Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons rebelse ou volkie verskil mos oor alles met mekaar – die komiese uitdrukking van waar vier Afrikaners bymekaar is, is daar 5 kerke, is meer waarheid as 'n grappie. Ons aanbid ook God Drie-enig op verskillende wyses. Gebruik egter die maatstaf oor "wat" reg is, nie "wie" reg is nie, dan sal jy die ware inhoud en betekenis van aanbidding ontdek. Jesus sê in Johannes 4 dat "... ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid." Laat ons dan in Gees en Waarheid aanbid!
TOWENAARS IN KERKLIKE GEWAAD
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
Mt.7:13-23; 24:24-26; 2 Thess.2:9,10
Johannes waarsku gelowiges in Openb.20:8 dat die Satan net voor die wederkoms van Christus losgelaat gaan word “…om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is…” Hierdie misleiding sal wêreldwyd wees. Sodra dit gebeur, moet ons weet dat Jesus op pad is. Hierdie naderende wederkomsteken gaan tans in vervulling!
Mense word deur agente van die Satan oorreed om die leuen vir die waarheid aan te sien. Dieselfde het in die tuin van Eden gebeur - Satan het Eva oorreed om die verbode vrug vir iets goed aan te sien. Luister wat sê Jesus van die Satan: “…. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie…omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh.8:44). Satan is die bron van leuens en misleiding die gevolg van leuens.
Satan werk egter nie alleen nie, maar het miljoene handlangers; ook in kerke en op kansels. Weens die gebrek aan grondige Skrif-kennis besef die meeste van hulle nie waarmee hulle besig is nie. Jesus sê vir die kerklui: “….Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29). En dis ’n groot probleem – ’n tekort aan Skrif-kennis. Dis wat mense laat dwaal en prooi van die Satan word!
Soos wat Jesus nader kom, word die misleiers al hoe meer. Nie net in Amerika of Europa nie, maar ook in Afrika waar towenaars agter ’n kruis skuil en mense met tekens en wonders van Jesus weglei. Die Nigeriese profeet TB Josua is ’n sprekende voorbeeld hiervan, ’n wêreldbekende towenaar met derduisende aanhangers wat die geeste nie kan onderskei nie.
Ek gebruik hom as voorbeeld omdat sy werksaamhede in hoofsaak met alle misleiers ooreenstem. Wat ’n mens by die een vind, vind jy ook by die ander omdat hulle ’n gemeenskaplike vader het – die Satan!
TB Joshua se kerk staan as die Sinagoge Kerk van Alle Nasies bekend en het ’n lidmaat tal van vêr oor 100 000 lidmate. Die woord sinagoge is uitsluitlik ’n Joodse woord wat die heilige samekoms van Israel aangedui het. Dis vandag eie aan Judaïsme en derhalwe ongeloof. TB Joshua word deur sy volgelinge die man in die sinagoge genoem. Hoe dit met die Christendom verbind word, bly ’n raaisel!
TB Joshua beroem hom daarop dat hy wonderwerke doen en water kan heilig waarna dit in die bloed van Christus verander. Hy het dan ook ’n groot watertenk met verskeie krane op sy kerkterrein waar mense hulle kan was nadat hy sy toorkuns uitgevoer het. Dis weersinswekkend om daaraan te dink hoe die oorwinnaarsdood van Jesus in ’n belaglike, bygelowige ritueel omgekeer word! Geen priester of profeet kan water of wyn, soos die Roomse glo, in die bloed van Christus verander nie. Dis toordery!
Mense wat van TB Joshua se dienste bygewoon het, het al gesien hoe mense, nadat hulle van die water gebruik het, stuiptrekkend op die grond neerval en braak; alles binne-in die kerk! Hierdie water het sataniese pyn en veroorsaak; allermins nie geestelike vryheid nie!
Satan en sy agente haat die waarheid en bevorder die leuen. In TB Joshua se kerk is daar verskeie muurskilderye. Een daarvan is ’n voorstelling van Jesus wat aan ’n paal vasgemaak en deur kinders met swepe geslaan word. Die onderskrif lui: ”Deur Jesus se wonde daar vir ons genesing gekom”. Hierdie voorstelling is on-Bybels! Dis nie sy geseling wat vir ons geestelike genesing gebring het nie, maar sy dood aan die kruis. Daarbenewens is Hy nie deur kinders gegesel nie, maar deur wrede Romeinse soldate!
In Nigerië is miljoene Moslems, en moord daar op Christene is aan die orde van die dag. Desondanks is daar in TB Joshua se kerk ’n groot opskrif in Engels sowel as Arabies: “Daar is geen ander god as Allah nie” en met aanhaling uit die Koran toegelig. Wie iets van Islam weet, weet wat dit beteken - Moslems ontken dat God ’n Seun het! Stem TB Joshua dan met hulle saam? Dis ’n flagrante ontkenning van die Christelike boodskap dat God sy Seun gestuur het om vir ons sonde te sterf. Let op wat hier gebeur - Satan se agente probeer vrede tussen ware en valse godsdiens maak. Hulle middel-van-die-pad strategie loop altyd op ’n aftakeling en verwatering van die Evangelie uit.
“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie” (1 Joh.2:22,23).
“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh.10,11).
