Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy vir God weer gevind.
OM JESUS TE SIEN
Ds Andrè van den Berg
“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen” - Hand.9:6
Om ’n kerklike amp te beklee, is ’n wonderlike voorreg. “Dit is ’n betroubare woord: As iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk” (1 Tim 3:1). Ongelukkig sien baie mense dit nie so nie en lyk kerkleiding eerder na ʼn las as ʼn lus omdat iets baie belangrik in hul geloofslewe ontbreek; hulle sien Jesus nie raak nie!
Wanneer word Paulus ’n kragtige instrument in God se hand? Nadat iets baie belangrik in sy lewe gebeur waarsonder geen mens die saak van die Here kan dien nie nl. hy het ’n ontmoeting met Jesus gehad; hy het Jesus met geestelike oë gesien! Let op sy reaksie: “Here, wat wil U hê moet ek doen? (Hand.9:6). Paulus is onmiddellik tot diens bereid en word die grootste sendeling ooit op aarde. Die Bybel leer ons ʼn belangrike les: Voordat gelowiges Jesus nie sien nie, kan hulle nie effektief vir Hom werk nie.
Dieselfde ding gebeur met Jesaja 700 jaar tevore. Toe God hom tot profeet geroep het, was Juda kerklik en polities op ’n laagtepunt. Die priesters was kop in een mus met die verraderlike koning en hom na die mond gepraat - His Masters Voice. Toe die jong Jesaja by geleentheid in die tempel kom, het hy in ’n verrukking van sinne God op ’n wonderlike troon sien sit. God het vir hom werk gehad. Maar iets moes eers gebeur – hy moes God sien. En hy het! “Daarop hoor ek die stem van die Here sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my” (Jes.6:8).
Elke gemeente bestaan uit twee groepe - mense wat Jesus sien en diegene wat Hom nie sien nie. En dit het ʼn invloed ’n gemeente soos suurdeeg op ’n brood. Die gehalte van ’n gemeente se dienswerk word deur die oorwig van een van die twee groepe bepaal. Hoe meer gelowiges Jesus sien, hoe voortrefliker is die werk vir God. Hoe minder Hom sien, hoe traer is die diens.
Ons staan nie almal in die amp van ouderling of diaken nie, maar wel in die amp van die gelowige. As iemand hierdie amp verwaarloos, spel dit net een ding uit – hy sien Jesus nie raak nie. En die rede hiervoor is sonde! Niks laat Jesus so uit jou gesigsveld verdwyn soos sonde nie! Dit veroorsaak selfs dat dienende wat kerklike ampte beklee, lui raak en hul amp as ’n lastigheid begin ervaar. Vrywillige werk word willekeurige werk.
Sulke ampsdraers bevind hul in dieselfde bootjie as die vyf dwase maagde wat geweet het dat die bruidegom kom, maar onverskillig was. Benoud roep die dwase maagde uit: “Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê vir hulle: Voorwaar ek sê vir julle; ek ken julle nie” (Mt.25:11,12).
Wat doen jy vir God? Een van die grootste redes wat mense aanvoer waarom hulle nie vir God kan werk nie, is ’n gebrek aan tyd. Dis in die meeste gevalle nie waar nie. Die werklike probleem is ’n wanbesteding van tyd. Elke mens het tyd. Hoe belangrik ’n saak vir jou is, word gesien aan die tyd wat jy daaraan spandeer.
Mense is te veel op prestasie en te min op verhoudings ingestel. Mense tree op asof prestasie ’n integrale deel van die lewe en verhoudings bykomstig is. Dis net andersom - verhoudings is integraal en prestasies bykomstig. Daarom neem verhoudingsprobleme deesdae oorhand toe. En dit sluit ook die verhouding met God in; alles aan ʼn wanbesteding van tyd te wyte.
Mense wil kortpaaie met hul verhoudings loop, skeep dit altyd af. Dieselfde gebeur met geestelike werk. ’n Lidmaat wat nie sy belofte teenoor God nakom om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem nie, staan nie in die regte verhouding met Jesus nie. Wie in ’n regte verhouding met Hom staan, sal nie afskeep nie!
Om tyd aan die saak van die Here af te staan, is ’n bewys van ons liefde vir Hom. Die Bybel eis dat ons God moet liefhê. Die beste manier om hierdie liefde te spel is T-Y-D. Die tyd as wat jy aan ’n saak bestee, getuig van die liefde wat jy daarvoor het. Het jy God werklik lief? Wat doen jy vir Hom?
Wie tyd vir die saak van die Here maak, betoon sy liefde vir Hom. Hy werk nie om deur mense gesien te word nie, maar omdat hy Jesus liefhet en deur die bekering ’n ontmoeting met Hom gehad en Hom gesien het. “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16).
Ons het in die kerklike jaar onlangs by Jesus se lyding en kruisiging stilgestaan en ons geheue verfris dat God gegee het. Met diens aan God tree ’n heerlike wisselwerking in werking - God gee sy seun; jy gee jou tyd vir Hom. Tyd is een van die grootste geskenke wat jy vir iemand kan gee, want daardeur gee jy ’n stukkie van jouself. Kyk wat het God vir jou gegee; is ’n stukkie van jou tyd te veel vir Hom?
Min dinge skaad die werk van die Here soos traagheid. Die Gelykenis van die twee seuns in Mt.21 dien as waarskuwing. Die een seun belowe sy vader om in die wingerd te gaan werk maar dit nie doen nie! se reguit vir sy pa dat hy nie in die wingerd gaan werk nie. gedoen word. Die Satan hou baie van goeie mense wat niks vir God doen nie en word veroordeel! Luiheid is verlammend en ʼn gerieflike wegkruipplek vir onwilliges.
Om vir die Here te werk, vereis ʼn deeglike kennis van God se Woord. In die formulier vir die bevestiging van ouderlinge en diakens staan daar: “Uit die Bybel is dit duidelik dat ’n ampsdraer bekend moet wees as iemand met ’n lewende geloof, met ’n begeerte om vir die Here te werk…. en wat die Heilige Skrif voortdurend ernstig ondersoek”
Die Woord van God is soos ʼn put; hoe dieper jy grawe, hoe sterker die water. God gee gelowiges nie altyd opdrag om groot dinge te doen nie, maar om klein dinge met groot ywer te verrig. Ywer lewer goeie resultate en geseënde eindes: “… Mooi so, goeie en getroue dienskneg…. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Mt.25:23)
Wanneer ons met ’n taak besig is, kyk ons so nou en dan op ons horlosie. En as jy sien dat die tyd jou inhaal, werk jy vinniger. Die Bybel roep ons op om nie met God se werk te sloer nie: “Die nag het vêr gevorder en dit is al amper dag: (Rom.13:12) “Maar dit sê ek broeders, die tyd is kort” ( 1 Kor.7:29).
Ons doen ons werk vir die Here met die oog op Jesus se naderende wederkoms. Dis ophande. Die tekens gaan alreeds in vervulling. Ons moet sorg vir genoegsame olie in ons lampe en diegene wat onverskillig leef, dringend waarsku! Kom ons staan in die gees vanoggend saam met ʼn Paulus van ouds en ons vra: “Here, wat wil U hê moet ek doen?
Amen!