Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jou geheue swakker word, moet jy net twee dinge onthou: Eerstens dat jy ‘n groot sondaar is en tweedens dat jy deur jou bekering kind van ‘n liefdevolle hemelse Vader geword het.
DIE BYBEL (25)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Die verhaal van die Ou Testament (3)
Die val van Jerusalem (586 vC) en ballingskap (586- 540 vC)
Nadat Israel in 722 vC in ballingskap weggevoer is, leef Juda vir ‘n eeu in die skaduwee van konflikte tussen die groot magte. Juda was die minder belangrike van die Hebreërstate, weg van die belangrikste kommunikasieweë en die see. Eers word Juda deur Assirië onderwerp. Hierna onderwerp Egipte Juda vir ‘n kort rukkie. Teen die einde van die sewende eeu volg Babel die Assiriese wêreldmag op en Juda word deur die Babiloniese wêreldmag onderwerp.
Die skrywers van Konings en Kronieke skryf Juda se onderwerping aan sterker konings toe aan sy sonde. Profete wat die woorde van die Here aan die volk oordra en wie se boodskap opgeteken word, is Jesaja en Miga in koning Peka se tyd; Nahum in koning Manassa se tyd; Jeremia en Sefanja in koning Josia se tyd; Habakuk in koning Jojakim se tyd en Esegiël in koning Sedekia se tyd.
In ongeveer 608 vC sterf koning Josia na ‘n mislukte poging om Egipte te stuit in sy opmars teen die Babiloniese ryk. Hy word opgevolg deur sy seuns Joahas, Jojakim en Sedekia, asook sy kleinseun Jojagin, wat almal vir kort rukkies regeer.
Die laaste sterk koning van Assirië was Assurbanipal, wat in 626 vC sterf of dalk so vroeg as 631 vC. Onder leiding van sy opvolger Assuruballit, verswak die ryk. Nou gryp die hoof van die Galdese weermag, Nabopolassar die geleentheid aan om homself as koning van Babilonië uit te roep. Hy sluit ‘n alliansie met Cyaxarus I die koning van die Mede. Nabopolassar oorwin Nineve in 612 vC, wat die einde van drie eeue van Assiriese heerskappy beteken.
Jojakim, wat nou in Judar regeer, is pro-Egipties en werp sy lot in by die Babiloniërs se opponente. Verskeie profete voorsien dat dit dwaasheid is om op Egipte te vertrou teen die onweerstaanbare mag van die Babiloniese magte en die geskiedenis bewys hulle waarskuwing as geldig. Nebukadnesar vernietig die Arabiese weerstand teen sy regering. In Jojakim se seun Jojagin se tyd, stuur Nabukadnesar sy troepe in die winter van 598/ 597 vC om die suide van Palestina te onderwerp. Die Babiloniese Kroniek meld dat hy “teen die stad van Juda kamp opslaan en op die tweede dag van Adar die stad beset en sy koning gevange neem. Hy stel ‘n koning van sy keuse aan in die stad”.
Die nuwe koning is Jojagin se oom Matanja. Hy is die seun van Josia. Die koning verander sy naam na Sedekia. Koning Jojagin se mense word voor sy oë doodgemaak, waarna sy oë uitgesteek word en hy in kettings na Babel weggevoer word. Dit is sy straf vir die opstand wat hy teen Babel aangevoer het. Na gevangenskap van 37 jaar (in ongeveer 560 vC) word Jojagin deur Ewil-Merodag begenadig en toegelaat om van die koning se tafel te eet.
Die val van Jerusalem vorm ‘n waterskeiding in die geskiedenis van Israel. Met die stad se val kom Dawid se koningshuis, wat meer as 400 jaar geduur het, tot ‘n einde.
Die ballingskap duur van 586 tot 540 vC. 2 Kronieke 26 meen die land moet tydens die ballingskap vir 70 jaar onbewoon en onbewerk bly lê om te vergoed vir die Sabbatsjare wat die volk nie gehou het nie. Die lengte van die ballingskap – 70 jaar – is die vervulling van die profesie van Jeremia (Jer 29:10). Die ballingskap was egter nie presies so lank nie. Die getal 70 het simboliese betekenis.
