin sal werk, want dan kan die wonderwerke begin gebeur. God self sal daar wees. Eers dan kan elke gemeente 'n kragbron in sy omgewing wees. Dan word hulle vindingryk en lewenskragtig, soos die Skepper self, deur sy Gees. Dit sal eers gebeur as elke gelowige die leiding van die Here soek oor hoe hy sy gawes die heel beste tot welsyn van die geheel kan aanwend.