Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, help my asseblief om nie 'n praatsieke ou mens te wees nie; en behoed my van die noodlottige gewoonte om oor elke onderwerp by elke geleentheid iets kwyt te raak in plaas daarvan om na ander te luister.
JY'T NET EEN LEWE
DANIËL EN SY DRIE VRIENDE SE OORWINNINGSGELOOF
Ds Andrè van den Berg
“... laat dit u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” - Dan.3:18
Wat het nie alles deur die gedagte van die drie jongmanne gemaal toe die wagte hulle vasbind en vuuroond toe sleep om tereg gestel te word nie. Alles het binne ʼn ommesien verander - die een oomblik was hulle veilig, die koning het van hulle gehou en net die volgende oomblik staar hulle ʼn grusame dood in die gesig! Waarom het God die teregstellingsbeamptes nie laat versteen sodat hulle hul taak nie kon uitvoer nie? Het die jong manne se gehoorsaamheid aan God vir hulle dan niks in die sak gebring nie? Drie jong manne se son was besig om te sak terwyl dit nog dag was! Wat het skeef geloop?
Die Bybel beskryf vaagweg die gebeure wat tot hierdie dramatiese gebeure in Babel gelei het. Nebukadneser was in ʼn politieke stryd gewikkel. Baie van sy hooggeplaastes was glad nie met die Joodse ballinge wat na Babel weggevoer is gediend nie omdat hulle die plaaslike geleerdes oorskadu het. Daniël se uitleg van Nebukadneser se droom was nog vars in hul geheue. Dit het Nebukadneser onder druk geplaas om van die vreemde talent ontslae te raak al moes hulle ook doodgemaak word!
Toe die drie jong manne oondtoe gesleep word, het dit gelyk asof die vyand (Satan) geseëvier het. Hulle het geweet dat die koning die doodstraf ingestel het vir enigeen wat die beeld nie aanbid nie en dat die jongmanne getrou aan God gebly en geweier het om voor ʼn afgod te buig soos die Tien Gebooie geëis het. Daarom is die oortreding dadelik onder Nebukadneser se aandag gebring.
Nebukadneser kon die drie Jode daar en dan na hul dood gestuur het, maar as blyk van sy goedgunstigheid het hy hulle ʼn tweede kans gebied deur voor die reuse afgod te buig en gewaarsku: “.... wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” (:15). Nebukadneser was ʼn trotsaard met wie daar nie skeef getrap moes word nie. Hy was ʼn Babiloniër; ʼn volk wat vir hul wreedheid berug was. Dit het die drie jong Jode voor ʼn ingrypende besluit te staan gebring; hulle kon die koning se bevel gehoorsaam en bly leef of dit minag en grusaam sterf.
Dan volg een van die kragtigste geloofsverklarings wat in die Skrif opgeteken is: “... laat dit u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie”.
Maar hoe het hierdie drie jongmanne in Babel beland? Daar is ʼn lied wat lui: “He has the whole wide world in his Hands”. Dis waar; die geskiedenis getuig daarvan. God het die gebeure wat tot die ballingskap gelei het asook die drama rondom Sadrag, Mesag en Abednego so beplan. Dit was geen toeval nie.
God het Jeremia gestuur om Juda te waarsku dat hulle weens afvalligheid in ballingskap sou gaan: “en die Chaldeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand.... Bedrieg julleself nie deur te sê: Die Chaldeërs sal sekerlik van ons wegtrek – want hulle sal nie wegtrek nie” (Jer.37:8,9).
God het Juda selfs van twee regverdige konings voorsien om hulle tot hul sinne te bring – Hiskia en Josia, maar sonder sukses. Daarbenewens het Juda ook van Israel se vroeëre ballingskap na Assirië geweet, maar nogtans nie geglo dat Babel oor hulle sou loop nie. Hulle was dan God se uitverkore volk en Jerusalem met sy pragtige tempel God se setel op aarde!
Toe Juda helaas nie wou luister nie, het God Babel as ʼn tugroede in sy Hand gebruik en Juda in ballingskap laat wegvoer. Dit was nie ʼn eenmalige gebeure nie, maar drie wegvoerings. Daniël en sy drie vriende is tydens die eerste een na Babel weggevoer waar God hulle gebruik het om die mens te leer dat Hy alle mag in die hemel en op aarde besit, soos Nebukadneser ter stond sou leer.
Nebukadneser het Daniël en sy drie vriende uitgesoek om in diens van Babel opgelei te word. God het ʼn beter plan met hulle gehad – om vir Hom kragtige getuies in ʼn heidenland wees: “Maar julle is ʼn uitverkore geslag, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.2:9). Hoe waar behoort dit nie van alle gelowiges te wees nie!
Omdat die jongmanne baie slim was, het hulle die aandag van die Babiloniese amptenare getrek en is vir drie jaar lank as administrateurs opgelei. Reg aan die begin van hulle opleiding het hulle alreeds in die geloof geskitter toe hulle geweier het om die afgodsvoedsel te eet. Hulle het slegs van die groente geëet, en water gedrink, en gesonder as die ander voorgekom.
