Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In 1 Johannes 5:14 sê hy dat God ons verhoor as ons iets vra volgens God se wil. Calvyn se kommentaar op hierdie vers bring meer duidelikheid wanneer hy sê dat as dit aan elkeen van ons toegestaan wou word om te vra net wat ons begeer, sou daar baie swak na ons omgesien word. Dit sou ook die geval wees as God aan ons wense sou toegee. Want ons weet nie wat vir ons goed is nie. Inteendeel, ons brand van slegte en verderflike begeertes. Dus is die geheim van verhoorde gebede daarin dat ons niks sal vra wat strydig is met God se wil nie. Daarom moet ons sy wil ken en gehoorsaam.
DIE BYBEL (29)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Die Nuwe Testament (3)
Die gelowiges begin die boodskap uitdra
Verskeie faktore het daartoe gelei dat die evangelie nie net in Palestina verkondig is nie. Dit het vinnig deur die destydse wêreld versprei.
* Een rede was sekerlik dat die Christene nie kon stilbly oor die evangelie nie. (Hand 4:19-20).
* ‘n Ander rede was dat God mense geroep en gestuur het om van sy nuwe verlossing te gaan vertel. (Matt 28: 19-20).
* Dan was daar ook die vervolgings van die gelowiges deur die Jode. Dit het veroorsaak dat die gelowiges moes vlug (lees hiervan in Handelinge 8 of 12), met die gevolg dat hulle oor die hele destydse bekende wêreld versprei het.
Die boek Handelinge vertel vir ons wat gedurende die eerste sowat 30 jaar na Jesus se dood met die kerk gebeur het. Daarin lees ons van die vestiging van die kerk, die sendingreise waardeur die evangelie uitgedra is, asook van die lotgevalle van die eerste sendelinge, soos Petrus en veral Paulus.
Die evangelie van Jesus Christus is nou in gebiede verkondig waar daar baie ander gode was om mee te kompeteer, soos Sirië, Turkye, Griekeland en Italië. Die boodskap oor Jesus het egter helder weerklink. Hy is die Woord van God wat gekom het om God hier op aarde aan mense bekend te maak (Joh 1: 1, 18). Die nuwe era is hier waarin God sy mense verlos het en weer as sy nuwe Israel, sy koninklike familie, versamel het. Mense word uitgenooi om hierdie boodskap aan te neem. In die ou tyd het God deur profete gepraat, maar nou het Hy direk deur sy Seun kom praat (Heb 1:1-2). Dit is egter nie net woorde nie; elkeen wat glo, ervaar ook die teenwoordigheid van die lewende Here deur sy Gees. Mense se lewe het en moes verander, want hulle het God leer ken. Daarom lees ons ook in so baie van die boeke van die Nuwe Testament wat die Here verwag van mense wat in Hom glo.
Mense moet egter nie te lank wag om Hom te leer ken nie want Hy kom weer maar hierdie keer as Regter. Hy sal sy mense saam met Hom laat leef, maar die mense wat Hom nie ken nie,sal veroordeel word. Maar ook hierdie deel van die boodskap was baie duidelik.
Die toekoms lê oop voor
Gelowiges kan jubel en bly wees, want hulle is wenners en hulle toekoms is verseker. Die nuwe Jerusalem wag, want dit het God beloof. Daar gaan hulle vir ewig in die teenwoordigheid van God leef. Die koning van die wêreld sal voor God en sy kinders kom buig. Hulle sal erken dat God die Vader en Jesus die Koning van die konings is. Uit hierdie woorde wat gebruik word, kan ons sien dit verwys na die profete. Hulle het mos gesê dat God weer sy tempel gaan oprig in Jerusalem en dat Hy sy vyande gaan verslaan. Die laaste boek van die Bybel, Openbaring, vertel ons hiervan. Christene het ‘n toekoms, dit is verseker.