Dit is onduidelik of die weggevoerde Judeërs iewers georganiseerd aanbid het en waaruit hulle aanbidding bestaan het. Sommige meen dat die “liturgie van die woord” in dié tyd in die ballingskap- situasie ontstaan het, met klem op die onderhouding van die wet van Moses. Hieruit groei die sinagoge-erediens Geen offers word deur die ballinge in die vreemde gebring nie, met die uitsondering van die Joodse gemeenskap in Elifantini, ‘n eiland in die Nyl waar ‘n tempel opgegrawe is waar Jode ‘n godsdiens bedrywe het waarin elemente van ander godsdienste ook voorkom.
In 520 vC vaardig koning Kores ‘n dekreet uit wat die Jode toelaat om na hulle eie land terug te gaan. Baie Jode het tuisgeraak in die nuwe wêreld waarheen hulle ouers in ballingskap weggevoer is en maak nie van die aanbod gebruik nie. Sommige Jode gaan terug en begin met die moeisame proses om Jerusalem en die land weer op te bou.
Herbou van die tempel (515vC)
In die periode 515-450 vC weet ons baie min van die lot van die Jode. Die Jode verwys na hierdie periode as die Tweede Tempel. Die toekoms het vir die Jode ontmoedigend en onseker gelyk. Dawid se koninkryk realiseer nie soos die profete dit wou hê nie. Min Jode stel belang om terug te gaan na hul eie land en om Jerusalem en die tempel te herstel. Die meeste bly in die stede en dorpe van hul ballingskap.
In hierdie tyd verdwyn die unieke uitdrukking van Israel se bestaan. Dit is ‘n tyd van kultuurbotsings, politieke onderdrukking deur buitelandse magte, ekonomiese krisis en die angs van godsdienstige aanpassing en verandering. Die toekoms het geen vorm nie. Wat skort is ‘n nuwe wêreldbeeld en ‘n omvattender begrip van die geskiedenis, wat ook voorsiening maak vir ander nasies en hul rol in God se wêreld.
Die boeke Esra en Nehemia beskryf toestande wat in dié tyd geheers het. Esra kom 458 vC in Jerusalem aan, en Nehemia is hier die leier van 454 tot 433 vC, en weer van 430 tot 428 vC. Maleagi, ook ‘n Skrifprofeet, se prediking gebeur in die tweede termyn wat Nehemia in Jerusalem dien.
In dié tyd word die gebruike ingestel dat alle Joodse mans elke oggend en saans saambid, dat alle seuns opgevoed word om die heilige Skrifte te lees, dat die Sjema (Deut 6:6-9) op ‘n mezuzah (ornamentele kassie) op alle deurkosyne geplaas word, asook in ‘n philakterie (leerdosie) tussen die oë tydens die oggendgebed.
So min as 50 000 Judeërs het na die land teruggekeer. Die tweede tempel word tussen 520 en 515 vC herbou. Dit is die tempel wat later deur Herodus verfraai en vergroot is, en in die 70 nC-opstand deur die Romeine woes is. Die nuwe tempel was maar ‘n skaduwee van die oue en die tempel word eers gebou nadat Haggai en Sagaria in skerp taal moes verduidelik dat God dit van sy volk vereis.
Na Serubbabel het die Jode vir ‘n onbekende rede nie meer ‘n inheemse goewerneur ne. Die hele distrik word vanuit Samaria geadministreer, met plaaslike sake onder die beheer en toesig van die Joodse hoëpriester. Spanning met proivinsiale amptenare was alledaags. In Xerxes se tyd is die Jode aangekla van opstand. Dié aanklagte lei tot herhaalde strooptogte en afdreiging teen die Jode. Die Jood in Judea was in ‘n desperate posisie. Juda bly vir ‘n eeu onder Persiese heerskappy.
Die was nie net verhoudings met die inwoners van Samaria wat skeef geloop het nie. Ook die Edomiete het ‘n gedugte vyand geword.