In Hand.8:9 sê Lukas van Simon die towenaar dat hy die Samaritane verbyster het en in vers 10: “En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God”. TB Josua verskil geensins van hom nie!
Towenaars is meesters in hipnose. Hulle hipnotiseer hul volgelinge en bring siekes onder valse indrukke dat hulle genees is, sonder dat genesing plaasgevind het. Dis bedrog! By geleentheid spreek Paulus ’n sekere towenaar Elimas, wat die werk van die Here teengestaan het, baie sterk aan: “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand.13:10).
In TB Joshua se kerk is daar nie Bybels nie, maar wel baie video’s oor sy genesings wat deurlopend op ’n horde van skerms vertoon word. Baie daarvan is bedrieglik; video’s waarmee duidelik gepeuter is; mense wat vir genesing kom, maar ooglopend van diegene wat genesing ontvang, verskil!
Towenaars in kerklike gewaad glo dat mense tot bekering sal kom nadat hulle wonders aanskou het. Dis on-Skriftuurlik! Die meeste gelowiges het tot bekering gekom sonder om enige wonderwerk te aanskou. Towenaars genees sonder ’n Evangelieboodskap en vertel dan vir mense dat hul siele terselfdertyd gered is. Jesus het nooit geleer dat siele deur wonderwerke gered word nie.
Towenaars se manier van genesing strook nie met die Bybelse manier nie. Dit laat ’n mens eerder aan voodoo dink! Becky Kiser, ’n Amerikaanse berader wat met mense wat met die okkulte deurmekaar geraak het, werk, het ’n paar jaar gelede die opset in Nigerië gaan bekyk en daarna gesê: “Ek wens geen mens dieselfde ervaring toe as wat ek gehad het nie, veral nie om so bedrieg te word nie!” Sy skryf dat sy in TB Joshua se kerk ’n baie sterk krag soos nog nooit tevore aangevoel het nie en dat dit beslis nie van die Heilige Gees was nie. Die gemeentelede was almal in ’n beswyming (zombies). Dis massa-hipnose!
Baie van die moderne towenaars kom uit Charismatiese kerke, misleiers wat op mense se goedgelowigheid teer en sê dat hulle in die naam van Jesus genees. Jesus waarsku baie duidelik: “Baie sal in daardie dag vir My sê Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:22, 23).
Towenaars flous baie mense met wondertekens, veral as hulle dit met Bybelverse versier. Sommige, soos TB Joshua, glo dat hulle met hierdie genesings- en wondergawes gebore is. Die Bybel leer ons nie dat enige geestesgawes ooit by geboorte gegee is nie. Die apostels het dit eers later ontvang.
Mense wat reken dat hulle bonatuurlike kragte ontvang het, verkeer op bitter dun ys. Dit kom baie in Spiritisme voor en was beslis nie die manier waarop Jesus en die apostels siekes genees het nie. Geen mens het verborge geesteskragte nie. Dis towery!
Towenaars haat enige vorm van teenstand. Diegene wat hulle teenstaan, word summier veroordeel. Geen leraar mag mense manipuleer om sy optrede nie te bevraagteken nie. Gelowiges mag nie swyg as leuens verkondig word nie. Dwaalleraars moet aan die kaak gestel word.
Towenaars is altyd hoogmoedig en spog graag met dinge wat hulle kan doen en ander nie. Hoe verskil hulle nie van gelowiges nie! Is die vrug van die Gees dan nie juis nederigheid nie? Nie een van die apostels het ooit gespog oor die wonders wat hulle gedoen het nie. Toe Elia die Baäl-profete op die berg Karmel uitgedaag het, het dit nie om sy eer gegaan nie, maar God s’n.
Desondanks die getygolf van misleiding wat die mensdom tref, stroom miljoene mense oor die wêreld heen na towenaars in kerklike wat met hul tekens en wonders jaarliks biljoene verdien. Wat trek sulke mense na hierdie misleiers? Beslis nie God nie!
In 2 Kor.11:14 waarsku Paulus die gelowiges dat die Satan homself in ’n engel van die lig verander. Hulle kan misleiding verwag. Baie van die towenaars is ekstroverte en welsprekend. Daarbenewens haal hulle tekste van Genesis tot Openbaring aan om mense te beïndruk. Hulle maak maar net soos wat die Satan gemaak het toe hy Eva mislei het - hy het ook God aangehaal!
Dwaalleraars verkondig verkeerdelik dat alle siekte uit die Satan is. As hulle dus genesings doen, werk hulle hom teen. Dis waar dat Satan baie siektes kan veroorsaak. God gebruik egter ook siekte as ’n tugmiddel en beproewing om gelowiges se geloof mee te versterk. Daarbenewens sê die Woord van God dat die loon van die sonde die dood is. Siekte lei dan ook daartoe.
Waarom stroom mense na towenaars en opwekkingspredikers? Omdat hulle honger is. Ongelukkig soek die meeste mense op die verkeerde plekke na geestelike voedsel! Geestelike honger word net gestil as jy met die brood van die lewe in aanraking kom – Jesus Christus. As Jesus in jou leef, is jou honger iets van die verlede. Wie op verkeerde plekke na geestelike kos soek, word maklik mislei om te glo dat dit lig in sy lewe is, terwyl dit in werklikheid pikdonker is!