Daniël en sy drie vriende se geloof het in kinderlike afhanklikheid van hul hemelse Vader bestaan en nie onder groepsdruk geswig nie. Miskien het hulle hul die argwaan van hul klasmaats en opleidingspersoneel op die hals gehaal omdat hulle nie verbode kos wou eet nie. Uit ʼn wêreldse oogpunt sou dit diplomaties wees om maar saam te eet en so ʼn gees van eensgesindheid te kweek. Dit sou almal behalwe God tevrede stel aan Wie hulle liggaam, siel en gees behoort het.
Hulle het reg aan die begin van hulle loopbaan voor ʼn geloofskeuse te staan gekom en, vasberade om die hele lewenspad met God te stap, selfs dit wat hulle op daardie stadium bereik het, op te offer. Toe hulle verseg om God ongehoorsaam te wees, het Hy hulle vir ʼn grootsheid begin voorberei – om vir Hom opspraakwekkende getuies in ʼn wrede heiden land te wees.
Toe Nebukadneser hulle daardie dag van die inwyding van die goue beeld ondervra en selfs ʼn tweede kans bied om reg te maak, het hulle seker gewonder wat hulle lot gaan wees. Desondanks het hulle geen tyd gemors om hom te antwoord nie: “... laat dit u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” Hulle het besef dat hulle met hierdie weiering hul doodvonnis onderteken het!
Die drie se antwoord is ʼn treffende voorbeeld van uitstaande geloof. Sonder God wou hulle geen treë waag nie, maar met Hom selfs die dood tegemoet geloop. Hulle het geweet dat Hy hulle van die dood kon red, maar het nie geweet of dit in sy raadsplan was om hulle fisiese lewe te verleng nie. Geloof in God hou ook rekening met sy tydsberekening. Hulle het hulle by God se wil berus en hul lot in sy Hande geplaas, vasbeslote om tot die dood te gehoorsaam.
Sonder die geloof in God sou hulle niks in Babel wees nie, maar met die geloof in Hom het hulle alles geword wat God behaag het. Hulle het daardie dag nie net ʼn getuienis teenoor heidene gelewer nie, maar ook teenoor hul eie volksgenote wat soos tjankende honde die hande van hul kastyders gelek het.
Nebukadneser het nie besef dat hierdie drie jong Jode ʼn sterker mag as enige menslike mag op aarde aan hulle kant gehad het nie. Sy konfrontasie met hulle het as’t ware in ʼn wedywering met God verander. Hy was onbewus daarvan dat hy die God wat hom al die oorwinnings in sy oorloë gegee het, getart het. Daarom het God hom die een vernedering na die ander laat smaak totdat hy erken het dat Israel se God die enigste God was!
Toe Nebukadneser die oond sewe keer warmer as gewoonlik laat maak, het dit vir drie bannelinge donker geword. Hulle het egter nie toegelaat dat die teregstellingsbevel hul geloof beïnvloed nie. Gelowiges wandel onder alle omstandighede met God! Omdat hierdie drie jong manne die Onsigbare geken het, kon hulle die onmoontlike verwag. Hulle geloof was groter as hulle vrese.
Die hitte was so erg dat die teregstellingsbeamptes doodgebrand het toe hulle die drie manne soos stompe in die vuur gooi. Toe verander die prentjie dramaties - Nebukadneser kan sy oë nie glo nie! In plaas van onmiddellik te verkool, sien hy nie net die drie jongmanne vry in die vuur rondloop nie, maar ook ʼn vierde wat soos ʼn hemeling lyk.
Toe het Sadrag, Mesag en Abednego op bevel van die koning uit die vuuroond kom, was daar geen letsel aan hulle nie. Hulle het nie eens na rook geruik nie! God het hulle nie om die fatale hindernis gelei nie, maar dwarsdeur sodat Nebukadneser die mag van God kon aanskou!
Die jongmanne se hemelse metgesel het hulle van alle leed bewaar soos die Bybel baie duidelik sê: “...want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë” (Ps.91:11). God het hulle in hul vuur-toets beskerm en die heidense koning ʼn les in nederigheid geleer. Nebukadneser het met die Koning van die heelal te doen gekry en het heelwaarskynlik daar en dan tot bekering gekom: “Nou prys ek, Nebukadneser, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hul trotsheid wandel” (Dan.4:37).
Die skrywer van die Hebreërs noem hierdie drie jongmanne tereg geloofshelde (11:34). Hulle het ʼn oorwinningsgeloof geleef, iets waaraan ons volk mank gaan. Wat verhinder ons om so ʼn oorwinningsgeloof te leef? Hulle was gewillig om hul lewe op te offer vir dit waarin hulle geglo het. Is jy ook daartoe bereid? Onthou: Jy het net een lewe om dit in te doen.
Amen!