Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ook tot in julle ouderdom is Ek die HERE, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red – Jesaja 46:4
DIE BYBEL (28)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Die Nuwe Testament (2)
"Die dissipels van Jesus het waarskynlik tot drie jaar saam met Jesus geleef".
Die Messias sterf, maar staan uit die dood op
Jesus was voorbereid. Hy het nie gevlug nie, maar die pad van lyding geloop. Nadat Hy verhoor is en op grond van vals beskuldigings aan die kruis tereggestel is, is Hy begrawe. Sy volgelinge was verslae, want hulle het gehoop hy sou alles verander (Luk 24:21).
Maar dinge sou verander en sommer gou ook. Daardie Sondagoggend gaan Maria, een van Jesus se volgelinge, graf toe, maar ontdek met ‘n skok dat die graf leeg is. Die liggaam is weg. Haar aanvanklike skok het egter in ‘n wonderlike ervaring verander. By die graf het sy die Here ontmoet, maar Hy was nie dood nie. Hy was lewendig! Daar en dan het sy geweet: Hy het uit die dood uit opgestaan. Dit was die onwrikbare bewys dat God aan die kant van Jesus was. Hoe anders sou Hy uit die dood kon opstaan as die Here van lewe en dood Hom nie die krag gegee het om lewendig uit die graf uit te stap nie?
Sy is toe vinnig na Jesus se dissipels toe. Hulle het toe nog bang weggekruip, want die kanse was baie goed dat die polisie hulle ook gesoek het. Hulle was immers deel van Jesus se “bende”. Hulle is toe ook graf toe en het dieselfde ontdekking as Maria gemaak. Die lewende Here het ook aan hulle verskyn en selfs saam met hulle geëet. By hulle was daar geen twyfel oor wie hierdie Jesus was nie. Hy was en is die Messias, die Seun van God. Hom kan jy volg as jy God soek, want in en deur Hom werk God.
Die Bybel vertel vir ons van baie verskynings van die lewende Here aan sy dissipels (1 Kor 15: 1-7). In Johannes 20 lees ons byvoorbeeld van Tomas wat nie wou glo wat die ander dissipels oor Jesus se opstanding gesê het nie. Toe hy egter self vir Jesus lewend sien, kon hy nie anders as om Hom as “Here en God” te bely nie (Joh 20:28). Hoe anders verklaar ‘n mens dat iemand dood was en ‘n paar dae later lewend tussen mense rondloop? Dit kan alleen God wat beheer oor lewe en dood het, doen. Omdat Jesus so uit die dood opgestaan het, kan daar dus geen twyfel wees dat God by Hom is nie, want hoe anders kon Hy die dood so oorwin het? Daarom is sy boodskap en alles wat Hy gesê het ook waar, want die boodskapper van God kan tog nie leuens verkondig nie.
Daardie Sondagoggend met paasfees het alles inderdaad verander. Nadat hulle Jesus lewend gesien het, kon daar by die dissipels geen twyfel meer wees oor wie Jesus is nie. In plaas daarvan om agter geslote deure weg te kruip is die dissipels die strate van Jerusalem en Palestina in om te gaan vertel dat Jesus leef. Ons lees dat die Jode hulle wou keer met allerhande dreigemente, maar dat niks hulle kon stilmaak nie (Hand :4) .
Die gelowiges maak die boodskap van en oor Jesus hul eie en begin daarvolgens leef.
Die dissipels van Jesus het waarskynlik tot drie jaar saam met Jesus geleef. Hulle het na Hom geluister, Hom uitgevra en van Hom geleer. Hulle het Jesus se boodskap dus goed geken. Nou het hulle ook deur sy kruis en opstanding gesien dat Hy werklik die Seun van God is. Hulle het dus nie alleen vertel wat Jesus gesê het nie, maar ook wat hy gedoen het.
Dit is belangrik om te besef, want nou moes die dissipels nadink oor wat Jesus se kruisiging en opstanding, as ook alles wat Hy verder gedoen en gesê het, vir sy volgelinge beteken het. Hulle het sy woorde en alles wat met Hom gebeur het, goed gememoriseer. Dit was destyds algemeen om dinge baie goed te onthou omdat hulle nie boeke of rekenaars gehad het om alles te kon neerskryf nie. Daarom was veral die apostels ook baie belangrik. Hulle was immers dáár, het Jesus self hoor praat en het gesien wat Hy gedoen het. As jy wou weet wat Jesus presies gesê het, moes jy vir die dissipels gaan vra. Die tradisies is noukeurig oorgedra.
Maar die lewe het aangegaan en die nuwe Christene moes Jesus se boodskap in hulle nuwe situasies op hulle lewe toepas. Die dissipels het Jesus se boodskap in hulle eie woorde verwoord en toegepas op hulle verskillende situasies. Dikwels het daar nuwe vrae opgeduik en die dissipels moes dan aan die hand van wat Jesus gesê het dit op hulle situasie toepas.
Wat belangrik is om te sien, is dat die boodskap van die vroeë Christene nie net die blote meganiese herhaling van die woorde en dade van Jesus was nie. Sy woorde en dade het in hulle situasies “geleef”. Dit was die rigsnoer vir wat hulle gedoen het en hoe hulle geleef het. Daarom het hulle ook vertel wat die woorde en dade van Jesus in hulle eie lewe beteken. Hulle het dus nie net meer Jesus se woorde herhaal nie, maar het ook oor Jesus begin preek.
Al wat Paulus wil verkondig, is Jesus as gekruisigde, waarmee hy natuurlik Jesus se opstanding ook bedoel 1 Kor 2:1-5; 15). Dit is waar sy boodskap begin. Jesus het die nuwe era van God se heerskappy begin. God werk kragtig en het die greep van die Bose verbreek. Voorheen het die sonde mense in sy kloue vasgehou, maar nou het die Skeppergod vir gelowiges nuwe lewe kom gee. Nou leef hulle as mense wat uitsien na die Here wat kom om hulle finaal in sy nuwe wêreld in te neem. Daarom word van hulle verwag om so te leef dat God trots op hulle kan wees. Hulle moet nou reeds die verskil maak. Daarvoor het God hulle sy Heilige Gees gegee. Hieruit blyk dat dit vir Paulus nie net meer gegaan het om wat Jesus gesê het nie. Hy het ook nou oor Jesus begin preek, oor sy dood en opstanding.
Johannes verduidelik dit ook mooi in sy Evangelie aan sy gemeentes, waarskynlik in die hedendaagse Turkye. Jesus het gekom om die familie van God te kom haal. Daarom word hulle weergebore en kry hulle die ewige lewe as hulle in Jesus glo. As familie van God wat nog in hierdie wêreld leef, moet hulle nou reeds wys hoe dit in die hemel gaan lyk Hulle moet mekaar liefhê en vir almal van hierdie liefde vertel.