In ‘n paar sinne
Jesus het gekom en God se nuwe wêreld, sy nuwe koninkryk, kom openbaar, soos die profete ook lank voor die tyd geprofeteer het. Hy het kom vertel van God se nuwe koninkryk waarin liefde,vrede, vreugde en baie ander goeie dinge die reëls vir burgerskap uitmaak. Hy het kom wys dat Hy van God af kom en dat sy boodskap waar is deur te doen wat God alleen kan doen, naamlik om te sterf en weer lewend te word. Die God van lewe was dus by Hom.
Sy volgelinge het sy boodskap van God se nuwe koninkryk waaraan ons deel kan hê, die wêreld ingedra. Hulle het nie alleen vertel wat Jesus gesê het nie, maar ook wat dit vir hulle as gelowiges beteken het. Die nuwe era saam met God het inderdaad aangebreek. God was besig om sy familie op aarde bymekaar te maak, op pad na die hemelse koninkryk, die nuwe Jerusalem. Nou reeds kan elke gelowige die vreugde van die nuwe lewe ervaar. Gelowiges moet nou reeds leef soos mense wat deel van God se familie op aarde is. Die Gees is immers nou reeds in en by elke gelowige. Die wonderlike ervaring van God se teenwoordigheid is vir gelowiges die waarborg van wat nog moet kom. Met die wederkoms van Jesus sal gelowiges vir ewig na die huis van die Vader geneem word.
Waar pas die Bybelboeke in hierdie verhaal in?
Die Nuwe Testament is die hoofbron vir die beskrywing van die ontwikkeling van die verhaal van Jesus en die vroeë kerk. Hoe hang die Nuwe Testament en die boodskap saam?
* Jesus het sy boodskap verkondig,. maar self niks neergeskryf nie. Aanvanklik het sy dissipels ook niks neergeskryf nie, want dit was nie destyds die gebruik nie. Die dissipels het egter alles wat Jesus hulle geleer het, baie goed in hulle geheue ingeprent. Hulle sou later die “biblioteek” van Jesus se woorde en dade word.
* Die eerste “Christelike dokumente” was die briewe van Paulus. Op sy tweede sendingreis in die middel van die eerste eeu het hy briewe begin skryf vir die gemeentes wat hy gestig het (soos die Tessalonisense en Galasieërs). Hy het bly skryf tot net voor sy dood in die sestiger jare van die eerste eeu. Afhangend van hoe ‘n mens die briewe van Jacobus en 1 Petrus sien, kon hulle ook in hierdie tyd geskryf gewees het.
* Markus was waarskynlik die eerste Evangelie wat geskryf is, moontlik net voor die val van die tempel in 70 nC. Dit is egter baie moeilik om presiese datums uit te werk. Dit beteken egter nie dat Markus toe eers “ontstaan” het nie. Dit beteken net dat die boek toe neergeskryf is. Die boodskap het in die herinnerings van die apostels en die lewens van die gelowiges geleef, al was dit nie neergeskryf nie. Dit is die geval met al die Evangelies.
* In die ongeveer 20 jaar ná die val van die tempel (70nC) is die ander twee Evangelies (eers Matteus en toe Lukas) neergeskryf.. Handelinge het kort daarop gevolg.
* Die Johannes-dokumente (Evangelie van Johannes, die briewe en Openbaring) het waarskynlik eers in die laaste dekade van die eerste eeu (90-100nC) die lig gesien. Dit geld ook vir sommige van die ander briewe soos 2 Petrus en Judas.
Uit die kort uiteensetting blyk dit dat die verhaal van Jesus en sy volgelinge oor ‘n periode van 70 jaar neergeskryf is. Die boeke is ook nie presies in volgorde neergeskryf waarin hulle in die Bybel opgeneem is nie. Dokumente uit die pen van die Christene wat na hierdie periode geskryf is, is nie meer as “outentiek” beskou nie. Die apostels wat alles onthou het, was almal al dood en daar was geen manier om te kontroleer of die inhoud van hierdie latere dokumente regtig waar was nie. Daarom is dit ook nie in die kanon opgeneem nie.