Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense dink liefde is om besitlik te wees en iemand anders as joune te bestempel, maar liefde beteken juis dat 'n mens iets prysgee; jou voorkeure, gemak, doelwitte, sekuriteit, geld, energie en tyd, tot voordeel van daardie ander persoon. Ware liefde beteken nie 'n ekstatiese euforie nie maar die opoffering van baie dinge tot voordeel van die ander persoon.
DIE BYBEL (8)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
In hierdie artikel wil ons ‘n bietjie meer kennis opdoen oor Die Boeke van die Bybel. Benewens die Bybel self, gebruik ons as bron daarvoor Die Bybel A-Z, van Jan van der Watt.
Die Bybel is eintlik ‘n biblioteek van boeke. Die boeke is oor ‘n lang periode van ongeveer 2 000 jaar geskryf en verskil dus baie, nie alleen wat die verskillende situasies betref waarin die boeke ontstaan het nie, maar ook wat inhoud betref. Natuurlik was daar ook baie verskillende skrywers. Ook die literêre styl van die boeke verskil: Party boeke is geskiedenis-beskrywings, ander is gedigte, ander bevat weer ‘n klomp wette of kort wysheidspreuke. Die Bybel is dus nie net ‘n biblioteek boeke omdat daar baie boeke (66 in totaal in die Afrikaanse Bybel en 82 in die Rooms-Katolieke Bybel) is nie, maar ook omdat dit ‘n baie wye verskeidenheid boeke bevat.
Die Ou Testament
Die Wet: Génesis, Eksodus, Levítikus, Númeri, Deuteronómium.
Geskiedenis: Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemía, Ester.
Wysheid en Poësie: Job, Psalms, Spreuke, Prediker, Hooglied.
Groot Profete: Jesaja, Jeremia, Klaagliedere, Esegiël, Daniël.
Klein Profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria, Maleagi.
Die Nuwe Testament
Evangelies: Matthéüs, Markus, Lukas, Johannes.
Geskiedenis: Handelinge.
Briewe; Romeine, 1 en 2 Korinthiërs, Galasiërs, Efesiërs, Fillipense, Kolossense, 1 en 2 Tessalonisense, 1 en 2 Timótheüs, Titus, Filemon, Hebreërs, Jakobus, 1 en 2 Petrus, 1 en 2 en 3 Johannes, Judas.
Apokalips: Openbaring. ( Dit is ook eintlik ‘n brief, maar wat in ‘n besondere soort literatuur gegiet is.)
* Die Protestantse Bybel het 66 boeke wat in twee dele opgedeel is, naamlik die Ou Testament (39 boeke) en die Nuwe Testament (27 boeke). Dit is in ongeveer 30 500 verse opgedeel.
* Die Rooms-Katolieke het sestien boeke meer in hulle Bybel wat algemeen bekend is as die Ou-Testamentiese Apokriewe.
* Die Bybel is ‘n biblioteek boeke wat oor byna 2 000 jaar geskryf is. Party skrywers ken ons, ander nie. Party boeke is deur een persoon geskryf en in ander gevalle ontwikkel aan die hand van ‘n paar redakteurs.
* Onder die mense wat deel was van die skrywe van die Bybel was ‘n medikus, ‘n volksleier, ‘n skaapwagter, ‘n voormalige fariseër, ‘n belastinggaarder, ‘n koning, verskeie profete, ‘n boer, ‘n visserman, ‘n gemeenteleier, ‘n digter en nog andere.
* Dit is die Boek wat die meeste in die geskiedenis verkoop het.
* Dit is die Boek wat in die meeste tale in die wêreld vertaal is (byna 90% van die tale).
* Van die boeke soos die Evangelies of Konings en Kronieke gaan oor dieselfde geskiedenis, maar vertel deur verskillende redakteurs.
Die Apokriewe Boeke
Dit is interessante boeke wat amper in die Bybel was en oor Bybelse sake handel, maar nie in die kánon ingesluit is nie. Dit geld egter nie vir die Nuwe Testamentiese Apokriewe nie, want hierdie boeke is eers tot 900 jaar na die Bybel geskryf en dra nie die gesag van die Ou Testamentiese Apokriewe nie. Die Ou-Testamentiese Apokriewe, wat hoofsaaklik oor die geskiedenis van Israel gaan, is in die Griekse vertaling van die Joodse Bybel (die Septuagint) opgeneem. So het dit deel van die Rooms-Katolieke Bybel (kánon) geword. Die Protestante het egter die Hebreeuse Bybel gebruik, waarin die apokriewe nie opgeneem is nie. Wat dus vir die Protestante Ou-Testamenties apokrief is, is vir die Rooms-Katolieke ‘n deel van hulle Bybel. Selfs in Protestantse belydenisskrifte staan daar dat ‘n mens hierdie boeke kan lees vir ‘n mens se verryking.
(In opvolging hierby, gaan ons volgende keer enkele van die Apokriewe geskrifte aan u bekendstel).